Suidoosterfees 2018: Die toneelstuk NRNNSA, transformasie en die toekoms van teater: ’n onderhoud met Mercy Kannemeyer

  • 0

Mercy Kannemeyer (Foto: Izak de Vries)

Ses gesinne ding mee vir ’n plek in die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika. Die kompetisie is geskep as gevolg van ’n tekort aan transformasie in die huidige “nuwe Suid-Afrika”.

Dít is NRNNSA in ’n neutedop, ’n nuutgeskrewe toneelstuk, geskep deur dramastudente van die Universiteit Stellenbosch wat binnekort by die Suidoosterfees te sien is. Boonop spog die geselskap met ’n Kanna-benoeming na afloop van 2018 se KKNK.

Die regisseur van die toneelstuk, Mercy Kannemeyer, gesels teater, die veranderende tye, en natuurlik wat dit verg om ’n produksie soos NRNNSA op die been te bring.

Carla Smith, Lara de Bruijn, Devonecia Swartz en Kristin Pienaar, die vroulike spelers van NRNNSA.

Mercy, hoe het julle op die interessante naam van die produksie NRNNSA, oftewel Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika, besluit? Of dalk anders gestel: Vertel asseblief kortliks waaroor die produksie gaan en hoe die idee van die toneelstuk ontstaan het.

Die “nuwe” Suid-Afrika, die een waarin ons nou leef, is in terme van die toneelstuk “ou nuus”. Daar word dus ’n kompetisie gehou vir mense wat na die “nuwe nuwe” Suid-Afrika toe wil gaan. Een van die akteurs van die produksie, Hendrik Nieuwoudt, verduidelik dit as volg: “Basies was ons idee om te spot met die reënboognasie en hoe ons land werk. Ons wonder toe, sê maar daar kan ’n nuwe land wees waar ’n mens heen kan gaan? ’n ‘Nuwe nuwe’ land?” Dís hoe die naam van die toneelstuk toe ontstaan het.

Die kompetisie word gehou om te kyk wie die mees “getransformeerde” gesin of mense is, want slegs hulle gaan die geleentheid kry om hulself in die “nuwe nuwe” land, die NRNNSA, te gaan vestig. Ses gesinne ding mee, en hulle het elkeen hul redes waarom hulle na die nuwe land toe wil trek. Hulle almal meen hulle is getransformeer en sal ’n goeie fondasie vir die NRNNSA kan skep.

Die toneelstuk belig hoe ver ons as ’n land nog het om te gaan voordat ons werklik kan verenig, maar ons pak dit op ’n manier aan, of probeer ten minste, wat wys dat ons almal uiteindelik gaan moet saamwerk, en dat daar geen heilige koeie is nie.

Die idee van die produksie het ontstaan toe ’n deel van die geselskap, in hul eerste jaar as dramastudente aan die Universiteit Stellenbosch, met ’n konsep vir ’n parodie of satire vorendag moes kom vir die klas van een van hul dosente, die aktrise Nicole Holm. Die idee agter NRNNSA is toe in 2016 gebore. Die oorspronklike geselskap wou kommentaar lewer oor ons land en die mense in ons land. Baie van die dinge wat gesê word in die teks is goed wat mense regtig gesê het en wat ons al gesien het.

In 2017 besluit die geselskap toe om die toneelstuk na die Vrystaat Kunstefees te neem, waar hulle deel was van die Vrynge-program en boonop “beste Vrynge-produksie” gewen het. Hulle besluit toe in 2018 om my in te kry as regisseur. Ons het die teks verwerk en verder gespeel om die produksie te ontwikkel tot waar dit nou is.

Devonecia Swartz en Reuben Murphy.

Watter temas spreek julle aan in die toneelstuk?

Die temas wat aangespreek word, is rassisme, seksisme, apatie, vooroordeel, en ons sogenaamde “wokeness”. Elke gesin in die toneelstuk het hul eie tema wat gepaardgaan met hul agtergrond. Daardie tema vorm deel van hul rede waarom hulle na die NRNNSA toe wil gaan. Ons het baie lang gesprekke hieroor gehad, want ons wou nie doelbewuste rassistiese, seksistiese of homofobiese kommentaar op die verhoog sit nie, aangesien dit onverantwoordelike teater sou wees. Deur vele gesprekke het ons besluit hoe ons op ’n konstruktiewe manier kommentaar kan lewer. Ek het ook gedink aan hoe ’n mens kwessies waaroor ons so baie wroeg kan vat en dit op ’n fun manier kan aanbied. In toegepaste teater, waarin ek tans my meesters doen, noem ’n mens dit “making the unplayable playable”. Want teater moenie bang wees om kwessies aan te spreek nie. Teater gee ’n mens vryheid om politiese kwessies aan te roer en dit kan werk slegs mits jy verantwoordelik daarmee omgaan.

