Identiteit, en dit wat daarmee saamgaan, bly ’n kernkwessie en die bron van groot verskille in die Afrikaanse gemeenskap, veral onder wit Afrikaanssprekendes.
Die spanning lê grootliks by die benoemings Afrikaner en (Afrikaanssprekende) Suid-Afrikaner. Sommige identifiseer uitsluitlik as Afrikaners, ander as Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, en ’n derde groep beweeg tussen die twee na gelang van konteks. Dit beteken die terme kán langs mekaar bestaan sonder teenstelling.
Soos dikwels tevore word daar weer getwis oor wat hierdie etikette “regtig” beteken – dit gaan nie net oor definisies nie, maar oor hoe Afrikaanssprekendes hul verhouding met die groter Suid-Afrika verstaan.
’n Mens kan egter met reg vra of daar nie vrede gemaak moet word met die feit dat daar waarskynlik nooit eenstemmigheid oor só ’n emosionele identiteitskwessie sal wees nie. Daarmee saam kom die ou vraag terug: Wie “kwalifiseer” om ’n etiket te dra?
Die afgelope paar jaar het dit herhaaldelik in die media opgevlam, met die mees onlangse voorbeeld einde 2025 die “Nie in my naam nie”- ope brief van 44 ondertekenaars.
Die brief het voorspelbaar twee teenoorgestelde reaksies ontlok. Aan die een kant was daar aggressiewe verontwaardiging: Hoe durf dié mense hulleself Afrikaners noem as hulle nie soos ons dink nie? In nuusmedia en op sosiale media het die 44 die teiken geword van ’n stroom skelname en verdagmakery, met kommentaarruimtes wat by tye soos ’n slagveld gelyk het.
Dit wat oor mense met ’n ander mening gesê is, openbaar ’n kruheid en geneigdheid tot rioolpolitieke retoriek, soos diegene kan getuig wat die kommentare gesien en gelees het.
Die onderliggende boodskap was duidelik: Net “ons” mag bepaal wie “ons” is, en enige afwyking van ’n geïdealiseerde Afrikanerbeeld is onaanvaarbaar – ’n houding wat selfs ’n ooreenkoms met die MAGA-groepsdenke bevestig.
Tog is dit belangrik om te sê: Nie alle Afrikaners pas in hierdie patroon nie. Daar is ook gematigde mense vir wie Afrikanerwees nie die alfa en omega is nie, maar bloot ’n komponent van hulle identiteit. Hulle is trots op hulle herkoms en geskiedenis, sonder dat dit noodwendig teenoor Suid-Afrikanerskap gestel word.
Aan die ander kant van die debat was daar ondersteunende, dankbare reaksies: lesers wat die brief wou onderskryf, en wat hul doelbewus wou distansieer van die verwoede aanslag op die oorspronklike 44 ondertekenaars en die meer as 1 600 ondersteuners van die ope brief.
Só ’n reaksie vertel ook ’n storie: Mense kan groot trauma en negatiewe ervarings in die land hê, maar tog steeds tuis voel en hul identiteit nie bou op permanente woede, uitsluiting en ’n totale verwerping van die samelewing nie.
Die kern van die 44 se punt was eenvoudig: Afrikanerskap is nie eenduidig nie, en nie alle Afrikaners beleef dit as in spanning met Suid-Afrikanerskap nie.
Vir baie is etniese identiteit iets waarin jy gebore is – taal, familie, geloof, afkoms – maar dit hoef nie ’n politieke identiteit te wees wat bo alle ander dinge gestel word nie. Dit ontken ook nie die bestaan en waardigheid van ander gemeenskappe in dieselfde land nie.
Hierby sluit ’n tweede, baie belangrike argument aan: Die idee van ’n doelgerigte, unieke etniese aanslag op Afrikaners word deur hierdie groep betwis.
