
Levona Pretorius en Annelie Botes (Foto: Dewald Koen)
Met Annelie Botes se dood op 12 Desember 2024 het een van Afrikaans se werklik outentieke vertelstemme stil geraak.
Die aantal suksesvolle Afrikaanse skrywers wat met ’n natuurlike stem vir stories gebore word, kan jy waarskynlik op die vingers van twee hande tel. Annelie was een van hulle – ’n storieverteller wie se stem as ’t ware in die wieg met ’n goue lepel ingegee is.
Daardie geseënde stem is tydens Annelie se kindertyd gevorm deur ’n brandende liefde vir lees, skoolopstelle skryf, ’n byna onvoedbare nuuskierigheid oor die lewe, en die blootstelling aan ’n figuur soos Dalene Matthee – toe nog ’n onbekende, weird huisvrou op Uniondale, wat later een van Afrikaans se literêre supersterre sou word.
As skrywer het Annelie se stem uit die staanspoor aanklank gevind by Afrikaanse lesers wat haar stories gul en gretig op hul boekrakke ontvang het. Vir uitgewers sou Annelie se publikasies ’n goudmyn wees, met verkope wat begrotings laat klop en rekords laat spat. Romans soos Raaiselkind en Thula-Thula het Afrikaanse lesers se verbeelding op nasionale skaal aangegryp en haar werk is wyd vertaal. In Nederland is ’n bewonderaar byvoorbeeld met ’n eksemplaar van Raadselkind in die kis ter ruste gelê.
Versamelings van sketse, rubrieke en kortverhale soos Die trousseaukis en ander stories, Broodsonde, Sabbatsreis, Duiwelsbrood, Tabernakel, Kainsmerk en Voetstoots is boeke wat soos kleinode deur haar hordes aanhangers bewaar, versamel en onder mekaar uitgeruil en verkwansel word. Die aanvraag na die meeste van hierdie titels, en ook Annelie se reisbeskrywings soos Lugkasteel en Kammaland, is steeds konstant, al is die meeste daarvan lank reeds uit druk uit.
Annelie se besondere aanklank met haar lesers het nie net deur die bladsye van haar boeke gestraal nie; haar optredes by leserskringe, skole, feeste en selfs landbouskoue was ontsettend gewild en het vir organiseerders treffer-opkomste verseker. Want haar stem het al die eienskappe gedra waarmee volgelinge hulle sonder voorbehoud kon identifiseer: onverbiddelike eerlikheid, toeganklikheid, gewaagde humor en opregte medemenslikheid.
Dit was ’n stem wat nie weggedeins het van omstredenheid nie, en soms vervaard en moedswillig verby die grense van selfondermyning vir Annelie in die moeilikheid laat beland het. Annelie se trawalle in haar persoonlike geskiedenis is deeglik in haar skryfwerk en in die media gedokumenteer. Sy was ’n ope boek oor haar tekortkominge, haar verslawings en ’n deurlopende flirtasie met die noodlot.
Haar verhouding met Chris, die ou Gryse, wat deur haar boeke soos ’n bloedfamilielid vir haar lesers geword het, is gekenmerk deur stormagtige uitdagings. Maar hulle het deur dik en dun mekaar bygestaan en liefgehad.
***
My pad met Annelie Botes s’n het gekruis in die middel-1990’s, toe ek ’n jong onderwyser op die destydse Grahamstad was en ek betrokke geraak het by oorlede Chris Mann se Wordfest wat tydens die nasionale kunstefees aangebied is. Chris het my gevra om ’n Afrikaanse been vir sy literêre minifees saam te stel, en ek het skrywers in die Oos-Kaap soos Clinton V du Plessis, Pieter Wagener en Annelie genooi.
Daar was nie veel van ’n begroting vir die storie nie, en ek moes staatmaak op die genooides se welwillendheid om self tot by die fees te reis. Geld vir akkommodasie vir die genooides was nie eens op die kaarte nie. In my onverdrote ywer het ek my eenvoudige woonstelletjie wat ek by Breyten Breytenbach se suster Rachel in haar agterjaart gehuur het, vir Annelie aangebied terwyl ek by vriende sou oorslaap.
Die woonstelletjie se plankvloere was verraderlik soos die dek van ’n seerowerskip, en toe Annelie saam met haar dogter Nasti opdaag en my eenvoudige driekwartbed hulle aanskou, het Annelie dadelik die verblyfaanbod van die hand gewys en ’n koshuiskamer by Victoria Girls’ High gaan bedel waar my vriend Anthony Greyling haar soos ’n koningin ontvang het.
Dié miniatuur- Afrikaanse komponent tot die Engelse fees het met gemengde sukses afgeloop. Waar sommige van die ander skrywers een gehoorlid getrek het, het Annelie die rekord geslaan met 18 gehoorlede. My eerste nederige kennismaking met die feestebedryf.
Ten spyte van die treurige verblyfsituasie is die fondament vir my en Annelie se vriendskap tot aan die einde van haar lewe in daardie perdekwartiere in Makhanda se Lawrencestraat gelê. Ek sou Annelie daarna gereeld weer raakloop, onder meer wanneer ek haar as gas na die US Woordfees uitgenooi het – dié kere darem met ’n begroting wat ruim vir reis- en verblyfuitgawes voorsiening gemaak het.
