Die Afrikaanse skryfster, Annelie Botes, het in 'n Rapport-onderhoud (21.11.2010) genoem dat sy nie van swartes hou nie omdat sy hulle nie verstaan nie. Kort daarna het sy haar stelling gekwalifiseer deur te sê dit geld nie alle swartes nie. Sy het nie beweer dat sy swartes bv haat nie. Wat sy gesê het, is egter aangegryp as iets waaruit sensasionele teks getap kon word.
Vyf reaksieberigte (naas die genoemde berig in die hoofkoerant) en drie briewe, asook 'n dosyn webmenings, is hieroor in 'n enkele uitgawe van Rapport-Weekliks gepubliseer, aangevul met vier webartikels. Dit was duidelik dat sommige van diegene wat Botes verdoem het, om reaksie gevra is. Die joernalis wat die onderhoud met Botes gevoer het, Hanlie Retief, het bv beweer dat die opmerking die onthutsendste antwoord is wat sy tydens haar loopbaan teëgekom het. Ek het destyds al hierdie reaksies ontleed en hulle (met een uitsondering) voorbeelde van selektiewe moraliteit genoem (SêNet 2.12.2010).
Weens die koerantstorm is haar rubrieke beëindig, wat sy as "'n bykanse doodstyding" ervaar het (p 100). Selfs 'n literêre prys is teruggetrek. Iemand het haar uitlating "career suicide" genoem (p 85). Nie almal was veroordelend nie. Charl-Pierre Naudé het gewag gemaak van die "onegtheid" en "gretigheid van die 'morele verontwaardiging'" (p 57). Zelda Jongbloed het geskryf: "Kort voor lank was sóveel mense op die wa van hoogheilige veroordeling" (p 102). Botes het aan Jongbloed gesê: "My hart is nié die rassistiese, haatdraende, ongenaakbare hart waarvoor dit uitgemaak word nie" (p 103).
In hierdie era van politieke korrektheid is daar myns insiens geen moontlikheid dat enige nie-witte oor enige uitlating (of selfs gewelddadige handeling) op so 'n skaal met soveel venyn in die pers uitgekryt sou word nie. Die reaksie was net so oordrewe soos in die geval van die Reitz-4-video. Hierdie stortvloed van kritiek het op 'n enkele mens, asook haar gesin en familie, neergedaal. Hoe het Botes dit ervaar? Sy gee 'n aanduiding hiervan in haar jongste boek, Swart op Wit (Tygervallei: Naledi, 2013, 303p, R179). Die boek is aan haar twee kinders opgedra: "Ma los vir julle 'n memorieboek as erfenis" (p 6).
Botes vertel grepe uit haar geskiedenis. Die teks handel dus oor baie meer as bloot die gewraakte onderhoud en wat daarop gevolg het. Dit is 'n poging om die "plusse en minusse" van die mens Botes eerlik weer te gee (p 207). Ek gaan nie Botes se lewensloop opsom nie; ook nie die boek na behore resenseer nie. Slegs enkele aspekte word hier uitgelig. Ek spits my toe op taal en politiek. Kleintyd het Botes gehoop dat daar eendag 'n boek sou wees waarop haar naam staan: "As 'n mens jou hand oor die voorblad vryf, moet die letters dikkerig voel onder jou vingerpunte" (p 68). Die bedagsame uitgewer het met hierdie boek haar droom bewaarheid.
Geografies is haar geskiedenis soortgelyk aan myne. Van 'n jeug op die Kaaplandse platteland (myne Wes-Kaap, hare Suid-Kaap) via dorpe in die Oos-Kaap na stadslewe by die see (myne Wes-Kaap, hare Oos-Kaap). Oor plattelanders in die nuwe Suid-Afrika skryf Botes: "Hoe hulle dit regkry om in vandag se dae hulle kwynende dorpe se moraal hoog te hou, sal net hulle weet" (p 86). Haar geheue oor hoe ons die lewe in die ou Suid-Afrika ervaar het, is uitstekend. Al waar ek verskil, is dat ek die aanmaakkoeldrank as Exa onthou. Sy noem dit Esto (p 160). Botes het baie rolle vervul waartydens sy bv die gemeentesusters en VLV-vroue van weleer eerstehands leer ken het. Sy het my laat dink aan die keer toe ek en ander kinders vir die VLV-tannies in die kerksaal gesing het (al kan ek nie sing nie) en ons daarna met koeksisters en kolwyntjies vergoed is.
