Jong aktrise skroom nie vir werk nie
Die jong aktrise Carla Smith wat verlede jaar die kykNET Silwerskermfees-toekenning as beste aktrise in ’n speelfilm vir haar rol as Pamina Vermaak in Die tragiese saak van Pamina Vermaak verower het, speel vanjaar in verskeie toneelstukke by die Toyota Stellenbosch Woordfees; het haar hand aan teksskryf gewaag; en is ook as regisseur aan die gang.
Carla het haar honneursgraad in Drama en Teaterstudies in 2019 aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Sy praat Portugees en kan sing, kitaar- en klavierspeel en ook dans, maar voeg by dat sy maar sleg kitaar- en klavierspeel!
Ons ken haar uit baie uiteenlopende film-, televisie- en verhoogrolle.
Sy het verskeie toekennings op haar kort CV waaronder ’n ATKV Mediaveertjie vir haar rol as Kittie in Tydelik terminaal, Woordtrofee vir NRNNSA en verskeie Kanna-, Woordtrofee- en Fiësta-nominasies.
Haar filmrolle in Silwerskerm-kortfilms soos Skyn, The incident en Die maan val bewusteloos besorg aan haar ook toekennings. Sy wen onder meer vir Skyn die Silwerskermfees-toekenning vir beste aktrise in ’n kortfilm en beste ensemble in ’n kortfilm.
In Augustus vanjaar het sy gehore gaande gehad in Neighbourhood, deur die bekroonde teksskrywer en regisseur, Tiisetso Mashifane wa Noni. Die toneelstuk stel die kwessie van landbesit – wie het en wie nie het nie – op so ’n neutrale basis, dat jy jou lojaliteite bevraagteken. Dit word in Engels, Sepedi, Zoeloe, Afrikaans en Engels opgevoer en is ’n wonderlike skermgreep uit ons land en sy mense en die ingewikkeldheid van hoe grond verdeel word. Die mense van Lindela is “tydelik” geskuif om ’n rykmanswoonbuurt te vestig. Die inwoners van dié vleiland probeer om die premier te oortuig dat sy nou haar beloftes moet nakom en vir hulle ander heenkome moet gee. Die oop dieretuin is ideale grond om 3 000 huise te bou, maar die nuwe winkelsentrum sal vir 6 000 mense kan werk gee. Hoe gemaak? En as hulle dan op die sypaadjies van die rykes intrek, is daar groot konsternasie. Die rykes betaal baie geld vir hul water, elektrisiteit, huislenings en swemlesse en gee rojaal aan werkers en hul kinders, hulle kan sekerlik nie nog meer betaal vir Lindela se huisloses nie?
Die spelers speel almal verskeie rolle; die rooi en blou kostuums, oorpakke, kamerjaponne en kopdoeke verseker dat die gehoor nie tred verloor met wie wie is nie. Mens besef opnuut hoe kompleks ons sosiale kwessies is en dat daar geen kits-oplossing is nie. Carla het die rolle vertolk van die liberale premier en een van die inwoners van die rykmanswoonbuurt.
MR: Vertel my van jou rolle by die Toyota Stellenbosch Woordfees vanjaar?
CS: Dit is ’n voorreg en ’n vreugde om drie uiteenlopende rolle te vertolk. Die klassieke Desdemona en twee Lauras. Desdemona, in Othello, was ’n groot uitdaging, omdat sy al soveel keer aangepak is, gelukkig kon ek en Lara saamstem dat sy nie so gedweë en saggesproke hoef te wees nie. Die teks self verklap ’n vurigheid in haar, wat saam met haar sagtheid ’n fyn balanseringstoertjie was. Laura in Speelgoed van glas is nog ’n klassieke karakter wat al vele maal vertolk is. Ek het probeer om geen opnames te kyk of luister nie, veral omdat Nico dit verplaas het na Suid-Afrika in die 90’s. Ons wou haar herontdek in Afrikaans, wat gelei het tot ’n brose, effens afgestompte, depressiewe, stuck-in-life twenty-something wat voel die lewe het regtig nie in haar guns gespeel nie. Vir Laüra in Kruispad of die legende van die goue vis sou dit mens dalk baat om te verstaan dat dit ’n Afrikaanse verwerking is van ’n Estoniese fabel. Dis fabelagtig en vreemd. Karakters wat nogals Oosblokkerig voel (of ons idee van hulle), en die situasie verklap dan meer oor die karakters as wat mens aanvanklik dink, soos wat die storie ontvou.
MR: Hoe hou mens kop as jy verskillende rolle speel by ’n fees soos nou met die drie waarin jy te sien is by die Woordfees?
