
Hoe het dit skielik laat geword? met Babette Viljoen (trekklavier en sang) en Olga Leonard (klavier) by die Toyota Stellenbosch Woordfees 2024
Olga Leonard praat met Naomi Meyer oor Olga se woordkunsproduksie by die Toyota Stellenbosch Woordfees vanjaar.
Olga, kan jy vir ons lesers agtergrond gee van wie jy is en wie almal by die Olga Kirsch-produksie (Hoe het dit skielik laat geword?) by die Woordfees betrokke sal wees?
Ek is ’n musikant, liedjieskrywer en komponis en ek woon in Kaapstad. Ek en Babette Viljoen het in 2014 vir die eerste keer saam ’n woordkunsproduksie aangepak. Dit was God die digter met TT Cloete (hy was self die voorleser) en dit was ter viering van sy 90ste verjaarsdag. Van daar af het die proses so half natuurlik verloop: Ons het onder andere ’n Eeu van Eybers gedoen in 2016, Krog in 2018 (wat met ’n Aardklop-prys vir die beste musiekgedrewe produksie bekroon is), Sixty-Love saam met Joan Hambidge, Skynskadu (Christine Barkhuizen le Roux) en nog ’n klompie ander. Laasgenoemde bundel is uitgegee met klankopnames van die toonsettings saam met die bundel.
Vir Hoe het dit skielik laat geword? het ons die resep so ’n bietjie probeer verander. Ons het dikwels in die verlede met ander musikante saamgewerk, maar vir die eerste keer is dit nou juis niemusikante. Ons het ’n visuele been bygesit en ook hierdie keer iemand anders vertrou met die bindingsteks. Stephanie Gericke het in 2023 die gedigte vir die “Winterson”-sangsiklus geskryf en haar werk pas so mooi by Kirsch se gedigte. Llandi Beeslaar doen die regie, beligtingsontwerp en beeldmateriaal. Llandi is op haar beurt weer kreatief met spasie en lig en donker – die tipe goed waaraan ons nooit tevore in die produksies aandag gegee het nie.
Die produksie is ’n woordkunsproduksie van Olga Kirsch se gedigte - toonsettings, en voorlesings, is ek reg? Wat gryp jou aan van hierdie digter en haar werk?
Jy is reg ja, hoofsaaklik toonsettings met bindingsteks met beeld. Ek het Kirsch se biografie deur Egonne Roth gelees, en ’n hele klomp temas en ervarings in haar lewe is so bekend. Op ’n ligte noot: Ons kom albei van die Noord-Vrystaat af, maar behalwe daarvoor is daar die universele temas van verlange, liefde, behoort, en dan natuurlik haar bydrae as die tweede vrou wat in Afrikaans gepubliseer het, ná Eybers. Sy het dus baanbrekerswerk gedoen vir al die vroue wat daarna gevolg het.
Watter gedigte van Olga Kirsch is ter sprake en sal mense in hierdie produksie kan aanhoor?
Soos jy seker uit die titel kan aflei, gebruik ons die gewilde “Hoe het dit skielik laat geword”. Dan is daar ook “Vyf sonnette aan my vader”, “Illusie”, “Al rus jy jou hoof teen myne” – ons het 14 toonsettings gedoen vir die produksie. Kirsch se oeuvre is nie so groot soos van die ander digters s’n waarmee ons al gewerk het nie – dit maak die keuses tegelyk eenvoudiger en ook moeilik: Jy kan nie té kieskeurig wees nie, maar die kans dat mens van haar belangrike werk heeltemal miskyk, is ook skraal. Anders as byvoorbeeld Hambidge of Krog.
Ek sien daar staan in die beskrywing van die item dat dit handel oor stemme van vroue wat nie gehoor is nie, dinge wat deur die eeu dieselfde gebly het en dinge wat verander het. Wil jy dalk hierop uitbrei?
Soos ek reeds genoem het, is die temas wat voorkom in Kirsch se werk vandag nog relevant. Sy skryf breed oor geloof, liefde en om ’n buitestander te wees. Sy word groot as ’n Joodse meisie binne ’n Afrikaner-plaasgemeenskap. Sy verloor as jong meisie haar pa. Sy raak verlief, sy kry seer, sy trou, het kinders. Selfs die oorlog wat sy as jongmens deurmaak het, is nie uniek in 2024 nie.
Sy vestig haar later in die buiteland (Israel), soos vele Suid Afrikaners steeds doen, as ons maar kyk na die eksodus na Kanada, Australië en Engeland. Self dit is nie nou meer uniek nie (dalk wel in die ’40’s?).
Wat is die belang van die finansiële steun van die ATKV en die platform wat die Woordfees bied vir ’n produksie soos hierdie?
Die ATKV is ons nog altyd goedgesind met ons produksies. Ek en Babette is beide “produkte” van die Crescendo Liedjieskryfkompetisie en stap reeds ’n lang pad saam met die ATKV. Ek glo dat dit vir die ATKV, die Woordfees en ander feeste ewe belangrik is om ons digters te vier, oud en nuut. Ek glo dat ons met hierdie produksie vir Kirsch ’n nuwe baadjie aantrek en haar dalk net weer toeganklik maak vir ’n gehoor in 2024.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Saartjie Botha
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Bibi Slippers
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Cintaine Schutte oor ’n Begin
Lara Foot’s Othello at the Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Merwe van Gent’s review
Lara Foot’s Othello at the Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Angelique Filter’s review
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Skatkis vol stories – ’n onderhoud met Danneline Ramsden
Persverklaring: Dié skrywers het die 2024 Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel gehaal
Persverklaring: Die 2024 Woordfees speel, sprankel en spruit dié blomtyd uit