Dit moet duidelik gesê word: Álmal in Suid-Afrika ly onder swak regering en korrupsie en ervaar kragonderbrekings, ineenstortende dienste, wanfunksionele munisipaliteite en gesondheidsdienste, misdaad en geweld, korrupsie op ontstellende vlakke deur gewetenlose tenderpreneurs en hulle meelopers.
En omdat geen etniese groep sistemies uitgesonder word in hierdie breuklyne nie, tref die swaarkry veral die armstes en mins geskooldes, wat wit Afrikaners in groot mate uitsluit, maar uiteraard ook talle insluit.
Teen hierdie agtergrond lyk dit asof ’n sekere regse groepering juis ’n etniesevervolgingsnarratief nodig het: As Afrikaners as “slagoffers” gevestig kan word, kan nie net die regerende party nie, maar die demokratiese bestel self as misluk verklaar word. Die eindspel blyk dan afstigting of ’n vorm van “laer trek” te wees, eerder as ’n gesonder, meer funksionele groter Suid-Afrika.
Só ’n projek word verder probeer regverdig met ’n verhaal van wit etniese slagofferskap wat ook internasionaal by sekere regse netwerke aanklank vind.
Maar wanneer ’n mens rondom jou kyk – ook in dorpe, stede en vakansieplekke wat Afrikaners tradisioneel besoek – gaan dit ekonomies goed met baie Afrikaners; daar is geen spoor van etniese marginalisering nie, wat nog te sê vervolging.
Dit beteken vanselfsprekend nie alle wit Afrikaners is welaf nie, maar wit welvaart is dikwels ooglopend in huise, voertuie, skole, kulturele infrastruktuur en selfs laer werkloosheidsyfers. Dit is in teenstelling met ander gemeenskappe in die land.
Gevolglik: In die demokratiese Suid-Afrika is wit Afrikaners nie “slagoffers” in die sin wat hierdie narratief vereis nie. Baie is eerder hardwerkend, entrepreneuries en skeppend, en reik tipies uit om ander groepe te help.
Uiteindelik is die (wit) Afrikaanse gemeenskap intern uiteenlopend: Sommige stel sterk belang in Afrikanerskap as primêre politieke affiliasie; ander vier Afrikanerskap, maar vind hul politieke heil in ’n groter demokratiese land en multikulturele nasie; en nog ander skuif weg van Afrikanerskap juis omdat dit vir hulle eksklusief klink, en kies eerder Afrikaanssprekende Suid-Afrikanerskap.
In opvolggesprekke moet die oopmaak van die term Afrikaner as identiteitsmerker vir die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap hanteer word. Dan word die diversiteit nog groter, maar ook natuurliker.
Laasgenoemde twee posisies plaas die toekoms doelbewus binne ’n multikulturele demokratiese Suid-Afrika waar Afrikaanssprekendes één gemeenskap onder vele is – met ’n eie identiteit wat nie noodwendig vervreemding van medeburgers beteken nie.
Die 44 ondertekenaars se bedoeling was nie om voorskriftelik te wees of almal te dwing om dieselfde te dink nie, maar om leuens wat “in ons naam” op ’n wêreldverhoog rondgaan (met werklike gevolge, ook vir ander) teë te staan, en terselfdertyd te wys dat Afrikanerskap nie net één politieke projek beteken nie.
Wees daarom wat jy wil: Afrikaner, Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner, of – waar dit vir jou sin maak – albei. Maar wees eerlik oor waarom jy kies, en probeer in dié proses miskien minder volk en meer nasie wees.
