Duiwelsbrood en ander kort en lang stories die moeite en trane werd

  • 0

Duiwelsbrood en ander kort en lang stories
Annelie Botes
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780799345919
Prys: R150
 


Die mens het ’n oeroue soeke na geloof, hoop en liefde. Hierdie soeke word opnuut uitgebeeld en ondersoek in die verbeeldingryke stories en tasbare, lewensgetroue karakters van Duiwelsbrood en ander kort en lang stories. Dit is ’n omnibus van drie novelles en 19 kortverhale, almal voorheen gepubliseer, deur die geliefde Afrikaanse skrywer Annelie Botes. Die 19 kortverhale het in 2002 verskyn as die bundel Nawelstring (2002). Ou aanhangers wat reeds bekend is met Botes se romans, rubrieke en tydskrifverhale sal die omnibus baie geniet. Dit is egter ook ’n goeie eerste kennismaking vir nuwe lesers, wat gou meegesleur sal word deur Botes se boeiende skryfstyl, haar dapper oopkrappery van die samelewing se skadukant en haar vermoë om die leser binne ’n paar paragrawe in ’n karakter se siel en leefwêreld in te trek.

Duiwelsbrood is die openingsnovelle, wat die eerste maal in 2004 in Vrouekeur verskyn het, en waaraan die boek ook sy titel ontleen. Die verhaal draai om Hester Verster, ’n afgetrede wiskunde-onderwyseres wie se toevallige kennismaking met die Dream Palace-casino haar ondergang bewerk. ’n Kollega waarsku haar teen die skynbaar onskuldige 50c-masjiene: “When you look into an abyss, the abyss also looks into you” (32). Maar Hester probeer die dobbelry en eet só die figuurlike “duiwelsbrood”, haar pa se naam vir die giftige sampioene in hul tuin wat kleintyd vir haar so aanloklik gelyk het. Só word sy vasgevang in ’n dobbelverslawing wat haar en haar gesin geestelik en geldelik totaal aftakel, tot sy na twee jaar met net die klere aan haar lyf wegstap van haar man en kinders en in die armmansbuurt Kareepark beland. By die eenvoudige losieshuis van miss Plessis vind sy onverwagte deernis en die moederlike liefde en omgee wat haar eie ma van haar weerhou het. Hier kry sy ’n onverwagte kans om haar kleintyd se seer agter te laat, boete te doen vir haar foute en die pad na versoening te begin stap.

Kruispaaie, keerpunte en tweede kanse is ’n algemene motief dwarsdeur die bundel, wat sin maak in die lig van die skrywer se persoonlike agtergrond. Sy skryf gereeld en skreiend eerlik oor haar eie lewe, haar vrae oor geloof, haar swaarkry en haar foute, soos in haar gereelde Volksblad-rubrieke en in Sabbatsreis (2007), die aangrypende boek oor haar jaar in Londen waarin sy versorging gedoen het om haar groot dobbelskuld terug te werk. Sy het in dié tyd baie sterk oorweeg om selfmoord te pleeg. Sy sê self: “Ek dink my eie diepbegraafde seer en skreiende tekortkominge maak dat ek ander mense se seer en tekortkominge kan begryp en in my skryfwerk weerspieël” (aangehaal deur Erika Terblanche, LitNet, 2009-07-01).

Botes gee dan ook ’n blik op haar eie onsekerhede en worstelinge met haar skrywerwees in die essay “’n Stukkie geskiedenis”. Sy het dit spesifiek vir hierdie omnibus geskryf, ter agtergrond vir die novelle Ribbokvoete, haar eerste boek, wat in 1994 verskyn het. Ribbokvoete is ’n treffende storie en bevat baie van die bestanddele wat Botes se volwasse skryfwerk so leesbaar maak – ronde, eg menslike karakters wat toeganklik en met deernis uitgebeeld word. Die verhaal draai om Rut, wat nie kan vrede maak met die aborsie in haar jong dae wat haar onvrugbaar en emosioneel geskend gelaat het nie. Hierdie donker geheim dryf haar al verder weg van Tom, haar alkoholis-man wat ook sy eie moeilike verlede geheim hou. Dis ’n ingewikkelde verhaal vol tragiese gebeure, verbrokkelde verhoudings en geloofskrisisse, maar ook alledaagse helde wat ten spyte van hul foute sterk is, mekaar ondersteun en op ’n manier liefde en geluk vind. In die geselskap van Botes se meer onlangse skryfwerk het Ribbokvoete kennelik tekortkominge, wat sy ook in haar essay uitwys. Sy het dit oorweeg om dit vir hierdie publikasie te verbeter en hersien, maar toe besluit om dit eerlikheidshalwe in die oorspronklike vorm uit te gee, met al die “lomphede, herhalings en kortstondige soetlikhede en oordrewendhede” (64) van haar vroegste skryfpoging. Dit bly egter ’n waardevolle leeservaring, al is dit net om te wys hoe ’n nederige begin tot ’n groot en inspirerende loopbaan kon ontwikkel. Sedert Annelie Botes 15 jaar gelede as musiekonderwyseres bedank het om haar skryfdroom na te jaag, het sy bykans 100 tydskrif-kortverhale en 300 rubrieke gepubliseer, asook sewe hoogs suksesvolle boeke, waaronder Klawervier (1997), Raaiselkind (2001), en Thula-thula (2009).

