Kainsmerk deur Annelie Botes: ’n FMR-resensie

  • 0

Kainsmerk 
Annelie Botes
Uitgewer: Penguin Random House Suid-Afrika
ISBN: 9781776093038

Uitgesaai op 21 November 2018 in “Boekkeuse” op Fine Music Radio onder leiding van Amanda Botha. 

Die titel van Annelie Botes se jongste boek is Kainsmerk. Dis ’n besonder aantreklike uitgawe van Penguin Random House Suid-Afrika. Op die omslag is ’n kleurryke foto deur Annelie se Nasti-dogter, soos Annelie haar noem.

Die bundel bevat agttien verhale waarvan ’n aantal kort novelles is: “Swart Vrydag se manna” het vyf hoofstukke terwyl “Louterberg se grothuis”, “Die reis deur Bloemenhoop” en “Duiwelsbrood” elk 4 hoofstukke het.

Bronerkenning vir die tekste is kort: “Die verhale wat in  Kainsmerk opgeneem is, het tussen 2000 en 2017 in VrouekeurRooi Rose en Huisgenoot verskyn.”

Die titel Kainsmerk het my die broedermoord-gegewe in die Bybel laat naslaan. In haar voorwoord stel Annelie dit ook duidelik: “Genesis 4 vertel hoe Kain sy broer Abel in die veld doodgemaak het. God het Kain verdoem tot ’n doellose  swerwersbestaan. Tog het God hom begenadig  deur ’n merk op sy voorkop aan te bring. Enigiemand wat dié merk sien, sou weet dat hy sewe maal gestraf sal word as hy Kain doodmaak.

         “Só word ons almal beskut. Dalk juis oor die Kainsmerke wat ons dra.” (bl 1.)

In die verhale kom Bybelse verwysings en toepassings voor. Kyk hoe begin “Op ’n moeisame reis”: “Toe die son op die middaguur verwoes”(bl 200). Vergelyk Psalm 91: 6: “Jy hoef nie te vrees vir die siekte wat op die middag verwoes nie.”  Die godsdienstige verwysings word baie saaklik gebruik. Die deeglike intriges word nie as ’t ware eers gestop vir ’n preek, vir moraliserings nie. Lesers wat getroue kerkgangers is, wat baie meelewend is, sal hulle kan identifiseer met die karakters se kerkwerk. Vergelyk die kerkkoor-optredes, die maak van kanselklede en kerkraaddiens (bll 128, 135 en 166). Dit verwys nou hoofsaaklik na optredes in die NGK en die susterskerke.

Ook lesers wat graag dinge doen, nie wegskram van handewerk nie, sal hulle in Annelie se mense herken. In “Letter van die wet” (bl 242) gaan dit om ’n ma en pa wat hulle ongeletterdheid vir hulle dogter Emma jare lank wegsteek. Nou vra sy haar ma of dié ooit skoolgegaan het. Emma wil weet waar haar ma se ”slimte” vandaan kom. Deur haar gedagtes kry ons ’nvoorbeeld van so ’n handige mens: Haar ma ken “iedere bossiemedisyne, en almal roep haar as daar ’n bobbejaantjie is wat stert afgekap moet kom. Weet hoe stryk mens ’n kerkbroek se plooie met ’n nat lap. Kan tel hoeveel brode uit een emmer meel gebak kan kom” (bl 244).

En haar pa? Sy’t agtergekom dat hy op die Bybel kyk, maar uit sy kop uit vertel. “Partykeers het hy die gelykenis van die saaier voor in die Bybel gelees; ander aande agter. Een aand was dit koring, die ander aand hawer. Toe hy die aand sê dit was lusern, het sy gewéét hy lees net kamma. Maar sy het dit vir niemand vertel nie. Mens se pa bly jou pa (bll 244—245).’’

Heelwat verhale beeld mense uit wat ly, sielkundig en/of liggaamlik, mense wat vir ander en vir hulleself die lewe bitterlik moeilik maak. “Die broosheid en die boosheid van die liefde” (bl 20) kom na vore by hulle. Soms neem ’n bomenslike duiwelskrag besit van ’n mens. Jy het oor ’n afgrond getuur, en toe tuur die afgrond ook in jou in (bl 188). Daar’s die uitputting om ander voortdurend te versorg. Iemand het ’n remmende  neerslagtigheid. Dit druk jou op jou knieë neer en ook iemand na aan jou” (“Sewe maer jare”, bl126). Of dit gaan om ’n huwelik wat vir albei partye “’n trae gelykpad geword het” (bl 202). Sommiges ken die verskeurdheid oor ’n kind se dood. Dit is mense wat nie die vermoë het om liefde te ontvang of uit te deel nie.

Tog kom daar dikwels ’n ommekeer; ’n lotsverandering. Aan die eindes van die verhale verskyn heelwat verrassings. Dis iets heerliks. Soos Boerneef geskryf het: “soms straal ’n Bolandsblydskap oor jou dag” (Versamelde poësie, bl 200). ’n Volgende keer is dit baie ontstellend. Soos in ”Die stil nag”(bl122).

Annelie se woordgebruik is baie keer wonderlik nuut. Van die vondse kom in dialoog voor. Die ou oom praat oor ’n bossie “sieterpielie” vir “pietersielie”. Ander karakters praat van: “senuweeste; ontstelling; jy moet opperder skuif; jy moet liewenster bly; kry koue riffels” (bl. 140 —145; 156)  In “Die reis deur Bloemenhoop” staan op bl 145:  “Waffer vrou nogalster? Sy is ’n onskullige heiden.” In “Sewe maer jare” (bl 123): “Niksling, wat altyd aan die uitgedroogde punt van die lewe moet kou.”

Goeie beeldspraak is op bl 166 in “Duiwelsbrood”. Die loseerders moet R300 huur betaal. Maar miss Plessis, die eienaar, is nie gelukkig daarmee nie: “Driehonderd Rand is nie ’n kettierek wat ’n mens kan styf span om ver te skiet nie.”

’n Klein detail kan soveel oproep: “Nagstil sypaadjie” (bl 170). En in “Duiwelsbrood” (bl 190): “Toe Hester in die kombuis kom nadat sy die man afgesien het, staan miss Plessis en huil met die afoorkoppie teen haar bors vasgedruk.”

Kainsmerk deur Annelie Botes, uitgegee deur Penguin Random House Suid-Afrika, is ’n bundel verhale wat ek bewonder. Hulle het my ook kort-kort aangedaan gemaak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top