Wannie Carstens en Louise du Toit
Ondertekenaars van die ope brief “Nie in my naam nie”
Lees en kyk ook op LitNet en Voertaal:
Elders gesien: Diverse menings is positief eerder as negatief
Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"
Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe
Africanis albus herbesoek: reaksie op die Afrikaner Verklaring
Die mite van Afrikaner-eenheid en hoe dit inspeel op die hede
Die aaklige gesig van rassisme: reaksie op die potgooi wat bruin mense verkleineer


Kommentaar
Die feit dat die ANC kort na die verskyning van die brief hulle dankbaarheid uitgespreek het vir die brief, was die vonk in die kruitvat, wat die onherstelbare vertouensbreuk veroorsaak het tussen die ondertekenaars en die sogenaamde 'regse' Afrikaners. Vinnig, vinnig was die brief se opstellers en ondertekenaars as die 'Afrikaders' gebrandmerk. Die Afrikaders het probeer walgooi: ons kon nie die regering se sondes in die brief gelys het nie, daar was te min spasie! Geen spasie vir selfs 'n enkele sin nie? Net 'n eenvoudige sin. Dalk iets soos: Na drie dekades kon die ANC regering nie daarin slaag om die meeste van die land se uitdagings aan te spreek nie.
So 'n sin sou dalk die ANC se lofprysing vir die brief kon temper, wat weer tot groter geloofwaardigheid sou lei.
Die brief het verder gestel dat dit onderteken is deur 'Afrikaners' wat glo in 'waarheid' en 'geregtigheid'. In teenstelling met wie? Is Afrikaners wat ander opinies en uitkyk het, dan almal mense met geen belangstelling in waarheid en geregtigheid nie?
Boonop was verskeie van die ondertekenaars mense wat in die verlede uiters krities gestaan het teenoor die konsep van Afrikaner, en sommige wat selfs 'bedank' het as Afrikaners, mos 'n gewilde stokperdjie gewees so twee of wat dekades gelede.
Die ondertekenaars het meerderwaardig en beterweterig oorgekom. Die professore en doktore van die universiteit. Die hogeres wat beter weet.
Dit is nie vandag meer die polities korrekte ding om enige trots te voel vir Afrikanergeskiedenis nie. Afrikaners se voorsate word tipies as kolonialiste, plunderaars en moordenaars beskou in moderne geskiedskrywing. Vir diegene wat nog hulle herkoms as edel beskou, is daar geen ander opsie, hulle trek maar laer. En die laaste ding wat gaan help, is om die laer te probeer afbreek. In 1994 was daar glo slegs 100 mense by die Geloftefees by die Voortrekkermonument. Daar was nuwe hoop, en mense het redes gehad om buite die laer te gaan verken. Is dit net toeval dat die prentjie sedert toe heelwat verander het? Is al daardie mense net 'n spul MAGA-malmense? Of het hulle met reg alle hoop verloor vir die demokrasie?
As polities-gematigde, ervare, belese Christen-geneesheer en Wannie-tydgenoot word my response meesal deur LitNet geweier. Staan op die waarheid dat die Afrikaner-VOLK meer as 95% van Europese (wit) afkoms is, Afrikaans as moeder- en huistaal praat en Protestantse Christene is.
Afrikaanssprekende nie-wit mense, bv kleurlinge, bruines en Khoi-San is nie deel van die Afrikanervolk nie. Ook nie wit moeder- en huistaal-Engelssprekers nie. Ook nie wit Afrikaanssprekende nie-Christene nie.
Die Afrikanervolk gun vir ander volke (etnisiteite) wat hy vir homself gun.
Maar, kan dit wees dat daar 'n aanslag op Afrikaners is (van sekere groepe af) terwyl daar OOK 'n "aanslag" op alle burgers is, nl. die oorkoeplende misdaadgolf? Omdat meeste mense in SA onder misdaad gebuk gaan, beteken dit tog nie dat daar nie teen Afrikaner gediskrimineer word nie? En die Afrikaner waarteen gediskrimineer is, mag tog kapsie maak, dit beteken nie hulle ontken dat ander mense OOK ly nie? Verder, Afrikaners is beslis nie die enigste wat slagofferskap ervaar nie. Inteendeel. En BEE is ooglopende diskriminasie, ook teen bruin burgers.
