
’n Begin met Cintaine Schutte (vroulike hoofrol), Carel Nel (manlike hoofrol), Tinarie van Wyk Loots (regisseuse), Lize-Marie Wait (verhoogbestuurder). (Foto: Stephanie Gericke)
........
’n Begin kan vir elkeen van hierdie karakters verskillende dinge beteken. Maar elkeen kort soms ’n nuwe begin, ’n goeie een. Ek dink dis ook so heerlik om in ’n stuk te kan speel wat so relevant is, veral omdat ons kyk na ons generasie se ouderdom. Almal is op pad soontoe, was al daar, gaan tans hierdeur.
........
Cintaine Schutte praat met Naomi Meyer oor Cintaine se rol in ’n Begin, ’n toneelstuk wat vanjaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees op die planke is.
Cintaine, jy vertolk die vroulike hoofrol in ’n Begin. Vertel asseblief wie jou karakter in die stuk is?
Laura is ’n dinamiese, hardwerkende, selfversekerde 38-jarige vrou. Ons ontmoet haar op die aand van haar daknatmaakpartytjie. Sy en Daniël spandeer die aand saam. Hoe verder die stuk aangaan, hoe meer sien mens hoe haar mure afgebreek word en sien mens die totale weerloosheid van ’n vrou in vandag se tyd en hoe sy deur die gesprek met Daniël haar hart oopmaak en ’n eerlike gesprek met haarself het.

Tinarie van Wyk Loots, Cintaine Schutte en Carel Nel (Foto: Stephanie Gericke)
Die manlike hoofrol word vertolk deur Carel Nel. Sou dit te persoonlik wees om te laat blyk dat jy jou manlike hoofrolspeler baie goed ken? Aan die ander kant: Jy ken baie ander manlike hoofrolspelers. Is dit regtig so anders om hierdie keer hierdie rol te speel? (En nog iets: Julle ken mekaar as mense dalk goed, maar as julle karakters in die toneelstuk? Ken julle daardie dimensies van wie julle is ook goed?)
Ek het as vervaardiger Tinarie van Wyk Loots genader as regisseuse juis omdat ek nog altyd met haar wou saamwerk en haar vertrou. Veral met so ’n naturalistiese stuk sal mens ook moet staatmaak op die spelleiding van haar af. Ek het vir haar gesê dat dit haar besluit is om te kies wie Daniël speel, en sy het dadelik vir Carel gevra. Sy wou iemand hê wat die gravitas het; sy het ook al vantevore met Carel saamgewerk en weet wat hy na die rol toe kan bring. Ek en hy het baie lanklaas saam gewerk, en ek sien daarna uit om hierdie reis saam met hom aan te pak. Ek dink veral omdat ons mekaar so goed ken, sal dit baie help – ons het ’n “snelskrif” met mekaar; ons hoef nie op eiers rondom mekaar te loop nie; ons vertrou mekaar se werksproses en ons respekteer mekaar. Ons is ook verskillend van ons karakters, wat baie lekker en uitdagend is.

Cintaine Schutte en Carel Nel (Foto: Stephanie Gericke)
Die titel van die stuk laat my dink daar is dalk baie verskillende beginne vir baie verhoudings. Vertel my asseblief van hierdie begin en van hierdie toneelstuk.
Jy is inderdaad reg. ’n Begin kan vir elkeen van hierdie karakters verskillende dinge beteken. Maar elkeen kort soms ’n nuwe begin, ’n goeie een. Ek dink dis ook so heerlik om in ’n stuk te kan speel wat so relevant is, veral omdat ons kyk na ons generasie se ouderdom. Almal is op pad soontoe, was al daar, gaan tans hierdeur. David Eldridge, die skrywer, vang hierdie psige so mooi vas. Jy kyk na ’n eerlike “slice of life”.
Die stuk is vertaal deur Nico Scheepers; die regisseur is Tinarie van Wyk Loots, soos jy genoem het. Daar is baie partye betrokke by hierdie begin. Waar en hoe het julle al almal met mekaar se werk te doen gekry, en wat is die beste gedeeltes van hierdie samewerking vir hierdie toneelstuk?
Ons is eintlik ’n baie klein span, maar ons almal werk so lekker saam. Ons almal is ook vriende. En wat ’n eer om saam met jou vriende werk te kan skep. Soos ek genoem het, het Carel en Tinarie al baie saam gewerk. Al van die dae van The Mechanicals (teatergroep in Kaapstad jare terug) af. Ek en Tinarie het al saam gespeel, maar nog nooit met haar as regisseuse saamgewerk nie. Ek het al in twee stukke gespeel waarvan Nico Scheepers die vertaling gedoen het, en daarom het ek hom ten volle vertrou met die slim vertaling. Lize-Marie Wait, ons verhoogbestuurder en beligtingsontwerper, stap ek al ’n lang pad mee saam, en ek is dankbaar dat sy ook deel van die span is. Ek wou met mense saamwerk wat uit ’n ontspanne plek kan werk, maar ook die liefde in die werk insit en ’n veilige spasie skep.

Tinarie van Wyk Loots, , Lize-Marie Wait, Cintaine Schutte, Carel Nel (Foto: Stephanie Gericke)
In watter ander toneelstukke is jy by vanjaar se Woordfees op die planke? Wat maak mens om mens na liggaam en gees voor te berei vir die verskillende rolle en wat dit van jou vra, binne een fees?
Ek is ook betrokke by Annemarie Van Niekerk se Onder ’n bloedrooi hemel. Dit is verwerk na ’n teaterstuk deur Nicola Hanekom. Marí Borstlap behartig die regie en my medespelers is Brendon Daniels en Deon Lotz. Ons het vanjaar by Suidoosterfees gespeel en ek sien uit na ons tweede speelvak.
........
Mens moet vertrou in die repetisieproses en al die rolspelers. Dat jy jou beste moet doen en dan oorlaat aan die teatergode.
........
Mens moet vertrou in die repetisieproses en al die rolspelers. Dat jy jou beste moet doen en dan oorlaat aan die teatergode. Maar tydens die fees sal ek mooi na myself moet kyk – rus, gesond eet, asemhaal en myself herinner dat ek baie bevoorreg is om te kan doen wat ek doen en twee uiteenlopende stories te kan vertel.

Carel Nel, Tinarie van Wyk Loots, Lize-Marie Wait en Cintaine Schutte (Foto: Stephanie Gericke)
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Skatkis vol stories – ’n onderhoud met Danneline Ramsden
Lara Foot’s Othello at the Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Merwe van Gent’s review
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Saartjie Botha
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Bibi Slippers
Persverklaring: Die 2024 Woordfees speel, sprankel en spruit dié blomtyd uit