CS: Mens moet maar net. Gelukkig is ek nou nie die eerste persoon wat dit hoef te doen nie. In my studentejare het Tinarie van Wyk-Loots en Nicole Holm elk vier of vyf produksies gedoen – ek dink Nicole het nog op ’n poegie gespring om betyds van een show na die volgende te beweeg! Dit gee my baie hoop. In my geval is die drie produksies ook só verskillend dat hulle verskillende dele van die brein beman. Of dis wat ek vir myself sê. As ek begin “thou” in Die goue vis, of limp in Othello, hoes drie keer hard!
MR: Hoe verskil feeste vir jou van optredes in professionele teaters?
CS: Dis ’n moeilike een, omdat ek hoofsaaklik feeste ken. Hierdie jaar het ek vir die eerste keer sedert ek 18 was en ons Fiela se kind vir ’n paar dae by die Kunstekaap gedoen het, speelvakke by ’n teater gehad met Othello en Neighbourhood (beide by die lieflike Baxter Teater). Die grootste verskil is dat die produksie werklik tyd het om asem te haal in ’n teater. Met Othello het ons vir vier weke lank gespeel met meer as 20 shows. By ’n fees doen mens dit maar vier of vyf maal – meer as dit ’n feesproduksie is. Dan hoop mens dat dit na ander feeste sal toer, sodat die stuk kans kry om te groei.
MR: Jy en die akteur Beer Adriaanse is verloof. Julle het onder meer oorkant mekaar gespeel in Mooiweer en warm en hy was die regisseur van Extra medium waarin jy die tiener Kleintjie gespeel het. Wat is die voordeel om ’n mede-akteur as jou lewensmaat te hê? Wat leer jy by hom of is hy meestal net ’n klankbord in ’n moeilike bedryf?
CS: As lewensmaat is hy vir my veel meer dinker, dromer en skrywer as akteur. Om die lewe met hom mee te maak, is (soos ons dit bykans vier jaar gelede gedoop het) moeiteloos. Selfs toe ons nie in ’n verhouding was nie, was dit altyd insiggewend om sy opinie te hoor. Hy is ’n oopkop klankbord, maar ek moet glo dat ons dit darem vir mekaar maklik maak. Ons het gereeld verskillende maniere om by dieselfde antwoorde uit te kom, so die een wat eerste is, moet lei.
MR: Waar kom die Portugees-magtig wat op jou CV pryk, vandaan?
CS: My ma is van Madeira, maar ek moet bieg – my Portugees is tans effens geroes. Ons praat meestal by familiesaamtrekke en dan in Madeira, so party woorde gaan verlore. Dit help ook nie dat Beer sy klasse gestaak het ná hy besef het dit raak nou bietjie moeilik nie …
MR: Jy speel baie uiteenlopende teaterrolle. Verlede jaar was jy onder meer te sien in ’n musiekproduksie van Riana Scheepers se teks, Clara, saam met Nina Schumann, wat handel oor die lewe van die komponis en pianis Clara Schumann. Wat geniet jy aan die diversiteit?
CS: Dit is tog hoekom mens speel: om jou uiterstes te toets om dieper te delf; die binne-kind kans te gee om simpel en belaglik te wees; om ander uit te nooi om nie hulself so ernstig op te neem nie; of om iets met meer erns te oorweeg. Wat is meer vervelig as om oor en oor dieselfde rolle te moet vertolk? Mag ons almal omring word met tekste wat diversiteit bied, en regisseurs wat nie type cast omdat dit vir die gehoor makliker is om te aanskou nie.
MR: Jy wissel ook van die verhoog, voor die kamera, agter die kamera. Waar sien jy jouself meer in die toekoms? Wat geniet jy aan elke genre en verskillende rolle as akteur, regisseur en teksskrywer?
CS: Dit hang af van die projek. As die teks my boei en die regisseur my in nuwe rigtings gaan druk, dan speel ek graag. Andersins is regie vir my ’n ontsettende plesier. Skryf bly maar uitdagend, maar as die regte storie my vang, sal ek weer agter die sleutelbord inskuif.
........
As ek kan aanhou om diverse rolle te speel, met verskillende mense wat obsessief verlief is op hulle veld, sal ek gelukkig wees.
........
MR: Waar sien jy jouself en jou loopbaan oor 10, 15 jaar? Droom jy van oorsee gaan werk?
CS: As ek kan aanhou om diverse rolle te speel, met verskillende mense wat obsessief verlief is op hulle veld, sal ek gelukkig wees.
MR: Watter rol wat jy al gespeel het, was die naaste aan jou persoonlikheid en watter een die verste verwyder?
