Ek assosieer Henk Serfontein se kunswerke met fotorealistiese houtskoolsketse van mense. In 2025 was hy die KKNK se feeskunstenaar. Sy uitstalling, getiteld Die stomme aarde, was effens anders.
Die stomme aarde

Foto: Izak de Vries
Aan die een kant van die kerksaal waar sy werk gehang het, was ’n reeks houtskoolsketse van vetplante.

Foto: Izak de Vries
Aan die ander kant was houtskoolsketse van klippe waarop daar woorde verskyn in ’n lettertipe wat aan outydse tikmasjiene herinner.
Die eerste skets aan elke kant van die uitstalling was egter ’n abstrakte bolvormige objek. Dit sou die aarde kon wees – moontlik bedek deur wolke. Die sketse lyk egter ook op sonarfoto’s wat gedruk word tydens ’n ondersoek na ’n baie jong embrio in die baarmoeder.

Foto: Hugo van Schalkwyk
Die woorde op die klippe is ook nie lukraak gekies nie, hulle kom uit Wilma Stockenström se gedag “Almoeder”, waaruit ek twee strofes deel:
Knielend lê ek my oor
op die ryp- en klipbeskotte grond
en span my in om te hoor
waar die hart van die aarde
klop. ’n Sterk gestel
het sy, die saggeaarde.
Stockenström gee hier aan die “klipbeskotte grond” ’n lewe, ’n hartklop. Die aarde, as almoeder, oorwin telkens wanneer die somergras weer verskyn, aldus die laaste strofe van die gedig.
Die aarde wat vermoederlik word deur Stockenström, word geëggo in die meer abstrakte houtskoolsketse deur Serfontein van die aarde as ’n moontlike baarmoeder.
Die plante is dan nuwe lewe, kinders dus, wat voortgebring word deur die aarde. Hulle word kaal geskets, die wortels ontdaan van enige grond, soos ’n mens soms babafoto’s sien.
Teenoor die kaal plante is daar die harde klippe waarop die kunstenaar Stockenström se woorde aangebring het. So gee hy aan die stomme aarde ’n stem. Hierdie sketse roep ook ’n ander interteks op. In Lukas 19:40 sê Jesus dat die klippe die goeie boodskap sal uitroep as mense gaan stilbly.
Die aarde, die almoeder, is al moeder wat ons het. Ons verinneweer haar. Sy kry swaar, al het sy ’n sterk gestel.
Die goeie nuus is dat sy, “die saggeaarde”, uit klippe nuwe lewe kan voortbring.
Aardmoeder: ’n Uitvoerende tekening
Serfontein het egter nie bloot sy werk gehang nie. Hy en Hannah Loewenthal het vier vertonings gelewer wat bekendstaan as Aardmoeder: ’n Uitvoerende tekening.

Foto: Hugo van Schalkwyk
Dié vertonings het plaasgevind op die verhoog van St Jude’s se saal, waar Serfontein se uitstalling gehang het. Ons het dus in die saal gesit, omring deur Serfontein se werk, terwyl hulle die vertoning gelewer het.

Foto: Izak de Vries
Op die verhoog was ’n lang stuk papier. Daar, voor die papier, het Serfontein en Loewenthal stelling ingeneem. Oor die luidsprekers het Max Richter se “Recomposed: Vivaldi – The Four Seasons” gespeel. Daar is twee video’s op Instagram met grepe uit die stuk, klik gerus hier en hier.

Foto: Izak de Vries
Serfontein en Loewenthal het begin dans, met Serfontein wat, dikwels op maat van die musiek, houtskoollyne op die groot stuk papier aangebring het.

Foto: Hugo van Schalkwyk
Waar sy sketse om ons fotorealisties is, sou hierdie lyne nie anders as abstrak kon beskryf word nie. Daar was geen duidelike prent wat na vore gekom het nie.
Die programteks verduidelik dat die kyker moes dink aan are – lyne wat onder die vel loop en lewegewend is.
Danksy die vier seisoene wat opgeroep is deur die musiek, was die oudiovisuele spel tussen sketse teen die muur, die dansers en die lyne (of are) ’n meditasie op ons aardse bestaan en die uitdagings waarteen die aardmoeder/almoeder te staan kom.
Ek gaan een paragraaf uit die programnotas deel:
Die kunstenaar Henk Serfontein en danser Hannah Loewenthal verweef ’n harmonieuse, kollektiewe bewussyn as ’n ekologiese reaksie op die aarde: ’n Tekening word gedans, ’n dans word geteken. Die onderbewussyn word intuïtief beleef terwyl die tipografie van die oerlandskap, soos beskryf in “Almoeder”, blootgelê word. Die kunstenaar en danser span hul ouditiewe sintuie in om die aarde se hartklop te beleef en te verbeeld.
Toe ek vir ’n vriendin sê dat ek nie noodwendig alles verstaan het nie, was haar antwoord dat ek verkeerd is: My rol as kyker was om te ervaar, nie om te dink nie. Dit maak sin. Tog, my kop soek altyd na betekenisse, en ek vermoed die eerste strofe van Stockenström se gedig, “Almoeder”, verskaf ’n moontlike sleutel.
Die strofe lui:
Om te weet dat waar ek trap
onderaardse riviere vlermuisstil
vloei, laat my bedeesder stap.
Diegene wat mediese kennis het, sal weet dat sonar deesdae ook gebruik word om mense se are te bestudeer – daardie onderhuidse lyne wat soos riviere stil-stil lewe skenk aan ons liggame.
*
Ek bedank graag vir Hugo van Schalkwyk, wat die stuk amptelik gedokumenteer het, vir die gebruik van sy foto’s wat ek met myne kon meng.
Lees ook:
KKNK en Suidoosterfees 2025: ’n Bespreking van Sonde met die spoke deur Marianne Thamm
KKNK: ’n Begin deur David Eldridge, vertaal deur Nico Scheepers
KKNK: The glass menagerie vertaal deur Nico Scheepers as Speelgoed van glas