Sedert haar vroegste skryfpogings huiwer Botes nie om kontroversiële en ongewilde sake te takel nie. Duiwelsbrood en ander kort en lang stories is geen uitsondering nie. Die bundel pak amper elke maatskaplike en sielkundige kwessie denkbaar – gesinsgeweld, bloedskande, alkoholisme, dobbelverslawing, depressie, selfmoordgedagtes, ras- en klasverskille, aborsie, egskeiding, armoede ... Dit kan nogal neerdrukkend raak in groot dosisse, en is nie ’n boek om in een sitting deur te lees nie. Van die temas raak ook soms herhalend: dobbelverslawings, aborsies, tirannieke pa-figure en ’n stryd teen armoede kom in verskillende gedaantes weer en weer na vore. Dit is egter verstaanbaar as ’n mens dit beskou as die skrywer se eerlike uitdrukkings van haar persoonlike worstelinge, vrae en soeke. Hoewel ’n mens soms swaar kou aan al die gestoei en gesukkel, is daar by elke storie ook iets om te leer en te oordink, en is daar ’n paar karakters en narratiewe wat ’n mens lank bybly. Hou dit op die bedkassie en leer ken die karakters een vir een, stap ’n paadjie saam met hulle en lees iets anders vir comic relief tussenin.

Op daardie punt sorg “Die oudagwens” vir ’n welkome stuk humor en verligting so halfpad deur die Nawelstring-versameling. Dis ’n tong-in-die-kies kleindorpse skets van oom Daantjie, die rugbymal oujongkêreld wie se grootste wens is om nog een maal sy slag te wys op die veld. Sy kans doen hom voor in die vorm van ’n rugbywedstryd tussen die ouderlinge en die bo 40’s wat gereël word om fondse in te samel. Oom Daantjie oefen en droom en werk taktieke uit, maar dan kom die dag wat die span aangekondig word en sy naam is nie op die bord nie ... Dis sommer ’n lekker storie in die trant van PG du Plessis se Koöperasiestories, met kontreitaal wat mens soos ’n niekerbôl op jou tong kan rondrol en kleurryke karakters soos oom Daantjie, die “pensioenman met baie tyd” (349), Grieta, die “bobaas-bybievanger” (350), “oom Herkie wat al dun van ouderdom is” en “Koos Agterkloof en broer Thys en lang Faans” (351).

Dis onder meer haar tasbare beskrywings van plekke, mense en omgewings wat Botes se stories lewendig maak. Sekere ruimtes, veral buite in die natuur, word simbolies van karakters se diepste wese en begeertes. Vir Abri, die tienerseun in “Tuin van die engele” wat druk ervaar van sy ouers om te presteer en sy kreatiewe, sensitiewe kant te begrawe, is dit sy stukkie tuin: “’n Plek van geheimenis waar hy in die middae op sy maag lê en kyk het of hy nie sy plante kon sien groei nie. ’n Heilige plek, waar bid anders was as kerkbid of aandbid” (429).

Hierdie teenstelling van ’n egte geloofsbelewenis teenoor konvensionele vormgodsdiens, waar voorkoms en die samelewing se norme van Christelike gedrag te veel gewig dra, is ook ’n herhalende tema. Dit word verpersoonlik deur die genadelose dominee-patriarg – soos Josua in “Nagwaak”, en die predikant-pa in “Esprit de corps” wat Sondae hoogheilig op die kansel staan, terwyl hy tuis ’n onverbiddellike despoot is wat sy seun met ’n ysterhand regeer: “Wat weet die dorpsmense van wat agter die mure van die pastorie aangaan? Van die koudheid en stiltes, die voortdurende verwyte, die baie nagte dat hy as kind gaan slaap het sonder dat sy pa hom nagsê. Van sy ma wat verskree en verneder word omdat sy glo ’n patetiese mevrou dominee is ...” (239)

Nog ’n tema wat bly eggo, is die valse geluk van rykdom en aardse goed. Dit is die hooftema van “Wildekatjiepiering”, ’n verhaal van ’n vrou wat haar armoedige familie en tronkgeskiedenis verruil vir ’n eensame maar weelderige bestaan as die trophy wife van ’n vooraanstaande sakeman. Te midde van al die luukses wat sy ten alle koste nagejaag en gekry het, bly sy eensaam, is haar lewe en huwelik ’n leuen, en bly haar spoke haar by, tot sy wrang moet besef: “Alles het ’n prys. Ryk wees ook” (329).

Terwyl die kwessies en lewenswaarhede wat in die bundel aangespreek word, almal belangrik is, raak dit soms te ooglopend moraliserend, asof dit fabels of gelykenisse is wat as stories vermom word. ’n Mens is immers nie altyd lus vir ’n preek of ’n oordenking nie; soms wil ’n mens ook maar net ’n storie lees en geniet en amper per ongeluk daardeur nuwe insigte of wyshede ontdek.

Tog kan die waarde van ’n betrokke, denkende skrywer soos Botes nooit gering geskat word nie. Sy sê self dat sy sukkel om te skryf as daar nie ’n “moral of the story” is nie (aangehaal deur Erika Terblanche, LitNet 2009-07-01), en dit is haar diep denkproses, meelewing en eie soeke na geloof, hoop en liefde waarmee sy soveel lesers diep aanraak. Haar skryfwerk is nie ligte musiek nie. Dis betrokke, soekend, intens, menslik en daarom ook definitief die moeite en trane werd.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top