Annelie Botes-onderhoud: "Die spies deur jou eie hart”

  • 3
Annelie Botes

 

Annelie, hoe reageer jy op mense wat beweer dat Swart op wit slegs ’n publisiteitsfoefie is om jou skrywersloopbaan te red?

Ek is salig onbewus daarvan dat sulke bewerings gemaak word. Maar indien dit só is, vee ek my saliglik daaraan af. Ek weet wat in my eie hart aangaan; ek het nie nodig om my skryfloopbaan te red nie. My skryfloopbaan is daar, klaar. In ieder geval weet ek glad nie hoe ’n mens jou skrywersloopbaan red deur middel van ’n publisiteitsfoefie nie.

Swart op wit is deur jou jare lange uitgewer afgekeur. Hoe het dit gekom dat Naledi dit toe gepubliseer het?

Nadat dit afgekeur is, het ek eers ’n rukkie daaroor stilgebly, want ek moes dit gesluk kry. Maar baie mense het reeds geweet ek was besig met ’n teks en baie het reeds vroegtydig ’n kopie bestel. Nadat dit afgekeur is, het ek ’n punt bereik waar ek gevoel het dis noodsaaklik om eerlik te wees met lesers omtrent die afkeuring. Ek het toe op Facebook ’n privaatboodskap gepos aan die mense wat reeds kopieë bestel het. Die media het dit egter van Facebook opgetel. Toe dit die dag daarna voorbladnuus is en op die lamppale uitgebasuin word, kon ek nie verstaan wat so nuuswaardig daaraan is nie. Dieselfde dag het ek ’n e-pos van Naledi gekry met ’n aanbod. Alhoewel hulle nie geweet het wat in die teks staan nie, het hulle êrens ’n bietjie geloof in my gehad. Eers het ek ’n goeie ses weke daarop gebroei, want ek het ook ander aanbiedinge gekry. Uiteindelik, na vele samesprekinge, het ek op Naledi besluit, omdat daar iets aan dié uitgewery was wat getuig het van waagmoed en integriteit.

Was Swart op wit uit die staanspoor die titel wat jy gekies het terwyl jy daaraan geskryf het, of het jy oorspronklik ’n ander werkstitel gehad?

Die oorspronklike titel was Kaart en transport. My Nasti-kind het op die internet getorring om te kyk of sy êrens iets daaromtrent raakloop. En só het sy afgekom op ’n boek wat omstreeks 1994 deur ’n ander Suid-Afrikaanse uitgewery uitgegee is met die titel Kaart en transport. En aldus was die Kaart en transport-titel van die baan. Omdat kaart en transport verwys na die eiendomsreg wat ’n eienaar op sy huis het, het ek gesoek na iets wat te maak het met papierwerk en dokumentasie. In my omswerwinge het ek afgekom op die uitdrukking swart op wit, bedoelende om iets op skrif te sit. Kort en kragtig, soos al my boektitels tot dusver. Ek het summier geweet my soektog na ’n titel het geëindig. Die titel het dus niks met politiek uit te waai nie. Maar die boek is nie ontdaan van politiek nie.

Op bladsy 97 sê jy: “Soms steek ’n mens die spies deur jou eie hart. Soms kraai jy teen jouself.” Is Swart op wit ’n mea culpa?

Ek hoop ek verstaan die uitdrukking reg? Dis beteken mos ’n belydenis oor jou foute? Dit was nooit bedoel as ’n skuldbelydenis nie. Terwyl ek dit geskryf het, het ek eintlik vir my kinders iets neergepen oor hulle ma en pa. Daar was al so baie kere dat ek wens ek kon net één dag saam met my oorlede ouers deurbring, en na hulle stories en lewensgeskiedenis luister. Na hulle vreugdes, hulle teleurstellings, hulle seer. Maar dis waters wat verby is en waarmee die meule nooit weer sal maal nie. Baie mense bevind hulle in ’n situasie waarin hulle bitter min van hulle ouers se voetspore weet. Ek wou vir my kinders sê: só het jou ma en jou pa se voetspore gelyk. Swart op wit is ’n memorieboek wat ek vir my kinders as erfenis wou agterlaat. Ek moet eerlikwaar erken dat ek voordat ek met die teks begin het, ek in my hart moes geglo het ek gaan aanstons by Van Stadensbrug afspring. Maar voordat ek spring, was daar nog insidente en flentertjies van ons gesin se geskiedenis wat nêrens aangeteken was nie. Ek wou dit vir my kinders neerskryf. Dit was eintlik ’n vorm van ’n selfmoordbrief.

