Elders gesien: Ons stem – die vergete meerderheid

  • 3

Prent: Canva

Elzilda Becker skryf op Facebook:
 
Ons is die stilte in die geraas.
 
Ons is die gewone Suid-Afrikaners. Ons lyk verskillend, ons klink verskillend, ons aanbid verskillend, en tog deel ons meer as wat ons verskil. Ons is ouers, ons het ouers, ons werk, ons leef, en al wat ons wil hê, is kos op die tafel, ’n dak oor ons kop en vrede in ons huis. Ons is die mense wat nie op Twitter baklei nie, wat nie verklarings teken nie, wat nie aan protesoptogte deelneem nie. Ons is moontlik die meerderheid, maar ons stem word selde gehoor.
 
Ons erken die verlede, alles daarvan.
 
Ons erken die pyn wat kolonialisme veroorsaak het. Ons erken die pyn wat apartheid veroorsaak het. Sommige van ons is bevoordeel ten koste van ander. Dit was verkeerd. Die wonde is diep. Die ongelykhede is steeds daar. Dit moet reggestel word. Ons verstaan dit. Ons aanvaar dit. Ons wil werk om dit reg te stel.
 
Ons erken die Anglo-Boereoorlog se trauma. Die konsentrasiekampe, waar vroue en kinders gesterf het, die verwoesting van plase, die verskroeide aarde. Daardie wonde het ook littekens gelaat wat oor geslagte strek. Ons verstaan dit. Ons aanvaar dit. Ons wil werk om dit reg te stel.
 
Ons erken bomaanvalle waarin onskuldige mense gesterf het vir politieke mag. Ons erken die angs op die Kaapse Vlakte waar kleuters in bendes se kruisvuur beland. Ons erken die aanvalle op sjebeens om terreur te saai, ons erken die vermorseling van vroue in die naam van kultuur. Ons erken die plaasmoorde waar gewone mense wat sorg vir ons almal se kos, wreedaardig gemartel en vermoor word.
 
Waar ons voorouers pyn veroorsaak het, erken ons dit. Ons kan nie die verlede ongedaan maak nie, maar ons kan onderneem om te doen wat ons kan om die hede beter te maak.
 
Maar ons sien ook die hede: Ons sien die vergrype, ons sien die misdaadsindikate wat beheer oor die land neem, ons sien staatsdepartemente wat soustreine geword het. Ons sien beleid wat veronderstel is om die onreg van die verlede reg te stel, maar in werklikheid gebruik word om staatsgeld in die sakke van kaders te kanaliseer.
 
Ons sien wit kinders, gebore lank ná 1994, wat nie werk kan kry nie omdat hulle wit is. Ons sien swart kinders wat nie kontrakte kan kry nie omdat hulle nie die regte politieke konneksies het nie. Ons sien SEB-biljoenêrs, en ons sien die rye by die SASSA-kantore wat maand na maand langer word, en maand na maand ’n groter aanklag is teen die einste SEB-beleid wat hulle uit hulle ellende moes lig.
 
Die antwoord op historiese onreg is nie nuwe onreg nie.
 
Ons wil nie vlugtelinge wees nie, én ons wil nie deel wees van "Nie in ons naam nie". Ons het nie vir een van die twee statusse gevra nie.
 
Daardie 40 akademici met hul veilige werke en pensioene? Hulle praat nie namens ons nie. Karen Burger en haar regeringsvriende wat die verklaring help skryf het? Hulle verteenwoordig ons nie.
 
Ons het nie enigeen die reg gegee om names ons te praat nie – nie Solidariteit nie, nie AfriForum nie, nie die regering nie, nie akademici wie se aanstellings van staatsgeld afhang nie. Maar die feit dat ons nie ’n megafoon of vuvusela het nie, beteken nie ons kan nie vir onsself dink nie.
 
Ons sien die syfers:
 
•⁠ ⁠Ons swart landgenote: 36% werkloos.
•⁠ ⁠Ons wit kinders: uitgesluit van werksgeleenthede, van opleiding, van tenders.
•⁠ ⁠Die politieke elite met “konneksies”: R1 triljoen gesteel, en steeds stelende.
•⁠ ⁠Ons almal: steeds arm.
 
Ons het ’n eenvoudige voorstel: Doen die werk wat gedoen moet word. Bestuur staatsinstellings tot voordeel van die mense. Bestee belastinggeld volgens die begroting. Bevorder almal se talente, ongeag herkoms. Beskerm almal se regte, ongeag velkleur. Help die armes. Almal van hulle. Die kind in Khayelitsha én die een in Munsieville. Die tannie in die plakkerskamp én die oom in die township. Help omdat dit die regte ding is om te doen, nie omdat dit ’n politieke agenda dien nie.
 
Ons versoek: Ons is moeg vir die geveg tussen mense met verskuilde agendas. Ons is moeg dat ryk mense vir ons vertel dat ons die land iets skuld, en ons is moeg dat mense met politieke ambisie vir ons vertel hoe om oor ras te voel. Ons is moeg dat politici die mense van Suid-Afrika verdeel sodat hulle ’n magsbasis kan skep wat hulle aan bewind hou. Ons is moeg om uitgebuit te word, ons is moeg om besteel, belieg en bedrieg te word. Ons wil werk sodat ons landgenote, ons kinders en ons land kan groei en gedy. Hou op om ons werk in die wiele te ry.
 
Dis nie te veel gevra nie. Dis nie ’n onhaalbare droom nie.
 
Ons is die meerderheid. En dis tyd dat Suid-Afrika ons stem hoor.
  • 3

Kommentaar

  • Aitsa! En wie het jou 'n mandaat gegee om namens my en ons ander gewone mense te praat, Elzida?

  • Truida Prekel

    Elzilda, jy verstom my. Ek weet nie waar jy en jou pelle jul gronde of "feite' kry om ons "44" so te stereotipeer nie. Ons is net so bewus van die land se probleme. Ons is nie almal akademici met vet pensioene nie. Almal van ons het al gely onder dieselfde probleme - BEE, misdaad, landelike geweld en meer. Jy mis die hoofpunt van die brief dat die beswaar is dat Trump ons probleme en ons naam vir sy propaganda gebruik. En as een van die vroeë ondertekenaars weet ek dat Rapport lieg oor die oorsprong van die inisiatief. Ek skaam my vir die onbeskofte reaksie van baie van julle regse vriende - maar ook vir jou oneerlike vooroordeel.

  • Luan Staphorst

    Sjoe, Truida ... 'n bewys dat Elzilda "regs" is? Goeie aarde, hierdie vinnige veroordeling van iemand kort op die hakke van jou ongelukkigheid met hoe sy julle kwansuis "steriotipeer"? Effens ironies, of hoe ... Ek weet nie van watter "onbeskofte reaksie[s]" jy praat nie, maar myns insiens is jou reaksie ewenwel onbeskof. En voor jy my wil loop staan takseer - lees gerus van my skrywes hier op LitNet voor jy my kritiek op jou kommentaar as tekenend van 'n regse politieke gesindheid voorhou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top