Wie se taal is dit dié?

  • 0

Die FAK en die Vereniging van Regslui vir Afrikaans het op 14 Augustus in Pretoria ’n beraad aangebied “om strategies oor die plek van Afrikaans op vele lewensterreine te besin”. Geen organisasies met ’n fokus op bruin sprekers van die taal is uitgenooi nie.

Danie van Wyk, uitvoerende hoof van die SBA, het die FAK van “laer trek” beskuldig en aan Rapport gesê dit is ’n jammerte ander organisasies in die Afrikaanse gemeenskap is uitgesluit.

Hier onder lewer hy, ook teen die agtergrond van die onlangse Kaaps in fokus-simposium, kommentaar op die eienaarskap van Afrikaans.

Die tyd het aangebreek dat daar openlik en eerlik oor die eienaarskap van Afrikaans gepraat word. Vrae wat dikwels gestel word, is: Wie is die eienaars van Afrikaans? Wie is die bewakers van Afrikaans? In wie se hande is Afrikaans veilig?

’n Paar weke gelede is ’n suksesvolle simposium, Kaaps in Fokus, op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland gehou, waar indringend gesprek gevoer is oor die rol en bydrae van Kaaps tot die groei en ontwikkeling van Afrikaans. Gesoute taal- en letterkundiges soos Frank Hendricks, Charlyn Dyers, Ernst Kotzé, Christo van Rensburg en Hein Willemse het verskeie aspekte rondom Afrikaans en Kaaps toegelig. Hierdie beraad was baie meer inklusief en is bygewoon deur Afrikaanssprekers uit die bruin, swart en wit gemeenskappe. Die deeglik-nagevorste en goed-beredeneerde bydraes oor die variëteitsverskeidenheid in Afrikaans het weer eens laat sien dat Afrikaans ’n inklusiewe taal is met ’n breë sprekersbasis.

Die SBA steun enige versoeningsboodskap binne die Afrikaanse taalgemeenskap. Afrikaans is een van die tale wat die wydste gepraat word in ons land, ook deur Afrikataalsprekers. Die taal kan en moet as brugbouer dien en die versoeningsrol speel waarvoor dit goed geplaas is. Daar moet uitgereik word na mekaar en na ander taalgemeenskappe in ons land. Ja, vir diegene wat nog daaraan getwyfel het: Afrikaans ís ’n inheemse taal. Dit het hier op Afrika-bodem sy beslag gekry.

Die beeld van Afrikaans is al soveel skade aangedoen deur onverantwoordelike uitsprake en aksies van die verlede. ’n Beraad oor die toekoms van Afrikaans wat nie alle Afrikaanssprekendes insluit nie, werk nie versoening in die hand nie, eerder vervreemding, en is as sodanig skadelik vir die taal en sy sprekers.

Afrikaanssprekendes moet wyer en ruimer oor Afrikaans dink en doen. Daar is miljoene bruin en swart Afrikaans-eerstetaalsprekers, en Afrikaans word daagliks in bruin en swart skole in die Wes-Kaap en elders deur bruin en swart onderwysers onderrig. Sondae word in Afrikaans in bruin en swart kerke in die townships gepreek. Dit is die sprekers wat hulle deel bydrae vir die handhawing van Afrikaans sonder dat hulle enige steun of erkenning daarvoor kry. Dit is mense soos hierdie wat nie geïgnoreer durf word as daar oor Afrikaans gepraat word nie.

Dit is duidelik dat Afrikaans in die noorde van die land anders ervaar word as in die suide. Baie mooi dinge gebeur hier in en deur Afrikaans sonder dat dit aan die groot klok opgehang word. Bruin Afrikaanse skole is net so funksioneel, en in baie gevalle net so suksesvol, omdat gehalte-onderrig in die moedertaal geskied. Dit is nie ongewoon vir Xhosasprekende leerders op die platteland om Afrikaanse skole in tradisioneel bruin gebiede by te woon nie.

Waarom dus die onderskeid tussen bruin, wit en swart Afrikaanssprekendes op so ’n beraad? Ons durf nie weer terugkeer na ’n situasie waar die taal onder beleg geplaas word nie. Afrikaans moet gedestigmatiseer, gedeëtnifiseer en gedepolitiseer word.

Afrikaans staan in Xhosa bekend as isiBulu. In Afrikaans vertaal beteken dit die taal van die witman, wat natuurlik op ’n wanpersepsie berus. Die tyd het aangebreek vir ’n herbesitname van die Afrikaans deur almal wat die taal praat – as eerste, tweede of derde taal: die herdefiniëring van Afrikaans as ’n taal wat ontstaan het uit ’n ineenvloeiing van verskillende tonge uit Europa, Afrika en Asië – wat ‘n streep trek deur “isiBulu”; en les bes, ’n herposisionering van Afrikaans as ’n inklusiewe taal wat in belang van optree en nie ten koste van nie.

Op die vraag na wie met Afrikaans vertrou kan word, is my antwoord: Afrikaans is veilig in die hande van al diegene wat verbind is tot ’n herdefiniëring, herposisionering en herbesitname van Afrikaans as ’n inklusiewe taal van Afrika.

Lees Danie Langer van die FAK se reaksie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top