KKNK en Suidoosterfees 2025: ’n Bespreking van Sonde met die spoke deur Marianne Thamm

  • 0

Marianne Thamm (links) saam met die spelers en die tegniese span op die verhoog (Foto: Izak de Vries)

*

Sonde met die spoke
Met: Veronique Jephtas, Tinarie van Wyk Loots en Michele Burgers
Teks: Marianne Thamm
Regie: Lee-Ann van Rooi
Ontwerp: Carin Bester
Verhoogbestuurder: Ronel Jordaan
Vervaardiger: KKNK
Sonde met die spoke is ’n ko-produksie van die KKNK en Suidoosterfees. Dit is moontlik gemaak deur NATi en is ondersteun deur die Festival Enterprise Catalyst (FEC) en die Jobs Fund.

*

Sonde met die spoke is pret. Ek het my verkneukel aan hierdie ligte komedie wat terselfdertyd baie inligting oor CJ Langenhoven aan die gehoor verskaf.

In breë trekke werk die storie so: Angelique Jacobs, gespeel deur Veronique Jephtas, is ’n veiligheidswag by Arbeidsgenot op Oudtshoorn, die huis waarin Langenhoven oorlede is.

Wanneer die son sak, begin die spoke loop. En dan begin die pret.

Wie is die spoke?

Foto: Nardus Engelbrecht

Die gehoor ontmoet vir Sarie Karolus (ook gespeel deur Veronique Jephtas), Vroutjie, Langenhoven se eggenoot (gespeel deur Michele Burgers) en Sarah Goldblatt, Langenhoven se “sub” (gespeel deur Tinarie van Wyk Loots).

Die drie vroue beskinder en bespreek hulle geliefde Neelsie, maar elkeen kry darem ook ’n stekie in om te verduidelik dat hulle eintlik die sukses agter hierdie bekende man was.

Langenhoven se eie spookverhale

CJ Langenhoven was ’n besonderse mens en hy was lief daarvoor om spookstories te vertel. Daar het talle spookverhale uit sy pen verskyn; baie van hulle het in Die huisgenoot (toentertyd met ’n Die) verskyn.

Hy gebruik ’n bekende, landelike omgewing en plaas dan ’n bonatuurlike verskynsel in die skynbaar doodnormale omgewing. Die lewendes en die dooies moet mekaar dan op gemeenskaplike grond ontmoet.

Boonop was Langenhoven se spoke intelligente wesens. Hy had, in sy eie woorde, ’n renons in spoke met ’n “onnosle verspottigheid” (aldus sy inleiding tot Die wandelende geraamte en ander verskynsels).

Ek dink dit is besonder slim om Neelsie te huldig met ’n spookverhaal.

Drie wedywerende vroue

Ons weet relatief min van Sarie Karolus, maar dat sy vir Neelsie en Vroutjie gewerk het, is nie altemit nie. Daniël Lötter, die skrywer van talle historiese werke, het weke voor Sonde met die spoke se debuut ’n familielid van Karolus opgespoor. Ek sien baie uit om te hoor wat hy by haar sal kan uitvind.

Dat Karolus skynbaar Langenhoven se koffie nét reg kon maak, word wel aan haar toegedig.

Van Vroutjie, of dan Magdalene Maria Langenhoven, weet ons veel meer, deels ook omdat sy gereeld, heel fiktief, in Langenhoven se eie werk voorkom. Vroutjie was veel ouer as Langenhoven en het die mooi jong man ontmoet nadat Langenhoven vir een van haar dogters begin lesgee het. Die leermeester het sommer ogies gemaak ook vir die mooie dogter, maar uiteindelik was dit die leerling se ma wat in die huwelik getree het met Kerneels Langenhoven, die prokureur.

Dat hulle tot Langenhoven se dood lief was vir mekaar, kan nie betwyfel word nie. Ek was bevoorreg om van die briewe tussen die twee te lees. Willemien Brümmer, sy agterkleinkind, het ook verlede jaar, op 23 April 2024, berig oor ’n geskenk wat Neelsie presies 100 jaar tevore aan Vroutjie gegee het. Hy het ’n baie duur, geïllustreerde weergawe van Edward FitzGerald se Engelse vertaling van Omar Khayyám se Rubáiyát gekoop en in sierskrif sy eie vertaling van die gedig, vers vir vers, ingeskryf onder die Engelse verse. Dit is ’n kleinood en, soos Brümmer tereg noem, ’n liefdesbrief soos min.

Tog was sy nie die enigste vrou in Neelsie lewe nie.

Sarah Goldblatt, die jong rooikop meisie, wat tot aan die einde van haar lewe Langenhoven se “sub” sou wees, het meer gedoen as bloot sy tekste redigeer. Sy het ’n tweede huis aan hom verskaf, en heelwat meer.

Sarah Goldblatt en Vroutjie het van mekaar geweet en het mekaar gerespekteer. Hulle het self, onderling, ’n baie interessante briewewisseling gehad.

