Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Zorada Temmingh oor Hoe speel die orrel (sit-sit so)?

  • 0

https://woordfees.co.za/program/hoe-speel-die-orrel-sit-sit-so/

Zorada Temmingh is ’n bekroonde orrelis en word beskou as een van Suid-Afrika se voorste orrelimprovisators, veral vir haar vernuwende klankbaanimprovisasies vir stilfilms. Zorada tree landwyd op in uitvoerings van stilfilmimprovisasies en vrye improvisasies op kerkliedere. As solis het sy al saam met die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees se simfonie-orkes, die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en die Hugo Lambrechts Simfonie-orkes opgetree. Sy het in die Verenigde Koninkryk by die Buxton International Festival (2019 en 2020) opgetree en konsertreise na die VSA, Switserland, België en Namibië onderneem. Hier is nog inligting oor Zorada.

Sy tree vanjaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees op en praat met Naomi Meyer oor Hoe speel die orrel (sit-sit so?).

Zorada, jy improviseer telkens met die orrel en mense stroom op Kersdag na die Moederkerk van Stellenbosch om jou te hoor speel. Hoe oud was jy toe jy die eerste keer die orrel bespeel het en wanneer het jy jou passie daarvoor ontdek?

.............
Ek het langs die orrel grootgeword met ’n ouma en ma wat orreliste was. Ek het eers in graad 10 (15+ jaar oud?) orrellesse begin neem, en terstond viool as tweede instrument gelos omdat orrel soveel makliker was!
..............

Ek het langs die orrel grootgeword met ’n ouma en ma wat orreliste was. Ek het eers in graad 10 (15+ jaar oud?) orrellesse begin neem, en terstond viool as tweede instrument gelos omdat orrel soveel makliker was! Die passie het eintlik eers gaandeweg ontwikkel sedert ek as orrelis by die Stellenbosch Moederkerk aangestel is in 1986.

Jy tree gedurende die Woordfees op in ’n item met die titel Hoe speel die orrel (sit-sit so?). Wat behels hierdie geleentheid? Wat kan mense hier hoor of uitvind?

Min mense wat weet hoe ’n orrel klink, weet ook hoe die klank gebeur. In hierdie praat-en-wys gesels ek oor hoe ’n klawer se afdruk ’n pyp laat praat, oor hoe verskillende klankkleure geskep word wat die orrel amper soos ’n orkes kan laat klink, oor hoe die orrelis soos ’n seekat tekere moet gaan om betyds by al die note en knoppies uit te kom.

...........
Min mense wat weet hoe ’n orrel klink, weet ook hoe die klank gebeur. In hierdie praat-en-wys gesels ek oor hoe ’n klawer se afdruk ’n pyp laat praat, oor hoe verskillende klankkleure geskep word wat die orrel amper soos ’n orkes kan laat klink, oor hoe die orrelis soos ’n seekat tekere moet gaan om betyds by al die note en knoppies uit te kom.
............

Ek wys hoe die orrel agter die indrukwekkende frontpype lyk, daar waar 3 000 pype en vyf windreservoirs ingeprop staan.

Waar vind hierdie geleentheid plaas en wat is die wondere en die uitdagings van hierdie spesifieke ruimte vir iemand wat die orrel bespeel?

Dit vind plaas in die Stellenbosch Moederkerk op Dinsdag 1 en Woensdag 2 Oktober,  12:30–13:00, net voor die daaglikse middaguurorrelkonserte. Hierdie spesifieke ruimte is ’n baie lekker plek vir ’n orrelis: ’n pragtige en kragtige orrel, ’n lieflike katedraalagtige gebou met kleurglasvensters wat inspireer, en hartlike mense wat jou tuis laat voel.

..........
Hierdie spesifieke ruimte is ’n baie lekker plek vir ’n orrelis: ’n pragtige en kragtige orrel, ’n lieflike katedraalagtige gebou met kleurglasvensters wat inspireer, en hartlike mense wat jou tuis laat voel.
............

Wat is jou persoonlike gunstelinge op die orrel?

Die grootste opwinding is as ek een van my stilfilm-met-orrelklankbaan-produksies doen; die mees onlangse een is The four horsemen of the apocalypse wat ek ook in Engeland gedoen het.

Sal jy asseblief vir ons iets op die orrel speel sodat ek dit op LitNet kan inbed by hierdie onderhoud?

Ek het die laaste deel van Saint-Saëns Orrelsimfonie opgeneem, maar dis op selfoon, so die orrel se klank kom nie naastenby realisties deur nie.

Dit word hier ingevoeg. Luister hier onder:

Die Feesboek se inligting oor Hoe speel die orrel (sit-sit so)? is die volgende:

“Die Koning van instrumente”. “Box of Whistles”, soos my klavierdosent fronsend daarna verwys het. “Die Magtige Dreuning”. Die onderwerp van amper net soveel grappe as oor altviole. Klawerbord- of blaasinstrument? Meganiese, pneumatiese, elektriese, of digitale instrument? Praat, sing of skree ’n orrelpyp? Watter pyp maak watter klank? En hoe speel die ding nou eintlik? Zorada gesels en wys hoe.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Bibi Slippers

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Saartjie Botha

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Stap in Idasvallei

Lara Foot’s Othello at the Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Merwe van Gent’s review

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Skatkis vol stories – ’n onderhoud met Danneline Ramsden

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Cintaine Schutte oor ’n Begin

Lara Foot’s Othello at the Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Angelique Filter’s review

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top