Ek het Annelie Botes se jongste boek, Swart op Wit (2013), op SêNet (19 deser) bespreek. Die dag daarna is 'n onderhoud met Botes in Die Burger se By gepubliseer. 'n Ander onderhoud met Botes is op die 23ste op LitNet gepubliseer.
In Die Burger se By (27 deser, p 2) reageer Pierre de Vos op eersgenoemde onderhoud. Ek haal sy brief soos gepubliseer volledig aan.
"Ek kan nie glo By het die selfbejammerende, selfverontskuldigende onderhoud met Annelie Botes ('Dis net nóg 'n boek', 20 Julie) geplaas nie.
"Dis die vrou wat drie jaar gelede in 'n onderhoud erken het 'sy hou nie van swart mense nie'. Die uitspraak was onbeskroomd rassisties. Nou plaas By 'n volbladartikel waarin voorgegee word dis die mense wat Botes gekritiseer het wat haar verontreg het.
"Dis soos die eertydse apartheidsministers wat oudpres Nelson Mandela uitgekryt het as 'n terroris en hulself as die verontregtes voorgedoen het.
"Dit terwyl hulle opponente gemartel en laat vermoor het. In Engels is daar 'n woord hiervoor: sickening.
"Ek sê nie By moes nie 'n onderhoud met haar gevoer het nie. Maar so[danige] onderhoud sou haar verontskuldigings skepties moes bejeën en haar krities moes pols oor hoe sy sulke rassistiese goed kon sê en waarom ons enigsins vir haar respek moet hê, gegewe haar blatante rassisme. Maar om haar toe te laat om haarself so 'n onkritiese platform te gee waar sy (onsuksesvol) probeer om haarself te verontskuldig van haar blatant rassistiese uitsprake - en om sodoende rassisme implisiet goed te praat - is skokkend. Sies."
Ek het in my bespreking van Botes se boek genoem dat sy kort na die 2010 Rapport-onderhoud haar stelling gekwalifiseer het deur te sê haar opmerking geld nie alle swartes nie. De Vos bestempel dit egter as "onbeskroomd rassisties", "rassistiese goed", "blatante rassisme", "blatant rassisties" en "rassisme". Hy bedoel klaarblyklik om met die woord "rassisme" en die vier soortgelyke frases Botes sleg te sê. Maar waarom so 'n bohaai opskop as haar verweer volgens hom "onsuksesvol" was? Dit is duidelik dat hy vir "die vrou" geen "respek" het nie.
Ter oorweging gaan ek 'n vraag in die midde lê. Gestel 'n swarte het gesê hy/sy hou nie van (sommige) wittes nie. Sou De Vos die skelwoord "rassisme" vyf keer in 'n kort brief teen hom/haar geslinger het?
Daar is 'n hinderlike gebrek aan ewewig in De Vos se skrywe. Hy verwys bv na hoe sogenaamde vryheidsvegters deur die sogenaamde apartheidsregime gemartel en vermoor is. Hy noem egter nie dat die ander party dieselfde gedoen het nie. Hy bestempel Botes as selfbejammerend en selfverontskuldigend. Hy doen dit blykbaar bloot op grond van die onderhoud. Daar is geen aanduiding dat hy haar jongste boek gelees het nie. Met die boek het Botes onder meer beoog om perspektief op die saak te verskaf. Dit lyk asof De Vos hom veroorloof het om sonder daardie perspektief teen haar uit te vaar.
As die By-briefskrywer dieselfde Pierre de Vos is as wat ek dink, is dit nie die eerste keer dat hy hom deur emosie pleks van rasionaliteit laat lei nie. Die De Vos wat die webwerf Constitutionally Speaking bedryf, het bv op 8 November 2011 hom heeltemal te buite gegaan. Ek het toe geskryf: "Die oorheersende indruk wat die trant van sy teks by my laat, is dié van 'n Afrikaanssprekende wat aan 'n eentalige Engelse universiteit (Kaapstad) sy kulturele wortels ontken en politiek-korrek in die mode wil wees" (SêNet 10.11.2011).
De Vos was sinies oor wittes wat sedert 1994 voel dat hulle benadeel word. Angs oor die afskaling van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) het hy as onnodig afgemaak. Hy het selfs geredeneer dat 'n (oorwegend) Afrikaanse US 'n tweede of derderangse inrigting moet wees. De Vos se skewe siening was dat klem op akademiese gehalte die voortsetting van wit bevoorregting impliseer. Hy het Afrikaans as onderrigtaal aan die US as 'n uitsluitmeganisme voorgestel, maar nie beswaar geopper wanneer Engels as onderrigtaal dieselfde rol aan bv die eentalige Universiteit van Wes-Kaapland (sy vorige werkgewer) en die Universiteit Kaapstad (sy huidige werkgewer) vervul nie.
Ek het my betoog soos volg afgesluit: "As jy lojaal teenoor Afrikaans is en vir die heil van jou taal in die bres tree, gee jy, volgens De Vos, aan hierdie kern van jou kulturele erfenis 'n slegte naam. Dit is wat ek 'n drogredenasie noem."
