Pierre de Vos braak gal teen Annelie Botes

  • 14

Ek het Annelie Botes se jongste boek, Swart op Wit (2013), op SêNet (19 deser) bespreek. Die dag daarna is 'n onderhoud met Botes in Die Burger se By gepubliseer. 'n Ander onderhoud met Botes is op die 23ste op LitNet gepubliseer.

In Die Burger se By (27 deser, p 2) reageer Pierre de Vos op eersgenoemde onderhoud. Ek haal sy brief soos gepubliseer volledig aan.

"Ek kan nie glo By het die selfbejammerende, selfverontskuldigende onderhoud met Annelie Botes ('Dis net nóg 'n boek', 20 Julie) geplaas nie.

"Dis die vrou wat drie jaar gelede in 'n onderhoud erken het 'sy hou nie van swart mense nie'. Die uitspraak was onbeskroomd rassisties. Nou plaas By 'n volbladartikel waarin voorgegee word dis die mense wat Botes gekritiseer het wat haar verontreg het.

"Dis soos die eertydse apartheidsministers wat oudpres Nelson Mandela uitgekryt het as 'n terroris en hulself as die verontregtes voorgedoen het.

"Dit terwyl hulle opponente gemartel en laat vermoor het. In Engels is daar 'n woord hiervoor: sickening.

"Ek sê nie By moes nie 'n onderhoud met haar gevoer het nie. Maar so[danige] onderhoud sou haar verontskuldigings skepties moes bejeën en haar krities moes pols oor hoe sy sulke rassistiese goed kon sê en waarom ons enigsins vir haar respek moet hê, gegewe haar blatante rassisme. Maar om haar toe te laat om haarself so 'n onkritiese platform te gee waar sy (onsuksesvol) probeer om haarself te verontskuldig van haar blatant rassistiese uitsprake - en om sodoende rassisme implisiet goed te praat - is skokkend. Sies."

Ek het in my bespreking van Botes se boek genoem dat sy kort na die 2010 Rapport-onderhoud haar stelling gekwalifiseer het deur te sê haar opmerking geld nie alle swartes nie. De Vos bestempel dit egter as "onbeskroomd rassisties", "rassistiese goed", "blatante rassisme", "blatant rassisties" en "rassisme". Hy bedoel klaarblyklik om met die woord "rassisme" en die vier soortgelyke frases Botes sleg te sê. Maar waarom so 'n bohaai opskop as haar verweer volgens hom "onsuksesvol" was? Dit is duidelik dat hy vir "die vrou" geen "respek" het nie.

Ter oorweging gaan ek 'n vraag in die midde lê. Gestel 'n swarte het gesê hy/sy hou nie van (sommige) wittes nie. Sou De Vos die skelwoord "rassisme" vyf keer in 'n kort brief teen hom/haar geslinger het?

Daar is 'n hinderlike gebrek aan ewewig in De Vos se skrywe. Hy verwys bv na hoe sogenaamde vryheidsvegters deur die sogenaamde apartheidsregime gemartel en vermoor is. Hy noem egter nie dat die ander party dieselfde gedoen het nie. Hy bestempel Botes as selfbejammerend en selfverontskuldigend. Hy doen dit blykbaar bloot op grond van die onderhoud. Daar is geen aanduiding dat hy haar jongste boek gelees het nie. Met die boek het Botes onder meer beoog om perspektief op die saak te verskaf. Dit lyk asof De Vos hom veroorloof het om sonder daardie perspektief teen haar uit te vaar.

As die By-briefskrywer dieselfde Pierre de Vos is as wat ek dink, is dit nie die eerste keer dat hy hom deur emosie pleks van rasionaliteit laat lei nie. Die De Vos wat die webwerf Constitutionally Speaking bedryf, het bv op 8 November 2011 hom heeltemal te buite gegaan. Ek het toe geskryf: "Die oorheersende indruk wat die trant van sy teks by my laat, is dié van 'n Afrikaanssprekende wat aan 'n eentalige Engelse universiteit (Kaapstad) sy kulturele wortels ontken en politiek-korrek in die mode wil wees" (SêNet 10.11.2011).

