
Die 29ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) is vir ses dae in Oudtshoorn aangebied met die tema “Al die ietse” en die dorp het voorwaar saamgestaan om dié tema gestand te doen.
Die Kanna-paneel het meer as 100 produksies, waarvan meer as 50 in die Klein Karoo gedebuteer het, in ag geneem vir die Kanna-toekennings wat op 15 Mei in Kaapstad gehou word. Lees die volledige lys hier.
Annie+Helen, ’n drama oor Helen Keller, is vir 10 Kannas benoem. Dié produksie is onder meer vir beste debuutwerk en beste toneelaanbieding benoem. Die 13-jarige Judi Hattingh is benoem as beide beste vroulike speler in ’n hoofrol en beste opkomende kunstenaar of nuweling, met verskeie spelers (Cintaine Schutte, Stian Bam en Bianca Flanders), die stelontwerp (Rocco Pool), uitnemende literêre bydrae vir die nuutgeskepte teks en regie (Van Greunen) wat benoemings ontvang het.
Ons skop die fees af met ’n gesprek, ’n Greep uit die geskiedenis, met regisseurs en vervaardigers, Hennie van Greunen en Christo Davids, en Kabous Meiring as gespreksleier. Die twee stukke waaroor gesels is, is Annie+Helen en Laaitie mettie biscuits, wat albei op ware gebeure gegrond is en ook rondom gestremdheid en die samelewing se hantering daarvan handel. Hennie het ’n gestremde suster en Christo is diep geraak deur die polisie se moord op die Downsindroom-tiener, Nathaniel Julies, in 2020.

Kabous Meiring gesels met Christo Davids en Hennie van Greunen oor Laaitie mettie biscuits en Annie+Helen. (Foto: Clifford Roberts)

Nog ’n teatergesprek, dié keer met die spelers van Die een wat bly en Albatros. (Foto: Clifford Roberts)
Christo het gesê: “Ons praat so maklik van abnormale mense. Die dag toe daai laaitie dood is, toe wys hy hoe normaal hy is en hoe abnormaal ons is. Terwyl ons altyd na mense met gestremdheid as abnormaal wys ...”
Hy het gesê daar is baie goeie polisielede en politici wat goed doen, maar ook net soveel wat moor en steel en dis tyd dat Suid-Afrikaners opstaan en saamstaan teen onreg.
Daarna gaan kyk ons eers vir Annie+Helen en toe vir Laaitie mettie biscuits.

Annie+Helen, ’n drama oor Helen Keller, is vir 10 Kannas benoem. Die 13-jarige Judi Hattingh is benoem as beide beste vroulike speler in ’n hoofrol en beste opkomende kunstenaar of nuweling, met verskeie spelers (Cintaine Schutte, Stian Bam en Bianca Flanders), die stelontwerp (Rocco Pool), uitnemende literêre bydrae vir die nuutgeskepte teks en regie (Van Greunen) wat benoemings ontvang het. (Foto: Clifford Roberts)
In 1887 ontmoet Annie Sullivan en Helen Keller mekaar – ’n ontmoeting wat hul lewens onherroeplik verander. Die 25-jarige Annie voel soos ’n gebroke legkaart met verlies en verlange wat haar omvou, terwyl die 12-jarige Helen vasgevang is in ’n donker limbo – sonder die vermoë om te sien, te hoor of te praat. Wat volg, is ’n intense en roerende oorlog tussen twee gebroke mense. Hierdie produksie se briljante en ervare geselskap ondersteun die 13-jarige Judi Hattingh in die rol van Helen in haar eerste professionele rol. Lees die onderhoud met Hennie van Greunen hier.
Dis een van die aangrypendste, diep-treffendste stukke oor ouers wat hul kinders met liefde versmoor en sodoende potensiaal opgesluit hou. Die benoemings is elkeen in die kol. Dit strek ook soveel wyer as net fisieke gestremdheid, maar ook die gestremdheid van kortsigtigheid.