Daardie De Vos is baie daarop gesteld dat daar begrip en deernis vir homoseksuele mense by heteroseksuele mense moet wees; dat hulle verdraagsaam, onbevooroordeeld en waardig behandel moet word; dat daar vir almal 'n plekkie onder die son gegun moet word. Maar leef De Vos hierdie waardes uit wanneer hy swaarde kruis met iemand soos Botes wat ander politieke oortuigings as hy het? Bevorder hy versoening met sy galbraking teen haar?
Johannes Comestor


Kommentaar
Johannes
De Vos is nie die enigste Afrikaner wat emosioneel, subjektief, ongebalanseerd en eensydig teenoor sy eie volksgenote braak nie. Ons het ons eie soortgelyke "De Vos" hier op SêNet, en ons almal weet wie dit is.
Jaco Fourie
Ek moet met Johannes staamstem oor De Vos se aanval op Botes - in beginsel, nie oor wie betrokke is nie.
Ek het ook nog niks deur Botes gelees nie en "weet" net wat ek oor haar in die media lees. Sodoende kry mens 'n sekere indruk, soos die joernaliste verkies om dit aan te bied. Siende dat baie joernaliste deesdae ontken dat daar iets soos objektiwiteit bestaan, kan die leserspubliek ook nie anders as om skepties te wees jeens hulle werk, asook teenoor iemand soos De Vos, veral weens sy emosionele aanvalle nie - hoewel 'n rubriekskrywer ruimte gegun word om 'n eie mening te lug, anders as 'n "gewone" artikelskrywer.
My punt is: as mens nie eens probeer om ewewigtige kommentaar te lewer nie, sal jy naief wees of te verwag dat gematigde mense jou ernstig opneem. Selfs al maak jy geldige punte, sal jy deur jou neiging om die persoon te speel en nie die bal nie, gediskwalifiseer word.
Wat Botes betref, sy sal (nou veral) besef dat mense nie weet wat presies in haar kop/hart aangaan nie, maar net gevolgtrekkings kan maak van wat aan hulle opgedis word. En dit kan ons almal maar ter harte neem wanneer ons op 'n openbare forum optree of aangehaal word. Ook De Vos: hy is nie self verhewe bo kritiek nie, en as hy so optree, lyk dit ook nie of hy in staat is om regverdigheid voorop te stel, soos mens van 'n regsman verwag nie. Of glo regsmense ook nie meer in objektiwiteit nie? Sekerlik behoort juis hulle dit as die Eerste Gebod van 'n regstaat beskou!
Ten slotte: Nieteenstaande die huide regime se agenda om die regstelsel te ondermyn (as mens die media kan glo) hoef ons nie almal ons norme en waardes, soos ook respek teenoor ander - vroue, mans, hetero's, gays, wit, swart - wie ook al, oorboord te gooi nie.
My beskeie mening is daar is 'n moerse verskil tussen intelligensie en emosionele intelligensie, over gesied seinde "Kennis van verstand"
Francois Verster, jou opmerkings oor joernaliste wat deesdae objektiwiteit ontken, regsman De Vos wat regverdigheid voorop moet stel en regsmense wat nie objektiwiteit durf ontken nie, is hoogs tydig en nodig. In vandag se koerant (Die Burger, 30 Julie, p 15) haal einste Pierre de Vos Pius Langa soos volg goedkeurend aan: "Tegelyk vereis transformerende beregting van regters om die uitwerking van die 'persoonlike, intellektuele en morele vooroordele' op hul besluitneming te erken ... Waar die beleid ingevolge die apartheidsregskultuur behels het dat hierdie invloede op besluitneming ontken is, vereis ons grondwetlike regskultuur dat ons die rol wat ons eie oortuigings, opinies en idees in ons besluite speel, uitdruklik aanvaar en omarm."
Ek dink dit is 'n wanvoorstelling om sonder meer te beweer dat die apartheidsregskultuur (alle) invloede op besluitneming summier ontken het. Wat tradisioneel plaaslik en elders, ten minste in die Westerse wêreld, nagestreef is, is objektiwiteit; dus om sover moontlik "persoonlike, intellektuele en morele vooroordele" uit te uitskakel of ten minste doelbewus te minimaliseer. Dit was die grondslag van die regverdigheid waarna Verster tereg verwys. Dit is ook waaraan die regbank tradisioneel sy aansien te danke het. Nou kom De Vos en Langa, soos die joernaliste waarna Verster verwys, en ontken die moontlikheid en selfs wenslikheid van objektiwiteit; dermate dat Langa drie soorte vooroordele tussen aanhalingstekens plaas, asof hulle skadeloos is. Geen wonder dat die gehalte van diegene aan wie regspraak deesdae toevertrou word en daarmee saam die gehalte van sodanige uitsprake skynbaar op die afdraand is nie.
Maar lees gerus De Vos se hele artikel. Vir Langa het hy net die hoogste paternalistiese lof. Vergelyk dit met wat hy oor Annelie Botes te sê gehad het.