In 2013 het my pad professioneel met Annelie s’n gekruis toe ek as teksredakteur vir Naledi-uitgewers gaan werk het. Dit was die tyd toe daar ’n waterskeiding in Annelie se loopbaan as skrywer was, pas nadat die opspraakwekkende “lamppale”-insident hom in die nasionale media uitgespeel het en NB-Uitgewers bande met Annelie gesny het.
Min het ek geweet van die uitdaging wat op my sou wag toe ek by Naledi instap. Na haar omstrede opmerkings in ’n Rapport-onderhoud met Hanlie Retief, was Annelie verban tot in die literêre buiteveld van Afrikaans.
Sy het by Naledi beland met ’n manuskrip wat later Swart op wit sou word, en sake het beroerd gelyk toe ek daar opdaag. ’n Onbeholpe redakteur was aan die karring met die manuskrip, en ek en Annelie het duidelik aan teenoorgestelde kante van die politieke vuur gesit.
In daardie stadium was Annelie verpletter, haar loopbaan as skrywer was soos die spreekwoordelike mat onder haar uitgeruk, en sy was in oorlewingsmodus. Wat dinge erger gemaak het, was dat sy self daarvoor verantwoordelik was, en dit was gedane sake. Dit was te laat en nodeloos om depressie, pille, moedswilligheid of trauma die skuld te gee vir die situasie waarin sy beland het.
Vir alle praktiese doeleindes was Annelie se skrywersloopbaan oor en verby, en die manuskrip by Naledi was eintlik, soos sy self later opgemerk het, ’n “selfmoordbrief”.
Om my integriteit en gewete in stand te hou, moes ek klarigheid kry oor of sy werklik ’n rassis was, soos wat die lamppale en die reaksies op die Rapport-onderhoud te kenne wou gee. Dit was dan ook die begin van ’n samewerkingsverhouding wat gekenmerk is deur oop, eerlike gesprekke wat tot in die murg gesny het. Ek en Annelie het mekaar begin verstaan en werklik leer ken.
Ek kan sonder skroom sê dat sy nie ’n rassis was nie, maar dat sy polities naïef was. Niks meer en niks minder as die meeste Suid-Afrikaners wat ons in ons daaglikse handel en wandel teëkom nie. Privaat en aan huis by Annelie het vriendskappe met mense van alle rasse, agtergronde, oriëntasies en politieke oortuigings uitgespeel, ontdaan van vooroordeel.
Die besluit om as redakteur saam met Annelie te werk, was dus voor die hand liggend, en daar was vir my geen manier waarop ’n unieke, gebore storieverteller, in watter kultuur ook al, se stem doodgewurg sou word nie. Die taak was om Annelie terug te help lei na haar kernwese as storieverteller, en Naledi het geen moeite en onkoste ontsien om dit te laat gebeur nie.
Vir die manuskrip by Naledi het ons van voor af verskeie leesverslae aangevra, en dit was Izak de Vries, nou by LitNet, wat die deurslaggewende raad aan Annelie gegee het: “Jy is ’n storieverteller. Vertel stories.”
Annelie het geluister, haarself begin koester en op die lang, moeilike pad begin stap om met die vernietigende emosie van “shame” vrede te maak en te verwerk. Dié situasie het ek later in my kort uitgewersloopbaan telkemale eerstehands met heelparty veelgeroemde skrywers in verskeie tale en van verskeie agtergronde beleef. Wat met Annelie gebeur het, was by nabetragting dus allermins uniek.
Toe ek Naledi kort na die verskyning van Swart op wit vir die weivelde van Penguin in Johannesburg verlaat, was my en Annelie se professionele verhouding en wedersydse vertroue gevestig soos droë sement. Kort voor lank het sy uit eie beweging aan my deur geklop met ’n idee vir ’n nuwe boek. In daardie stadium wou Penguin niks met haar uit te waai hê nie, en die noem van haar naam het die grootbase verontwaardig laat stik.
Ek was egter skaars agt maande by Penguin toe Random House met die maatskappy saamgesmelt het, en Marlene Fryer, my nuwe hoof in die niefiksie-afdeling, my dadelik opdrag gegee het om Annelie te nader sodat ons haar boeke kon uitgee. Dit het die tweede helfte van Annelie se skrywersloopbaan ná haar “tussenin-boek” by Naledi ingelui. Reisbeskrywings soos Lugkasteel en Kammaland het gevolg, tesame met verskeie versamelbundels.
Die verskyning van Katvis in 2023, Annelie se laaste roman, het die siklus van herstel na haar berugte selftoegediende loopbaanwond voltooi. Ironies genoeg, dit terwyl haar gesondheid agteruit gegaan het en haar liggaam gesteier het onder uitdagings. Ná die veelbesproke insident het sy geglo sy sou nooit weer ’n roman kon skryf nie, maar Katvis het daardie selftwyfel uiteindelik besweer.