Watter sosiale kommentaar wou julle lewer? Met ander woorde, wat is die boodskap wat die toneelstuk aan die gehoor wil oordra?

Deur al die temas, soos genoem, wil ons uiteindelik die boodskap oordra dat ons saam moet probeer om transformasie en inklusiwiteit ’n werklikheid te maak. Want daar is nie ’n nuwe land nie – hierdie land is al wat ons het, en vir diegene wat hier wil bly, moet ons dit maak werk.

Nie baie mense besef gewoonlik hoe moeilik dit is om ’n produksie uit die niet uit op die been te bring en hoeveel bloed, sweet en trane dit verg nie. Wat was julle grootste uitdagings?

Dis waar! Een van ons grootste uitdagings is maar tyd. Die geselskap is almal in hul derde jaar van drama studeer, en die akademie bring mos maar sy eie vereistes. En daar is sewe akteurs, plus ’n pianis, in hierdie show, so om almal se dagboeke heeltyd in gedagte te moet hou, raak maar uitdagend.

Lara de Bruijn in aksie op die verhoog.

NRNNSA is opgevoer by die Woordfees, KKNK en nou binnekort ook te sien by die Suidoosterfees. Wat is van die hoogtepunte vir jou as regisseur tot dusver?

Afgesien daarvan dat ek saam met ’n ongelooflik sterk, slim en hardwerkende geselskap werk, is ’n ongelooflik groot hoogtepunt van die kommentaar wat ek na elke vertoning kry. Iemand het onlangs by die KKNK vir my gesê die show is goed, want met NRNNSA kry ons dit reg om kwessies waaroor daar gewroeg word op só ’n manier aan te bied wat nie die gehoor uitput nie. Ons sê ja, dinge gaan sleg en ons land het nog ver om te gaan, maar hei, “laat ons saam probeer en bietjie (BAIE!) transformeer” – dis ’n sinnetjie uit die play uit.

Die kommentaar is uiteenlopend, en ek waardeer dit, want vir my moet teater gesprekke aan die gang sit. As jou toneelstuk nie mense se lewens verander, of mense net ‘n bietjie anders na die lewe laat kyk nie, dan weet ek nie wat jy doen nie. Dit hoef nie moerse dinge te wees nie; iemand moet net vir daai uur of uur en ’n half wat hulle in die teater sit, ’n ervaring kry wat hulle nie elders sou kry nie.

Nog ’n hoogtepunt is die feit dat die show elke keer kan verander. Ek hou die nuusgebeure fyn dop, so as iets in die nuus gebeur wat moontlik kan bydra tot die show, dan werk ons dit in.

NRNNSA se geselskap is vir ’n Kanna vir die “beste opkomende kunstenaar” benoem – wat beteken dié benoeming vir julle?

Dis goed. Ons doen hierdie stuk regtig nie vir toekennings nie, want hoewel ons dit regtig geniet en trots is op ons produk, weet ons dat ons nog jonk is en baie het om te leer van die bedryf. Ons is baie dankbaar vir almal wat die produksie moontlik gemaak het, soos NATi, die Vrystaat Kunstefees Kunstetrust, Woordfees en die KKNK. Ons sien uit daarna om verder te werk en aan te hou om die toneelstuk te ontwikkel.

Hendrik Nieuwoudt en Carla Smith.

Mercy, dink jy teater word genoeg bevorder en ondersteun in Suid-Afrika?

Vanuit sommige oorde word teater goed bevorder en ondersteun. Ek kan nie vir die hele bedryf praat nie, maar ek voel dat teater net so goed kan doen soos wat teatermakers daarop ingestel is. ’n Mens móét móét móét jou eie werk skep, want niemand gaan vir jou werk gee nie (behalwe as jy baie lucky en talentvol is). Daar is infrastruktuur, en ons moet net weet waar om vir hulp te gaan aanklop. Die infrastruktuur moet toeganklik gemaak word. Dis nog iets: teater is nie altyd toeganklik vir almal nie. Teater is ook duur. So as jong teaterpraktisyn, en iemand wat tans besig is met my meestersgraad in toegepaste teater, soos ek genoem het, is dit vir my lekker om in teater te werk, maar ek besef daar is demografieë wat nie bereik word deur ons tradisionele gebruik van teatergeboue nie. Daar is gehore wat nie bereik word nie. En dit is sleg, maar ook opwindend, want daar wag vir ons baie werk. Ons het ongelooflik baie stories wat nog vertel moet word en baie mense wat nog na vore gaan tree om daardie stories te vertel.