Botes het nie gepoog om gebeure kronologies weer te gee nie: "Hierdie storie is 'n deurmekaar storie" (p 15). Telkens vat sy afdraaipaaie, maar meesal is dit funksioneel. Dit help om 'n uit-die-vuis indruk te wek. Die taal wek ingelyks 'n spontane uitdruk, maar juis daarom word te veel Engelse woorde gebruik. Deurgaans is dit duidelik dat 'n ervare skrywer aan die woord is.
Daar is treffende woorde en frases: "natpisbang" (p 64), "waenhuiswerkies" (p 168), "'n nutsmanstreep" (p 176), "dobbelgriep" (p 205), "platsakgevolge" (p 234), "hondgetrou" (p 207), 'n "huishenstreep" (p 229), "agternatee" (p 264), "windhondervaring" (p 270), "jimmelsnaam" (p 272), "matrasdinge" (p 291), "allermoerse hou" (p 69), "groot geneukte" (p 272), "binne messteekafstand" (p 190), "die langleer Boontoe" (p 271), "tot smarte toe gatvol" (p 73), "klinkendste Afrikaans" (p 148).
Daar is kostelike sinne: "Sy huil soos 'n hondjie wat koud kry" (p 81). Oor 'n Paassangdiens: "Elke kind in die dorp moet 'n engel of skaapwagter of Emmausganger of palmtakdraer wees" (p 88). "Dit neuk met Judas en Barabbas, want hulle is ongelukkig in hulle rolle as tronkvoël en verraaier" (p 89). Vir die opvoering word die kanselarea in Golgota omskep. "Om 'n fees te organiseer is 'n ingewikkelde saak met duisende tentakels wat elkeen op die regte plek moet vasgryp" (p 147). "Die Portugese vrou van Madeira ... huil in Portugees" (p 89). "Sy was nie 'n wafferse pillemens nie" (p 214). "Ek was ook nog jonk en het self 'n stywe paartiekap gemaak" (p 181). Sy noem dit "my wildejare" (p 230) toe sy "hippierig" was (p 288). "Die bleddie mense rol jou 'n pampoen in die hol" (p 283). "Een van die army-manne was so 'n klein outjie met 'n dikraambril en wortelrooi hare wat soos 'n oopgebarste klapperhaarmatras op sy kop staan" (p 181).
Botes begin die boek deur te vertel hoe die koerantberig oor die onderhoud en die voortvloeiende reaksies haar ontstel het. Daar was verslaenheid, huilnagte, woede, swartgalligheid, Godverlatenheid en selfs sprake van selfmoord. "Ek het gewens die doodsengel wil my kom haal. Die lewe was 'n maalkolk waarin alles verdwyn waarvoor ek soveel jare geswoeg het" (p 248). Sy was slapeloos weens "die verraderlikheid van die mens" (p 14). Die "rasorkaan" (p 8) het "langdurige skok" veroorsaak (p 7).
"Kreatiewe leegheid" het haar oorval (p 9). Sy het dit oorweeg om haar "skryfpen permanent neer te lê" (p 10), maar skryfwerk kom reeds 'n te lang pad saam met haar. "Om boeke te skryf, is verreweg die bevredigendste en bevrydendste werk wat ek al in my lewe gedoen het. Ook die moeilikste" (p 41). Haar uitgewers het voorheen gedink "sosiale kwessies" is haar "sterk punt" (p 9).
Van haar kant is sy vasbeslote om haar nie aan "'n skryfleuen" skuldig te maak nie (p 9). Sy het haar "weersin in leuenagtigheid geërf uit [haar pa se] jare as vrederegter" (p 272-273). 'n Skrywer "moet skryf wat in sy kop en hart aangeteken staan" (p 13). Vandaar haar begeerte om "met opregte passie" en "swart op wit" perspektief op hierdie saak te gee (p 10). "Elke mens skryf sy eie CV. Swart op wit" (p 284). Dit doen sy deur "kaart en transport" op te trek "van die landskap waarlangs ek al meer as 'n halfeeu reis" (p 11). Toe sy hierdie boek voltooi, was haar taak afgehandel; kon sy "begrafnis hou van die ellende wat ek oor myself gebring het" (p 302).
Die selfmoordgedagtes het mettertyd gewyk. "Dit is so dat daar soms net stompies oorbly van die sterk bome in ons lewensboord. Soms spandeer ons elke druppel krag om 'n omgevalle boom te probeer regop sit op die stompie wat bo die grond uitsteek, in die hoop dat dit weer 'n lewende boom sal word. Tog kan ek getuig dat ek met my eie oë gesien het hoe loop 'n stompie uit en vorm 'n nuwe boom wat anders lyk as die oue ... Tyd is die hangbrug wat jou oor die stormrivier dra" (p 211-212).