De Vos was sinies oor wittes wat sedert 1994 voel dat hulle benadeel word. Angs oor die afskaling van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) het hy as onnodig afgemaak. Hy het selfs geredeneer dat 'n (oorwegend) Afrikaanse US 'n tweede of derderangse inrigting moet wees. De Vos se skewe siening was dat klem op akademiese gehalte die voortsetting van wit bevoorregting impliseer. Hy het Afrikaans as onderrigtaal aan die US as 'n uitsluitmeganisme voorgestel, maar nie beswaar geopper wanneer Engels as onderrigtaal dieselfde rol aan bv die eentalige Universiteit van Wes-Kaapland (sy vorige werkgewer) en die Universiteit Kaapstad (sy huidige werkgewer) vervul nie.

Ek het my betoog soos volg afgesluit: "As jy lojaal teenoor Afrikaans is en vir die heil van jou taal in die bres tree, gee jy, volgens De Vos, aan hierdie kern van jou kulturele erfenis 'n slegte naam. Dit is wat ek 'n drogredenasie noem."

Daardie De Vos is baie daarop gesteld dat daar begrip en deernis vir homoseksuele mense by heteroseksuele mense moet wees; dat hulle verdraagsaam, onbevooroordeeld en waardig behandel moet word; dat daar vir almal 'n plekkie onder die son gegun moet word. Maar leef De Vos hierdie waardes uit wanneer hy swaarde kruis met iemand soos Botes wat ander politieke oortuigings as hy het? Bevorder hy versoening met sy galbraking teen haar?

Johannes Comestor

  • 14

Kommentaar

  • Johannes

    De Vos is nie die enigste Afrikaner wat emosioneel, subjektief, ongebalanseerd en eensydig teenoor sy eie volksgenote braak nie.  Ons het ons eie soortgelyke "De Vos" hier op SêNet, en ons almal weet wie dit is.

    Jaco Fourie

  • francois verster

    Ek moet met Johannes staamstem oor De Vos se aanval op Botes - in beginsel, nie oor wie betrokke is nie. 

    Ek het ook nog niks deur Botes gelees nie en "weet" net wat ek oor haar in die media lees. Sodoende kry mens 'n sekere indruk, soos die joernaliste verkies om dit aan te bied. Siende dat baie joernaliste deesdae ontken dat daar iets soos objektiwiteit bestaan, kan die leserspubliek ook nie anders as om skepties te wees jeens hulle werk, asook teenoor iemand soos De Vos, veral weens sy emosionele aanvalle nie - hoewel 'n rubriekskrywer ruimte gegun word om 'n eie mening te lug, anders as 'n "gewone" artikelskrywer.

    My punt is: as mens nie eens probeer om ewewigtige kommentaar te lewer nie, sal jy naief wees of te verwag dat gematigde mense jou ernstig opneem. Selfs al maak jy geldige punte, sal jy deur jou neiging om die persoon te speel en nie die bal nie, gediskwalifiseer word.

    Wat Botes betref, sy sal (nou veral) besef dat mense nie weet wat presies in haar kop/hart aangaan nie, maar net gevolgtrekkings kan maak van wat aan hulle opgedis word. En dit kan ons almal maar ter harte neem wanneer ons op 'n openbare forum optree of aangehaal word. Ook De Vos: hy is nie self verhewe bo kritiek nie, en as hy so optree, lyk dit ook nie of hy in staat is om regverdigheid voorop te stel, soos mens van 'n regsman verwag nie. Of glo regsmense ook nie meer in objektiwiteit nie? Sekerlik behoort juis hulle dit as die Eerste Gebod van 'n regstaat beskou!

    Ten slotte: Nieteenstaande  die huide regime se agenda om die regstelsel te ondermyn (as mens die media kan glo) hoef ons nie almal ons norme en waardes, soos ook respek teenoor ander - vroue, mans, hetero's, gays, wit, swart - wie ook al, oorboord te gooi nie.

