Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Bibi Slippers

  • 1

Bibi Slippers: “Dit is foto’s van die speelplekke waar ek die Woordfees-program aanmekaargespeel het.”

Bibi Slippers praat met Naomi Meyer oor die EasyEquities Skrywersfees by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees.

Bibi, dis amper Woordfees, en jy is vanjaar die een wat die EasyEquities Skrywersfees reël. Waar begin mens as mens hierdie taak ontvang? Daar is niefiksie en daar is fiksie, daar is digkuns en daar is ruimte vir mense wat self wil kom yskaspoësie skep ook. Daar is gesprekke met meningsvormers en daar is ’n Harry Potter-partytjie. Het ek iets uitgelaat?

Hallo Naomi, en dankie vir die geleentheid om met LitNet te gesels oor die Skrywersfees.

Waar begin ’n mens? By Saartjie en die Woordfeesspan, wat basies vir ’n mens vrye teuels gee binne ’n baie breë raamwerk, naamlik: Ons wil vir kunstenaars ’n platform skep om hulle te kom uitleef en hulle kuns te deel, en ons wil vir feesgangers ’n lekker tyd gee. Ek het ook by Elmari Rautenbach aangeklop, wat vir baie jare die Skrywersfees met groot sukses gereël het. En toe het ek by die uitgewers gaan aanklop om te hoor watter boeke op pad is, en van daar af begin legkaart bou om soveel as moontlik boeke en skrywers by die fees te kan betrek. 

Ek dink nogal nie jy’t iets misgekyk in terme van die oorkoepelende kategorieë nie.

Foto’s deur Bibi Slippers: verskaf

Wat van temas? Wat het jy raakgesien wat saam moes wees op die program – omdat daar vergelykings is om te tref of omdat dit verskillend is?

Dit was vir my interessant om te sien hoe die boeke hulleself uitsorteer. Ek het idees gehad en dinge saam begin groepeer, en soms, nadat ek met ’n moontlike fasiliteerder gesels het, of vinnig vir raad aangeklop het by lesers, skrywers of publisiteitsmense, het ander formasies en groepies en bondeltjies boeke saam beland. Ek wou nie die temas te “benoud” maak nie, en ek het so ver as moontlik probeer om onverwagse kombinasies te maak, en ook interessante mense met mekaar probeer kombineer. 

Daar is unieke items ook - ek hoor ’n voëltjie fluit Taylor Swift maak haar opwagting. Vertel tog, asseblief.

As Taylor Swift self ’n opwagting sou maak, sou die voëltjies nie net fluit nie, jy sou wéét! Dat ’n paneel van 13 aanhangers laataand gaan gesels, dig en musiek maak, en die werk van dr Taylor Alison Swift saam met al die Swifties in die Boland gaan vier ... dít gaan beslis gebeur! Ander uitstaande items is die Harry Potter Partytjie – om die verskyning van die nuwe uitgawe van die reeks in Afrikaans te vier. Dis ’n dress-up partytjie en daar is Harry Potter-geïnspireerde kos en drankies, ’n vasvra en musiek en ander joligheid. Mammas (en pappas) moet ’n tydjie vir hulleself neem en die ouerskapbespreking en ete by Lanzerac bywoon. Dit gaan oor die boek We were perfect parents until we had children deur Vanessa Raphaely en Karin Schimke, en die model en ma (en modelma!) Katryn Kruger gaan met Vanessa en Karin oor die boek praat. Vir die boekklubsessie, Draaie, swaaie en afdwaalpaaie, neem ons feesgangers letterlik op reis – hulle gaan by verskillende lokale aanklop waar hulle op reisverhale trakteer gaan word, so reg uit die perd/skrywer se bek!

Gaan die meeste van die boekgesprekke in die Boektent wees, oudergewoonte? Waar kan mense die boekgesprekke kom bywoon?