Terwyl ons deesdae wysgemaak word dat die etniese groepe in "apartheid-Suid-Afrika" in isolasie bestaan het, toon Botes tereg aan hoe baie kontak daar inderdaad was; ook hoe baie welwillendheid daar by baie wittes, sy inkluis, teenoor nie-wittes was. Daar kan beweer word dat sy te veel kere van haar goeie dade jeens nie-wittes vertel, maar sy moet dit aanroer om aan te toon hoe bitter onregverdig die etiket van "rassis" in haar geval is (p 29, 47). Vanweë 'n "ongeveinsde antwoord" is sy gekruisig (p 21).
Gebalanseerd skram sy nie weg van talle voorbeelde van afkeurenswaardige gedrag by sowel swartes as wittes nie. "Dat daar slegte wit mense is, is nie te betwyfel nie" (p 282). Met voorbeelde, bv die verval van die eens spogdorp Butterworth, bevestig sy dat daar onverstaanbaarhede is; ook in die geledere van die meerderheidsgroep. Henning Mankell het, sonder dat 'n herrie ontstaan het, gesê: "I will never fully understand those people" (p 125). Daar is kultuurverskille wat nie weg te redeneer is nie: "Iewers tussen my Westerse kop en die Afrika-kop val die pap op die grond" (p 125). Daar is "ingebore kultuurgrense ... in hierdie spikkelland" (p 167). "Ingebore apartwees is duisend myl verwyder van politieke apartheid" (p 165).
"Dis nie omdat ek verhewe of voorheen bevoordeeld is nie. Dis omdat dit geneties deur my voorgeslagte ingebrei is by die blokkieskombers waarmee ek my toemaak. As Butterworth lyk soos dit lyk, kan ek nie anders nie as om die vraag te vra: Is orde en higiëne en 'n mooi omgewing, vir grootmense om in te woon en vir kinders om in te floreer, dan nie in die inwoners van Butterworth se genetika vasgebrei nie?" (p 150). "Om rommel op te tel, kos niks. Die héél armstes kan dit bekostig" (p 147).
Van 'n duur "regstellingsprojek" wat misluk het, skryf sy: "'n Erfenis wat langdurige dividende kon bring, gevestig deur die wit apartheidshonde, is deur die gat getrek" (p 172). Sy noem 'n ander geval. Op 'n dorp met 'n bankrot munisipaliteit was daar betogings oor allerhande kwessies. Later: "Hulle soek nou nie meer jobs nie; hulle sal tevrede wees as die overgeld ["overdraft"] onder hulle verdeel word" (p 258).
Nie net wat goed is nie, maar ook wat sleg is, moet by enige etniese groep uitgewys kan word. Dit is dus verstaanbaar dat sy "sat" en "sielsdik" vir politieke korrektheid is (p 12). "Daar is dinge wat gesê móét word, ongeag of 'n bomskerf jou in die oog gaan tref" (p 282). Sy het geleer "om die leuenaars, bedrieërs, misleiers en gatlekkers te verafsku" (p 15). Maar sy mymer ook oor "die weerloosheid van die mens" (p 88). Sy noem haarself 'n "gevoelsmens" (p 113). Juis daarom het die rasherrie haar so seer gemaak. "My wonde genees stadig" (p 199).
In haar jeug het Botes met 'n mede-skryfster, Dalene Matthee, bevriend geraak. Op grond van wat ek oor Matthee gehoor het en die essay oor haar wat ek in Izak de Villiers in Strooidak en Toring (2009)gelees het, dink ek dat daar soortgelyke "stuitighede" (p 169), onnutsighede of onhebbelikhede by Botes is. Sy "glimlag met 'n traan oor al die sotlikhede van my lewe" (p 237). Botes noem haarself bv "dwarstrekkerig" en "opstandig" (p 40). "In my standerd twee-jaar het ek begin om 'n begrip van my eie boosheid te ontwikkel" (p 79). "Dis 'n Annelie Basson-swakheid ... dié koppigheid om nie voorgesê te wil wees nie" (p 227). Dit was nodig om haar "teuels kort" te hou (p 290).
In die aanloop tot haar troue was sy hoogs inskiklik: "Ons kan onder 'n taaibos bly vir al wat ék omgee, solank ek by jou is" (p 296). Haar man sou gou agterkom "die engelvrou met wie jy getroud is, kan verander in 'n helleveeg" (p 296). "As daar 'n ding is waarmee ek goed is, is dit om in sy ore te sanik" (p 212). Later skryf sy uit ervaring: "Elke huwelik kom op 'n tyd waar alles sprankelloos voel. Vasgewig in 'n groef. Alles is moeite" (p 157). "Dikwels tree ek op soos 'n vrou wat slae soek" (p 176). Eintlik diskrediteer sy haarself te veel.