  • My beskeie mening is daar is 'n moerse verskil tussen intelligensie en emosionele intelligensie, over gesied seinde "Kennis van verstand" 

  • Johannes Comestor

    Francois Verster, jou opmerkings oor joernaliste wat deesdae objektiwiteit ontken, regsman De Vos wat regverdigheid voorop moet stel en regsmense wat nie objektiwiteit durf ontken nie, is hoogs tydig en nodig. In vandag se koerant (Die Burger, 30 Julie, p 15) haal einste Pierre de Vos Pius Langa soos volg goedkeurend aan: "Tegelyk vereis transformerende beregting van regters om die uitwerking van die 'persoonlike, intellektuele en morele vooroordele' op hul besluitneming te erken ... Waar die beleid ingevolge die apartheidsregskultuur behels het dat hierdie invloede op besluitneming ontken is, vereis ons grondwetlike regskultuur dat ons die rol wat ons eie oortuigings, opinies en idees in ons besluite speel, uitdruklik aanvaar en omarm."

    Ek dink dit is 'n wanvoorstelling om sonder meer te beweer dat die apartheidsregskultuur (alle) invloede op besluitneming summier ontken het. Wat tradisioneel plaaslik en elders, ten minste in die Westerse wêreld, nagestreef is, is objektiwiteit; dus om sover moontlik "persoonlike, intellektuele en morele vooroordele" uit te uitskakel of ten minste doelbewus te minimaliseer. Dit was die grondslag van die regverdigheid waarna Verster tereg verwys. Dit is ook waaraan die regbank tradisioneel sy aansien te danke het. Nou kom De Vos en Langa, soos die joernaliste waarna Verster verwys, en ontken die moontlikheid en selfs wenslikheid van objektiwiteit; dermate dat Langa drie soorte vooroordele tussen aanhalingstekens plaas, asof hulle skadeloos is. Geen wonder dat die gehalte van diegene aan wie regspraak deesdae toevertrou word en daarmee saam die gehalte van sodanige uitsprake skynbaar op die afdraand is nie.

    Maar lees gerus De Vos se hele artikel. Vir Langa het hy net die hoogste paternalistiese lof. Vergelyk dit met wat hy oor Annelie Botes te sê gehad het.

    Johannes Comestor

  • Inderdaad is dit beter om De Vos direk te lees. 

     
    Maar laat ek dit ook duidelik stel ek is dit eens met Comestor se stelling wat  die volgende vereis: persoonlike, intellektuele en morele vooroordele" uit te skakel of ten minste doelbewus te minimaliseer.
     
    Die artikel is aanlyn beskikbaar ook en kan hier gevind word: 
     
     
    Inleidend tot die paragraaf aangehaal deur Comestor is die begin soos volg: 
     
    Wat Langa beter as talle liberale regslui verstaan het, is dat dié benadering tot beregting ’n aanvaarding van die politiek van die reg vereis:
     
    “Daar is nie meer plek vir stellings dat die reg van die politiek geïsoleer kan word nie. Ofskoon dit nie dieselfde is nie, is hulle inherent en noodwendig verbonde.
     
    Die meer volledige paragraaf is soos volg: 
     
    Tegelyk vereis transformerende beregting van regters om die uitwerking van die ‘persoonlike, intellektuele of morele vooroordele’ op hul besluitneming te erken. Ons betree almal besluitneming met ons eie bagasie, oor tegniese regskwessies én breër sosiale kwessies. Waar die beleid ingevolge die apartheidsregskultuur behels het dat hierdie invloede op besluitneming ontken is, vereis ons grondwetlike regskultuur dat ons die rol wat ons eie oortuigings, opinies en idees in ons besluite speel, uitdruklik aanvaar en omarm.
     
