Sidney Gilroy skryf op Facebook:
Liefste Annelie
Dankie vir alles wat jy vir my gedoen het.
In 2014 het jy my onder jou vlerk geneem en aangebied om met my skryfwerk te “interfereer”. Nie uit eiewaan of beterweterigheid nie, maar omdat iemand dit vir jou gedoen het toe jy ’n ontluikende skrywer was. In jou eie woorde het jy vir my “’n moerse klomp lang paaie gespaar.” Jy het vas geglo dat skrywers gebore, en nie gemaak word nie, en dat ons ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar het. Jy was die eerste persoon om iets in my skryfwerk raak te sien. Iets waarvan ek nie eens self van bewus was nie.
Ek gaan die lang e-posse mis – die staaltjies oor hoe jy begin skryf het en oor dinge wat met jou gebeur het; oor jou komvandaan, oor Bedford en Dalene, jou familie en jou kinders. Die fel kritiek wat jy oor my skryfwerk sou uitspreek. Die klop op my skouer wanneer ek goed doen. Daai verslete Unisa-koevert wat by my huis opdaag met my geredigeerde kortverhale daarin: rooi bekrap, uitroeptekens orals, vol foute, maar raad meer werd as goud. Later, met my debuut, was jy ook daar. Jy was ’n kwaai leermeester, hoor! “Dink, Sidney, dínk! Moet net in jirresnaam nie van ’n Afrikaanse boek ’n Engelse bespotting maak nie.”
Die aansporing... O, die aansporing! Onthou jy hoe jy gesê het jy moes jou debuut twaalf keer oorskryf? “Hou aan, hou aan, hou aan, Sidney! Skryf is ’n eensame werk. Reik altyd hoër en altyd breër.”
Jy het nie net woorde en taal geken nie, jy het stories en mense geken. Jy het geweet hoe om hulle verhale te vertel. Jy was onbaatsugtig met jou kennis en empatie. Elke e-pos het jy afgesluit met ’n blessing. Sonder jou sou daar geen Sidney Gilroy op enige boekrak wees nie, Annelie. Ek is jammer jy is weg, maar ek is bly dat jou lyding nou verby is. Ek herinner jou graag aan van jou eie raad aan my destyds:
“Druk deur. Jy sal al ’n geraamte wees, maar daardie boek sal nog springlewendig op boekrakke wees. Go for it. Jou spirit is gesond en reg.”
Jou spirit is gesond en reg, Annelie. Jou boeke staan springlewendig op boekrakke.
Kommentaar
Mooi herinnering. Ja-nee, sy het haar merk oral gemaak. Maar om só vroeg te verkas, is glad nie OK nie!
Sy was enig in haar skryfvermoë. Ek het al haar boeke gelees en is nog besig met Voetstoots. Ek gaan haar mis maar sy het 'n groot impak op my lewe gehad.
Rus, Annalie – jy verdien rus.