Wat is jou mening oor die toekoms van teater (en veral Afrikaanse teater) in Suid-Afrika?

Daar gebeur nou baie interessante goed in teater, soos die teaterproduksie Ons is almal freaks hier deur Ingrid Winterbach. Dit handel oor die lewe van Saartjie Baartman. Dan is daar die stuk Kinnes, wat Chase Rhys geskryf het, wat handel oor die lewe en drome van jongmense van die Kaapse Vlaktes. Ek het ook vroeër vanjaar The taming of the shrew by Maynardville gaan kyk wat deur ’n all female cast en crew gedoen is. Dis opwindend, dis vernuwend, en as mense meer sulke goed kan doen, lyk die toekoms van teater baie helder.

Ek het so ’n jaar gelede toe ek vir Kritiek geskryf het, die vraag gevra oor waar die jong bruin vroulike skrywers en regisseurs is. Vir ’n jaar lank het ek daarmee geworstel, want as ’n Afrikaanse jong bruin vrou in Suid-Afrika is dit vir my belangrik om te kyk wat mense van my generasie doen. En daar is sulke stemme! Mense soos Ameera Conrad, Des-Lee McKenzie en Faith Kinniar ís daardie stemme.

My hoop is dat daar platforms sal wees waar ons meer diverse stemme sal kan hoor. En ons moet daardie platforms skep.

Die geselskap van NRNNSA, wat onlangs vir ’n Kanna vir “beste opkomende kunstenaar” benoem is.

Laastens, Mercy, wat is jou mening oor die huidige stand van Suid-Afrika mbt transformasie en die toekoms vir die jeug in Suid-Afrika?

Rakende transformasie is daar baie belangrike en nodige dinge besig om te gebeur. Ons wat nou op universiteit saam met die Fallist-beweging grootword (dis nou onder andere die Fees Must Fall- en Rhodes Must Fall-bewegings), leef in ’n tyd waar ons nie kan bekostig om apaties te wees nie. Dinge is aan die gebeur, en ons sal moet luister en deelneem as ons aktiewe burgers wil wees. As ons ernstig is oor transformasie, sal ons moet saamwerk. Dit is ongetwyfeld so dat sommige mense meer van ’n ekonomiese en sosiale hupstoot het as ander, weens hul agtergrond van bevoorregting, en dit is ’n aspek wat ons nie kan ignoreer nie. Ek wil graag verantwoordelikheid vat vir my posisie in die samelewing en ek is hoopvol dat daar nog mense deel van my generasie is wat so voel. Die toekoms van die jeug lyk goed – mense is besig om eienaarskap te neem.

  • Foto’s deur Jeremeo le Cordeur (Vulture Photography)

Lees ook:

https://www.litnet.co.za/us-woordfees-woordtrofee-wenners-2018/


 

Mercy Kannemeyer het in 2017 haar honneursgraad in drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Sy is tans besig met haar meestersgraad en spesialiseer in toegepaste teater.

Die geselskap van NRNNSA bestaan uit die akteurs Carla Smith, Conradie van Heerden, Devonecia Swartz, Hendrik Nieuwoudt, Kristin Pienaar, Reuben Murphy en Lara de Bruijn. Chris Petrie is die pianis van die toneelstuk.

NRNNSA is op Maandag 30 April om 10:00 te sien by die Suidoosterfees en op Dinsdag 1 Mei om 10:00 by die Kunstekaap-arena. Kaartjies kan by Computicket gekoop word.

Besoek NRNNSA se Facebook-blad, NRNNSA, vir meer inligting oor die produksie.

Vulture Photography neem foto’s van teaterproduksies en het onder andere foto’s van NRNNSA geneem. Vulture Photography is ’n projek van die produksiemaatskappy Vulture Productions. Besoek hulle webtuiste by www.vulture-productions.com.

Die Suidoosterfees vind vanaf 26 April tot 1 Mei plaas. Vir meer inligting, besoek die webtuiste www.suidoosterfees.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top