    Die teenwig blyk dan die volgende te wees: 
     
    Laastens het Langa ook blykbaar die potensieel konserwatiewe en selfs onderdrukkende siening verwerp dat “transformasie” ’n eenmalige gebeurtenis is wat ’n eenmalige verandering van een situasie na ’n ander of die oordrag van mag van sommige individue na ander vereis.Hy het pluralistiese, demokratiese politiek só onderskryf: 
     
    “Transformasie is ’n permanente ideaal, ’n manier om na die wêreld te kyk wat ’n ruimte skep waarin dialoog en betwisting werklik moontlik is, waarin nuwe maniere van wees voortdurend ondersoek, geskep, aanvaar en verwerp word en waarin verandering onvoorspelbaar is, maar die idee van verandering konstant is. Dít is moontlik die beslissende visie van ’n transformerende eerder as ’n oorgangsgrondwet. Dít is ’n perspektief wat die Grondwet nie as transformerend beskou weens sy spesifieke sosiaal-ekonomiese doelwitte nie, maar omdat dit ’n gemeenskap in die vooruitsig stel wat altyd oop vir verandering en betwisting sal wees; ’n gemeenskap wat altyd deur transformasie gedefinieer sal word.”
     
    Indien dit in hierdie lig gelees word dan word dit duidelik dat die reg bestaan nie as een of ander perfekte vorm soos in Plato se denke maar is deel van die mens se daaglikse wroeging en werkskaf en is dit 'n droom om te glo die wet staan apart van die mens se ontleding en formulering daarvan. 
     
    Onlangs het Comestor 'n brief her geplaas oor Artikels 13 en 14 van die Amerikaanse grondwet en was selfvoldaan oor hoe lekker dit is vir hom om reg te wees. Laat dit dan so wees. 
     
    Indien Artikel 14 van die Amerikaanse grondwet geneem word, wat gelyke beskerming onder die wet daar stel is dit leersaam om te weet dat met die Artikel in werking was dit nog steeds moontlik om aparte skole in Plessey versus Ferguson te beslis, dit terwyl die riglyn was, 'gelyke beskerming'. 
     
    Ongeveer 60 jaar later, met dieselfde artikel onaangeraak, maak dit 'n beslissing moontlik in Brown versus Board of Education wat aparte skole oopgooi. 
     
    Wat het verander oor 'n periode van 60 jaar, die morele inslag. Die Artikel is onveranderd maar die toepassing daarvan is radikaal anders. 
     
    Hierdie is 'n moeilike gesprek ...
  • Johannes Comestor

    Wouter, die lees van De Vos se volledige artikel gee inligting oor sake wat ek nie betrek het nie. Dit verander nie aan daardie aspekte waaroor ek wel geskryf het nie. My hoofbeswaar is die geringskatting van objektiwiteit, wat sekerlik in die regspleging sover moontlik nagestreef behoort te word. My ander beswaar is De Vos die ongekwalifiseerde heldeverering van Langa en daarteenoor sy algehele verdoeming van Botes.

    Ek het nie geskryf oor De Vos en Langa se wens dat transformasie vir ewig moet duur nie. Die verwerkliking van daardie wens sou uiters destruktief wees, want transformasie het die betekenis verwerf van nie bloot verandering nie en sekerlik nie noodwendig verbetering nie, maar van radikale verandering ooreenkomstig die wense van die ANC.

    Jaap du Rand is saam met Dirkie Smit verantwoordelik vir die Belhar-belydenis. Du Rand skryf aan die begin van sy boek Ontluisterde Wêreld (Wellington: Lux Verbi, 2002) dat die word "transformasie" 'n "emosionele geladenheid" het, dat "daar gesoek is na die sterkste woord moontlik om uitdrukking te gee aan die soeke na verandering" (p 10). Gestel Suid-Afrika word 'n vooruitstrewende, voorspoedige, beskaafde, misdaadvrye, ens, land. Inderdaad sal daar steeds met verloop van tyd nodige aanpassings moet plaasvind, maar daar sal geen behoefte aan voortdurende radikale verandering, dus ANC-soortige transformasie, wees nie. In die geval van De Vos, Langa en Du Rand het ons met politiek-radikale elemente te make waarop ons bedag moet wees.