Die eintlike held in die verhaal is Botes se man. Soms moet hy prontuit sê: "Ek sal géén kak van jou vat nie" (p 288). Oor die rasherrie was sy raad: "Vergeet die dônnerse spulletjie en gaan aan met jou lewe" (p 63). Hy verdien ons simpatie en 'n bekroning of ten minste 'n stewige handdruk ter bemoediging; veral noudat hy nie meer die gewoonte het om in drank, "neëntien dubbel-Squadron Leaders" in 'n "ounag", troos te soek nie (p 291). Danksy rasionaliteit vervang hy sy vrou se wispelturigheid met bestendigheid; hou hy die huweliksbootjie vlot.
Wat Botes skryf sal feministe nie altyd verbly nie. "Ons vrouens, ék altans, spoel ons monde maklik uit oor mans wie se verstand net werk as dit kom by rugby, vleisbraai, brandewyn, karre en kooisake ... ek ... erken dat baie van ons in verlorenheid sou versink sonder die drakrag van ons mans" (p 111). "Ons vroumense het mos 'n laai om sake aan te roer wat geensins van toepassing is nie. As ons eers op dreef is, kry niks ons stil nie" (p 175). "Ons vroumense het mos 'n manier om met 'n ver ompad oor iets te teem" (p 213).
Diegene wat weens "regstelling", dus neo-rassediskriminasie, landuit is om werk te kry, soos haar kinders, noem sy "trekarbeiders" (p 56, 198, 242). "Op die tafel brand 'n bidkers vir ons kinders in anderland" (p 151). Haar troos is: "My kinders leef veilig en waardig in Engeland" (p 139). "Wat het in ons sonland gebeur dat daar deesdae nêrens 'n veilige woudpaadjie is nie en almal toegegrendel móét lewe?" (p 140). "Elke mens het die reg om veilig in sy huis te slaap; om nié besteel en verniel en verkrag te word nie" (p 46). Sy hou nie daarvan "om omkyk-omkyk te leef" nie (p 47).
Sy is diep bewus van die Suid-Afrikaanse werklikheid. "'n Honger kind is God se manier om hard met 'n mens te praat" (p 114). "Algemeen gesproke is ons nie watwonders hulpvaardig teenoor mekaar nie. Ons gee eerder 'n koue skouer as om opgesaal te word met die armsaliges se probleme. Dis makliker om ons offers vir die kerk te gee om te versprei, dan trap die hulpbehoewendes in die gemeente nie óns drumpels deur nie" (p 123).
Sy was onder andere 'n musiekonderwyseres en orreliste en dit vind weerklank in haar prosa. "Ineens is ek só verward oor wat Godswil is vir elke kind wat sonder 'n harpie moet musiek maak in die mineur-concerto van hierdie lewe" (p 267-268). "Hoeveel ... spoenlappertjies [is daar] wie se vlerke nooit sal oopvou om te vlieg nie?" (p 269). "Ek wil hê daar moet harmonie wees in die concerto van ons land" (p 129).
Oor die verlede: "Daar is spore wat moet bly lê waar dit getrap is" (p 135). Oor die hede: "Hierdie land se son is aan die ondergaan" (p 198). Oor die toekoms wanneer "ons eendag die laaste reis aanpak. Dan sal die misreën ons voetspore wegwas" (p 97).
Johannes Comestor
Annelie Botes
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780992176464


Kommentaar
Vat vyf, Johannes, vir 'n lekkerlees-stuk.
Chris Rock het op 'n openbare verhoog verkondig dat die idee dat swartes (Amerikaanse negers) nie van Jode hou nie, nie heeltemal waar is nie. Die waarheid is "we hate ALL whites." Geen haan het daarna gekraai nie; hy's nie die verhoog verbied nie niks en hy speel nog in flieks, alles.
Hoekom? Hoekom is hy nie verguis nie?
Omdat daar ERGE diskriminasie teen swartes is. Anti-wit uitlatings word skouerophalend deur wittes ontvang, 'n soort van 'n let-the-children-be-happy-houding. Anti-swart uitlatings maak wittes egter histeries en hulle kan nie die uitlater genoeg veroordeel en straf nie, so al asof die swartes nie op eie voete kan staan nie. Hierdie oor-protestering dra ook die boodskap tussen die lyne dat, volgens hulle, die uitlater die kol tref. Dus 'n duidelike manifestasie van hulle ware dunk van 'die ander'.