Marianne Thamm, ondersoekende joernalis

Thamm is ’n ondersoekende joernalis wat ook ’n baie goeie biografie die lig laat sien het oor haar pa wat uit Nazi-Duitsland padgegee het, in Suid-Afrika met ’n Portugese meisie afgehaak het en uiteindelik verantwoordelik was vir die snellermeganisme van die R1, ’n aanvalsgeweer wat in Suid-Afrika vervaardig is en op groot skaal in die vroeë jare van die grensoorlog gebruik is.

Sy het al tevore haar ondersoekende werk na die verhoog geneem. Ek het in 2024 op presies dieselfde verhoog waar Sonde met die spoke vanjaar gespeel het, vir Thamm gesien in haar eenpersoonstuk Vuisvoos, maar nog regop. Dit was ’n skreeusnaakse, maar baie informatiewe, stuk oor staatskaping.

Sonde met die spoke neem die resep van Vuisvoos, maar nog regop en laat die drie spoke allerlei staaltjies oor Neelsie vertel; daar waar hulle nou in die hiernamaals sit en skinder terwyl hulle tee drink.

Slapstick, nie stadige teater nie

Ek het twee ander stukke, Speelgoed van glas en ’n Begin, by die KKNK gesien waar die karakters stadig voor jou oopvou oor ongeveer 90 minute. Maar dit is nie wat Sonde met die spoke wou wees nie. In 75 minute word die vroue wat Langenhoven staande gehou het, gehuldig in Thamm se teks.

Die dialoog is guitig, en elkeen vertel graag aan die ander wie of wat Neelsie vir húlle was. Daar is ook onderlinge spanning – Vroutjie en Sarah Goldblatt hét immers meegeding om Neelsie se attensies. By geleentheid maak Tinarie van Wyk Loots oogkontak met die gehoor, sy breek dus die onsigbare skeidslyn, en met bloot haar wenkbroue en ’n stout glimlag, lewer sy kommentaar op ’n monoloog wat Vroutjie lewer.

By ’n ander geleentheid sê Michele Burgers, as Vroutjie, weer vir die gehoor dat arme Goldblatt steeds dink sy was die enigste ... Dit kom na ’n passievolle monoloog deur Goldblatt se karakter.

Diegene wat tradisionele, stadige teater verwag, sal teleurgestel word.

As jy egter hou van ’n lekker komedie, sal dié een jou laat lag.

Jy kan tog nie ernstig wees as drie spoke mekaar ontmoet vir ’n skindersessie nie?

Die vroue gehuldig, die man belig

Ons is in die jaar waarin een variant van Afrikaans se amptelike bestaan van 100 jaar gevier word. Langenhoven word, verkeerdelik, gehuldig as die Vader van Afrikaans. Dit was hy nie. Dat hy, sy eindelose probleme ten spyt, egter ontsettend veel gedoen het vir Afrikaans, is nie te betwis nie.

Hy was ’n besonderse mens.

Hoeveel sou hy reggekry het sonder die vroue in sy lewe? Dalk veel. Maar Sarah Goldblatt se enorme, openbare aandeel in sy nalatenskap kan nie betwis word nie. Ook nie Vroutjie se geld wat Arbeidsgenot gekoop het en haar jarelange lojale ondersteuning aan die korrelkop met wie sy haar tweede huwelik gedeel het nie.

Dit is goed dat hulle lewens weer gevier word.

Dominique Malherbe het moeite gedoen om in die teks Op soek na Saartjie ’n blik op Goldblatt te gooi. Groot dele van die boek is besonder goed, maar ongelukkig het sy ook verspotte aannames gemaak wat die boek laat sink het.

Thamm se teks is beter. Dit bevat wel hier en daar ’n feitefout, soos ’n verkeerde naam wat Engela se man toegedig word, maar dit is klein goedjies wat maklik voor ’n volgende speelvak reggestel kan word.

Uiteindelik leer ons ontsettend veel van Langenhoven én van die vroue in sy lewe. Daaroor was ek bly. Dit alles word boonop verpak in ’n heerlike komedie.

Die stel

’n Laaste woord moet gaan aan die ontwerper van die stel. Die raam wat agter die verhoog staan, is ’n lieflike nabootsing van Arbeidsgenot se stoep.

Te sien by die Suidoosterfees 2025

As jy die KKNK-vertoning gemis het, is daar goeie nuus. Sonde met die spoke gaan speel by die Suidoosterfees ook. Koop die kaartjies hier. (Ek sou gou spring. Die saal was vol.)

Lees ook:

KKNK 2025: In gesprek met Veronique Jephtas oor Sonde met die spoke

KKNK: Kiekies uit die Klein-Karoo

Henk Serfontein by die KKNK

KKNK en Suidoosterfees 2025: ’n Bespreking van Sonde met die spoke deur Marianne Thamm

KKNK: ’n Begin deur David Eldridge, vertaal deur Nico Scheepers

KKNK: The glass menagerie vertaal deur Nico Scheepers as Speelgoed van glas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top