Wat vier oom Daantjie daar?

  • 0

Foto: Izak de Vries

Toespraak gelewer by die ATM se vyftigste verjaardagdinee
Saterdag 15 November 2025, Paarl

Jean Meiring1

Die jaar 1975 lê ver in die verskiet.

Amper in die spreekwoordelike vergetelheid waaraan die skrywers van hoërskoolopstelle so graag dinge wil ontruk.

Die boog tussen toe en nou is ’n argitektoniese wonder: so steil soos die Afrikaanse Taalmonument se hoofsuil self – Langenhoven se “snel stygende boog” – wat beteken jy moet ’n Olimpiese sprong maak om van die een tot by die ander uit te kom.

Wie sou op 10 Oktober 1975 – na aan die einde van die Taaljaar wat die regering van toe afgekondig het om die eeu tussen die op-die-been-bring van die Genootskap van Regte Afrikaners en die kruin van die komplekse 1970’s te vier – wie sou tóé kon dink dat die brutalistiese meesterstuk van die argitek Jan van Wijk, terughunkerend na die skoonheid van Le Corbusier, in 2025 steeds sou staan, fier en pront, om die volheid, oopheid en wydheid, pleks van die engheid, van Afrikaans te vier. Dat dit boonop ’n ruimte sou wees wat baie rolprentmakers opsoek wanneer verhale wat in die verre toekoms afspeel – binne in die vergetelheid, omdat dit nog nie gebeur het nie – verfilm moet word.

10 Oktober 1975, Krugerdag, is gekies vir die viering, die tewaterlating, die ongemaklik gesegregeerde makietie wat vir die Suid-Afrika van toe vreemd normaal gelyk het. Vir sommiges altans.

Die aand is afgesluit toe agt tierende fakkels – tot toe toerende fakkels, wat die land deurkruis het – een vir een in die donkerte gehulde Paarlberg bereik het.

Agt kanonskote het die nag deurskeur.

Agt. Een vir elk van die agt stigterslede van die Genootskap.

Die premier BJ Vorster het hulle in ontvangs geneem – dis nou die fakkels en nie die kanonskote nie.

Maar, soos akademici uitwys, ’n monument vir ’n taal is iets ongewoons. Dis wêreldwyd ’n rariteit, ’n vreemde volstruis van ’n ding, om ’n taal in en deur beton, eerder as in boeke of operas, te vier.

........
Maar, soos akademici uitwys, ’n monument vir ’n taal is iets ongewoons. Dis wêreldwyd ’n rariteit, ’n vreemde volstruis van ’n ding, om ’n taal in en deur beton, eerder as in boeke of operas, te vier.
........

Maar tog nie vreemd nie onder diegene wat behoort aan wat breedweg die Nederlands-Afrikaanse taalfamilie genoem kan word.

In 1893 is soiets op Burgersdorp in die Oos-Kaap vir die eerste keer hier te lande en, so wil dit blyk, wêreldwyd van stapel laat gaan.

Dit het gekom in die vaarwater van die aanvaarding, in 1882, van Nederlands as amptelike taal in die ou Kaapkolonie, wat die produk van baie jare se siviele arbeid was. As soiets gebeur, het die logika van die Burgersdorpse burgery bepaal, moet daar ’n monument kom.

Geld is ingesamel. Een van die monumentbou-voorbokke, die minlike oom Daantjie van den Heever, se dogter het as kunstenaarsmodel gesit om die beeld te bied vir die verpersoonliking van die Nederlandse taal waaruit die klipmonument sou bestaan.

Waar die 1975-viering teen die agtergrond van die stygende spanning op die land se grens onder die septer van ’n polisiekolonel gestaan het, het die Burgersdorpse vieringgangers hul luste ietwat meer gebotvier. Op ’n voorfees op Venterstad was daar chaos. Onder oom Daantjie se minder behendige leiding is feesgangers op drie uur se voordrag en voorlesing in Engels getrakteer. En – skok der skokke – ná die sing van die Afrikanerbond se lied, is daar met God save the king weggetrek.

Die fees self – wat oor vyf dae heen gestrek het – was die ene prosessies, pieknieks, formele etes en, volgens die akademikus Siegfried Huigen, “eindelose toesprake”.2 Daar was agt dominees wat die rede gevoer het. Onze Jan Hofmeyr het ’n glas gelig op Onze Taal: “Lang blijve de taal bestaan.”