Wannie en Louise, dit is nie eerlik om al die kritiek op julle ope brief af te maak as "kruheid" en "rioolpolitieke retoriek" nie. Daar was ook nugter en rasionele reaksies. Julle is klaarblyklik nie bereid om erkenning daaraan te gee nie. Wat het geword van intellektuele en akademiese integriteit?
Connie Kerkmuis, ek reageer nie op mense wat nie die moed van hulle oortuiging het om standpunte in hulle eie naam in te neem nie, en dan baie dapper goed onder die anonimiteit van 'n skuilnaam beweer sonder om die standpunte wat hulle kritiseer ordentlik of enigsens te lees.
Hanno Visagie, jou standpunte demonstreer die rassistiese neo-apartheidsdenke wat konserwatiewe Afrikaners se standpunte oor die saak kenmerk.
Francois Verster, lees gerus die meer akkurate feite wat op ons webblad verskyn, veral onder my naam: https://www.facebook.com/groups/afrikanersvirsuidafrika
Daniel Hugo, die response op ons verklarings is oorwegend uiters emosioneel en afwysend, gebaseer op foutiewe feite en vertolkings wat voorgee dat Afrikaners as Afrikaners slagoffers van die huidige regering is. Dis doelbewuste onware politieke propaganda wat ons uitwys in ons verklarings sover asook op ons webblad op FB. Die oorgrote meerderheid negatiewe reaksies op sosiale media en in mediakommentare word gekenmerk deur uiters kru en platvloerse taalgebruik deur beweerde 'Afrikaners' wat nie op ons feite reageer nie, maar meestal ons as boodskappers verdag maak. Dis uiters teleurstellend dat dit alles in die naam van mense wat hulleself as 'Afrikaners' beskou.
Fanie, ek weet van die kru reaksies, maar daar was ook die rustige en rasionele antwoorde uit die geledere van Solidariteit en Afriforum. Dit is wat Wannie en Louise verswyg.
Die linkse Afrikader is natuurlik deur die bank taktvol, veral wanneer hy die opponente as Nazi's en dom Trump-fanatici afmaak.
Daniel Hugo, AfriSol leiers se emosionele, ad hominem aanvalle op die ondertekenaars van ons verklaring, ipv om op die meriete van ons argumente te reageer, spreek boekdele. Dit sluit in afwysende en vernederende opmerkings wat geensins verskil van die meer kru en platvloerse reaksies van hulle ondersteuners nie.
Daniel Hugo, ek hoor graag jou kommentaar op die meriete van ons argumente?
Flip Buys van Solidariteit se reaksie was sekerlik nie ad hominem en emosioneel nie. Maar wat sê Wannie en Louise?
Ek stem met Francois Verster hierbo saam. Die Afrikaner het as 'n groep die reg om teen diskriminasie te protesteer. Wel wil ek die aanslag op Afrikaans - veral by universiteite en skole - byvoeg. Van die ondertekenaars van die ope brief was betrokke by die afskaffing van Afrikaans as onderrigmedium by universiteite (Stellenbosch en Vrystaat). Ironies genoeg het hulle dus help diskrimineer teen die Afrikaner en uiteraard ook teen die ander Afrikaanssprekendes wat nie as Afrikaners identifiseer nie.
Daniel, elke individu en groep het die reg op standpuntinname as dit hulle raak. Die aard en inhoud van daardie standpunt bepaal egter die meriete daarvan of nie. AfriSol se klagtes oor diskriminasie teenoor Afrikaners het nie feitelike meriete nie, is op doelbewuste waninligting gebaseer en poog om die voorkeurposisie van Afrikaners onder apartheid steeds te perpetueer. Hulle gebruik ook 'n rassistiese definisie van Afrikaners. Assosieer jy daarmee? Ek nie..
Wat ons in die media oor identiteite sien, is meesal bekgevegte tussen elites.