’n Lang selfmoordbrief ...

... wat al hoe langer en langer geword het. Soos ek daaraan geskryf het, het my gemoed al hoe ligter geword. Ek het besef dat ek ’n vreugdevolle lewe gehad het, dat ek geen rede het om selfmoord te pleeg nie. Ek is wie ek is, en ek hoef niks anders te wees nie.

Tog voel jy op ’n paar plekke in die boek dat jy meer mense kon gehelp het. Dat jy soms ongenaakbaar was teenoor jou medereisigers.

Ja, ons almal het hangende sake in die lewe waaroor ons spyt is en waaroor ons ’n smagting na boetedoening ervaar. Maar meestal swyg ons daaroor, omdat ons dit as foute sien wat onvergeeflik is. Oordeelsfoute wat ons nie wil erken nie, en waaroor ons nooit weer wil praat nie. Tog, vir my het die lewe nog nooit so gewerk dat enigiets permanent aan die verlede behoort en dat ek dit moet vergeet nie. Die dinge wat vyftig jaar terug gebeur het, of veertig, of dertig, het steeds vandag ’n effek op jou lewe. Vir my is niks ooit klaar en vergete nie. Ek moet bo-oor dit leef, ja. Maar dit sal vir altyd ’n effek op ’n mens hê. Alhoewel die effek naderhand sagter en minder pynlik raak. Die skryf van die boek was ’n boetedoening teenoor myself, ’n onbeskaamde vorm van erkentenis.

Dis deel van my vraag: Is dit so dat as ’n mens ouer raak, daar in jou gemoed ’n dringende soeke na selfvergifnis ontstaan?

Vergifnis, en ook selfvergifnis, is komplekse begrippe. Elke mens, veral as jy ouer en wyser word, wil graag daarby uitkom, maar dikwels ontbreek ons aan die innerlike gereedskap om dit te doen. 

Glo jy aan die begrip dat jy slegs die beste kon doen op ’n spesifieke stadium, dus was dit al wat jy tóé kón doen?

My hele lewe lank het ek my beste gegee wat ek op daardie oomblik gehad het. As ek ’n show gedoen het wat nie watwonders was nie, dan was dit nie omdat ek afgeskeep het nie, maar omdat dit die beste was wat ek op daardie uur gehad het om te gee. As ek vir Chris ’n aandete van brood en eier gee, dan is dit ál waarvoor ek toe die krag en energie gehad het. So baie van die slaggate en hobbelpaaie in my lewe erken ek en dis nie vir my moeilik om te sê ek is jammer nie. Dis hoe dit was, ek is spyt daaroor, ek kan niks daaraan verander nie. Maar ek kan nie dat ’n stokou slaggat my weerhou om vorentoe te lewe nie.

Jy gebruik “Die gang” van Laurika Rauch as ’n deurlopende motief in Swart op wit. Hoekom juis hierdie liedjie?

Toe ek die liedjie die eerste keer gehoor het, was dit vir my hartsaangrypend. Die wysie, die besielende manier waarop sy dit gesing het, die lirieke. Agter die woorde het ek oorhelder prentjies gesien van my ouma se huis en die portrette teen die gangmuur. Die “sonder elektrisiteit” het soet herinneringe by my opgeroep van aande in my kinderjare toe ons by kerslig of by die lig van ’n paraffienlamp na die aandstorie oor die draadloos gesit en luister het op die mat in my ma-hulle se kamer. Ek het die lied maande aanmekaar gesing en kon dit nie wegkry uit my kop nie. Uiteindelik het ek die CD gekry en dag vir dag die spesifieke snit op herhaal gesit, tot Chris wou bars van frustrasie. In die gedermtes van daardie lied het ek iets van my eie weerloosheid aangevoel, iets van my land, iets van ons huisgesin, iets van die brose mensdom. Wanneer sy sing: “die lig is delikaat en fyn”, dan wil ek huil. Want elke mens moet ag gee daarop dat ons ewigdurend in die rigting van die Lig beweeg. Anders raak ons die pad bysterin die donker gange van die lewe. ’n Gang met baie afdraaie na die onderskeie kamers van die lewe. In elke kamer speel ’n toneel af wat ’n merk op ons lewens laat, hetsy goed of sleg. Terwyl ek aan die teks gewerk het, het ek nie aanvanklik die lied ingeweef nie. Maar so baie dae dat ek sit en skryf het, was die lied op herhaal. Op ’n sonderlinge wyse hétdit struktuur in my kop geskep en ’n sussende effek op my gemoed gehad. Gaandeweg het dit amper onlosmaaklik deel van die boek se hartklop geword. 