    Oor Lincoln wou ek eintlik niks meer aantoon nie as dat hy selfs laat in sy loopbaan steeds sleepvoetend oor die vrystelling van die slawe was. Eers toe hy deur die omstandighede van die burgeroorlog daartoe verplig is, het hy die groot slawebevryder geword waarvoor hy deesdae vereer word. Insgelyks was FW de Klerk geensins die groot voorstander van swartmag en meerderheidsregering nie. Deur dwase strategie het hy in 'n situasie beland waar hy deur veral die ANC met geweld afgedreig is totdat sy magsdeling algehele oorgawe geword het. 

    Ek het my glad nie uitgelaat oor hoe lank dit in Amerika geduur het om gevolg te gee aan (hedendaagse) vertolkings van hulle grondwet nie. 

    Johannes Comestor     

  • Hello Comestor, 

     
    Ek en jy in gesprek? Is ons nie soos petrol op vuur vir mekaar nie? Wanneer ek skryf hierdie is 'n moeilike onderwerp dan verwys ek na die wisselwerking tussen die reg, die politiek en die mense van die polis. Die gewoel en die gewerkskaf tussen die pole van die politiek en die reg is onlosmaakbaar aan mekaar verbind al sou daar geglo word dat die apart staan soos die metafoor van die pole probeer aandui en dat die wet in 'n suiwer vorm apart staan van die mens. 
     
    Die doelwit van Pierre De Vos indien ek sy hele artikel lees waar daar gesteun word op die argumente van oorlede Hoofregter Langa is dat daar erkenning gegee moet word aan die invloed wat die mens wel uitoefen op die wetgewing. Hierdie bring dalk in die gesprek regter Scalia ook wat aanvoer dat die grondwet en dan die wette daarin het 'n baie spesifieke intensie en is die taak van regslui om daardie intensie te formuleer. Dit is dan seker hier waar die idee van objektiwiteit na vore moet kom. 
     
    As antwoord is oorlede Hoofregter Langa se stelling dat nee dit is nie so nie, die mens bring sy hele bagasie na die wet en ontleed dit dan in terme daarvan. 
     
    Daarom dan die verwysing na Artikel 13 en Artikel 14 vanuit jou Lincoln brief. Artikel 14 soos alreeds aangedui waarborg 'gelyke beskerming onder die reg'. Dit kan nie duideliker as dit wees maar tog het die politiek van die tyd, die tydsgees, 'n beslissing moontlik gemaak in 'Plessy v. Ferguson' waar die swart bevolking as 'apart maar gelyk' behandel is deur die wet. Loodreg teen wat vandag as algemene demokratiese norme aanvaar word. 
     
    Ongeveer 60 jaar verloop waar dieselfde artikel 14 gebruik word om 'Plessy v. Ferguson' as 'ongeldig te verklaar en met Brown v. Board of Education uiteindelik werklike gelykheid daar te stel. 
     
    Dit is dan Hoofregter Langa se argument ook, soos die gemeenskap 'verbeter', moet die wetgewing so gelees word dat dit die mees opbouendste uiteinde vir die gemeenskap daar stel. 
     
    Die samelees van apartheid en die wetgewing wat dit ondersteun het met die wetgewing van die VSA is dan wat die twee voorbeelde aan mekaar koppel. 
     
    Hoekom is Pierre De Vos so onomwonde in sy komplimente teenoor Hoofregter Langa? 
     
    Omrede die Hoofregter in lewe 'n morele voorbeeld gestel het wat Annelie Botes nie kan nadoen nie en verkies ek ook sonder twyfel Hoofregter Langa bo Annelie Botes. 
     
    Hoofregter Langa se morele imbors is vir my die beter voorbeeld van wat 'n mens kan wees. 
     
    Het Hoogregter Langa aangedui dat hy bang is vir wit mense en die geliefde woord, barbare gebruik? 
     
