KKNK: The glass menagerie vertaal deur Nico Scheepers as Speelgoed van glas

  • 0

Anna-Mart van der Merwe as die ma (Foto: Jeremeo le Cordeur)

*

Speelgoed van glas
Met: Anna-Mart van der Merwe, Carla Smith, Ben Albertyn en Mark Elderkin
Regie, vertaling en ontwerp: Nico Scheepers
Teks: Tennessee Williams
Oorspronklike titel: The glass menagerie
Verhoogbestuurder: Nell van der Merwe
Vervaardiger: Toyota Stellenbosch Woordfees
Speelgoed van glas is ’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie, ondersteun deur NATi en die Baxter-teater.

*

Speelgoed van glas is verlede jaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees bekroon met die Woordtrofee as beste toneelstuk, beste regie, beste vroulike byspeler (Smith) en beste manlike byspeler (Elderkin). Boonop is Tennessee Williams se The glass menagerie een van die klassieke Westerse toneelstukke van die vorige eeu.

Dit was dus met hoë verwagting dat ek, en ’n saal vol ander teaterliefhebbers, die stuk gaan sien het.

Het dit geslaag? Jip.

Hoekom? Ten eerste is Williams se oorspronklike teks ’n gerekende stuk, maar ten tweede het Scheepers se Afrikaanse vertaling my beïndruk. Dit is nie bloot ’n Amerikaanse stuk wat in Afrikaans speel nie. Nee, dié stuk speel af in Suid-Afrika. Dit is Afrikaans in murg en been. Selfs die kos is eg Suid-Afrikaans.

Die gentleman caller (Mark Elderkin) bly egter ’n Engelsman, wat baie mooi vir die ma gesê het: “Tannie kan maar Afrikaans praat.”

Ek het daaroor gewonder. Deels, natuurlik, sou die verlies van “Blue Roses”, die potensiële liefdesgenoot se bynaam vir die sussie (Carla Smith), verlore gaan. Die bynaam moes te doen hê met ’n kwaal of skeet. “Pampoentjie”, of iets dergelik, sou byvoorbeeld simpel wees. Meer nog: Is dit nie juis hoe ons in Suid-Afrika met mekaar omgaan nie? Afrikaans by die huis, Engels by die werk ...

Vir dié wat nie weet nie: Blue Roses is afgelei van plurosis, wat eintlik pleurisy moes wees, of dan inflammasie van die vliese om die long.

Ostranenia

Die Russiese formaliste het vroeg in die twintigste eeu vir ons ’n goeie literêre hulpmiddel gegee: ostranenia (of iets in dier voege; die verwesterde weergawe van die woord word op talle maniere gespel). Dié onspelbare term beteken grootliks dat kuns vir ons anders en vars na die alledaagse goed moet laat kyk.

Williams se toneelstuk is baie bekend, so ’n Suid-Afrikaanse stuk, in Afrikaans, met Suid-Afrikaanse karakters, laat ’n mens heel anders daarna kyk. Meer nog, kyk ’n mens na Suid-Afrika en ’n Afrikaanssprekende gesin deur die oë van Williams, dan sien ons weer onsself, ons kan selfs lag vir onsself. Die gehoor het heerlik gelag toe die ma (Anna-Mart van der Merwe) met ’n voorgereg uit die tagtigerjare op die verhoog verskyn.

Rou herkenning vs poëtiese soepelheid

Ek het die broer (Ben Albertyn) se monoloë in Afrikaans baie interessant gevind. Dit het vir my ’n rouheid in gehad wat ek nie mooi uit die Engels kon onthou nie.

Ek het die stuk egter gesien saam met ’n vriendin wat self drama gestudeer het en wat versot is op Williams se oorspronklike teks. Sy voel dat Williams se Engels veel meer poëties was. Ek het die Engels te lanklaas gesien, of gelees. Maar ek glo haar. Sy het ’n veel beter oor vir ritme as wat ek het.

Dalk ook net dit: Al staan sy krities teenoor die gebrek aan poëtiese integriteit in die Afrikaans, het sy saamgestem dat dit ’n goeie vertaling is en dat die toneelspel elke sent wat ons betaal het, werd was.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Carla Smith

KKNK: Kiekies uit die Klein-Karoo

Henk Serfontein by die KKNK

KKNK en Suidoosterfees 2025: ’n Bespreking van Sonde met die spoke deur Marianne Thamm

KKNK: ’n Begin deur David Eldridge, vertaal deur Nico Scheepers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top