In 2008 word die Thula-Thula-navorsing net te veel vir jou en jy word opgeneem in die Hunters Craig psigiatriese hospitaal. Het jy dieselfde oorweeg in 2010?

Nee. In 2008, toe ek Hunters Craig toe is, was dit heeltemal betyds beplan en sonder dat ek in ’n straightjacket gesit is. Ek was ontsettend moeg van jare se dra aan die trauma van bloedskandeslagoffers; dit het my tot in elke uithoek van my wese geaffekteer. In 2010, met die ras-orkaan wat my getref het, het ek geweet ék en ek alleen moes daardeur kom. Ek was nie geaffekteer deur ander mense se probleme nie. Dit was my eie probleme. Ons het ’n muurhorlosie gehad wat tik en daar, aan die einde van 2010, vir máánde, was daardie getik van die horlosie partymaal soos ’n hamer wat teen my kopbene slaan. Selfs wanneer ek nie by die huis was nie, kon ek daardie horlosie hoor tik. Tik, tik, tik. Een oggend het ek genoeg gehad daarvan. Ek het die horlosie afgehaal en dit verwoed op die stoep stukkend gegooi sodat dit in honderde stukke gespat het. Arme Chris het oopmond staan en toekyk na my impulsiewe vernietigingsdaad. Op die ou end het hy die handbesempie gevat en begin om die stukke bymekaar te vee. Ek het vir hom gesê: “Nou is my kop klaar getik en nou begin ek leef sonder ’n alewige tikkery.” Dis vreeslik dat my klarigheid moes kom deurdat ek die horlosie, wat ons met spaargeld aan die begin van ons huwelik gekoop het, moes vernietig. Vandag is ek spyt daaroor, maar dit was ’n konkrete daad waarmee ek ’n simboliese einde gemaak aan die vergekkende tikkery in my kop.

Die roerende verhaal van Blossom en haar broer Nicholas is ’n lewensgetroue skets van die haglike omstandighede wat in staatshospitale heers. Wat dink jy is die bron van hierdie onmenslikheid teenoor pasiënte?

Ek weet eerlik nie. Dis een van daardie dinge wat ek nie verstaan nie. ’n Mens kan allerhande teorieë hê, maar op die ou einde verstaan ek dit nie. Klaar. Ek kan nie ’n verklaring daarvoor gee nie, ek weet nie hoekom dit so is nie. Dit ís net so, en dis een van die goed wat my bang maak. Nie net namens myself nie, want ek het ’n mediese fonds, ek kan gaan waarheen ek wil. Maar daar is tienduisende mense wat geen keuse het nie. Dit maak my benoud en angsvallig.

My gevoel as leser is dat Jabu en die rooi kombersbaadjie ’n sentrale vertelling binne jou “memorieboek” uitmaak en jou die naaste aan die hart lê. Hoekom?

Dit lê my nie die nááste aan die hart in die ganse boek nie, maar dit lê ongetwyfeld baie naby aan my hart. Ek dink dit het iets te maak met verlore hoop. Dit klink na ’n cliché, maar om hoop te verloor in die lewe is radikaal. Radikáál. Wanneer mens hoop verloor en terselfdertyd verwyderd is van alles wat vir jou bekend is, jou umama, jou bokke, jou takkraaltjie, begin jy daarvan droom en word dit jou allerbegeerte om daarnatoe terug te gaan. Maar vanweë omstandighede kan jy nie. En jou hoop verskraal. Want jou verlangens bly onbeantwoord. Of ’n mens swart of bruin of wit of maroen is, om hoop te verloor is ’n kelderende emosie. Alhoewel ek nie Jabu se emosies uit sý perspektief verstaan nie – ek het ook nie Blossom s’n volkome verstaan nie – is elke mens gebore met ’n kamertjie vol emosies. Ek ook. Maar ons omstandighede verskil radikaal en ek kan niks daaraan verander nie. Jabu kon niks aan syne verander nie. Blossom ook nie. Maar of die son nou opkom, en of hy sak, ons is almal mense. Mense, net mense. Wat vir my onthutsend is van Jabu se storie, is dat hy, ’n ou man, deur gangsters met ’n fietsspeek doodgesteek is. In ’n stegie neergesmyt nadat sy klere van sy lyf af gesteel is. Daar het hy in die winterkoue gelê en styf word. Dwarsdeur die boek loop ’n draad van: ek verstaan dit nie. Soos wat ek destyds in die onderhoud ook gesê het: ek verstaan dit nie.

