Neville Alexander-gedenklesing: Afrikaans se erfenis – verlede, hede en die volgende 100 jaar

  • 0

Foto: Beverley Farmer

Goeiemôre, dames en here

Baie dankie vir die geleentheid om vandag die sesde gedenklesing ter ere van Neville Alexander te lewer.

’n Spesiale dankie aan Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, asook aan Sybrandus Adema vir die uitnodiging. Dankie ook aan Rodene Williams vir al haar moeite met die reëlings en aan die breër ATM-span vir al jul harde werk.

Erfenis en viering

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar. Ek wil graag ’n glasie lig: 50 jaar van bewaar, beskerm en bemagtig. 50 jaar waarin kultuur, struktuur, natuur, letterkunde en plesier hoogty vier.

ATM se 45ste bestaansjaar is gevier in ’n tyd toe die wêreld nog vasgekeer was deur ’n pandemie. Vandag kan ons ook ’n glasie lig dat julle Covid-19 oorleef het.

Afrikaans self vier hierdie jaar sy 100ste bestaansjaar as amptelike taal. ’n Eeu as amptelike taal, maar veel langer en sterker as spreektaal! 100 jaar is ’n goeie oomblik om stil te staan, te dink, te reflekteer en te beplan – om te kyk na ons verlede, ons hede te waardeer en te droom oor die volgende 100 jaar.

Verlede

Afrikaans se geskiedenis is wyd en voel vir my onvolledig, want ons leer steeds daarvan. Daar is al baie gesê oor die geskiedenis van Afrikaans, dus begin ek met my eie geskiedenis van Afrikaans.

........
Ek het grootgeword in ’n klein Noord-Kaapse myndorpie waar Afrikaans so natuurlik was soos asemhaling.
........

Ek het grootgeword in ’n klein Noord-Kaapse myndorpie waar Afrikaans so natuurlik was soos asemhaling. Jy dink, droom, lag en bid in Afrikaans. Jy hoor dit by jou familie, by die tannies en ooms, by jou hartsmense. Vir my was Afrikaans ’n mooi taal – ’n taal sonder verwagtinge.

My oom Attie het gepraat van jou tannie en jou toppie, in plaas van ma en pa. My lala, of my antie, was “min gespin soos nat wasgoed” – of nie bekommerd nie.

Dan begin jy jou skoolloopbaan en jy leer daar is ’n “regte” Afrikaans, en jou Afrikaans. Jy leer dat Afrikaans ’n wapen in die hande van die onderdrukker was, ’n wapen om uit te sluit en seer te maak.

Só het die taal die sondes van haar sprekers geërf.

Dit was ’n vreemde ervaring: Jy leer dat sekere sprekers die taal misbruik het, maar jy moet nogtans volgens die reëls speel, skryf en skep wat deur hierdie selfde sprekers vasgestel is.

........
Vir my was dit ’n onverwagse seer. ’n Verlies. Hierdie begeerte om trots, bruin en Afrikaans te wees, maar die “Afrikaans”-deel van jou voel soos verraad. Verraad teen die mense wat soos jy lyk.
........

Ek weet nie of elke bruin mens of kunstenaar dit ervaar nie. Vir my was dit ’n onverwagse seer. ’n Verlies. Hierdie begeerte om trots, bruin en Afrikaans te wees, maar die “Afrikaans”-deel van jou voel soos verraad. Verraad teen die mense wat soos jy lyk. Verraad teen jouself, want hoe kan jy lief wees vir hierdie taal en vir wat jy daarmee kan vermag, en soms tog so onwelkom in haar midde voel?

Wanneer jy by daardie kruispad kom, het jy eintlik drie keuses:

  1. Ek was my hande in onskuld: Ek het nie sondes gepleeg nie, so dit is nie my probleem om ’n oplossing te vind nie.
  2. Ek stap weg, want HÓÉ kan ek in Afrikaans skryf, skep?
  3. Of jy aanvaar die verantwoordelikheid om beter te doen. Ek móét in Afrikaans skryf en skep, want dit is my taal en ek wil deel wees van Afrikaans se erfenis.

“Afrikaans is soos die Garieprivier met talle strome wat na die hoofstroom loop. Dit is belangrik om al hierdie strome te versterk om Afrikaans as ’n inklusiewe taal te bevestig,” meen Michael Jonas, na aanleiding van Neville Alexander.

Ek het gekies om te bly, om te skryf in Afrikaans, want ek het ’n stroom gevind waarin ek met gemak kon swem. Die jeugverhaal, Diekie vannie Bo-Kaap, het ’n uitsonderlike invloed op my gehad.

Die skrywer, Zulfah Otto-Sallies, het ’n voorbeeld in my hande geplaas en gesê: Dit is moontlik om te skryf in ’n Afrikaans wat eg en eie op jou tong voel. Ek is dankbaar vir haar.

