Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Skatkis vol stories – ’n onderhoud met Danneline Ramsden

  • 0

........
Ek is baie lief om Namawoorde te gebruik in my produksies. Dit gee my die geleentheid om mense bloot te stel aan die taal. Een van my gunstelingwoorde is “xhoulag” wat beteken om diep en uitbundig uit jou maag uit te lag.
........

Danneline Ramsden praat met Naomi Meyer oor Danneline se Skatkis vol stories by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees.

Danneline, eerste wil ek jou gelukwens met jou verjaardag. Ek weet dit was onlangs ’n belangrike verjaardag vir jou. En ek sien ook jy gaan ’n skatkis vol stories by die Woordfees ontsluit. Ek wil jou wel by die diep kant ingooi: Ek het van jou verjaardag gepraat, want jare gelede, toe jy gebore is, was die land nog ’n baie ander plek as wat dit nou is. Was jou stories van kleins af gelukkige stories? Begin by klein-Danneline en jou heel eerste herinneringe. Aan jou wêreld, en aan hoe die land was.

Ek was van kleins af ’n baie gelukkige kind. Ons het meer buite as binne gespeel. Sommige kinders van vandag weet nie eens hoe om vuil te word nie. Ek was meestal kaalvoet, soos ek nog steeds is, behalwe in die winter. My ma het altyd gesê trek aan jou skoene, jy sal maagpyn kry. Ons het by mekaar se huise gespeel. As ons in die moeilikheid was, was almal gewas, gestryk, netjies opgevou en weggepak. Jou kind was my kind en andersom. Ons moes namiddae ’n sekere tyd in die huis wees vir aandete, boekevat en was, soms geskrop met klapperhaar (eina), want more is skool. My kinderjare sal vir altyd by my bly. Dis waar al my drome begin het. Ek het van kleins af groot gedroom en geweet ek was bestem vir groot dinge.

Later jare ... maar voordat jy in die vermaaklikheidsbedryf was. Wat het jy toe gemaak, Danneline? Het jy nog in Namakwaland gewoon en gewerk? Wie was jy as grootmens, voordat jy begin het om stories te vertel voor baie mense? En het jy nog altyd gehou van die vermaaklikheidswêreld, selfs voordat jy op die planke was?

Na skool was ek in die onderwys vir 10 jaar. Ek was deel van VCSV (Verenigende Christen-Studentevereniging). In VCSV kon ek my ook uitleef in drama, dans, sing, kinderteater (hanswors, poppekas). Nadat ek in VCSV halfdag begin werk het, het ek 10 jaar gelede begin Namakwaland-stories vertel. Ek glo in mentorskap en ontwikkeling van jongmense en beywer my nog steeds daarvoor. My eerste deelname aan ’n storievertelproduksie genaamd Woordkaros was in 2014 by die Woordfees. Daar het my professionele loopbaan as storieverteller begin.

Ek was vanaf my kinderjare lief vir die verhoog. Vir my kom dit baie natuurlik. Ek was my lewe lank elke dag heeldag in karakter. Op laerskool en hoërskool was ek altyd betrokke by kuns en kultuur. Ek was ook betrokke by Kollig Dramaskool in Stellenbosch. 

Ek was ‘n rukkie deel van ATKV Crescendo, waar ek geleer het om liedjies te skryf. Ook het ek kinder- en kortverhale geskryf wat in verskillende boeke saam met ander skrywers se werk gepubliseer is. Die groot voorreg wat my te beurt geval het, was toe my kinderverhaal “Kosbare juwele” gepubliseer is in die voorgeskrewe boek vir graad 7 tot 9 Afrikaans Tweede Taal, Leë blikkies vol liefde.

Wat het gebeur dat jy op ’n dag begin toneel speel, begin stories vertel, begin kreatief werk het met tydskrifte en al die ander dinge waarmee jy nou besig is? Was daar een gebeurtenis wat dit bewerkstellig het? Of verskillende dinge?

Nou, in 2024, toe ek 50 jaar oud geword het, het ek die Here gevra vir ’n nuwe uitdaging by wat ek reeds doen. Ek wou nuwe dinge leer en ervaar en ook ’n bydrae lewer vanuit my lewenservaring.

The Stellenbosch Magazine het my pad gekruis. Min het ek geweet my liefde vir lees en vir tydskrifte sal my eendag uitbring by die redakteur van daardie tydskrif. Die tydskrif is ’n gemeenskapsglanstydskrif en die voertale is Afrikaans en Engels. 

Woorde is mos waaroor die Woordfees gaan. Ek sien jy gaan in Namakwa-Afrikaans jou stories vertel. Wat is “xhoulag”? En is daar Namakwaland-woorde wat jy met ons lesers kan deel sodat ons jou produksie sommer nog beter sal verstaan?

Ek is baie lief om Namawoorde te gebruik in my produksies. Dit gee my die geleentheid om mense bloot te stel aan die taal. Een van my gunstelingwoorde is “xhoulag” wat beteken om diep en uitbundig uit jou maag uit te lag. Mense gaan saam met my op reis en kry die geleentheid om ’n dieper kykie in my lewe te kry. Ons gaan lekker xhoulag en wie weet dalk ’n traantjie of twee pink.

Saam met Jeremeo Le Cordeur, die regisseur, en die Namakwalandse aktrise Miché van Wyk gaan ons almal in vervoering het. Kom ontdek die Skatkis vol stories saam met ons.

Waar is die produksie, wanneer vind dit plaas en waar kan mense kaartjies koop?

Saterdag 28 September 2024 om 11:00, asook Sondag 6 Oktober 2024 om 16:00 by Drostdy Teater. R140 op Quicket en R170 by die deur.

https://woordfees.co.za/en/program/skatkis-vol-stories

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Stap in Idasvallei

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Saartjie Botha

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Bibi Slippers

Persverklaring: Die 2024 Woordfees speel, sprankel en spruit dié blomtyd uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top