Mercy Kannemeyer praat met Naomi Meyer oor Marie se laaste dag, wat drie toekennings by die Silwerskermfees ontvang het en binnekort by die Toyota Stellenbosch Woordfees speel.
Silwerskerm is ’n hoogtepunt op die Afrikaanse feeskalender en ook ’n hoogtepunt vir fliekliefhebbers. Hoekom het jy besluit om deel te neem?
Silwerskerm bied ’n ongelooflik goeie platform vir skrywers, regisseurs, akteurs, crew en ander rolspelers binne die Afrikaanse filmlandskap. Dit is die ideale plek om idees te toets, jou stem te probeer vind, en kanse te waag voordat jy jou vlerke sprei en op ’n groter skaal begin skep. Ek wou nog altyd aan die Silwerskermfees deelneem, en ek’s baie dankbaar dat ek die geleentheid gekry het om saam met Lourensa Eckard ’n projek soos Marie se laaste dag op te droom. Lourensa het soveel insig en kennis oor ons land en haar mense. Sy’s wyd belese en saam kon ons ’n veilige kreatiewe spasie skep om Marie se storie te vertel.
Daar was ook ongelooflike mentors wat die skryfproses gefasiliteer het en wat gehelp het om die produk te kry waar dit vandag staan. Ek moedig graag almal aan om vir die Silwerskermfees in te skryf. Die fees is nie voorskriftelik wat inhoud en idees betref nie. Inteendeel, die Silwerskermfees-span bied ’n hawe en gesonde vangnet vir enige kreatiewe mens wat nie bang is om hulle hande vuil te maak nie. Dis harde werk, maar dis so lekker!
Jy is ’n teatermaker. Wat was vir jou anders aan die filmproses en hoe het film verskil van die verhoog?
Die grootste verskil is die live element van teater, wat natuurlik nie ter sprake is wanneer dit by film kom nie. Op die verhoog, wanneer dit show time is, het jy daai een kans! Tydens die verfilmingsproses kan jy natuurlik tonele oor en oor doen totdat jy die perfekte toneel kry. Die skryfproses is ook anders. Met die skep van ’n verhoogstuk hou ek daarvan om te dink dat die stuk nooit klaar is nie. Elke optrede verskil. Die teks kan elke keer verander. Afhangend van die reaksie van die gehoor (daai live element!) kan ’n teatermaker elke keer terug gaan na die teks en veranderinge aanbring soos hulle lus kry. Ja, ’n filmdraaiboek kan ook verander, maar dit voel asof die verhoog meer genadig teenoor die skryf- en skepproses staan.
Jare gelede het jy ’n teaterstuk gemaak met die naam Die nuwe nuwe Republiek van Suid-Afrika (NRNNSA). Ook ’n komedie, ook iets wat draak steek met oorgangstydperke. Mense wat met mekaar moet saamwerk wat vooroordele het oor mekaar. Is dit iets wat jou interesseer, of is dit net toevallig, hierdie tydperke van skommelinge?
Die tematiek van ons land en sy dinge interesseer my geweldig! Ek’s ook mal oor komedie. Die tipe komedie wat van ver af dalk nie so snaaks lyk nie. Ek hou daarvan om mense met verskillende agtergronde en oortuigings saam te gooi en te kyk wat daaruit kom. Wat dink en sê ons van mekaar wanneer ons ruimtes moet deel? Wanneer ons nie van mekaar kan ontsnap nie? Dis daai onwaarskynlike mengelmoes van mense wat my fassineer. Ek vra altyd vir myself: “Oukei, wat van as …?” En dan laat ek my verbeelding toe om op hol te gaan! Ons land en sy mense het nie ’n tekort aan materiaal nie. Ons moet net wakker slaap!
Wat oorgangstydperke betref ... ja. Ek hou daarvan! Seker oor ek in 1994 gebore is! Die ding met oorgangstydperke en skommelinge is dat daar geweldige spanning daarin opgesluit lê. Die onsekerheid. Die vrae. Die onbekende. Die potensiële ramp! En ek probeer hard om stories op grond van daardie spanning te bou. Kry dit nie altyd reg nie! Maar ek probeer.
Mens kan so maklik terugval op clichés en stereotipes as mens by Suid-Afrikaners en hulle rassevooroordele kom. En verder is dit so bitter moeilik om grappies te maak met mede-Suid-Afrikaners, juis omdat ons almal mekaar so dikwels stereotipeer. Hoe weet jy wanneer humor gaan werk, al dan nie?
