Persverklaring: Madrassas, weerstand én Afrikaans

  • 0

Bo-Kaapse muurskildery wat Afrikaans se Moslem- / Maleise erfenis vier en in 2025 onthul is. Beeld: Afrikaans100 / Natalie Gabriels Photography

Afrikaans is ’n pragtaal van vele kleure, tonge, verhale ... én stiltes, so skryf Shamiega Chaudhari, nasionale aanbieder van Arabiese Afrikaans-slypskole. 

Tot onlangs was een van dié stiltes die taalkundige vernuf van Kaapse Moslems, hul ontwikkeling van ’n unieke Afrikaanse alfabet, asook die madrassastelsel wat sy self beleef het.

In haar gedig “Afrikaans, ’n versoeningstaal” beskryf Diana Ferrus die taal onder meer as volg:

Maar uit die buik van Afrika
kom sy,
uit die monde van slawe, Europeërs en inheemse volke
dans sy op die maat
van oeroue tromme
en handgemaakte kitare,
dra sy kostuums van vele kleure
en sing sy in ’n duisend stemme!

Een van die duisend was die versweë stem van die Kaapse Moslems, ’n gemarginaliseerde gemeenskap wat hul ontstaan met die koms van slaafgemaaktes en politieke bannelinge tydens die koloniale era gehad het. Tog het hierdie gemeenskap bygedra tot die ontstaan van Afrikaans, ook in die vorm van geskrewe Arabiese Afrikaans.

In die Suid-Afrikaanse literêre erfenis, spesifiek rakende Kaapse Moslems en Arabiese Afrikaans, tree wyle Achmat Davids sterk na vore. As bekende linguis, geskiedkundige en gedugte navorser het sy baanbrekerswerk oor die Kaapse Moslems en ontwikkeling van Arabiese Afrikaans in die 1800’s die toewyding en intellek van dié gemarginaliseerde gemeenskap belig.

Suleman Dangor skryf dat Moslemslawe ontneem is van hul fundamentele menseregte, insluitend die reg om vry en openlik te aanbid. Ten spyte van hul moeilike omstandighede, het hierdie groep mense onder leiding van sjeg Yusuf van Makassar (’n weerstandsleier, Islamitiese geleerde en banneling na die Kaap) in die geheim ontmoet om hul God te aanbid. Hoewel dit nie die beste omstandighede was nie en heel moontlik nie op ’n gereelde basis kon plaasvind nie, het dit vir sowel die behoud van hul geloof as ’n sin van behoort gesorg. Hierdie vorm van byeenkoms kan beskou word as die eerste vorm van ’n madrassastelsel in Suid-Afrika.

Bo-Kaapse muurskildery wat Afrikaans se Moslem- / Maleise erfenis vier en in 2025 onthul is. Beeld: Afrikaans100 / Natalie Gabriels Photography

Innovasie aan die suidpunt van Afrika

’n Madrassa is ’n Moslemskool waar Moslems vanaf ’n vroeë ouderdom die leerstellings van die Islamitiese geloof en Koran aanleer. Die Koran word beskou as die letterlike woord van God en is in die Arabiese taal aan die profeet Mohammed (mag vrede op hom rus) geopenbaar. Dit is belangrik vir Moslems om hierdie taal te leer lees, skryf en verstaan. Die madrassa is dus die plek waar God – in die Islamitiese geloof, Allah – te alle tye geëer word en waar Sy woord en opdragte aangeleer word om as lewensgids vir Moslems te dien.

In Suid-Afrika het madrassas nie net gedien as ’n instelling vir Islamitiese godsdiensonderrig en weerstand teen slawerny, kolonialisme en apartheid nie, maar dit het ook ’n beduidende rol gespeel in taalontwikkeling, veral met betrekking tot die skep en behoud van Arabiese Afrikaans. Dit verwys na die unieke vorm van geskrewe Afrikaans met die gebruik van Arabiese letters; op die oog af lyk dit soos ’n Arabiese teks, maar sodra dit gelees word, word Afrikaans duidelik gehoor. Hierdie unieke skryfstyl belig ook die vernuf en intellek van die Moslemslawe wat volgens Davids van “innovative orthographic engineering” gebruik gemaak het om Arabiese letters in Afrikaans te transkribeer. Dit was moontlik omdat baie van die Moslemslawe komende uit die Ooste bekend was met die Arabiese alfabet en hoe dit reeds vir ander tale aangepas is.

