Afrikaner, Afrikaan, Afrikaans

  • 0

Danie van Wyk (foto: verskaf)

........
Afrikaanssprekers sal moet kan bepaal hoe ons hiervandaan vorentoe gaan beweeg. Ons kan nie nou die Afrikaanse vlag laat sak nie. Solank dit sal wapper, so lank sal daar hoop wees.
.........

Ek wil my mening lug oor hierdie drie elemente wat ’n beduidende rol speel in die debat wat onlangs weer in die nuus was. Die groep Afrikaners wat betrokke was by die ondertekening van die verklaring “Nie in my naam nie”, het groot meningsverskille ontlok en die verdeeldheid ontbloot binne Afrikanergeledere. Ek onderverdeel dit as Afrikaner, Afrikaan en Afrikaans om verder lig te werp op ’n baie sensitiewe aangeleentheid. Dit is gebaseer op die laaste boek van Frederick van Zyl Slabbert, wat getiteld is Afrikaner Afrikaan. Die voorwoord is geskryf deur Breyten Breytenbach. Ek wil Afrikaans, met alle respek, tot hierdie titel byvoeg om ’n gegewe rede.

Afrikaner

Ek is ’n bruin man van gemengde afkoms soos duisende van my groepsgenote. Dit is geen geheim nie dat bruin mense die mees diverse en gemengde groep in die land is met wortels wat tot diep in Afrikanerbloedlyne strek – en dit kan nie ontken word nie. Ons het meer gemeen met die (wit) Afrikaner as wat ons van mekaar verskil. Ons deel dieselfde taal, dieselfde godsdiens, kultuur en tot ’n groot mate tradisies. Afgesien van hierdie feite en raakpunte, pas ons nie binne die definisie van wat of wie ’n Afrikaner is nie.

Bruin mense deel dieselfde vanne en so kry jy ook Van der Merwes, Du Toits, Van Schalkwyks en ander vanne wat aan Afrikaners gekoppel kan word in bruin geledere, en so is daar vele ander voorbeelde wat genoem kan word. Waar woonbuurte ons in die verlede van mekaar geskei het en ons verskillende skole bygewoon het as gevolg van die apartheidgroepsgebiede en -geriewe, deel ons vandag dieselfde woonbuurte en skole. Ons kinders sing in dieselfde skoolkore en neem deel aan dieselfde sportsoorte op skool. Daar is vandag groter integrasie as wat die geval was in die verlede. Daar is groter vryheid van beweging en assosiasie met mede-Afrikaanssprekers wat dieselfde passie vir Afrikaans deel en wat op instansies of direksies van Afrikaanse organisasies dien wat Afrikaans bevorder.

In sy boek erken Van Zyl Slabbert sy Afrikanerskap, maar spreek sy ongemak uit oor die term Afrikaner en die invloed wat dit op die algemene psige sou hê op mense wat hulself as Afrikaners sien, gegewe hul politieke verlede. Ook word die wet op rasseklassifikasie in die boek bespreek om groter fokus te plaas op die belaglikheid wat daarmee gepaard gegaan het. Daar was ’n jaarlikse bespreking en inligting verskaf oor herklassifisering van bevolkingsgroepe in die parlement met die getalle wat dit behels het. In die meeste gevalle was daar herklassifisering tot “kleurling” vanaf swart, blank en Indiër. Dit het die getalle “kleurlinge” aansienlik verhoog.

Dit is ook bevestig dat baie “kleurlinge” wat as wit geherklassifiseer is, na die destydse Transvaal verhuis het waar hulle makliker as wit opgeneem en gesien sou word. Op hierdie wyse het daar vermenging met “suiwer” wittes plaasgevind, en in die meeste gevalle met Afrikaners. Ten opsigte van die herklassifisering tot “kleurling”, was die wet duidelik en is die volgende riglyne verskaf:

  • Die aansoeker moes soos ’n “kleurling” lyk;
  • die aansoeker se ma of pa moes ’n “kleurling” wees;
  • die aansoeker moes deur die gemeenskap as “kleurling” aanvaar word.

Rasseklassifikasie en die wet op gemengde huwelike was die hoekstene van die apartheidsregime. Afrikaners is dus ook ’n gemengde groep en kan nie as suiwer wit gesien word nie en so was rassesuiwerheid dus ’n klug.

Dat Afrikaners ’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van Suid-Afrika, is nie te betwyfel of kan nie ontken word nie. Hulle het oor die politieke en ekonomiese mag beskik om hulself te verhef tot een van die mees geletterde groepe wat kon meeding met ontwikkelde lande soos Amerika of lande in Europa. Hul onderwysstelsel kon vergelyk word met dié van die Kanadese sisteem, wat een van die hoogstes in die wêreld was. Die Afrikaners was verantwoordelik vir die daarstelling van die magtigste weermag, asook die mees gesofistikeerde ekonomie in Afrika. Erkenning moet gegee word as dit verdien word.