Reeds in Sabbatsreis vertel jy van jou en Chris se lang en soms pynlike huweliksreis. Hoe beïnvloed die weergee van intieme outobiografiese besonderhede julle huwelik?

Hy lees nie die goed nie, maar hy weet wat ek skryf. Hy weet ook dat ek niks op hom as persoon mik nie. Ons huwelik en ons foute kon net sowel enige ander mense se boggerops gewees het. Tog, as ’n mens terugkyk oor die verbygegane jare, is dit vir beide van ons ’n verligting dat niks ’n geheim is nie. Die koerante kan niks uitdelf nie. En die mensdom is lief vir Chris. Oral waar ek gaan, wil almal hê die gryse moet saamkom. Dit beteken dat hulle nie hom of ons huwelik minag nie. Inteendeel, iewers agter die woorde van my stories sien die mensdom dat ons emosioneel eintlik ’n Siamese tweeling is. Ek dink dat dit vir die mensdom ’n soort van hoop baar. Dat ons almal deur hel en pyn en derms en ellende gaan en tog anderkant uitkom as twee mense met ’n verbond. As mekaar se genote. Die wêreld weet van ons foute. Dis een van die mensdom se probleme: ons steek ons foute weg, omdat ons bang is dat as ons medemense daarvan weet, hulle ons sal verwerp. Al my en die gryse se voetfoute en verstikkings en blokkasies word by die naam genoem. En tog verwerp niemand ons daaroor nie. Dis ’n groot verligting om te kan sê: “Wat ook al gebeur, ek gaan my foute uitspoeg en vir die wêreld ten toon stel.” As die wêreld dan vir jou briefies skryf en e-posse stuur wat sê: Ons bid vir julle, ons steek vir julle ’n kers op, julle is ’n magic couple,dan besef jy dat jy maar jou foute kan oopgooi. Baie van ons kry kanker van die gedagtesomdat ons ons foute wil bedek.

Daar moet darem altyd iéts wees waarvan nie almal weet nie?

Sekerlik is daar dingetjies wat ons nie uitgeblaker wil hê nie, want dis óns huisgoeters daardie. Maar dis weinig. In Swart op wit is ’n storie oor Rudolph wat in die koshuis gedrink het, jare gelede. Destyds was dit ampertjies ’n helse krisis. Vandag weet ek dis normale onnoselhede en waagstukke wat tjinners aanvang. Toe ek vir hom vra of ek maar die stuk oor die bottel Sambuca kan skryf, lag hy en sê: “Ma moet die boek vir my Engeland toe pos, ek wil ook lees wat Ma alles daarin geskryf het. Dalk kan ek Ma hof toe vat en iets uit Ma geryg kry.” So, vir my kinders is dit ’n bevrydende integriteitserfenis om te weet: plekke waar jy sleg mistrap in die lewe word nie vir ewig teen jou gehou nie.

Ek sien ook in Swart op wit skryf jy aan die begin “Chris” in plaas van “die gryse”, wat die teenoorgestelde neiging is van jou ander boeke. Hoekom het jy dit so gedoen?

Ek is bly dit het jou opgeval. Swart op wit is grotendeels minder emosioneel gelade as my ander boeke. In die tyd na die destydse onderhoudstorie was daar baie spanning in onse huis. Chris het gereeld sy vinger voor my geswaai en gesê dat ek ’n onnosel ding aangevang het. Ter wille van my eie emosionele oorlewing het ek ietwat klinies teenoor hom begin optree. Nie net teenoor hóm nie, teenoor enigiets. As ek vir iemand ’n e-pos geskryf het, het ek twintig maal gedink oor wát daarin staan. Tel jou woorde, vroumens, het hy dikwels kwaaibaadjie aangetrek. Die woord “Janna” of “gryse” was vir my te emosioneel; ek het vasgehaak by “Chris”, asof ek formeel wou wees. Ek was bang ek sê die verkeerde ding. Ek dink ek het met die gebruik van die naam Chris op baie plekke in die teks steeds daardie afstandelikheid behou. Dis tekenend van die gebrek aan sagtheid wat ek in daardie tyd ondervind het. Elke dag het ek net probeer oorleef. In só ’n tyd van survival of the fittest is daar nie tyd vir “My ou honna” en “Jannatjie” nie. Heeltyd behou jy jou afstand.

Waar is die houtkerkie waarvan jy deurlopend in die boek skryf?