Arabiese Afrikaans as bevrydingstaal

Die gebruik van Arabiese letters om in ’n ander taal as Arabies te skryf is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Tuan Guru, stigter van die eerste erkende madrassa en eerste imam (Moslempredikant) in Suid-Afrika, het die Arabiese alfabet gebruik om in Maleis te skryf, danksy ’n proses bekend as Ajami. Dié gebruik is later voortgesit deur onder andere Abu Bakr Effendi wat bekend is as die skrywer van die eerste vertaalde teks in Afrikaans, die Bayanudien (Uitleg van die godsdiens), in Arabiese Afrikaans. Omdat Kaapse Moslems toenemend Afrikaans (Kaaps-Hollands) en nie meer Maleis gepraat het nie, moes die Arabiese skrif aangepas word om spesifieke Afrikaanse klanke in hierdie alfabet weer te gee, vandaar die unieke skryftradisie wat ontwikkel het.

Binne die konteks van die madrassastelsel kan die gebruik van Arabiese Afrikaans ook beskou word as ’n vorm van kulturele en linguistiese weerstand. Onder die Nederlandse en Britse heerskappy is Kaapse Moslems gemarginaliseer en hul identiteit onderdruk. Deur die gebruik van Arabiese Afrikaans het hierdie gemeenskap op ’n geniale wyse hul geloof aan hul alledaagse taalgebruik gekoppel. Hierdeur het hulle Nederlands, wat oorspronklik as ’n koloniale instrument van onderdrukking bedoel is, help omskep in ’n nuwe taal en ’n vorm van bemagtiging en kulturele bewaring.

Davids skryf die ontstaan en ontwikkeling van die Arabiese Afrikaanse literêre vorm in Suid-Afrika toe aan ’n sterk en goed-georganiseerde madrassastelsel wat vandag nog in werking is.

Toelies in die Soutrivier

As bruin Moslemkind in die laat 1970’s in Soutrivier, Kaapstad is ek self deur hierdie stelsel. My oupa, Mogamat Yusuf Isaacs (“Boeia” vir ons), was my khalifa, oftewel madrassaonderwyser en het die leerstellings en aanleer van die Koran baie streng toegepas. Die woorde moes korrek aangeleer en uitgespreek word, aangesien foute die betekenis van God se boodskap kan verander. Enige foute het maklik gepaardgegaan met sterk dissiplinering. Daarbenewens moes jy ook leer om in Arabies te toelies (skryf). Dit was darem nie net ’n vreesaanjaende proses nie. Indien jy jou “les” – die voorlees van die Koran of die leerstellings – geken het, is die kind darem met ’n lekkerny beloon!

Wat interessant was, is dat vele kitaabs (heilige boeke) in die Romeinse skrif geskryf is, maar met die Afrikaanse spelwyse, soos Biesmiella(h) in plaas van Bismillah. Kaaps-Afrikaanse klanke, soos die “oe” in “boem” (boom) en “ie” in “gie” (gee) is sterk deur die bouwa / kasrah (’n Arabiese vokaalklank) vir die “ie”-klank en die dappan / domma (nog ’n Arabiese vokaalklank) vir die “oe”-klank beïnvloed.

Ná my oupa se dood moes ek die madrassa oorneem en sodoende die proses van oordrag van kennis herhaal. Min sou ek toe weet dat ek dekades later my kennis selfs verder sou versprei, danksy die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se kompetisies en werkswinkels waar ek die wonder van Arabiese Afrikaans deur madrassaklasse aan oud en jonk van alle agtergronde kan openbaar.

Die feit dat hierdie instelling ’n ware weerspieëling van die ontstaan van Afrikaans weergee is hartverblydend. Deur te fokus op die dekonstruksie van Afrikaans as witmanstaal en uitbeelding van die diverse komvandaan van Afrikaans, slaag die instelling in hul poging om Afrikaans as ’n inklusiewe taal voor te lê. Hierdeur word begrip en genesing bevorder, iets wat ek altyd ten diepste ervaar onder die opgewonde deelnemers aan die Arabiese Afrikaans-slypskole.

Bronnelys:

Da Costa, Y. 2009. Four Makers of Cape Muslim History. Gatesville: Naqshabandi-Muhammadi South Africa.

Dangor, S. 2008. Arabic-Afrikaans Literature at the Cape. Tydskrif vir Letterkunde, 45(1):123–32.

Davids, A. 2023. The Arabic-Afrikaans Writing Tradition. Johannesburg: Jacanda Media (Pty) Ltd.

Ferrus, D. 2006. Ons Komvandaan. Kaapstad: Diana Ferrus uitgewery.

Lees ook:

Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top