    Nee, want dit sou groter nuus gewees het as wat Annelie Botes se 'woord ongeluk' is. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Hello, 

     
    Abigail Perkiss aangehaal deur Comestor maak baie van Lincoln se stilte in die stryd teen die Suide en sien dit as 'n bewys dat Lincoln sleepvoet en traag was om teen slawerny te staan. 
     
    Dit is sinvol om eerder Lincoln se stilte te sien as 'n waardevolle les geleer deur ondervinding dat dit nie altyd die beste manier van doen is om ongewilde idees voortydig te verkondig nie. 
     
    Daarom dan Lincoln se stilte terwyl die die unie verbrokkel en gedoop was deur Henry Adams as die  “Great Secession Winter.”
     
    Meer as 150 jaar later word daardie stilte gebruik om Lincoln as sleepvoet en onwillig te skets. 
     
    Ondersteuners van Lincoln noem hierdie egter die stilte van Lincoln “masterful inactivity” en is in stap met die tyd aagesien dit nie aanstoot gee aan die wat slawerny wil afskaf nie of die wat wil wil afstig. 
     
    Hierdie taktiek is volkome in kontras met vandag waar 'n leier elke minuut van die uur moet beweeg en gesien as dat hy beweeg. 
     
    Van die kommentators van die tyd beskryf dit soos volg: 
     
    “He laughs and jokes, gulping down the largest doses of adulation that a village crowd can manufacture, and altogether deports himself with the air of one who fails to comprehend the task which abolition fanaticism has thrust upon him.”
     
    Selfs die media van die tyd wat Lincoln goedgesind is skryf: 
     
    “(the silence) has not been without its embarrassments.”
     
    Die geskiedenis sal sekerlik bevestig dat Lincoln se stilte nie die afstigting van die Suide verhoed het nie en kan dan in daardie lig as 'n mislukking gesien word. Net soos dit aangevoer word dat Lincoln se stilte het ook nie die oorlog verhoed nie en kan selfs gesien word as 'n taktiek wat die oorlog aangehits het. 
     
    Perkiss en dan aangebied deur Comestor is vasbeslote om dit in 'n negatiewe lig te skets en daarin bewyse van Lincoln se traagheid te sien en dat Lincoln se hart nie in die bevryding van die slawe was nie. 
     
    Na Lincoln se verkiesing word daar gesoek vir duidelike standpunte van Lincoln se kant oor die aangeleenthede wat in die samelewing woed op daardie stadium en is Lincoln se antwoord: 
     
    “I could say nothing which I have not already said, and which is in print and open for inspection for all”
     
    Maar hierdie stilte is onhoudbaar. Die Suide dring aan op beloftes dat Lincoln nie sou inmeng met slawerny terwyl die wat teen slawerny is op hierdie stadium erg teleurgestel is in Lincoln se stilte en gebrek aan aksie en word Lincoln van 'hoogverraad' beskuldig deur die wat vinniger wil beweeg met die bevryding van die slawe. 
     
    Die insig van Lincoln se kant af is dat hierdie stilte en versigte handeling die minste skade aan sy brose koalisie sou berokken en die koalisie aan boord te hou vir die oomblik wanneer hierdie koalisie opgeroep sal word on die rebellie en afstigting van die Suide te weerstaan.
     
    Net soos die stilte ook 'n taktiek was om sy ondersteuners te behou was daar ook die kwessie van Lincoln se moraliteit en voer Lincoln aan dat: 
     
    “To press a repetition”, “on those who have refused to listen”, “would be wanting of self-respect, and would have an appearance of sycophancy and timidity which would excite the contempt of good men, and encourage bad ones to clamor the more loudly.”
     
    In hierdie tyd van Lincoln se inhuldiging is die wat die status quo instand wil hou van slawerny hard aan die werk en was daar pogings om wetgewing te formuleer wat die uitbreiding van slawerny tot en met die Stille Oseaan sou wettig, hierdie in teenstand met die Republikeinse Party, die party van Lincoln se beleid en dan daarmee tesame 'n waarborg om slawerny vir ewig te bewaar waar dit bestaan ??en debat in Amerikaanse Kongres oor die onderwerp te beperk asook 'n permanente stem teen vrye arbeid daar te stel. 
     