Die bagasie van apartheid het hulle egter baie ongewild gemaak en hulle word grootliks geblameer vir die implementering van die apartheidsbestel. Opregte verskoning sal tot ’n mate bydra tot die herstel van verhoudings met mede-Suid-Afrikaners wat aan die ontvangkant van apartheid was.

Afrikaan

Afrikaners word deur hulself geëien as Afrikane. Hulle is ’n groep wat op die Afrikakontinent ontstaan het en het hul toewyding tot Afrika bevestig. Dit anker hulle aan Afrika en maak dus van hulle ware Afrikane en hulle kan nie gesien word as vreemdelinge wat geen affiniteit tot die kontinent het nie. Afrikaners is na my mening nie immigrante nie en behoort tuis hier in Suid-Afrika.

Met die bekendstelling van die laaste drie verklarings, het Afrikaners hul afkoms opnuut aan Suid-Afrika toegewy. Hierdie drie verklarings was egter meer verdelend as samebindend. Dit is uitsluitend en het groot verdeeldheid onder Afrikaners veroorsaak. Trump se uitlatings het die verdeeldheid vergroot.

Hierdie verklarings het bewys dat daar nie samehorigheid onder Afrikaners is nie. Daar was ongekende waninterpretasies wat met dit gepaard gegaan het.

Weer het die Afrikaner laer getrek en hulle afgesonder van die res van Afrikaanssprekers wat tot ’n groot mate ook die sentimente van die groter groep deel. Die leuens wat Trump bekend maak, raak almal in Suid-Afrika en nie slegs Afrikaners nie. Die geweld op die Kaapse Vlakte, Reiger Park en nou Wesbury raak bruin Suid-Afrikaners en behoort deel van so ’n verklaring van “Nie in my naam nie” uit te maak. As Trump gedurende hierdie uitsprake van hom daarin kon slaag, wat ek glo hy het nie, was dit om Suid-Afrikaners bewus te maak dat ons almal in die Suid-Afrikaanse bootjie is – sink die bootjie, sink ons almal en nie slegs ’n deel van die Suid-Afrikaanse bevolking nie.

Bruin mense is ook Afrikane en assosieer ook as sulks. ’n Groot groep bruin mense verwys na hulself as Camissa Afrikane wat ’n verwysing is na die Camissarivier wat uit Tafelberg vloei en wat deur die eeue ’n bron van water was en steeds is vir die inwoners naby die berg. Die term kleurling word lank nie meer gebruik nie en word as ’n belediging beskou, want dit is ’n term wat deur die apartheidsregering op bruin mense afgedwing is.

Afrikaans

Afrikaans is die enigste taal wat die naam van die kontinent, Afrika, dra. Dit maak die taal uniek in sy verbintenis tot Afrika. Afrikaans is die faktor wat ons saambind en wat ’n rede verskaf om saam te staan sodat die taal nie verontagsaam of geïgnoreer word nie. Wit en bruin Afrikaanssprekers behoort hande te vat as ’n eenheid om die bedreiging wat op Afrikaans rus, die hoof te bied.

Die een se rol tot die ontwikkeling van die taal kan nie geringgeskat word nie. Daar is drie mylpale wat vanjaar ten opsigte van Afrikaans gevier word, naamlik:

  • die viering van Afrikaans se 100ste jaar as amptelike taal;
  • die 50ste herdenking van die oprigting van die Afrikaanse Taalmonument;
  • die 150ste herdenking van die Genootskap van Regte Afrikaners.

Afgesien van hierdie besonderse prestasies van die taal, word dit ongelukkig steeds gesien as die taal van die onderdrukker en word Afrikaans gekoppel aan Afrikanernasionalisme. Afrikaans moet daarom gedepolitiseer en as ’n nasionale bate gesien word wat ’n bydrae kan lewer tot die vooruitgang en ontwikkeling van Suid-Afrika. Om te redeneer dat Afrikaans onder beleg is, is nie vêrgesog nie. Daar is groot protes aangeteken om Afrikaans as ’n inheemse taal verklaar te kry, maar dit het alles op dooie ore beland.

Afrikaanssprekers sal moet kan bepaal hoe ons hiervandaan vorentoe gaan beweeg. Ons kan nie nou die Afrikaanse vlag laat sak nie. Solank dit sal wapper, so lank sal daar hoop wees.

Danie van Wyk
Voorsitter: DAK Netwerk

Kyk en lees ook:

Is Afrikaners slagoffers?

Afrikaners gryp mekaar aan die keel

Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"

Internasionale moedertaaldag 2024 en die belang van moedertaalonderrig

Die aaklige gesig van rassisme: reaksie op die potgooi wat bruin mense verkleineer

Wie se taal is dit dié?

Mites oor die Afrikaner en Afrikaans

Die 5de Swart Afrikaanse Skrywersimposium: Die voortgesette tersaaklikheid van ’n intellektuele tradisie

Oor die "Afrikaner-deklarasie": Ons hou van partytjies

Uit LitNet se argief: Ik ben een Afrikaan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top