
Die Open Chats-potgooi wat tans in omloop is en waarin bruin mense beledig en verkleineer word deur jong swart mense, het die hele land aan die gons en het die fokus weer opnuut op rassebetrekkinge in Suid-Afrika geplaas. Dis nie slegs veralgemening van bruin mense nie, maar stereotipeer mense wat ’n integrale deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse bevolking.
Dit is nie die eerste keer dat daar met afkeer na bruin mense verwys word nie. Individue soos Kuli Roberts – op daardie stadium ’n bekende joernalis en modekenner in swart geledere – het reeds in 2011 snedige aanmerkings oor bruin mense, en veral bruin vroue, gemaak dat hulle gewelddadig is en dat hulle rook soos skoorstene. Sy het wel om verskoning gevra, maar die skade was toe reeds aangerig. Sy is intussen oorlede, maar haar uitlatings bly staan. Voeg die voorstelle van Mwanele (Jimmy) Manyi daarby en dit vorm ’n konkoksie van absolute haatspraak en verwerping. Hy het neerhalende voorstelle gemaak dat dit oorweeg moet word om groot getalle bruin mense na ander provinsies te verskuif omdat daar volgens hom ’n ooraanbod van bruin mense in die Wes-Kaap sou wees. Vandag is hy ’n lid van die parlement en verteenwoordig die MK-party.
Hierdie tipe uitsendings dra by tot die kwetsende gesprekke soos op die onlangse potgooi uitgedruk en gehoor is. Dis asof hierdie jongmense hul leiding vanaf hierdie uitlatings kry en aanneem dat dit aanvaarbaar is om so van bruin mense te praat. Om na bruin mense te verwys as ’n groep wat mal is, bloedskande pleeg en inherent baie gevaarlik is, is ’n skreiende skande wat gepleeg word onder die vaandel van vryheid van spraak. Die posisie van bruin mense in die Suid-Afrikaanse samelewing moet verstaan word. Die term kleurling word verwerp met die minagting wat dit verdien. Dis ’n voortsetting van die apartheidsregime om mense van gemengde afkoms te omskryf. Hierdie term op sigself is vernederend en skep die indruk dat ons “in sonde gebore en ontvang was” (met alle respek teenoor die Bybel). Ons word nie as “African” gesien nie, maar dra die beskrywing “black in general”, wat ons van ons “Africanness” stroop.
Bruin mense, steeds geklassifiseer as “kleurlinge”, is geskok oor die veralgemening van ons, en nie net veroorsaak dit skok en verwerping nie, maar dit is duidelik dat hierdie jongmense hul kan verwerdig om so laag te daal. Dis ook duidelik dat hulle nie begrip het van ons komvandaan, en van ons taal en kultuur nie. Hierdie is slegs ’n voorbeeld van hoe min swart jeug van ons weet, en dit is so teleurstellend. Ons blink uit op alle vlakke van die samelewing. Bruin mense is die mees gemengde groep op aarde bestaande uit 192 verskillende DNS-groeperings. Dit maak ons uniek en verteenwoordig feitlik alle rasse in Suid-Afrika en meer. Op sportgebied kan talle name genoem word en in musiek-, taal- en kultuurbedrywighede presteer ons daagliks.
Dis so jammerlik dat die ANC-regering voortgegaan het met rasseklassifikasie soos deur die apartheidregering ontwerp en geïmplementeer is. Die rasseklassifikasiewet is wel onttrek en afgeskaf, maar steeds vind ons dat ons ras aangedui moet word op en in amptelike vorms en opnames. Die regering slaag nie daarin om hierdie praktyk af te skaf en te verwerp nie. Die nalatenskap van apartheid moet verwerp word. Dis asof die politieke wil ontbreek om die groot sprong vorentoe te gee en nierassigheid op alle terreine te bevorder. Dit bly dus steeds ’n groot uitdaging om nierassigheid in die ware sin van die woord aan te pak, hoewel dit in die Grondwet verskans is.
Dit is waarom dit so belangrik geword het dat nierassigheid iewers in die skoolkurrikulum ingevoer moet word om die jeug op te voed oor wat dit behels en hoe dit geïmplementeer moet word. Ons kan nie weer ’n situasie hê waar ’n persoon soos Glenn Snyman, leier van die People Against Race Classification (PARC), dissiplinêr aangekla word deur die Departement van Onderwys Wes-Kaap omdat hy nie “Coloured” op sy aansoekvorm aangedui het nie, maar “African”. Volgens die departement was hy “Coloured” en nie “African” nie en het hy die argwaan van die destydse minister van onderwys, Debbie Schäfer op die hals gehaal. Dis die absurditeit wat plaasvind in ’n sisteem wat deurspek is met rassisme. Na veel druk het Schäfer die saak teen hom teruggetrek, maar die stelsel wat dit veroorsaak het, is nie verander nie en bestaan nog steeds.
Die swart jongmense het nie besef dat hulle ’n tsunami van afkeer veroorsaak het deur hul ondeurdagte uitsprake op hul potgooi wat groot reaksie ontlok het nie. Wat hulle as ’n grap gesien het, was nie onskadelik nie, en hul “verskoning” dat bruin mense oorsensitief is, en dat hulle dit nie so bedoel het nie, is niksseggend. Hul onvoorwaardelike verskoning is egter nou te laat. Die reaksie wat dit ontketen het, kan eenvoudig net nie geïgnoreer word nie. Hierdie jongmense en ander sal opgevoed moet word oor waar ons van mekaar verskil, maar ook wat ons gemeen het. Dis waar vooroordele oorkom kan word.
Ons is ’n diverse samelewing waarin almal met trots kan identifiseer soos verkies. Ons sal moet weg beweeg van die vier tradisionele apartheidsilo’s. Dis ’n menseregteskending. Ons moet een verenigde Suid-Afrika bou, weg van rasseklassifikasie. Die staat kan dit nie weer op ons afdwing nie.
As ’n oplossing benodig ons ’n drieledige benadering tot die beëindiging van rassediskriminasie en rassisme:
- Straf die oortreders van haatspraak en stuur ’n sterk boodskap daarmee uit.
- Vernietig alle staatsgebruike van instrumente van apartheid.
- Reël ’n ernstige en oop nasionale diskoers wat hierdie kwessies aanspreek – insluitend marginalisering en diskriminasie.
Daarmee saam benodig ons ook antirassisme ingesluit in ons onderwysstelsel en publieke media.
So: Mthokozisi, Sonwabile, Lefa en Busisiwe – vergewis julle van wat julle gedoen het en die gevolge daarvan. Julle uitlatings was onverskillig, en baie skadelik, en het erge pyn veroorsaak en in die proses mede-Suid-Afrikaners beledig.
Julle uitlatings was onverskillig, en baie skadelik, en het diepe pyn veroorsaak wat lank gaan vat om te genees. Ons is egter trotse bruin mense en sal voortgaan om van Suid-Afrika ’n wenland te maak waar ons ons verskeidenheid as ’n eenheid sal aanvaar en uitleef.


Kommentaar
Skitterend, Danie!