
Titel: Thula-thula
Outeur: Annelie Botes
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624046851
Bladsye: 330
Prys: R165
Klik hier om jou eksemplaar van Thula-thula by kalahari.net te bestel.
Hierdie roman is een wat net geskryf móés word. Thula-thula lewer ’n belangrike bydrae tot die oopskryf van ’n ernstige sosiale kwessie wat soveel lewens verwoes: kindermolestering. Anchen Troskie vertel (onder die skuilnaam Elbie Lötter) haar eie verhaal in Dis ek, Anna, maar Annelie Botes se verhaal oor dieselfde onderwerp is veel, veel beter – al skryf sy nie uit eie ervaring nie. “Uitmergelende” navorsing was daar wel, vertel die skrywer in onderhoude. Punt is: Botes kán ’n storie vertel.
Thula-thula (“sjuut-sjuut”) speel oor vier dae af, maar die verhaal van die plaaskind Gertruida wat deur haar pa, Abel, gemolesteer word, word by wyse van terugflitse oor 22 jaar vertel.
Abel is vroom en ’n kerkganger, maar eintlik ’n monster wat sy eie dogter vroeg-vroeg haar onskuld ontneem. Nog erger is die feit dat haar ma, Susarah, bewus is van wat aangaan, maar anderpad kyk. Susarah is boonop bang vir vet word en drink te veel lakseermiddels. Ná haar seuntjie, Anthonie, se dood neem sy ook gereeld hoofpynpille en sonder haar liggaamlik en geestelik af van die res van haar gesin. Ook Gertruida se ander ma, Mama Thandeka, wat vir Abel “grootgemaak” het, swyg. Sy het immers self ’n kind, Mabel, by Abel.
Die roman is nie vir sensitiewe lesers nie. Die omslag met sy falliese simbool (’n groot rooi vetkryt) en ’n ouderdomsbeperking van 18 jaar sê dit reeds. Die skrywer praat reguit. Gertruida verwys na haar “pietermuis” en na ’n “slurpie”, maar die seksuele beskrywings is dikwels grafies. Niks is oorbodig nie, want só ervaar die leser die absoluut skreiende vernedering en pyn waardeur die hoofkarakter gaan.
Die roman se struktuur is netjies, die wisselende perspektiewe werk goed en die spanning laai op. Mens wíl aanhou lees, al is dit nie ’n maklike ervaring nie. Botes span twee fokalisators in: Gertruida en Mama Thandeka. Maar die leser weet elke keer dadelik wie praat. Thandeka se taal is dié van ’n ouer vrou en haar Afrikaans wys sy kom uit die swart kultuur. Haar dialek word ook nie oordoen nie. Sy sê byvoorbeeld: “Toe ek met Samuel Malgas getroud geraak het, was my mense ongelukkig oordat hy bruin is. Al het hulle gewis hy het skool geloop, en hy kom uit ’n goeie huis daar op die witmensplaas waar onse mense ons kosgoed by die Trading Post koop.”
Die optrede van die karakters is beslis gemotiveerd. Lees jy oor Abel se kinderjare en lang tyd op die grens (waar hy soldate se ore versamel het), weet jy hoekom hy geword het soos hy is. (Nie dat dit ’n verskoning is nie.) Abel is ’n volronde karakter, nie net sleg nie. Soms het mens ook empatie met dié man wat so liefdeloos grootgeword het. Gertruida self haat hom ook nie net nie, sy is lief vir hom wanneer hy wel gewone “pa-dinge” doen.
Mens verstaan ook hoekom Mama Thandeka een aand vir haar “wit kind” Abel gaan lê. Haar man, Samuel, “het windballe”, hy kan nie kinders hê nie en sy wil.
Die verhaal het heelwat spanningsvolle gebeure. Parallel met Gertruida se verhaal loop dié van haar klasmaat, Andrea, wat deur dieselfde pyn gaan. Gertruida verkies om Andrea te ignoreer – sy het genoeg pyn van haar eie. Maar wanneer haar klasmaat weens bloedskande die lewe aan ’n gebreklike kind skenk, neem Gertruida haarself kwalik vir haar optrede. En wanneer Andrea se pa as die molesteerder uitgewys word, besef Gertruida praat help nie – die sisteem het dan haar maatjie gefaal. Andrea se ouers skei en sy krepeer saam met haar ma en die ander kinders van armoede.
Gertruida se innerlike konflik word deurgaans goed hanteer. Wanneer haar liggaam haar “in die steek laat" en sy nie soos gewoonlik in ’n sprokie ontvlug nie, maar orgasme kry, is sy totaal verward en haat haarself. Sy besef nie dit is hoe die liggaam werk nie. (Verkragtingslagoffers vertel dit dikwels.) As leser voel jy jy wil in die storie inklim, vir Gertruida uithaal en red, want jou hart en liggaam pyn saam met hare.
Haar flikkertjie hoop is haar onderwyser, Braham, net ’n paar jaar ouer as sy. Sy raak verlief en hy is op sy beurt beïndruk met haar taalvermoë. Hy probeer opreg uitvind wat met sy leerder vir wie hy so omgee, aan die gang is. Die liefde gee Gertruida moed om haar uit te leef in haar skeppende skryfwerk. Die kruis wat sy dra, word selfs effe ligter. Praat mag sy mos nie. Sy word gedreig met “die naglikkewaan” wat haar sal vang. Wanneer sy ongehoorsaam aan haar pa is, maak hy haar nog seerder deur voorwerpe soos ’n lepel in haar op te druk. Dit wissel die gewone “Chinese speelgoed” af.
Botes benut ruimte funksioneel. Deur Gertruida se sintuie beleef die leser byvoorbeeld die binnekant van die plaashuis – veral die herinneringe en reuke wat oorgebly het nadat haar ouers dood is. Dít in teenstelling met die veilige, huislike atmosfeer van die kliphuis in die kloof waarheen sy gereeld vlug. Soms wonder mens net of ’n kind in hierdie dag en eeu van misdaad wel so alleen in die berge sou gaan bly.
Nog iets wat dié leser effe hinder, is Braham se uitspel van statistieke oor bloedskande (dit raak een uit elke vyf Suid-Afrikaanse gesinne). Dalk sou dit meer effektief as nawoord gewerk het.
Mens wonder ook of dit nie ’n te maklike uitweg is om Gertruida se broer, Anthonie, Mama Thandeka se man, Samuel, én albei Gertruida se ouers in motorongelukke te laat sterf nie.
Die gelukkige einde is goed-gemotiveerd en gepas. Die hoofkarakter se swaarkry sterf saam met haar ouers. Tog besef die leser dat die (geestelike) pad wat Gertruida, ondanks die hoopvolle einde, nog sal moet stap, nie net maanskyn en rose kan wees nie.
Thula-tula is ’n roman wat jy móét lees. Ontstellend is dit wel. Maar ’n goedvertelde storie wat boonop help om enige seerkry en wrokke uit jou kinderjare te verwerk, is nooit te versmaai nie.


Kommentaar
Kon nog nooit boeklees nie omdat ek self deur my pa gemolesteer is en dit net te seer maak. Eers op 60 besef watse skade dit en al die antidepressante aan my gedoen het. Sukkel met angs en insomnia. Dit is hel.