Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Saartjie Botha

  • 0

Kloksgewys: Mandisi Dyantyis; Anna-Mart van der Merwe in Speelgoed van glas; Double trouble (Bettie vannie Selle en Chronicles vannie Lavis); en Carla Smith en Atandwa Kani in Othello. Foto’s: woordfees.co.za

Saartjie, dit reën nog, maar dis amper heerlike lente en tyd vir die Woordfees. Heel eerste: Mense vra reeds oor die programboekie. Is dit al beskikbaar?

Die feesgidse is beskikbaar by die feeskantoor: Erfurthuis, Ryneveldstraat 37 in Stellenbosch. Feesgangers kan ook die vorm op ons tuisblad invul en jou feesgids word dan met komplimente van Aramex gratis by jou huis of kantoor afgelewer. Die feesgids kan ook elektronies afgelaai word – beskikbaar in Afrikaans en Engels.

Dis ’n stampvol program. Hier is ’n baie lywige boekprogram, sien ek. En ’n boekklubkomponent daarby. Teater, dans, kinderprogram, musiek, diskoers en film. Is daar iets wat jy spesifiek vanjaar wil uitsonder?

Ons klassiekemusiekprogram is besonder sterk; die skrywersprogram het ’n lekker vars aanslag; terwyl die toneelprogram ’n goeie mengsel van nuwe werk en uitstaande bestaande werk is. My top tien moenie-misloop-aanbiedings van die jaar is, in alfabetiese volgorde – gerig op ’n gehoorlid met ’n wye algemene belangstelling (uitgesluit skrywersgesprekke en diskoers):

Exit / Exits
Double trouble
Frieda van den Heever: Spoorsny
Hedda Gabler
Isidlamlilo / The fire eater
Klavier-extravaganza
Mandisi Dyantyis
Othello
Speelgoed van glas
US Koor

En spesiale vermelding van The king of broken things.

Vertel my asseblief van die tema, Speel. Dit klink darem vrolik en jolig. Voel die Woordfees uitbundig? Hoe en waarmee speel julle vanjaar?

Ons speel met oorgawe, oral waar ons kan, behalwe tweede viool en parte speel. Ons wou ’n tema kies wat ligter voel – daar is genoeg ander sake om oor bekommerd te wees. Speel vra oorgawe en medepligtiges, en daarvan het ons oorgenoeg by die fees. En dan het ons natuurlik kunstenaars wat hulle harte gaan uitspeel. Kom speel saam in ons spesiale speelkamer in die vierkant van die US Museum.

........
Ons speel met oorgawe, oral waar ons kan, behalwe tweede viool en parte speel. Ons wou ’n tema kies wat ligter voel – daar is genoeg ander sake om oor bekommerd te wees. Speel vra oorgawe en medepligtiges, en daarvan het ons oorgenoeg by die fees.
........

Hoekom is die Woordfees nog lewensbelangrik en noodsaaklik?

Die Woordfees bring ’n skoot verbeelding en moontlikheid en aspirasie na ’n dorp soos Stellenbosch, en uiteindelik baat ’n hele gemeenskap daarby. Die vermoë van ’n kunstefees om ’n dorp ’n beter plek te maak om in te bly, moet nie onderskat word nie. Die bied ook aan kunstenaars ’n platform en inkomstegeleentheid. Kunstenaars lei gehore na nuwe ervarings en belewenisse, en maak mense psigies weerbaar en gesond.

Waar koop mense kaartjies? En enige praktiese reëlings wat jy wil uitsonder vanjaar?

Kaartjies is beskikbaar by Quicket. Vir spesiale aandag, raad en leiding, kom maak gerus ’n draai by ons kaartjieskantoor waar Olivia en Chimenay regstaan om te help. Onthou Stellenbosch het nie genoeg parkeerplek nie; gebruik dus ons gerieflike pendeldiens. Parkeer en pendel vanaf Oude Libertas Amfiteater of Kochstraat. Ons visuele kunsveiling in samewerking met Strauss & Co is vanjaar ’n stilveiling – meer as 120 werke is te koop.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Bibi Slippers

Persverklaring: Dié skrywers het die 2024 Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel gehaal

Persverklaring: Die 2024 Woordfees speel, sprankel en spruit dié blomtyd uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top