CS: Dit is vreemd hoe karakters mens kies, of oor mens se pad kom op ’n tyd in jou lewe waar mens stoei met ’n soortgelyke kwessie as wat in ’n teks verken word. Amper elke rol het al tot iets in my gespreek, of oor iets gewonder waarmee ek kan vereenselwig. So vind mens ’n haakplek om die karakter te verstaan en dan op te bou.
Ek moet nog dink aan voorbeelde …
MR: Watter rol het die grootste uitdagings vir jou ingehou en jou dalk laat voel jy wil opgee?
CS: Shakespeare put mens nogals uit wanneer hy soveel maal “do not weep” skryf. Dit was uitputtend om ’n manier te vind om daardie emosies vlak genoeg te kry, sodat hulle geloofwaardig voel. Regisseur Lara Foot het my wel deurlopend herinner dat die emosie in die woorde lê en om dit te verstaan en te internaliseer, sal die emosies toelaat om vrylik te vloei.
MR: Wie is jou mentors in die bedryf en watter raad het jy by hom/haar/hulle gekry wat jy gereeld toepas?
CS: Marthinus Basson sal nooit aanvaar dat hy ’n mentor vir die helfte van ons plaaslike bedryf is of was nie, maar dis waar. Dié het baie wyshede, maar deesdae herinner hy dat mens moet seker maak dat ’n projek – en selfs besluite in die projek – waarde het. Wat kan mens daaruit leer, wegneem, aan herkou?
MR: Wat was die duurste les wat jy al in jou loopbaan moes leer?
CS: Sykouse skeur.
MR: Watter raad het jy vir hoërskoolleerders wat droom van akteur word?
CS: Akteur-wees en bekend-wees is twee heeltemal verskillende duiwels. Maak seker watse een vir jou beskore is. Beide is moeiliker as wat dit wil voorkom, maar die een is definitief meer glansryk en die ander een meer uitdagend, en vir my persoonlik sielbelonend (ek hoop nie ek beledig iemand nie).
MR: Wanneer het jy geweet jou kop staan toneelspeel se kant toe?
CS: Ek het nooit regtig die besluit gemaak nie. My dramaonderwyseres het my ingeskryf vir ’n beurskompetisie en dit het my pad bepaal.
MR: As jy nie drama geswot het nie, watter ander beroep sou jy kon volg?
CS: As kind het ek vir my ouers gesê dat ek ’n dokter sal word, sodat hulle nie hoef te werk nie, maar die geringste besering laat my wasbleek en sweterig. Om eerlik te wees, ek sou tien teen een swerf. Van dorpie tot dorpie gaan sit by die ouer garde en leer om iets met my hande te maak. Dit, nuwe resepte en nog ’n paar tale. Ek beoog om dit sommer in elk geval te doen.
MR: Hoe belangrik is die regisseur in jou keuse van rolle? Of is goeie teks die oorheersende oorweging?
CS: Beide is geweldig belangrik. Ongelukkig het ons wel nie altyd ’n keuse nie, so daar is ’n paar regisseurs vir wie ek sal ja sê nog voor ek weet wat die teks is. In die hoop dat hulle daarin glo en ek weet ek kan hulle oordeel vertrou. Indien mens die keuse het, het ek op die moeilike manier geleer om die teks eers deeglik te lees voor mens instem (dis nou meestal TV en film). Niks red ’n swak teks nie.
MR: Waarin sien lesers jou ná die Woordfees?
CS: Hierna gaan ek eers Madeira toe vir bietjie emmer vol tap, dan sal die Nuwejaar haar nog aan my moet ontbloot. Vir nou weet ek Speelgoed van glas en Kruispad of die legende van die goue vis sal volgende jaar nog by ’n paar feeste te siene wees. Hopelik ook ’n teater of twee!
- Othello speel by die Adam Small-ouditorium op 28 September om 10:00, op 29 September om 10:00 en 15:30 en op 1 Oktober om 10:00.
- Speelgoed van glas is by Rhenish Girls’ High op 28 September om 18:00, 30 September om 20:30, 1 Oktober om 14:00, 3 Oktober om 20:30, 4 Oktober om 16:00, 5 Oktober om 20:00 en 6 Oktober om 15:00 op die planke.
- Kruispad of die legende van die goue vis is by Rhenish Girls’ High te sien op 30 September om 16:00, 1 Oktober om 18:00, 3 Oktober om 9:30 en 12:30 en 4 Oktober om 10:00.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Cintaine Schutte oor ’n Begin
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud oor Marie se laaste dag
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud oor American rhythm
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Hoe het dit skielik laat geword? – 'n onderhoud
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Alfred & Marc – ’n onderhoud met Alfred Adriaan
Lara Foot’s Othello at the Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Dhania Kara Schultz’s review
Lara Foot’s Othello at the Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Angelique Filter’s review