.......
En ek is dankbaar dat ons voorgangers soos Neville Alexander gehad het, wat hom sterk vir veeltaligheid beywer het en so ’n rimpeleffek begin het wat kinders bereik.
.......

En ek is dankbaar dat ons voorgangers soos Neville Alexander gehad het, wat hom sterk vir veeltaligheid beywer het en so ’n rimpeleffek begin het wat kinders bereik. Kinders wat hy en voorgangers soos hy nooit sal ontmoet nie, maar wie se lewe hul beter gemaak het.

Hede – ’n taal vol moontlikhede

Afrikaans se hede is so lig of donker soos die persoon wat daarvan praat. Ek is optimisties oor Afrikaans se toekoms – nie omdat ek naïef is nie, maar omdat hoop ’n broodnodige bestanddeel vir die toekoms is. Vir my bly Afrikaans ’n taal vol moontlikhede.

Ons het ’n ver pad om te stap, maar ons het ook baie bereik. Digters soos Lynthia Julius bewys dat Afrikaans lewendig en aan die groei is. En dat ’n skrywer soms ’n stukkie van ons geskiedenis, soos met Kinderlê, teruggee en sigbaar maak. Lynthia, Ronelda Kamfer en Danie Marais, sowel as televisiereekse, soos Suidooster, Arendsvlei en Binnelanders, wys dat daar genoeg plek vir elke skakering van Afrikaans is.

Vir die toekoms van Afrikaans moet elke skakering van Afrikaans met oop arms verwelkom word. Laas Saterdag het ek met ’n groep skrywers ontmoet en een van die kortverhaalskrywers het gesê: “Ai, ek weet nie, ek skryf net in Noord-Kaapse Afrikaans.”

Ons was drie skrywers wat in Noord-Kaapse Afrikaans skryf en dit was só bemoedigend om te sien hoe hoop tasbaar word wanneer moontlikhede soos ’n deur oopgaan.

Toekoms – ’n oophand-taal

Cliffordene Norton lewer die hoofrede by die Neville Alexander-gedenklesing. (Foto: Beverley Farmer)

Hoe lyk die volgende 100 jaar van Afrikaans? ’n Eeu is lank in jare, maar kort in geslagte.

Ek glo Afrikaans sal steeds sterk staan. Want die liefde en begeerte om dit te bewaar en uit te bou is sterk. Daar is soveel geleenthede: die Silwerskermfees, die Woordfees, die ATM, die Jakes Gerwel-stigting, Afrikaans is Groot, LitNet se Afrikaanse Woord van die Jaar en selfs TikTok, waar Afrikaanse musiek soos Temple Boys se “Saggies” duisende bereik.

’n Toekoms waarop ons kan trots wees, vra kunstenaars, kenners en kundiges wat skep, bewaar en innoveer.

Ek het Donderdag kortliks met Petra Bester van die NWU gesels. Sy is deel van die taakspan van die mediese skool en het ’n video geskep om dit saam te stel. Die doel van die video, sê sy, is vir mense om te besef vernuwing vind nie net plaas in stede en geboue met die jongste tegnologie nie. Dit vind ook plaas by die onverwagse plekke, en ek dink dis waar vir Afrikaans ook.

Maar Afrikaans moet ’n oophand-taal wees – ’n taal wat uitreik, wat sê: Nie net ek nie, maar ek én jy.

Hoe? Eerste met empatie en respek. Tweedens met kunstenaars en kenners wat saam werk aan ’n projek.

Een van die projekte waarop ek trots is om van deel te wees, is ’n kinderboek, All that I am, wat stories en gedigte in 11 Suid-Afrikaanse tale bevat.

Slot

Neville Alexander het geglo Afrikaans kan help om brûe te bou, selfs oor seer en pyn. Maar dan moet die liefhebbers, die draers, harder wees as diegene wat die taal wil misbruik.

.......
Afrikaans is meer as sy verlede, sterker as sy hede en vol moontlikhede vir sy toekoms, maar net as ons betrokke bly, bou en skep.
.......

Afrikaans is meer as sy verlede, sterker as sy hede en vol moontlikhede vir sy toekoms, maar net as ons betrokke bly, bou en skep.

In die gees van Neville Alexander moet ons saam werk, saam droom, saam skep en elke geleentheid aangryp.

Dan sal Afrikaans nie net oorleef nie; dit sal aanhou asemhaal, aanhou sing, aanhou leef in die monde van haar sprekers en nuwe sprekers. Baie dankie.

Lees ook:

Persverklaring: Neville Alexander-pryse: Húlle wen R90 000 | Neville Alexander awards: They win R90 000

Foto’s: "Hoe beleef ons taal?" by die Taalmuseum en -monument

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top