***
Om vir baie jare saam met Annelie te kon werk, was een van die grootste avonture van my lewe. ’n Avontuur vol hoogtepunte en uitdagings waarvoor ek ewig dankbaar sal wees.
Soos Annelie se lesers haar ken en van die begin af leer liefkry het, was dit haar humorsin, onmoontlikheid, wysheid (soms tref-en-trap) en ongebreidelde eerlikheid asook, soos genoem, daardie vertelstem, wat ’n mens bekoor het. Sy was ’n gewone mens met dieselfde tekortkominge waarmee jy die wêreld binnekom, maar haar talent was groots en dit het haar in die openbare arena ingestoot – ’n ongenaakbare plek waar jy nie in watte toegedraai of vir misstappe vergewe word nie.
Daardie ontembare stem en avontuurlus waarmee Annelie gebore is, het uitgespeel in scenario’s wat ek tot aan die einde van my lewe sal koester, wat my steeds hardop laat lag, en soms ook hartseer maak. Maar die lag- en die huiltrane loop altyd saam.
Ons het mekaar bitter goed leer ken en ons was onafskeidbaar. By Penguin Random House het ons uit ons pad gegaan om haar gelukkig te hou, en Annelie het dit geweet. Sy kon rustig fokus op die tweede helfte van haar skrywersloopbaan, en het telkens gelag wanneer ek haar vermanend geterg het: “Onthou, politiek is nie jou sterk punt nie!”
Ek het vir Annelie op publisiteitstoere deur die land vergesel, partykeer deur drie provinsies op een dag, al wat kunstefees is bygewoon, en mekaar soms diep in die nag of vroegoggend wakker gebel. Soos die laaste keer, op Sondag 8 Desember om 07:00 die oggend, toe sy my gedaan uit die hospitaal skakel om amptelik aan te kondig dat “ons” skrywersloopbaan nou verby is. Tot op die laaste gul en vrygewig met haar erkenning, al het ek dit nie verdien nie.
In die tyd van Swart op wit het boekefeeste drie keer gedink voordat hulle Annelie uitgenooi het, maar hulle hét elke keer, want waar Annelie was, was die gespreksale vol. Soms het sy by ’n fees opgedaag waar die organiseerders haar nie eers gegroet of ’n glas water aangebied het nie, en die gesprekke vooraf opgestel was om haar in die verleentheid te stel. Maar Annelie het beheer geneem en die vloer gevee met haar kritici – op haar kenmerklik onmoontlike manier. En die gehore het in hul massas uit haar hand geëet.
Dit was dan ook altyd ’n vreugde om Annelie te beleef wanneer sy ’n vloermoer gooi. Sy was enige boekontwerper se nagmerrie. By Penguin Random House het ons die beste ontwerpers ten duurste ingehuur om haar boekomslae te ontwerp. En wanneer ons die opsies aan Annelie voorgelê het, het sy vir drie dae in die bed lê en huil van teleurstelling. Op die ou einde moes ons die liewe ou Gryse ompraat om prentjies te knip en te plak sodat ons ’n presiese idee kon kry van wat Annelie wou hê. En wat Annelie wou hê, dit het sy gekry.
Met die redigeringsproses van elke manuskrip het ons lang, uitgerekte gevegte gehad. As redakteur was dit my plig om haar uit te daag, aan te moedig en oor die vingers te tik. Wanneer dit by haar hebbelikhede in haar skryfstyl gekom het, het ons bloedig vasgesit. Maar ons kon elke keer ’n kompromie bereik – en daardie kompromieë is beklink deur Annelie se deurgronde kennis van haar lesersmark. En wanneer ons ’n dooiepunt oor ’n verskil bereik het, het ek haar aangemoedig om die ou Gryse se opinie te vra. En hy het korte mette van haar geite gemaak.
Haar lesers was voorop in haar gedagtes wanneer sy geskryf het, en sy het met ’n potlood boek gehou van elke publikasie wat verkoop is. Buiten C Johann Bakkes is daar waarskynlik geen ander skrywer in Afrikaans wat so hard en aanhoudend soos Annelie gewerk het om boeke te verkoop nie – uit die motor se kattebak, vanuit haar huisie in die Baai, met ’n persoonlike boodskap aan elke koper, ’n kruietak uit die tuin, en die liefdevolle geduld van die ou Gryse wat bestellings neem, pakkies opmaak en met spoed moes afsit poskantoor toe.
En soms moes ek, op ’n stoepie voor of agter ’n lokaal waar Annelie sou optree, haar hare met ’n kam en borsel tease terwyl sy ’n handspieël ophou en opdragte gee. Ek kon wel nie ’n enkele keer ’n verskil in haar hare sien na my geteasery nie.
***
Vir Annelie Botes se enorme gevolg van Afrikaanse lesers was sy ’n nasionale skat. En haar bydrae tot Afrikaans verdien om gesalueer te word. Sy het generasies lesers aan die lees gehou, en generasies mense laat lag, laat huil en soms laat stik. Maar altyd met onvoorwaardelike liefde vir almal met wie sy te doen gekry het.
Mag sy in vrede rus en altyd onthou word.
Lees ook:
Persverklaring: Annelie Botes se wêreld van woorde was ’n amulet teen seerkry