
Om ’n draai by ’n kunstefees te maak, is altyd ’n voorreg. Dit hoef boonop nie oneindig baie te kos nie. Hierdie jaar was die fees se motto “Al die ietse”. Hulle het hard probeer om iets vir almal te gee.

Die ietse het selfs in die dorp rondgeloop.

Ander ietse het rondgehang.

In die hoofstraat, waarvan ’n deel afgesper was, het James Malgas en Alfonso Simmers hulle kuns beoefen.

Sommer so, in die straat, is die werke op die teer geteken.

Hier werk Simmers aan ’n nuwe stuk.

Malgas is besig met syne.

Malgas het verduidelik dat hy moeite doen om sporthelde uit te beeld. Hy wil graag hê Oudtshoorn se kinders moet uit sy kuns inspirasie put.

Wandel jy verder, kom jy by die formele kunsgalerye waar bekendes soos Stephané Edith Conradie uitstal. (Lees ook my stuk oor die werk van die feeskunstenaar, Henk Serfontein.)

Tussen die formele kuns hang daar ook gemeenskapskuns.

Hierdie werk deur Anna van der Ploeg heet “Duiweltjie”. Dit bestaan uit duwweltjies op papier.

Ek kon glad nie uitwerk wie vir hierdie stuk verantwoordelik was nie, maar dit het my beïndruk.

Selfs in die koffiewinkels is kuns uitgestal.

Soek jy ’n plek om te sit, dan is daar tafels en sambrele.

Daar is ook groot tente waar sangers optree, of waar ’n mens vir Martelize Brink van RSG kan gaan luister, weg uit die warm son.

Alles wat ek tot dusver genoem het, is gratis.

Vir die honger mense is daar koswaentjies. Hulle ware is bekostigbaar.

As jy van roosterkoeke hou, moet jy beslis ’n draai gooi by die KKNK. Die tannies langs die vuur ken hul storie. En die roosterkoeke is nie duur nie.

Die vertonings kos wel iets, maar dis uitstekende stukke wat ’n mens hier te sien kry. (Lees gerus my indrukke oor Speelgoed van glas, Sonde met die spoke en ’n Begin.)
Lees ook:
KKNK en Suidoosterfees 2025: ’n Bespreking van Sonde met die spoke deur Marianne Thamm
KKNK: ’n Begin deur David Eldridge, vertaal deur Nico Scheepers
KKNK: The glass menagerie vertaal deur Nico Scheepers as Speelgoed van glas