Laat ons vir ’n oomblik bestek opneem: Dít was die jaar 1893 – 18 jaar ná die GRA se totstandbrenging – en betreklik ver van die Paarl was daar net so baie ywer vir die toekoms van wat ’n mens billikerwys Hooghollands kon noem.

Verplaas ’n mens jou kop dan krities na 2025 toe, is die parallelle alte duidelik – die jaar waarin Kaaps-geskrewe boeke twee van die vername Netwerk24/kykNET/Rapport-skryfpryse verower.

Terug na Burgersdorp: Ná dié vrolike onthulling van 1893 is die monument se lewe minder rustig. Die Engelse had daarvoor min ooghare. Tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899–1902) word oom Daantjie se arme klipdogtertjie onthoof en ontarm. Sy word op King William’s Town se ashoop gestort – waar sy baie jare later, in 1939, ontdek word. Dis die einste King William’s Town waar Steve Biko in die jaar 1975 bedrywig in die Black Consciousness-beweging was.

Dís iets wat ’n monument nou maar ontlok: Hoe hoër die pronker, hoe goedkoper en meer toeganklik die plofstof. Dit sal sekerlik ’n interessante proefskrif maak – in watter vakgebied weet ek nie – om die baie anekdotiese verwysings te versamel en te ontleed van mense wat in die ou bedeling gemeen het die 1893-monument se voorland behoort ook die Paarl s’n te wees. Dit waarvoor so ’n monument in die Suid-Afrika van 1975 – ’n jaar voor die 1976-Soweto-opstande – gestaan het, kon nie anders as omstrede wees nie.

Trouens, volgens die notule van die Afrikaanse Taalmonumentkomitee se vergadering van 18 Julie 1975, had PJ Loots, die komitee se stigtersvoorsitter, dit só teen die herdenking in die argitektuur van die monument van die Maleise bydrae tot Afrikaans, dat hy gedreig het om die onthullingsvieringe deur gewelddadige sabotasie te ontwrig.

Maar die gedagte aan die opstuur van die betonstruktuur in hoeveel klein stukkies het merendeels uit linkse kringe gekom. In sy biografie van sy regterspa, Dienaar van die waarheid (2024), vertel MC Botha sy broer, in die laat 1970’s ’n mediese student aan die UK, had “’n fantasie vanweë sy minagting vir Afrikanerdom wat al op skool posgevat het, om die Afrikaanse Taalmonument [...] op te blaas” wat, tot sy terugskouende verligting, in die kiem gesmoor is toe “senior NUSAS-lede hom laat afsien het van [sy] planne”.3

In November 1993, op die vooraand van die nuwe bedeling, berig Beeld-koerant dat Breyten Breytenbach in Washington DC sou gesê het dat hy steeds dink daaraan om die Afrikaanse Taalmonument op te blaas. Dít, sê hy, sou ’n “daad van openbare higiëne” wees.

En, in 1995, word berig Sandile Dikeni, die briljante en gans te vroeg afgestorwe redakteur van die tydskrif Die Suid-Afrikaan, het in reaksie op Ben Ngubane, toe minister van kultuur, se voorstel dat die monument vir alle tale herorden word, gesê: “My keuse sou wees om dit liefs op te blaas.”

Soveel verander, soveel bly dieselfde. In 2022 is dié plofbare idee weer te berde gebring.

Hoe dit ook al sy, die ruimte waarin dié omstrede maar geliefde monument van ons staan is nou maar eenmaal ’n moeilike en komplekse ene.

Dis daarom broodnodig dat die oom Daantjies van vandag – dis nou óns – presies weet wat ons vier. Verskoon my dan dié gemengde metafoor: dat óns tot by oom Daantjie in die kallerhok verbreed en oopmaak en beskerm wat mooi en belangrik is, in ’n land waar tale een van ons grootste kultuur- en erfenisskatte is.

1 Oud-voorsitter van die ATM-raad.

2 Siegfried Huigen, “Language monuments” in Reshaping remembrance (Huigen, redakteur).

3 MC Botha, Dienaar van die waarheid, 2024, bl 722.

Lees ook:

Foto’s: "Hoe beleef ons taal?" by die Taalmuseum en -monument

Neville Alexander-gedenklesing: Afrikaans se erfenis – verlede, hede en die volgende 100 jaar

LitNet Akademies-resensie-essay: Dienaar van die waarheid deur MC Botha

Persverklaring: Madrassas, weerstand én Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top