Die meeste gesprekke is in die Boektent en in die US Museum Anneks, maar daar is ook boekdinge by Daisy Jones Bar, by die Kaya en op verskeie ander plekke. Al die inligting is in die feesgids en op die fees se webwerf, en as jy verdwaal of enige ander hulp nodig het, is daar altyd feespersoneel in die Erfurthuis om jou te help. Daar is ook woordspeletjies in die Speelkamer, en soggens kan jy kom kyk hoe skrywers teen mekaar Ex Libris speel – dis ’n spel van openings- en slotreëls, en skrywers kompeteer om die beste reëls te skryf, teen die korrekte gepubliseerde reël wat tussen hulle antwoorde versteek word. 

Is daar boeke wat vir jou uitstaan wat jy eenvoudig nie kan wag om ons lesers van te vertel nie?

Mens wil nie eintlik dinge uitsonder nie, maar ... daar is aansteeklike opgewondenheid onder die uitgewers oor Jeremy Veary se roman Rooisand (ook in Engels beskikbaar as Crimson sands). Ek is baie opgewonde om dit te lees. Lourensa Eckard se gesprek met Ryan Sandes oor sy boek Run. Risk. Reward is hoog op my persoonlike lysie van onmisbare boekpraatjies. Ek kan nie wag om te hoor hoe Elzabé Zietsman vir Irma Venter oor haar jongste boek, Al wat tel, pols nie. Die kombinasie van Ingrid Winterbach en Ivan Vladislav, wat in gesprek gelei word deur SJ Naudé, maak my ook opgewonde. Vir die mense wat nuuskierig is oor politiek, het ons ’n lekker boekklub waar Waldimar Pelser met Pieter du Toit en Oyama Mabandla gaan gesels oor Super cadres en die geveg om die siel van Suid-Afrika.

En wat ’n jaar was dit nie vir digkuns nie! Lynthia Julius (Kinderlê), Danie Marais (ek en jy bestaan nie), Alwyn Roux (Weerspieël), Jaco Barnard Naudé (om my kastele in Spanje te sloop), Riku Lätti (Taboek), Martina Klopper (Kuborg) en Maritha Broschk (wanneer woorde asemhaal) gaan almal by die fees wees – en die geliefde rubriekskrywer André le Roux kom stel ook sy bundel by die Woordfees bekend, by een van ons Boekklubs. Danie Botha, Andries Bezuidenhout, Irma du Plessis, Churchil Naudé en ’n hele streep musikante gaan die werk van Koos du Plessis vier, en Francois van Coke en Annie Klopper gaan kom gesels oor Francois se outobiografie, waaraan Annie help skryf het. Nathan Trantraal se grafiese roman Die man wattie kinnes vang is ook op die program – Nathan gesels saam met Lynthia Julius en SJ Naudé oor die verantwoordelikheid, vreugdes en vrese wat kom met ’n groot beurs soos die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs. Daar is ook panele van krimiskrywers, debuutwerke, lirieke, baie niefiksie oor prikkelende onderwerpe. Jy moet my eintlik weer volgende week vra, dan gee ek vir jou 19 ander antwoorde! Blaai deur die program, hetsy op papier of aanlyn, Naomi – daar is werklik iets vir elke leser se smaak.

Waarom is boeke lewensbelangrik? Om te lees, om te leef? 

Kenneth Burke het dit so mooi gestel: “Stories are equipment for living.” En daar is dinge wat boeke eenvoudig beter doen as enige ander media. Ek het nou onlangs weer (sommer twee keer) Annie Dillard se boek The writing life gelees, en sy skryf so presies daaroor dat nét boeke LETTERKUNDE kan wees. Boeke help ons helder dink, nuanse sien, begrip hê, ons in ander lewens en realiteite inleef (sonder om skade aan onsself aan te rig). Ek kan my nie my lewe sonder boeke indink nie. Ek wil nie. As jy ’n leser is, verstaan jy die bevrediging wat net ’n boek kan bied. En by die Woordfees, wat immers as ’n skrywersfees begin het, maak ons baie tyd en plek vir boeke, die mense wat boeke maak, en die mense wat boeke lees.

Lees ook:

Persverklaring: Die 2024 Woordfees speel, sprankel en spruit dié blomtyd uit

Persverklaring: Dié skrywers het die 2024 Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel gehaal

Persverklaring: Taalgenoot-RUK EN RYM stook alternatiewemusiekvlam

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top