Die mense in die Wes-Kaap se straat in 'n ANC-beheerde dorp waar ek woon, is almal universiteitgekwalifiseerde mense. Wanneer ons politiek praat, praat ons selde oor taalverwante identiteite. Ongeag ons formele en informele groepverbindings, praat ons oor die effektiefste agentia wat gekontak kan word om te help by die verligting van ons materiële probleme. Ek het rondgevra oor die AfriSol versus 44 gedruis en ander sake en agentia. Die gedruis was nuus vir almal. Almal was wel bewus dat Afriforum dikwels slaggate herstel, dat Gift of the Givers dikwels by is in noodtoestande, dat die munisipale raadslede (van al die partye) meesal nutteloos is terwyl die amptenare probeer help ten spyte van gestroopte bronne, ens. ens. Niemand het voorheen van die 44 gehoor nie.
Sê dit iets oor die meriete van die bekgeveg? Seker nie. Ons en ons vlakke van inligting en ons menings is nie ewekansig, nie verteenwoordigend van A tot Z nie. Dit herinner wel aan 'n oorweging: AfriSol is georganiseerd, het nagenoeg 700,000 lede en is prakties, is deurlopend aktief, is betrokke by menslike probleme. Die "oorspronklike 44 ondertekenaars en die meer as 1 600 ondersteuners van die ope brief" is 'n los en waarskynlik nou afgelope netwerk. (Hoeveel is "meer as 1 600"? Is dit 1 601 of 1 999 of ...?)
Dus ...? Wie weet wat die politieke implikasies van organisasie versus briefskryf mag wees?
Fanie Cloete, jy protesteer en keer darem erg vir jou en die ander 43 se wickets. Afrikaners kan emosioneel raak, ja. En ongeskik, ja. So what? Waarom dink jy wil die ANC hoofbende nie die gewraaakte lied Kill the Boer, Kill the Farmer veroordeel nie? Dink man. Hulle vereenselwig daarmee. Jy klink vir my baie identiteitloos. ANC strategie en julle lotjie het geval daarvoor.
Dankie Wannie en Louise vir 'n goed beredeneerde en deurdenkte bespreking. Dit was lekker/goed om te lees.
Persoonlik dra ek nie swaar aan of my Afrikaner, Afrikaanse, en Suid-Afrikaanse identiteite nie. Ek sou pa, professioneel, blank (ja dit maak steeds saak), geloof, kerk (NGK!) en 'n hele reeks ander identiteite daar kan byvoeg, wat my maak wat ek is. Hierdie identiteite vind, wat my betref, naatloos aanklank by mekaar, oorvleuel, en is wyd genoeg om in, eerder as uit, te sluit. As mense hul eie lewens wil versuur met 'n eksklusiewe, vernouende, en ingroepbenadering tot enige van die identiteite, moet hul maar die sout eet wat daarmee saamgaan. Ek moet ook soms op my tande kners en my inhou as mense Godslaster raak en my geloof en kerk afbreek. En daar blyk 'n sterk ondertoon daarvan te wees onder die ondertekenaars.
Maar ek dink tog dit is nodig dat ek/ons die ongemak verstaan wat daar in sekere kringe is oor die brief; ek wil dit verstaan sonder om veroordelende om te gaan oor die krasheid van die kommentaar. En ek dink die idee van relatiewe ontsegging verduidelik tog iets van mense se ongemak met die brief en die posisie van Afrikaners of Afrikaanses.
Relatiewe ontsegging of deprivasie is 'n nuttige interpretatiewe lens om te verstaan hoe historiese verwagtinge en vinnige sosio-politieke transformasie gevoelens van marginalisering binne 'n voorheen dominante minderheid kan genereer.