Joshwin Dyson is benoem in die kategorie vir beste opkomende kunstenaar of nuweling vir sy optrede in Laaitie mettie biscuits en Stephanie Baartman vir beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol in dieselfde toneelstuk.
Laaitie mettie biscuits met Wayne van Rooyen, Stephanie Baartman, Carla Classen en Joshwin Dyson breek jou hart. Wanneer die polisie draai teen die samelewing se weerloosstes, voel mens die wanhoop in jou opstyg. Wanneer dié wat magteloos voel, mag kry, word dinge vinnig lelik.
Hierdie meesleurende verhaal vertel die storie van Noah, ’n jong seun wat daarvan droom om eendag ’n polisieman te word en na sy ma en sy gemeenskap om te sien. Op een noodlottige dag is hy weer eens te voet op pad om sy daaglikse pakkie Lemon Creams te gaan koop, maar ’n korrupte polisieman verander ’n klomp mense se lewens binne ’n oogwenk.
Noah se ma verklaar dat moederskap is soos om ’n mes aan die skerpkant vas te hou. En die polisievrou erken dat daar in Suid-Afrika elke dag “’n laaitie doodgaan. Ek het ’n poliesvrou geword dat hulle nie doodgaan nie.”

Die debuutkomedie ‘KUNS’ is vir nege Kannas benoem, insluitend beste debuutwerk, beste toneelaanbieding en beste ensemble. Die akteurs Ludwig Binge, Wilhelm van der Walt en Wessel Pretorius is elkeen benoem vir beste manlike speler in ’n hoofrol. (Foto: Clifford Roberts)
Die debuutkomedie ‘KUNS’ is vir nege Kannas benoem, insluitend beste debuutwerk, beste toneelaanbieding en beste ensemble. Die teks deur die gevierde Franse skrywer Yasmina Reza is vertaal uit Frans na Afrikaans deur Naòmi Morgan, wat benoem is vir uitnemende literêre bydrae. Marthinus Basson is benoem vir beste regie, asook beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir sy stelontwerp, en die akteurs Ludwig Binge, Wessel Pretorius en Wilhelm van der Walt is elkeen benoem vir beste manlike speler in ’n hoofrol.
‘KUNS’ sny diep. Dit neem een kunswerk (’n spierwit skilderdoek) om ’n vriendskap tussen drie mans tot die been oop te kloof. Daar is verwyte, beledigings en goed word gesê wat nooit weer ongesê kan word nie. Dit gaan later nie eers meer oor die kunswerk nie. Of gaan dit? Die rolverdeling is absoluut in die kol en die teks – wat al in 20 tale vertaal is en talle pryse gewen het, onder meer ’n Laurence Olivier- en ’n Tony-prys, is vlymskerp en snaaks en bitter herkenbaar.

Bo en onder: Moedswil en muitery, ’n debuutsatire deur die bekroonde skrywer Ingrid Winterbach, is ook benoem vir nege Kannas, waaronder beste debuutwerk, beste toneelaanbieding en beste ensemble; Tinarie van Wyk Loots vir beste regie; en die spelers (Albert Pretorius, Brendon Daniels, Dean John Smith en Nicole Holm) vir vertolkingpryse in die akteurskategorieë. Dit speel af op die skip onderweg van Nederland na Kaapstad waar Jan van Riebeeck en sy vrou Maria ’n verversingspos moet opstel. (Foto’s: Clifford Roberts)

Moedswil en muitery, ’n debuutsatire uit die pen van bekroonde skrywer Ingrid Winterbach, is ook benoem vir nege Kannas, waaronder beste debuutwerk, beste toneelaanbieding en beste ensemble. Winterbach is benoem vir uitnemende literêre bydrae vir haar nuutgeskrewe teks, Tinarie van Wyk Loots vir beste regie en die spelers (Albert Pretorius, Brendon Daniels, Dean John Smith en Nicole Holm) is elkeen benoem vir vertolkingpryse in die akteurskategorieë.
Ons het ’n wye verskeidenheid produksies beleef om ook ons deel te doen om iets van alles – en al die ietse – in ons fees in te sluit.

kykNET se eerste waremisdaad-reeks, Niggies, het ’n aktiveringsprogram gehad by die fees. Van die akteurs wat daarin speel, het met Kabous Meiring gesels en die gehoor kon die tweede episode saamkyk en van die bewysstukke en foto’s en van die stel van die reeks bekyk. Die reeks is tans op kykNET te sien, voor dit ook op DStv Stream sal uitsaai. (Foto: Clifford Roberts)
Niggies, kykNET se splinternuwe dramareeks, is gegrond op ’n opspraakwekkende saak en ’n familie se soektog na antwoorde. Die rolverdeling bestaan uit ’n uitsonderlike ensemble, met onder andere Beer Adriaanse, Carel Nel, Albert Pretorius, Tinarie van Wyk Loots, Jane de Wet en Erica Wessels. Die regisseur is Jaco Bouwer, wat onder meer vir die internasionaal bekroonde reeks Spinners verantwoordelik is. Die draaiboek is deur Saartjie Botha en Philip Rademeyer geskryf. Daar was verskeie gesprekke, ’n aktivering waar die gehoor ’n episode saam met die vervaardigingspan kon kyk en ook die bekendstelling van die reeks se potgooi met Kabous Meiring aan die woord.
Lees my gesprek met Saartjie en Philip hier en my resensie oor die eerste vier episodes hier.

