Persverklaring: Annelie Botes se wêreld van woorde was ’n amulet teen seerkry

  • 0

’n Huldeblyk deur Leana Lategan[1] ter herdenking aan Annelie Botes (28 Junie 1957–12 Desember 2024)

Sy was ’n mens sonder skroomvalligheid. Geen feetjies, fieterjasies en verkleinwoordjies vir haar nie. ’n Geliefde skrywer wat ’n omvangryke lesersaanhang gehad het, almal mense wat haar lojale en getroue vriende geword het. Dit was opvallend hoeveel liefde en empatie hierdie skrywer, Annelie Botes, tydens haar lang en pynlike siekbed deurlopend ontvang het. Almal het vir haar en haar man gebid en kerse gebrand: haar uitgewersvriende en -kollegas, haar medeskrywers, haar duisende lesers.

Wat is dit wat hierdie vrou so ’n geliefde en geloofwaardige mens en skrywer gemaak het?

Annelie Basson is op ’n plaas in die Kamanassie, naby Uniondale, gebore. Sy word streng Calvinisties grootgemaak, waarskynlik die oorsprong van laterjare se ingebore bewussyn van ’n morele kompas, ’n  aandrang om verantwoordelik te skryf, om te kyk of die kompasnaald ’n rigting kan aandui. Van vaderskant kry sy ’n skatkis van stories. Nie oor feetjies en kabouters nie, maar oor werklike gebeure. Sy leer naarstiglik lees, en “skryf” van kleins af, onder meer op silwer sigaretpapiertjies en stories wat sy met swierige drama aan haar huismense oorvertel.

Op 18-jarige ouderdom word haar eerste verhaal in Die Brandwag gepubliseer. Hierdie skrywersfase word onderbreek deur ’n studie in musiek, tien jaar as musiekonderwyser, en werk as orrelis. Maar in 1994 begin sy met ywer ernstig skryf, en word Trippel sewe gepubliseer. Hierdie roman, wat dobbelverslawing as tema het, en ook op outobiografiese ervaring gesteun het, sou die eerste wees van ’n oeuvre waarin Annelie met verbete vasberadenheid, intensiewe navorsing, meedoënlose eerlikheid en die gawe van ’n helder skrywerstem lesers sou begin inkatrol.

Haar sin vir verantwoordelikheid – aan haarself – en haar (wat sy genoem het) “oop senuwee” vir die mens se alledaagse lewe, en die “underdogs” van die samelewing, het haar laat skryf oor dinge soos bloedskande, aborsie, verslawing, outisme, huismisdaad, menslike demone en gedragsafwykings, klasverskille en armoede. Ten spyte van hierdie neerdrukkende temas, het Botes steeds daarin geslaag om haar lesers met humor, ondeundheid en ironie die balans te laat hou. En die feit dat sy te alle tye selfkrities bly, maak haar skryfwerk soveel te meer geloofwaardig.

Annelie se koerantrubrieke was tot op die laaste pitkos vir lesers. Dít was die skryfwerk wat haar onverdunde genot verskaf het: om van die alledaagse kom en gaan, lag en huil, ’n storie te maak. Tot op die laaste dae van haar aardse reis het sy hierdie gedagtes met haar lesers gedeel.

Annelie Botes se skrywers- en persoonlike lewe was nie maanskyn en rose nie. Vernedering en openbare verguising was haar nie gespaar nie. Sy het die onvolmaaktheid  van menswees ten diepste verstaan. Tóg was haar wêreld van woorde ’n amulet teen seerkry. In haar lewe  kon sy haar daarmee verskans, soveel as wat dit menslik moontlik was.

Vir haar lesers het sy ’n klein biblioteek nagelaat waarmee ons óók daardie skans kan bou.

*

[1] Leana Lategan is ’n komiteelid van die Vriende van NALN Vereniging en afgetrede hoofvakkundige van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum. 

Lees ook:

Huldeblyk: Annelie Botes

Elders gesien: Annelie Botes het stories en mense geken

Annelie Botes (1957–2024)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top