    Hierdie is dan die uitdagings wat Lincoln die hoof moes bied terwyl die land op 'n mespunt was.
     
    Met dit as agtergrond is dit nie vreemd dat stilte, omsigtigheid en versigtigheid, die taktiek was wat Lincoln gevolg het maar tesame hiermee net soos Lincoln voor sy verkiesing gedoen het laat hy tog sy menings sirkuleer, al was dit gemerk as hoogs geheim dat: 
     
    “Let there be no compromise on the question of extending slavery”, “Have none if it. Stand firm. The tug has to come, & better now, than any time hereafter”, “hold firm, as with a chain of steel” 
     
    Hierdie dan die uitdagings van 'n man, soos De Klerk wat 'n nasie wat teenskop in 'n nuwe bestel moet insleep. 
     
    Hierdie veranderings vind die oornag plaas nie en is dit 'n komplekse politieke spel om teenstaanders en ondersteuners in balans te hou en die visie wat Lincoln gehuldig het vir die geboorte van 'n nuwe samelewing daar te stel. 
     
    Soos FW De klerk ook gedoen het. 
     
    In hierdie geval is 'n frase van Benjamin Franklin die een wat die toets van tyd weerstaan het na hy gevra is wat is die stand van die grondwet. '
     
    It is a democracy - if you can keep it'. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • CorneliusHenn

    Beste Johannes,    

    Met alle respek; wat my erg de moer in maak is die feit dat Wouter Ferns waarskynlik nie besef dat daar regtig mense is wat elke woord van sy afdwaal van die onderwerp, en dit met soveel onsin daarby, lees nie (Wouter het selfs vir Annelie Botes onlangs, en dit teen alle verstand in; "op die grond geskop" probeer voorstel - en dit ook ten onregte van sy eie onderwerp die keer)!    

    My algemene belangstelling dwing my daartoe; ek wens net Wouter Ferns wil genade begin toon en sy marteling minstens kort hou.    

    Soos altyd; dankie vir jou insig en die wyse vertolking daarvan.  

    Cornelius Henn

     

  • The Court recognized that the words of the Amendment are not precise and that their scope is not static. The Amendment must draw its meaning from the evolving standards of decency that mark the progress of a maturing society....

  • Hierdie Pierre de Vos.  Is hy nie die einste man wat voorgestel het dat 'n blankevel-belasting ingestel moet word om swartes te betaal vir die "ongeregtighede" deur wittes teenoor swartes van die verlede nie??

    Jaco Fourie

  • Johannes Comestor

    Jaco, Desmond Tutu het dit in 'n toespraak op Stellenbosch voorgestel.

     

    Johannes Comestor

  • Johannes

    Dankie vir die regstel.  Vir die een of ander rede het ek dit aan De Vos toegeskryf.

    Jaco Fourie

  • A.E. (Elsa) van Rooyen

    Ek reageer jammerlik omdat my vriendin, Annelie Botes, vir die verkeerde redes in die nuus is. Ek weet nie wàt sy gesê of beweer het wat die "stortvloed van kritiek" veroorsaak het nie. Lesers behoort teen hierdie tyd te weet dat 'n mens nie teen Annelie se uitsprake, skryfstyl, woordgebruik of insinuasies teëgaan nie. Toe ek in goeder trou 'n opmerking of twee gemaak het, is my kop behoorlik met ongeveer drie lange e-posse gewas totdat 'n kundige vir my verduidelik het dat ek moet onthou dat sy 'n skrywer is en haar skrywerstegnieke gebruik om haar misnoeë te kenne te gee. So jammer dat dit 'n kosbare vriendskap opgebreek het! En so entoesiasties as wat ek altyd was om VAK elke week in DIE BURGER te lees, lees ek dit nou so langtand, want ek weet nie watter inhoud is opreg bedoel en watter is "skrywerstegniek" nie. So jammer . . .

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top