In die St Jude’s Anglikaanse Kerk is daar vier uitvoerings van Henk Serfontein en Hannah Loewenthal met Aardmoeder: ’n Uitvoerende tekening. (Foto: Clifford Roberts)
In die St Jude’s Anglikaanse Kerk is daar vier uitvoerings van Henk Serfontein en Hannah Loewenthal met Aardmoeder: ’n Uitvoerende tekening. Henk was ook die feeskunstenaar en ook benoem vir ’n Kanna in die afdeling beste visuele kuns-aanbieding vir Die stomme aarde en vir die Herrie-prys vir innovasie vir Aardmoeder. Hulle het op die maat van die kontemporêre klassieke komponis Max Richter se “Recomposed: Vivaldi – The Four Seasons” hierdie meesleurende kunsuitvoering gedoen. Vir 40 minute het mense in stilte gekom en gegaan terwyl die kunstenaars hulself in die werk verdiep het.

Bo en onder: Die dorp het weer op verskeie plekke kuns uitgestal, maar die Prince Vincent-gebou was weer die kunskern. (Foto’s: Clifford Roberts)

So van kuns gepraat. Die dorp het weer op verskeie plekke kuns uitgestal, maar die Prince Vincent-gebou was weer die kunskern. Daar was onder meer wenwerke van die Absa L’Atelier Gerard Sekoto-prys, ’n terugskouende uitstalling van 20 jaar van uitnemendheid te sien. Die 2025-uitstalling vier die impak van Gerard Sekoto op jong Suid-Afrikaanse kunstenaars, die nalatenskap van hierdie vooraanstaande prys en die vennootskappe wat dit moontlik gemaak het. Daar was ook werke onder die tema “Diepe grond”, werke van Argief, ’n Karoo Kaarte-inisiatief, en werke van die Spier Creative Block, bestuur deur die Spier Arts Trust wat 350 professionele kunstenaars verteenwoordig. Altesaam 20 kunswerke is uitgestal.

Die radio-omroeper, Haidee Muller, was een van die deelnemers aan die beHOORNlik-konsert in die Absa Burgersentrum, waar Oudtshoorn se beste talent hul slag kom wys het. (Foto: Clifford Roberts)

Rylan Lemmetuis is benoem in die kategorie vir beste opkomende kunstenaar of nuweling vir sy optrede in beHOORNlik. (Foto: Clifford Roberts)
Wat sal die KKNK sonder iets eie aan Oudtshoorn wees? Twee vertonings vertel die volstruisdorp se storie: beHOORNlik waar plaaslike talent gedans, gesing, voorgelees en musiek gemaak het; en Sonde met die spoke met Veronique Jephtas, Tinarie van Wyk Loots en Michele Burgers, wat in die skemerte van Arbeidsgenot op Oudtshoorn afspeel. Dit vervleg die hede en die verlede en vertel die storie van Langenhoven en die vroue in sy lewe. Hier verklaar sy minnares, Sarah Goldblatt, reeds in die vroeë 20ste eeu: “Nederlands is nie die taal vir hierdie land nie. Dis te high and mighty. Ek kan sien hier kom moeilikheid vir Afrikaans.”

Sonde met die spoke met Veronique Jephtas, Tinarie van Wyk Loots en Michele Burgers, wat in die skemerte van Arbeidsgenot op Oudtshoorn afspeel. Dit vervleg die hede en die verlede en vertel die storie van Langenhoven en die vroue in sy lewe. (Foto: Clifford Roberts)
By die Netwerk24-feeskafee is verskeie gesprekke in Die onderhoud met Mia Spies aangebied. Een hiervan was met oud-ambassadeur Franklin Sonn oor SA se diplomatieke krisis met die VSA. Hy het onder meer gesê: “Die beeld van Ebrahim Rasool as moeilikheidmaker is geheel verkeerd. Hy is ’n groot intellektueel.

Franklin Sonn en Mia Spies in gesprek (foto: Clifford Roberts)
“Daar word gesê dat jy nie die beer se baard moet trek as hy in sy kuil lê nie. As ek moet blaam toeken, moet dit voor die deur van die ANC lê. Die ANC is nie presies met wat hulle doen nie.
“Dit is ’n ver plek van waar ons was, toe ek daar was: met Clinton en Mandela. Dit was Krismis en dit was pa en seun.
“Dit wat Amerika gedoen het, is ’n ekstreme behandeling en Ebrahim verdien dit nie.”
Die Absa Burgersentrum het met elke musiekvertoning volsaal gesit. Een hiervan was die Bach & Beatles-vertoning met Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme). Musiek van The Beatles bly immergroen, en vir klassieke musiek-liefhebbers so ook die musiek van Johann Sebastian Bach. In die hande van die Charl du Plessis Trio word ooreenkomste en kontraste in hierdie uiteenlopende style beklemtoon, in nuwe verwerkings van swing, die blues en bossa nova. Die encores wou nie bedaar nie en hulle moes ’n paar maal terugkom om nog te speel.

Bach & Beatles met Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme) is genomineer vir beste aanbieding: kontemporêre musiek. (Foto’s: Clifford Roberts)
Die Blitsteater by die feesmark se gratis vertonings in wit tente het vanjaar bykans 2 000 mense gelok, hoor ek op die laaste oggend. Die vertonings is almal korter as 20 minute en het van die bekendste akteurs en regisseurs betrokke, maar ook heelwat opkomende akteurs betrek. Daar was Beste van alle tye, Die grond onthou, Vyf minute voor middernag, Smieg, My hart klop soos ’n cursor & Op die internet weet niemand jy is ’n hond nie, Blinkers, Smak en Beendroogstaar. Uiteenlopend, volksvreemd, skreeusnaaks, donker. Al die ietse beslis!

Sandi Dlangalala en Ilana Cilliers in Smak by Die Blitsteater. (Foto: Clifford Roberts)

Die Blitsteater se Merwe van Gent is in Smieg deur Wessel Pretorius. Merwe is vir ’n Kanna benoem vir beste opkomende kunstenaar of nuweling vir sy spel in Smieg en [Indistinct Chatter].
David Isaacs en Oscar Petersen van Joe Barber 25 het sulke groot gehore gelok, daar is stoele ingedra. Hulle vermaak gehore al vir ’n kwarteeu met die avonture van Boeta Joe en Gamat by die geliefde barbierswinkel, en die gewilde karakters Washiela en Outjie. Almal word ouer, stres is ’n algemene verskynsel en sonde met selfone en skinder, aan die orde van die dag. Lees my onderhoud met die twee sterre wat ook nou by die Suidoosterfees optree, hier.

David Isaacs en Oscar Petersen van Joe Barber 25 het sulke groot gehore gelok, daar is stoele ingedra. (Foto: Clifford Roberts)
Van my ander hoogtepunte was Die een wat bly, dansteater met drama en siel. Dit het Grant van Ster, Shaun Oelf en Daneel van der Walt in die rolverdeling en is ’n Figure of 8-produksie – wat ook vir die bekroonde Karatara verantwoordelik was.
Die een wat bly is deels droom en deels getuienis. Dit gebruik die geselskap se persoonlike herinneringe as vertrekpunt om die verhouding tussen ma’s en seuns te skets. Dans en fisieke teater kry ekstra lyf met ’n goeie storie. Die ma verloor die heeltyd: eers die pa van haar kind; dan haar kind, omdat nie een van hulle hul drome kan verwoord nie.

Die een wat bly is dansteater met diepte en drama. (Foto: Clifford Roberts)
Na die bekroonde Isidlamlilo/The Fire Eater hou die gehoor aan met klap, die aktrise buig laag, hou later haar hande in ’n gebedsgebaar voor haar mond. Ek kan verstaan hoekom sy soveel pryse ingepalm het – Woordtrofee vir beste prestasie: tegnies en ontwerp, beste prestasie: solo en beste oorspronklike Suid-Afrikaans teks by die Toyota Stellenbosch Woordfees (2024) en nou benoem vir verskeie Kannas, waaronder beste ontwerp, beste eenvrouvertoning, beste vroulike speler in ’n hoofrol en beste regie.
Vir 100 minute word jy die inkyker in haar klein kamer in ’n hostel. Jy is ’n inluisteraar op ’n gesprek wat sy met God het. Sy grap en sy spot met haarself; sy het vêr gekom om haar humeur in toom te hou. Voor die weerlig haar as kind geslaan het, was sy ’n rustiger kind, vertel sy.