Kom ek stel dit anders, die posisie van Afrikaners in hedendaagse Suid-Afrika kan volgens my gedeeltelik verstaan of verduidelik word deur die persepsie van verlies of dalende status in vergelyking met historiese voordele in vergelyking met ander sosiale, ras as jy wil, groepe in Suid-Afrika. Alhoewel baie Afrikaners daarom steeds relatief hoë vlakke van onderwys en ekonomiese sekuriteit geniet, het die oorgang na 'n swart meerderheidsregering, tesame met beleide wat verband hou met aangeleenthede soos positiewe diskriminasie en BEEE, bygedra tot 'n gevoel onder sommige dat hul politieke invloed, arbeidsmarkvooruitsigte en kulturele outonomie afgeneem het. Hierdie persepsies, eerder as objektiewe materiële agteruitgang, help om patrone van identiteitsgebaseerde mobilisering, verhoogde kulturele sensitiwiteit en emigrasie onder dele van die Afrikanerbevolking te verduidelik.
En nog steeds wonder ek wat Wannie Carstens en Louise du Toit se reaksie op my oorspronklike kommentaar is. Is Fanie Cloete hul aangewese segspersoon?
Daniel Hugo, dankie vir jou ewewigtige kommentaar. Ekself was nie deel van die vorige elite nie en nog minder van die huidige - ek dink dis waar dat indien jy 'n kudde volg, jy net 'n klomp p**ph*lle voor jou sien. En ek stem 100% saam oor universiteite, ek het dit self beleef. Ongelukkig kan 'n mens nie verwag dat mense wat jou as oor-emosioneel bestempel, maar self sukkel om die middelgrond te behou, 'n aks sal toegee op 'n logiese punt nie - dis nou na enige ekstreme kant toe. Dit maak my hartseer dat my mense so optree, maar hoe kan jy ook meer van hulle as van enige ander volksgroep verwag? Ons is almal maar met kettings en ooklappe belas, dog dit bly vir my pynlik om te sien hoe sommige mense vasklou aan hulle oortuigings, selfs in die felle lig van ontbloting - eers was dit die vorige bende, en nou nie huidge een. Die verskil is seker maar waarneembaar in die bevoegdheid, minder so as in die integriteit: funksionele teenoor wanfunksionele korruptheid. Bowenal, om na wolkbewoners en ivoortoringwagters se argumente te luister, is soos om te kyk hoe 'n vis probeer loop. Daarom, groete uit suburbia, lekker jaar almal!
Abel, jou inset hier is die enigste werklik sinvolle een sover. Relatiewe deprivasie is 'n baie goeie analitiese model wat die huidige weerstand van sekere Afrikanerelites teen huidige regeringsbeleid en hulle wanpersepsies daaroor dalk deels kan verklaar. Die volgende is egter belangrike kontekstuele faktore wat nie geïgnoreer kan word nie: 1) die goed-georganiseerde bemarking van die vals narratief dat Afrikaners as etniese en rassegroep in SA vervolg word, berus op doelbewuste instrumentele persepsies by enkele konserwatiewe elites wat selfs onder apartheid al gepoog het om die oorgang na die huidige politieke bedeling met 'n swart meerderheidsregering te probeer verhoed. Hulle was toe onsuksesvol maar het steeds voortgegaan om daardie pogings tot rasseselfbeskikking eenvoudig voort te sit op ander maniere. 2) Dis dus nie die 'gewone' Afrikaner in die straat wat dit dryf nie, maar redelik gegoede elites soos ek en jy wat dit uit rasse-ideologiese perspektief dryf. 3) Relatiewe deprivasie verklaar bloot hoekom dit gebeur, maar regverdig dit nie. 4) Die onderliggende rassistiese element in hulle standpunte en optredes is baie soortgelyk aan wat hulle voor 1994 gedoen het, net bietjie meer subtiel en implisiet ipv eksplisiet. 5). Hulle bevoordeeldes uit ander rassegroepe word gebruik as legitimering en by uitondering, maar nie op dieselfde vlak as wit bevoordeeldes wat hulle hoofteikengroep is nie. 6) Dit behels pogings om neo-apartheid weer te laat herleef soos Orania. Jaco Kleynhans van Orania, Solidariteit en Afriforum het onlangs in 'n videogesprek met Johan Allers bevestig dat hulle 30 dorpe in SA geïdentifiseer het as streeksentrums waar wit, vermoedelik Afrikaner-gedomineerde, selfbeskikking bevorder kan word, en dat hulle AfriSol lede en ander Afikaners aanmoedig om daarheen te begin migreer. Mense wat AfriSol steun, is dus by implikasie medepligtig hieraan.
