Elders gesien: Diverse menings is positief eerder as negatief

  • 0

Wannie Carstens skryf op Facebook:

Ek sit vanoggend op Stellenbosch by ’n gespreksgeleentheid, gereël deur Kaapse Forum, oor die kwessie “Afri-saam” of “Afri-apart”. Dit is die voortsetting van ’n gesprek gistermiddag oor hierdie tema wat bygewoon is deur talle leiers uit die Afrikaanse gemeenskap.

Die kommer was gister dat die vonke sou spat oor die ope brief “Nie in my naam nie” van die 44 ondertekenaars. Onderliggend hieraan is die kyk op Afrikanerskap. As ’n mens die afgelope twee weke se heftige reaksie teenoor talle van die 44 bekyk, was die potensiaal vir konflik daar, veral omdat verteenwoordigers uit die betrokke opponerende groepe hier was.

(Terloops: Dit was lekker om van die 44 hier te kry. Soveel van ons het spontaan geteken sonder dat ons mekaar geken het, wat net weer wys dat gedeelde waardes mense na mekaar aantrek. Gawe, oopkop mense wat lief is vir die land. Mense saam me wie ek graag ’n pad loop.)

Maar toe nie! Die gesprekke was rustig en wedersydse standpunte is gerespekteer. Dit gee ’n mens moed dat daar ’n soort volwassenheid in die debat gekom het: die aanvaarding dat ons anders oor sake dink en dat elkeen se lewenservaringe hom/haar lei tot ’n siening, maar dat ons mekaar die ruimte daartoe gun.

Die beginsel is eerder: ek sal jou reg verdedig om jou standpunt te stel, al verskil ek radikaal daarvan. Dit is mos anders as die vlak en aard van die reaksie wat die afgelope week of wat op die koppe van die 44 neergedaal het. Hoe minder daaroor gesê word, hoe beter.

Ek dink dit is tyd dat die een of ander instansie ’n groot geleentheid reël waar die term “Afrikaner” en wat daaronder verstaan word, behoorlik deurgepraat word sodat ons eens en vir altyd vrede daaroor in die breë Afrikaanse gemeenskap kan kry. Dit is in wese waaroor die hele onsmaaklikheid gegaan het. Alles oor identiteit. Laat ons die spreekwoordelike “olifant in die vertrek” in die oë kyk en dit konkreet hanteer.

Die term is tans verdelend omdat daar kontrasterende waardes daaraan geheg word. Sommige groepe eien dit op vir ’n eksklusiewe doel (wit, Afrikaanssprekend) en ander gee dit ’n inklusiewe waarde (almal wat in die land gebore is). Kom ons klaar ons identiteit eens en vir altyd op, selfs al kom ons ooreen om daaroor te verskil.

En as ek so rondom my kyk en ook luister wat Francis Petersen (visekanselier UP) sê oor saamwerk en saamdoen in die Afrikaanse gemeenskap, dan het ek hoop dat ons tog volwassenes kan wees. Touch wood!

Lees ook:

Wat vier oom Daantjie daar?

Neville Alexander-gedenklesing: Afrikaans se erfenis – verlede, hede en die volgende 100 jaar

Foto’s: "Hoe beleef ons taal?" by die Taalmuseum en -monument

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top