Die eenvrouvertoning, Isidlamlilo/The Fire Eater met Mpume Mthombeni, is benoem vir beste vroulike speler in ’n hoofrol; Tina le Roux is genomineer vir beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir beligtingsontwerp en die stuk is ook genomineer vir beste aanbieding: toneel en Neil Coppen vir beste regie. (Foto: Clifford Roberts)
Haar drome van daardie gelukkige eendag – eendag wanneer sy op haar eie huis se stoepie kan sit met ’n snorkende hond by haar voete – word vir die buitestander al duideliker dat dit nooit gaan gebeur nie.
Volgens ’n rekenaarglips by Binnelandse Sake is sy al jare dood, haar SASSA-toelaag het opgedroog en sy het nie meer geld om huis toe te stuur dat bakstene gekoop kan word om haar huis klaar te bou nie. Maar sy bly leef in hoop.
Weer is sy deur haar eie land verraai. Vroue soos sy het hul lewens opgeoffer vir die vryheid van Suid-Afrika, maar vir ’n soveelste maal is die glorie van ware vryheid haar nie beskore nie.
“Maar ek soek nie jou pity nie. Wat moet ek met jou pity maak? Ek kan dit nie eet nie; ek kan dit nie gebruik nie; ek kan dit nie verkoop nie. So hou dit.”
Die weerligbrandmerk op haar rug lyk soos ’n sterkvloeiende rivier, ’n metafoor vir die drif waarmee sy haar lewensverhaal vertel.
Diek Grobler is genomineer in die afdeling beste opkomende kunstenaar of nuweling vir sy animasiekuns van die produksie Die gevlerktes. Hy het dit saam met Mareli Stolp op klavier aangebied. Die kostelike tekeninge van voëls – die gevlerktes – het op maat van die musiek gevlieg, wurms gepik en saamgekuier.

Diek Grobler is genomineer in die afdeling beste opkomende kunstenaar of nuweling vir sy animasiekuns van die produksie Die gevlerktes. Hy het dit saam met Mareli Stolp op klavier aangebied. Die kostelike tekeninge het op maat van die musiek gevlieg, wurms gepik en saamgekuier.
Die titel word ontleen aan die gelyknamige gedig deur Susan Smith. Die vier klavierwerke wat Mareli Stolp gespeel het, is “L’Alouette Calandrelle” deur Olivier Messiaen, “La Poule” deur Jean-Phillipe Rameau, “Ibis Hadeda” deur Neo Muyanga en “On hearing the first cuckoo in spring” deur Frederick Delius.
Diek Grobler is bekend as een van Suid-Afrika se voorste animasiekunstenaars. Mareli Stolp het bekendheid verwerf as ’n pianis wat haarself toespits op kontemporêre en avant-garde klavieruitvoering.
Plekspesifieke teater? Jy het my aan die hoek. Wag! in Die Kelder van die verlate Tabakstoor, met René Cloete en Stephanie Hough, was ook uitsonderlik.

René Cloete is genomineer vir beste vroulike speler in ’n hoofrol in Wag! Sy speel saam met Stephanie Hough en dis plekspesifiek op sy lekkerste. (Foto: Clifford Roberts)
Opwinding en spanning heers wanneer ’n meester en haar assistent voorberei vir ’n naderende besoek. Die vlytige Gabrielle poets en skaaf aan die wagtende Augustine. Daar word gestik en gesalf, soms tot die uiterste. Vir wie wag hulle? Ook hier word dié een wat die magteloosste is, die meester van manipulasie. Die effe klam en muwwerige kelder dra by tot die onheilsgevoel van die stuk. Een van my lekkerste ervarings by die fees.