Liewe Fanie Cloete, Wannie Carstens en Litnet, ek is lid van AfriForum - deel van die Solidariteit Beweging. Lees gerus die volgende vars artikel van dr Dirk Hermann en neem dit ter harte asb. - "Dit is wie en wat Solidariteit is, so hou nou op twak praat" - https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/dit-is-wie-en-wat-solidariteit-is-so-hou-nou-op-twak-praat/
Lees gerus ook vir groter insig die volgende vars artikel van Flip Buys asb - "Dit is nou nasionalisme teen globalisme in die Weste" - https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/dit-is-nou-nasionalisme-teen-globalisme-in-die-weste/
Beste Hanno Visagie, ek het Flip en Dirk se stukke reeds gelees. My antwoord op die AfriSol benaderings en strategiee is hier opgesom in 4 dele. Ek hoor graag jou respons daarop:
https://faniecloete.wordpress.com/2025/12/31/oorsake-en-gevolge-van-die-huidige-rassekonflik-in-sa/#respond.
Ek dink ons kan nou maar aanvaar dat die botsende groepies mekaar nooit sal vind nie. Elkeen is 100 % korrek en besit 'n monopolie op die waarheid.
Liewe Wannie Carstens, Fanie Cloete en Litnet, lees gerus ook die volgende verbandhoudende artikel deur Louise Mabille - Is die progressiewe oomblik verby? - https://www.ontlaer.co.za/p/is-die-progressiewe-oomblik-verby?
Hanno, Louise wat in die buiteland in 'n baie liberale land bly, is verkeerd. Die huidige globale regse swaai is 'n desperate poging van konserwatiewe mense om die gevolge van die liberalisering en sekularisering van die lewe te probeer omkeer. Dit het na die feudale periode in Europa begin en word tans gedemonstreer deur die huidige internasionale individuele bemagtigings- en menseregtebedelings wat deur howe in demokratiese state fgedwing word. Die geskiedenis is teen hulle en die toekoms is aan die kant van meer gematigde en progressiewe mense wat die gelykheid tussen vroue en mans aanvaar asook selfs kinderregte, ekonomiese en natuurregte. Godsdiens en tradisionele familiewaardes vervaag ook baie vinnig. Dit is onomkeerbaar. Konserwatisme het dus 'n tydelike oplewing agv die skielike nuwe kulturele immigrasieprobleme in Europa, maar dis permanent en regerings sal dit moet aanvaar en stabiliseer vir stabiele ekonomiese groei. Die genie (gees?) is dus ongelukkig reeds uit die bottel en kan nie weer teruggedruk word nie.
Tja, ook atyd 'n swaai na regs, nè Hanno. Elke paar jaar. Nou al so ver regs geswaai mens is verbaas julle is nog enigsins in die prentjie. Die filosoof skryf nog soos 'n filosoof, sien ek....
Die eerste keer wat ek van "smaakmaker" gehoor het, het ek onmiddellik gedink aan 'n 5-ster Michelin-sjef. Weet dis net drie, maar dit werk nie hier so nie. Kyk maar na die uniforms in byna al die regeringsdepartemente tot by die plaaslike regerings - jis man, dis hogere janne.
Maar Afrikader... vir daai 44. In die kol... dis so reg na my smaak!