Die kerkie staan op ’n fynbosheuwel aan die buitewyke van Port Elizabeth. Dis ’n meditasiesentrum, nie ’n kerk waar dienste gehou word nie. ’n Heilige houtgeboutjie wat op die see uitkyk. Dit word nooit gesluit nie en is nog nooit gevandaliseer nie. Dit was een van die plekke waarheen ek gegaan het om alleen te wees. As jy in jou alleenheid stilsit in die kerkie, hoor jy die Baai se suiswinde deur die daknok. Party dae wanneer ek daar gesit het, het daardie suisgeluid my hele kop oorgeneem en my as ’t ware van binne skoongevee. Ek het veilig gevoel daar, en dit was onnodig om myself teen iets of iemand te pantser.

So dit was jou meditasie?

Noem dit wat jy wil. Of ek net gesit en brei het, of die kerkie skoongemaak het, of op die vloer aan die slaap geraak het, dit was my plek van alleenskap. Ek het nooit my selfoon aangesit of geëet of gedrink daarbinne nie. As ek wou koffie drink, het ek my fleskoffie buitekant gaan drink. Ek het die kerkie met heilige respek behandel.

Op bladsy 302 skryf jy: “Begrafnis hou is ’n grens. Anderkant die grens moet ’n mens saamleef met die verliese wat soos skaduwees aan jou hakskene vasgemaak is.” Voel jy ’n bitter hoofstuk is nou uiteindelik begrawe na die skryf en publikasie van Swart op wit? Of sal dit iewers in die toekoms homself weer opgrawe?

Bitter hoofstukke grawe hulleself altyd weer op. Die onthou raak later minder kras en intens. Maar selfs wanneer ek oor twintig jaar aan daardie tyd terugdink, sal dit weer in alle felheid na my terugkom. Maar ’n mens is verplig om op ’n kol begrafnis te hou en te sê: van nou af lewe ek anderkant die begrafnis en nou moet ek nuwe asem vir nuwe dinge bymekaarmaak. Ek het ontsettend baie jare gewerk om te kom waar ek gekom het in my skryfwêreld. Die hemele alleen weet hoeveel duisende kilometers ek gery het. Hoeveel ure ek op lughawens rondgehang het, hoeveel nagte ek gesit en skryf het tot my voete soos poffers opgeswel was. Hoeveel drafts van hoeveel boeke ek gedoen het. Niks in my skryfloopbaan het maklik gekom nie. 

Maar dink jy nie dis juis die rede waarom jou boeke so goed verkoop nie, omdat jy grootliks uit intuïsie skryf nie?

Moontlik. Ek dink lesers tel op dat ek eerlik is. Maar om na al die jare by ’n punt te kom waar ek in ’n onbesonne oomblik career suicide pleeg, is skrikwekkend. Jy besef dat jy die swaard in jou eie rug gesteek het. Alles was so onnodig. Vir enige mens in enige beroep is dit lewensveranderend, dit is skuddend en rukkend, dis soos om ge-retrench te word. En jy weet eintlik nie waaroor nie.

Is jy tans besig met iets nuuts?

Swart op wit was so ’n intense ervaring, so ontgogelend, dat ek voel ek moet ’n bietjie rus. My bietjie losmaak van ernstige skryfgoed en aangaan met korttermynwerkies. Ek het Chris in die laaste amper drie jaar skandalig afgeskeep. Dis asof ek ’n intense behoefte het om te kyk wat ek vir hom kan teruggee, hoe ek hóm gelukkig kan maak. Al maak ek ook net vir hom ’n warm ontbyt van scrambled eiers op toast en eet dit rustig op by die stoeptafel saam met hom.Ek wil die tyd daarvoor hê en nie net altyd dink dat ek vandag tot op bladsy soveel en soveel moet kom nie. En ja wat, as dit op die ou einde so uitdraai dat Swart op wit my laaste boek is, dan is dit my laaste boek. En dan kan ek nie ’n moer omgee nie.

Annelie Botes
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780992176464

Bestel Swart op Wit by Kalahari.com
 

  • 3

Kommentaar

  • Dankie Gisela,

    Baie interessant saamgestel. Ek dink hierdie boek is 'n moet vir enigiemand wat meer kennis omtrent innerlike intelligensie ondersoek.

  • Baie dankie. Dit is 'n besondere onderhoud, met dieselfde eerlikheid as waarmee ek Annelie leer ken het in haar ander skryfwerk. Net jammer van die horlosie ...

  • Corrie van der Merwe

    BRAVO!!!!!! Kan nie WAG om die boek te koop nie ... vergeet van die horlosie ... dit was "exchange of energy"................daai vrede kon GEEN horlosie jou gee nie xxx

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top