KKNK: ’n Begin deur David Eldridge, vertaal deur Nico Scheepers

  • 0

Foto: Gys Loubser

’n Begin
Met: Cintaine Schutte en Carel Nel
Teks: David Eldridge
Regie en stelontwerp: Tinarie van Wyk Loots
Vertaling: Nico Scheepers
Oorspronklike titel: Beginning
Beligtingsontwerp en verhoogbestuurder: Lize-Marie Wait
Vervaardiger: Cintaine Schutte
’n Begin is ’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie, ondersteun deur NATi.

*

Ek het twee dae ná mekaar stukke gesien wat deur Nico Scheepers uit Engels in Afrikaans vertaal is. Die eerste was Tennessee Williams se baie bekende The glass menagerie, ’n stuk wat ek ken. Hierdie een, Beginning van David Eldridge, het ek glad nie geken nie. Ek kon dus vars en nuut daarna kyk.

Had ek nie geweet dat dit ’n vertaalde stuk is nie, sou ek dit nie kon raai nie. Scheepers het dit reggekry om ook hierdie drama eg Suid-Afrikaans te laat voel.

Meer oor die storie

Wanneer die stuk open, sien ons twee mense, ’n vrou (Cintaine Schutte) en ’n man (Carel Nel) in ’n deurmekaar woonvertrek. Beide is redelik beskonke.

Hier was ’n woeste partytjie.

Dit neem nie te lank nie voor dit duidelik word dat sy ’n ogie op hom het, maar hy is nie so seker dat hy met hierdie vrou moet seks hê nie.

Vir 90 minute word die twee se lewens aan die kyker geopenbaar. Ons leer hulle ken. Ons lag vir hulle neuroses en word geraak deur hulle trauma.

David Eldridge se dialoog, wat ek in Nico Scheepers se Afrikaanse woorde beleef het, is puik.

Genderrolle omgedop

Kyk ’n mens na ’n tipiese romanse, is die rolle van die aktante voorspelbaar.

  • Hy is ryk en uiters suksesvol.
  • Sy is nie dom nie, maar in ’n effense penarie.
  • Sy val vir hom omdat hy vir haar sekuriteit kan bied.

David Eldridge het hierdie rolle omgekeer.

  • Sy is ’n welaf grootbaas van ’n maatskappy.
  • Hy is nie dom nie, maar is geskei en betaal ’n enorme deel van sy inkomste in onderhoud vir ’n dogtertjie wat hy nooit sien nie. Hy bly selfs by sy ma om geld te spaar.

Kan so ’n verhouding werk? Of, dalk: Moet so ’n verhouding hoegenaamd begin? Moet hy nie liewer sy beskonke lyf in ’n Uber kry en sy roes gaan afslaap nie?

Die stuk se naam is ’n Begin, maar dis nie noodwendig die soort begin wat ’n gewone romcom in gedagte sou hê nie. Sien ons die begin van iets wat langer kan duur, of aanskou ons die begin van iets wat redelik ondramaties ten einde sou loop?

Gaan kyk maar self.

Meesleurende spel

Ek het die stuk gesien saam met ander. Twee van die kykers is ’n gay paartjie. Ek het my verkneukel aan die jonger man ná die tyd. Hy kon dit nie vat dat hierdie heteroseksuele paartjie so sukkel om tot aksie oor te gaan nie. Was dit ’n gay paartjie, sou ons veel meer seks gesien het, was sy opsomming.

Sy reaksie het getoon dat hy nie koud gelaat is deur wat op die verhoog gebeur het nie.

Dit het my ook nie koud gelaat nie.

Cintaine Schutte en Carel Nel is getroud. Hulle ken mekaar en hulle ken mekaar se lywe. Op die verhoog het hulle die gesukkel van twee mense om mekaar te vertrou egter deeglik uitgebeeld.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n Begin – ’n Instagram-resensie

KKNK: Kiekies uit die Klein-Karoo

Henk Serfontein by die KKNK

KKNK en Suidoosterfees 2025: ’n Bespreking van Sonde met die spoke deur Marianne Thamm

KKNK: The glass menagerie vertaal deur Nico Scheepers as Speelgoed van glas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top