Johannes Comestor
Inderdaad is dit beter om De Vos direk te lees.
Wouter, die lees van De Vos se volledige artikel gee inligting oor sake wat ek nie betrek het nie. Dit verander nie aan daardie aspekte waaroor ek wel geskryf het nie. My hoofbeswaar is die geringskatting van objektiwiteit, wat sekerlik in die regspleging sover moontlik nagestreef behoort te word. My ander beswaar is De Vos die ongekwalifiseerde heldeverering van Langa en daarteenoor sy algehele verdoeming van Botes.
Ek het nie geskryf oor De Vos en Langa se wens dat transformasie vir ewig moet duur nie. Die verwerkliking van daardie wens sou uiters destruktief wees, want transformasie het die betekenis verwerf van nie bloot verandering nie en sekerlik nie noodwendig verbetering nie, maar van radikale verandering ooreenkomstig die wense van die ANC.
Jaap du Rand is saam met Dirkie Smit verantwoordelik vir die Belhar-belydenis. Du Rand skryf aan die begin van sy boek Ontluisterde Wêreld (Wellington: Lux Verbi, 2002) dat die word "transformasie" 'n "emosionele geladenheid" het, dat "daar gesoek is na die sterkste woord moontlik om uitdrukking te gee aan die soeke na verandering" (p 10). Gestel Suid-Afrika word 'n vooruitstrewende, voorspoedige, beskaafde, misdaadvrye, ens, land. Inderdaad sal daar steeds met verloop van tyd nodige aanpassings moet plaasvind, maar daar sal geen behoefte aan voortdurende radikale verandering, dus ANC-soortige transformasie, wees nie. In die geval van De Vos, Langa en Du Rand het ons met politiek-radikale elemente te make waarop ons bedag moet wees.
Oor Lincoln wou ek eintlik niks meer aantoon nie as dat hy selfs laat in sy loopbaan steeds sleepvoetend oor die vrystelling van die slawe was. Eers toe hy deur die omstandighede van die burgeroorlog daartoe verplig is, het hy die groot slawebevryder geword waarvoor hy deesdae vereer word. Insgelyks was FW de Klerk geensins die groot voorstander van swartmag en meerderheidsregering nie. Deur dwase strategie het hy in 'n situasie beland waar hy deur veral die ANC met geweld afgedreig is totdat sy magsdeling algehele oorgawe geword het.
Ek het my glad nie uitgelaat oor hoe lank dit in Amerika geduur het om gevolg te gee aan (hedendaagse) vertolkings van hulle grondwet nie.
Johannes Comestor
Hello Comestor,
Hello,
Beste Johannes,
Met alle respek; wat my erg de moer in maak is die feit dat Wouter Ferns waarskynlik nie besef dat daar regtig mense is wat elke woord van sy afdwaal van die onderwerp, en dit met soveel onsin daarby, lees nie (Wouter het selfs vir Annelie Botes onlangs, en dit teen alle verstand in; "op die grond geskop" probeer voorstel - en dit ook ten onregte van sy eie onderwerp die keer)!
My algemene belangstelling dwing my daartoe; ek wens net Wouter Ferns wil genade begin toon en sy marteling minstens kort hou.
Soos altyd; dankie vir jou insig en die wyse vertolking daarvan.
Cornelius Henn
The Court recognized that the words of the Amendment are not precise and that their scope is not static. The Amendment must draw its meaning from the evolving standards of decency that mark the progress of a maturing society....
Hierdie Pierre de Vos. Is hy nie die einste man wat voorgestel het dat 'n blankevel-belasting ingestel moet word om swartes te betaal vir die "ongeregtighede" deur wittes teenoor swartes van die verlede nie??
Jaco Fourie
Jaco, Desmond Tutu het dit in 'n toespraak op Stellenbosch voorgestel.
Johannes Comestor
Johannes
Dankie vir die regstel. Vir die een of ander rede het ek dit aan De Vos toegeskryf.
Jaco Fourie
Ek reageer jammerlik omdat my vriendin, Annelie Botes, vir die verkeerde redes in die nuus is. Ek weet nie wàt sy gesê of beweer het wat die "stortvloed van kritiek" veroorsaak het nie. Lesers behoort teen hierdie tyd te weet dat 'n mens nie teen Annelie se uitsprake, skryfstyl, woordgebruik of insinuasies teëgaan nie. Toe ek in goeder trou 'n opmerking of twee gemaak het, is my kop behoorlik met ongeveer drie lange e-posse gewas totdat 'n kundige vir my verduidelik het dat ek moet onthou dat sy 'n skrywer is en haar skrywerstegnieke gebruik om haar misnoeë te kenne te gee. So jammer dat dit 'n kosbare vriendskap opgebreek het! En so entoesiasties as wat ek altyd was om VAK elke week in DIE BURGER te lees, lees ek dit nou so langtand, want ek weet nie watter inhoud is opreg bedoel en watter is "skrywerstegniek" nie. So jammer . . .