Cape Ballet Africa se nuwe werk deur ’n trio van gevierde Suid-Afrikaanse choreograwe, SALT, is ’n driedelige program met balletwerke deur Kirsten Isenberg, die veelbekroonde choreograaf Mthuthuzeli November en Michelle Reid. Dis vir ’n Kanna genomineer vir beste ensemble. (Foto: Clifford Roberts)
Cape Ballet Africa het die verhoog aan die brand gedans met dié viering van nuwe werk deur ’n trio van gevierde Suid-Afrikaanse choreograwe. SALT is ’n driedelige program met balletwerke deur Kirsten Isenberg, die veelbekroonde choreograaf Mthuthuzeli November en Michelle Reid. Die eerste gedeelte is sag en wiegend, jy wil jou oë toemaak en saggies saamneurie; die tweede deel is amper rubber- of spinnekopagtig; en die derde deel is rooi en smeulend, spelend en herinner aan die tango.
Die gehoor wou ook nie hier hê die vertoning moet einde kry nie.
Ons laaste gesprek is een met Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur, en Lizané Basson, algemene bestuurder KKNK.

Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur, en Lizané Basson, algemene bestuurder KKNK, in die finale gesprek oor die hele fees. (Foto: Clifford Roberts)
Hulle het vertel dat die fees sowat 400 kunsgeleenthede aangebied het en as ’n mens die vol program, straatteater, kinderteater, musiek en blitsteater insluit: “Ons het byna 25 verskillende venues gebruik – van amptelike teaters tot tentjies verder buite die dorp – en die aantal mense wat agter die skerms gewerk het, word op sowat 2 500 geraam.”
“Die kunste hét weer betekenis gekry,” het Hugo vertel. “Die kostes om ’n fees op hierdie skaal aan te bied is nie goedkoop nie en kostes word jaarliks duurder; produksies is ook duur.
“Meer as R10 miljoen is aan kunstenaars betaal net in die vorige boekjaar. Dié jaar was dit meer. En dit sluit nie tegniese personeel, tydelike werkers of enige ander rolspelers in nie. Die ekonomiese impak van die fees is van onskatbare waarde vir die dorp en die fees.”
Hy het plaaslike inwoners se vrae oor gratis kaartjies baie sterk verwerp. “Jy gaan nie dokter toe en vra vir gratis ondersoeke en medikasie nie. Ons doel is om vir kunstenaars ’n geleentheid te skep om hul talente te vertoon. Dis hul werk. Hulle moet daarvoor betaal word.
“Ons het baie projekte wat plaaslike inwoners bevoordeel en baie gratis vermaak. En baie plaaslike mense weet nie eers van inisiatiewe soos Karoo Kaarte nie. Julle moet ook jul deel doen om hierdie fees te ondersteun en te verseker dat dit in Oudtshoorn bly.”

Bo en onder: Die swartmerrie: Plekspesifiek op sy beste, maar meesterlike storievertelling deur Theo Witbooi en Chantell Phillippus wat my nog jare sal bybly. (Foto’s: Clifford Roberts)

Ek sluit my stuk op my persoonlike hoogtepunt af: Dis die tweede keer dat ek Die swartmerrie gaan kyk. Verlede jaar was ek weggeblaas; vanjaar was dit nóg beter.
Dit word net voor sononder opgevoer. Dis ’n verlate treinspoor en verslete perron waar die storie ontvou. Daar is swaeltjies wat huis toe kom as dit skemer raak; die son gooi goue patrone teen die mure. Die gehoor sit ingedruk op stellasies en word deel van Simon “Tjoekepaf” Baadjies se hartseer. Dis ’n meesleurende storie van verspeelde tyd; die gebrokenheid van ’n kind wat nooit man kan word nie, omdat hy nie die verlies en verraad van sy ma kan afskud nie. Hy moet hoor dat hy hom vasgewortel het in ’n verlede wat nie met hom vriendelik was nie.
En dan is daar sy pa, “met die swartmerrie [lokomotief] onder sy voete en die swart hond aan sy sy [depressie] wat sagter met die lokomotief gewerk het as met sy vrou”.
Plekspesifiek op sy beste, maar meesterlike storievertelling deur Theo Witbooi en Chantell Phillippus wat my nog jare sal bybly. Hulle wórd daardie twee karakters. My dikgehuilde oë was vir niemand om te sien daardie aand nie.
Lees ook:
KKNK 2025: In gesprek met Veronique Jephtas oor Sonde met die spoke
KKNK en Suidoosterfees 2025: ’n Bespreking van Sonde met die spoke deur Marianne Thamm
KKNK: ’n Begin deur David Eldridge, vertaal deur Nico Scheepers
KKNK: The glass menagerie vertaal deur Nico Scheepers as Speelgoed van glas