Dis waar! Die clichés en stereotipes is nog volop! En al is ons ’n land wat baie en graag lag, is dit nie altyd so maklik om oor sensitiewe kwessies soos ras en ons verlede te lag nie. Die beste advies wat ek gekry het, is die hele konsep van “punching up”. Dit kom byvoorbeeld daarop neer dat diegene in magsposisies aan die gatkant van die grap beland. Diegene met sogenaamde hoë posisies in die samelewing, hulle wat ’n beter sosiale posisie beklee. Jy lag vir die CEO. Komedie hoef natuurlik nie so voorskriftelik te wees nie, en dis vir seker nie almal wat grappe op hierdie wyse vertel nie. Ek verkies net om nooit mense te verkleineer, onregverdig te beoordeel, en die spot te dryf met kwessies of situasies waarin ek myself nie kan sien nie. Dis ’n bitter fyn lyn, want deur die hele konsep van “punching up” aan te neem, wil ek natuurlik nooit mense wat nie aan die ontvangkant van die grap is, patronise deur aan te neem hulle beklee laer posisies in die samelewing en daarom kan daar nie vir hulle gelag word nie.
Iets wat ek by Desiré Gardner gesteel het, is hoe sy so mooi verduidelik van skrywers wat hulle skrywersintuïsie moet vertrou. Wanneer jy die vertroue op die regte plek plaas, kan jy selde foutgaan. Jy weet wanneer jy weet. Dis ongelukkig iets wat ’n mens nie sommer so kan aanleer nie. Met moontlik sensitiewe materiaal, al is dit ’n komedie, sal ek ook nooit doelbewus skok nie. Die skokfaktor is oud en goedkoop. Daar’s slimmer maniere om stories te vertel.
.............
As skrywer neem ek ook altyd my gehoor in ag. Wie is my gehoor, wat gaan hulle geniet, wat gaan hulle bevraagteken, en wat wil ek met hulle deel? Is dit pure vermaak, of wil ek hê die gehoor moet huis toe gaan en oor die storie dink of stry of wat ook al.
.............
As skrywer neem ek ook altyd my gehoor in ag. Wie is my gehoor, wat gaan hulle geniet, wat gaan hulle bevraagteken, en wat wil ek met hulle deel? Is dit pure vermaak, of wil ek hê die gehoor moet huis toe gaan en oor die storie dink of stry of wat ook al. Iemand wat sy gehoor baie goed geken het, is Leon Schuster. Hy’t op sy dag die land en sy mense so goed verstaan dat ons almal, deur die bank, vasgenael voor die TV was wanneer een van Leon se films gewys het. Mense het hom nou wel later probeer cancel toe ons almal so woke geraak het. Punt is – sy storievertelling het destyds mense van verskillende agtergronde saamgebring. Hy’t met almal gespot. En baie belangrik – hy’t geweet hoe om met homself te spot.
Vertel my net gou van die karakters van Marie se laaste dag – wie was hulle (en bestaan hulle dalk vandag nog, baie jare na 1994)?
Ons het vir Marie, jare lange sekretaresse vir minister Van der Merwe. Minister van der Merwe is minister van minerale hulpbronne in die ou bedeling. Minister Khumalo is minister van verdediging, en sy sekretaresse is Thandi Nxesi.
Indien hierdie mense vandag nog bestaan, steek hulle hulleself baie goed weg!
Die fliek het drie pryse by die Silwerskermfees losgeslaan (beste draaiboek, beste kortfilm en beste kinematografie). Wat doen ’n mens wanneer die fliek waarvan jy deel was, al hierdie pryse wen?
’n Mens sê dankie vir almal wat dit moontlik gemaak het. En beweeg aan na die volgende projek!
En wat is jou volgende projek?
Ek het onlangs by die Universiteit van Johannesburg begin klasgee. Ek doen ook my DPhil in Afrikaans. Akademia is my volgende projek! Maar daar’s altyd ’n laai vol idees vir teaterstukke en films en rondspeel in die kunste. Ons sal maar sien!
Lees ook:
Skermgreep: kykNET Silwerskermfees 2024 – ’n blik op die pas afgelope fees
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Alfred & Marc – ’n onderhoud met Alfred Adriaan
Die Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe