Glans en glorie op 12de kykNET Silwerskermfees

  • 0

Die 12de kykNET Silwerskermfees: Foto’s deur Clifford Roberts

Dit kan nie méér glansryk as die Silwerskermfees nie. Die uitsig oor die see aan die voorkant van The Bay Hotel in Kampsbaai, die berg in die agtergrond, wiegende palmbome en die room van die land se fliek- en filmmakers wat vanjaar vir die 12de fees daar gekuier het. Die fees het Saterdag ’n hoogtepunt bereik, toe die land se wenners in televisie en film met die pragtige kristal-rolprentkamera-trofeë vereer is.

Dié trofee, wat die lig en beelde op verskillende maniere reflekteer, is ’n goeie metafoor vir hoe goeie film en televisie mens anders laat kyk na die lewe en is vanjaar in 50 afdelings uitgedeel aan akteurs, aanbieders en persoonlikhede wat tussen 1 April 2023 en 31 Maart 2024 vir uitmuntende vermaak op die kykNET-kanale gesorg het.

Die publiek het vanjaar meer as 2000 kaartjies gekoop vir die films wat by die fees vertoon is en daar was voorwaar iets vir elke smaak. (Foto: Clifford Roberts)

Die beeldjie is ook vanjaar in ’n bemarkingsveldtog gebruik en verskeie ikoniese plekke gesien, om mense te laat ervaar hoe die gefragmenteerde beelde en lig verskillende perspektiewe op die bekende kan gee.

Denise Newman (aktrise), Hans Strydom (akteur) en Roberta Durrant (televisievervaardiger) is vereer vir hul lewensbydraes.

Tydens die fees het fliekgangers oor ’n glas Blaauwklippen-wyne skouer geskuur met akteurs, regisseurs en kameramense en ook met Waldimar Pelser, direkteur van M-Net se Premium-kanale, Nicola van Niekerk, M-Net-hoof: Premium-inhoud en ko-produksies, en Tina Kruger, programdirekteur: Silwerskermfees. Verskeie ander verteenwoordigers van Showmax en ander belanghebbendes was in Kampsbaai vir die fees.

Clayton Evertson, wat die speurder Clint Smith in Arendsvlei, Pitbull in Koek, en tans Jerome op Juffrou X speel, vertoef by die reuse-12de kykNET Silwerskermfees-teken voor The Bay Hotel. (Foto: Clifford Roberts)

Voor elke filmpremière is al die glanspersoonlikhede op die blou tapyt verwelkom, waar die joernaliste onderhoude kon voer, foto’s en video’s kon neem en almal soos dié met bloubloed behandel is.

Vanjaar is 2000 fliekkaartjies deur die publiek gekoop om in die glans te deel.

Waldimar het in sy verwelkomingstoespraak gesê verlede jaar het Lauren Scholtz die geleentheid gebruik om tydens die fees haar idee vir ’n dokumentêr aan die paneel voor te lê. Vrydagaand is dit by die fees vertoon. Brasse Vannie Kaap is ’n boeiende en emosioneel meesleurende dokumentêre rolprent oor die ikoniese Suid-Afrikaanse hip-hop-groep Brasse Vannie Kaap (BVK), wat tydens die deurslaggewende vroeë jare van die nuwe Suid-Afrika op die musiektoneel ontplof het.

Verlede jaar het Lauren Scholtz die geleentheid gebruik om tydens die fees haar idee vir ’n dokumentêr aan die paneel voor te lê. Vrydagaand is dit by die fees vertoon. Brasse Vannie Kaap is ’n boeiende en emosioneel meesleurende dokumentêre rolprent oor die ikoniese Suid-Afrikaanse hip-hop-groep Brasse Vannie Kaap (BVK), wat tydens die deurslaggewende vroeë jare van die nuwe Suid-Afrika op die musiektoneel ontplof het. (Foto: Clifford Roberts)

Verskeie groeplede en ’n magdom plaaslike bekendes (Early B, Jack Parow en ander) besin diep oor BVK se merkwaardige loopbaan en hul onmiskenbare impak op die plaaslike musiekbedryf. Die film loer ook agter die skerms na Grand Master Ready D en DJ Azuhl se beplanning van ’n intieme huldeblykvertoning ter ere van BVK se oorlede leier, Mr Fat aka Ashley Titus. “Dit is dus die moeite werd om jul idees na die fees te bring – wie weet: Volgende jaar hierdie tyd is dit dalk jou beurt om hier op die verhoog te sit nadat jou film of dokkie vertoon is.”

Brasse Vannie Kaap stroom op Showmax van Maandag 7 Oktober.

........
Die uitgebreide Silwermark bied die geleentheid vir persoonlike voorleggings by die fees aan beide kykNET en Showmax in ’n verskeidenheid van Afrikaanse inhoudskategorieë. Die geleentheid om met regisseurs en ander besluitnemers te gesels oor moontlike projekte is van onskatbare waarde, het vele sprekers verklaar.
........

Aspirant-filmmakers en akteurs wat by vorige feeste hul film- of dokkie-idees tydens die Silwermark-sessies kom voorlê het, was dan ook ’n deurlopende tema in vele besprekings nadat films of dokkies vertoon is. Die uitgebreide Silwermark bied die geleentheid vir persoonlike voorleggings by die fees aan beide kykNET en Showmax in ’n verskeidenheid van Afrikaanse inhoudskategorieë.

Die geleentheid om met regisseurs en ander besluitnemers te gesels oor moontlike projekte is van onskatbare waarde, het vele sprekers verklaar. Werkswinkels en slypskole tydens die fees help ook met korrekte voorleggings en ander waardevolle wenke.

Aktrises Ansu Visser en Mila Guy kuier by die fees. (Foto: Clifford Roberts)

Die fees het bewys dat dit ’n belangrike platform vir sowel gevestigde as opkomende filmmakers is. Saam met die wêreld- of Suid-Afrikaanse premières van die jongste rolprente, vertoon die Silwerskermfees die werk van jong talent in ’n reeks diverse kortfilms wat met die fees se finansiële ondersteuning en mentorskap vervaardig is.

Die nuwe Shotgun-kortfilms is die werk van ervare filmmakers wat daarop gemik is om gehore te roer en opkomende talent te inspireer. Dit het ook vanjaar interessante films opgelewer. Hieronder was van my gunstelinge: Baas se honne wat ook aangewys is as beste Shotgun-kortfilm en beste redigering (Leon Visser). Jou baas koop ’n hondjie vir sy gesin, maar gou-gou word die bolle van die mat optel sy werk. Hy vra jou om van sy krullebol brakkie ontslae te raak. Jy is allergies vir hondehare en boonop is jou hartjie baie klein. Dis die basis van dié film waarin Gys (Albert Pretorius) die vuilwerk vir sy baas, Roelf (Carel Nel), moet doen. James Borthwick speel die boosaard wat die hondjie met ’n rewolwer van kant wil maak, maar toe self ’n taai lewensklap kry.

Ben Albertyn, wat beste akteur in ’n kortfilm gewen het vir sy rol in Die skynwerper, wat ook beste regie van ’n kortfilm gewen het, Marvin-lee Beukes en Carel Nel, wat in Baas se honne te sien is. (Foto: Clifford Roberts)

Die ander Shotgun-kortfilm wat uitgestaan het, was In die verloop van met Emma Kotze en Wilhelm van der Walt. Die lewe moet voortgaan, ongeag watter trauma die jong paartjie die vorige aand moes deurleef. Daar is stiltes en bloedbevlekte stoele en handdoeke in die huis; ’n aandmaal met vriende is onderbreek. Stadig kom die omvang van die gebeure in fokus. Uitstekende spel en uitstekende draaiboek deur Philip Rademeyer, wat weer eens wys dat eenvoud en minder woorde soms die beter boodskapper is.

Die ander Shotgun-kortfilm wat uitgestaan het, was In die verloop van met Wilhelm van der Walt en Emma Kotze. Dis by Theatre on the Bay vertoon. Die teater is jaarliks die tweede venue vir die feesvertonings. (Foto: Clifford Roberts)

Die kort dokumentêre het nie net goeie vermaak verskaf nie, maar ook indringend na sosiale kwessies gekyk. Hieronder was onder meer Tussen die draad en die dropper oor ’n voorslag-draadspanwerker wat buite Sutherland veel meer as 600 km se draad gespan het in sy 30 jaar lange loopbaan; Maak stil die geblaf (wat beste kort dokumentêr en beste regie in ’n kort dokumentêr gewen het) wat handel oor kinders en hul hondelesse in De Doorns wat aan ’n hondespring-kompetisie gaan deelneem; en By die soutwater wat fokus op die werk wat die Twee Oseane Akwarium verrig om die rommel van verstrengelde robbe se lywe te verwyder. Die konflik van mens en dier is die sentrale tema. Die boodskap is somber maar broodnodig, hoewel die dokkie effe futloos was.

........
Vergeet van my, die storie van Zinkplaat en hul vriende, het my aangenaam verras. Gewoonlik is dokkies oor alternatiewe rockgroepe op toer nie my soort vermaak nie, maar hierdie een val in ’n ander klas. Pierre-Arnold Theron wen hier vir beste redigering in ’n kort dokumentêr.
........

Vergeet van my, die storie van Zinkplaat en hul vriende, het my aangenaam verras. Gewoonlik is dokkies oor alternatiewe rockgroepe op toer nie my soort vermaak nie, maar hierdie een val in ’n ander klas. Pierre-Arnold Theron wen hier vir beste redigering in ’n kort dokumentêr.

Beer Adriaanse en sy verloofde Carla Smith skep ’n bietjie asem tussen films. Beer was te sien in verskeie films op die fees. (Foto: Clifford Roberts)

Toe die bekende akteur, draaiboekskrywer en voormalige tromslaner van Zinkplaat, Beer Adriaanse, se ouers in 2021 hulle stoorkamer skoonmaak, kom hulle op ’n vergete swart krat af. Hieruit dop toe foto’s, joernale en plastieksakke vol DV8-videokassette met opnames wat verskeie toere vasgevang het, en daarmee ook ’n byna vergete tydperk in plaaslike musiek. Argiefmateriaal, wat oor 10 jaar strek, vertel ’n storie van ontdekking, jeugdige rebellie, grootword en die droom om deel van iets groters te wees teen die agtergrond van ’n oplewing in alternatiewe Suid-Afrikaanse klanke. Met musiek van Zinkplaat, Foto Na Dans, eF-eL, Straatligkinders, Tidal Waves, New Holland en verskeie ander geraasmakers van dié era, is hierdie ’n dokkie toe ’n baie belangrike bydrae tot ons musieklandskap en boonop baie insiggewend vir dié van ons wat op die platteland grootgeword het en by wie hierdie tipe konserte verbygegaan het.

Die paneelbesprekings ná afloop van films was baie insiggewend, want die gehoor kon vrae vra. Hier vertel die spanne van Vergeet van my en By die soutwater meer oor die proses. (Foto: Clifford Roberts)

In die kortfilm-kategorie staan Marie se laaste dag beslis uit. Dit wen dan ook beste draaiboek van ’n kortfilm deur ’n opkomende filmmaker, beste kortfilm, beste kinematografie. Die laaste dag van die ou bedeling; die eerste dag van die “nuwe” Suid-Afrika: Wat kan verkeerd loop? Die twee aktrises in die film wat sekretaresses vir twee Alfa-mans speel, Mandri Sutherland en Rozanne McKenzie, steel die kollig. Op die ou einde vind hulle – en die gehoor – uit presies hoeveel ons as mense en veral vroue gemeen het, ongeag of jy in die Struggle was of nie.

Opwindende nuus wat tydens die fees bekendgemaak is, is dat die video wat onlangs ’n sensasie veroorsaak het, met “My f*k, Marelize” as slagspreuk, binnekort ’n speelfilm sal wees. Verfilming begin in September in Namibië.

MultiChoice het die vervaardiging van die speelfilm, getiteld My f*k, Marelize, aangekondig. Die rolprent speel in Windhoek af en is geïnspireer deur die ware gebeure wat tot die ikoniese rugbypaal-voorval gelei het. Dit volg die ongeluksvoël Marelize Horn terwyl sy voorberei om ’n au pair in Nederland te word, en haar ma, Heidi Horn, wat met ’n kankerdiagnose moet omgaan. Dit alles vind plaas teen die agtergrond van Wika, die jaarlikse Windhoekse Karnaval.

Die draaiboek is deur die Safta-bekroonde Brett Michael Innes (Sink, Fiela se kind) geskryf. Zandré Coetzer – een van die televisieregisseurs van Dinge van ’n kind en ook een van die vervaardigers van die reeks Donkerbos, wat twee Safta-toekennings ingepalm het en internasionaal verkoop is – maak met dié fliek haar debuut as speelfilmregisseur.

MultiChoice het die vervaardiging van die speelfilm, getiteld My f*k, Marelize, aangekondig. Die draaiboek is deur die Safta-bekroonde Brett Michael Innes; Zandré Coetzer maak met dié fliek haar debuut as speelfilmregisseur; en by hulle staan Paulo Areal van The Moving Picture Company. (Foto: Clifford Roberts)

Die film is ’n Namibiese en Suid-Afrikaanse ko-produksie – ’n samewerking tussen die Windhoekse vervaardigers, Joel en Sophie Haikali van Joe Vision Productions (medevervaardigers van die 2024-Berlinale-geselekteerde Pepe), en die Kaapstadse produksiehuise Nagvlug Films en Nostalgia Productions. Paulo Areal (Ellen: Die Ellen Pakkies Storie, Five fingers for Marseilles) is ook deel van die span vervaardigers. Befondsing is deur die Nasionale Film en Video Stigting (NFVF), kykNET Films en MultiChoice Namibië verskaf.

Ander nuus wat ook by die fees aan die media deurgegee is, is dat BBC Studios en die Suid-Afrikaanse stroomdiens, Showmax, ’n Suid-Afrikaanse aanpassing doen van die globale treffer, The Office, gelisensieer deur BBC Studios, op beide Showmax en kykNET. Die Showmax Original sal plaaslik deur Rapid Blue, wat deel is van BBC Studios se internasionale familie van produksiemaatskappye, vervaardig word. Produksie begin vroeg in 2025.

........
Ander nuus wat ook by die fees aan die media deurgegee is, is dat BBC Studios en die Suid-Afrikaanse stroomdiens, Showmax, ’n Suid-Afrikaanse aanpassing doen van die globale treffer, The Office, gelisensieer deur BBC Studios, op beide Showmax en kykNET.
........

Dit is meer as 20 jaar gelede dat die wêreld bekendgestel is aan die wonderlike somber-spottende wêreld van die Amerikaanse The Office, geskep deur Ricky Gervais en Stephen Merchant. Metacritic lys die Britse weergawe steeds as die komediereeks wat die beste geresenseer is van alle tye, terwyl die Amerikaanse weergawe vyf Emmy’s gewen het, insluitend vir uitstaande komediereeks, en die program is wat die meeste gestroom is ter wêreld in 2020.

Hierdie universele aantrekkingskrag het weergawes van dié Bafta- en Golden Globe-bekroonde kultuskomedie vir gehore in onder meer Australië, Frankryk, Kanada, Chili, Israel, Indië, die Midde-Ooste en Pole gemaak. Die Suid-Afrikaanse weergawe van The Office, wat steeds sonder titel is, sal die 14de verwerking wees en sal hoofsaaklik in Afrikaans verfilm word.

Terug by die films op die fees.

Simoné Pretorius en Louw Venter het rede om trots te wees. Som van twee het bykans al die toekennings vir speelfilms ingeryg, waaronder beste draaiboek, beste oorspronklike klankbaan, beste redigering, beste manlike byspeler, beste regie, beste akteur en beste speelfilm. Simoné was medevervaardiger, regisseur en draaiboekskrywer. (Foto: Clifford Roberts)

Som van twee het bykans al die toekennings vir speelfilms ingeryg, waaronder beste draaiboek, beste oorspronklike klankbaan, beste redigering, beste manlike byspeler, beste regie, beste akteur en beste speelfilm. Dis ’n roerende storie van ’n pa wat nie sy seun ken nie; ’n ma se dood wat ’n familie uitmekaar laat val; en die herontdekking van die sin van die lewe.

Daar is hoërskool bands en pienk hare, jong liefde, misverstande, baie trane en baie insigte. Dis dalk net wat elke tiener wat sukkel met ouerverhoudings, jong liefde en identiteit, behoort te kyk.

Voor elke première is die sterre van die film op die blou tapyt verwelkom. Pierre Breytenbach wen die toekenning as beste manlike byspeler in ’n speelfilm in Som van twee. (Foto: Clifford Roberts)

Dit was egter nie my gunsteling-speelfilm nie: Ek het meer aanklank gevind by Die dekonstruksie van Retta Blom, waarin Antoinette Louw die skitterspel van haar loopbaan gelewer het. Haar vertolking van ’n vrou in menopouse wat vermoed haar man het ’n verhouding in die Kaap, het my hart in stukke gebreek. Die stadige besef dat haar menswaardigheid verminder, terwyl haar lyf deur haar skommelinge gaan; dat sy standvastigheid en ’n identiteit vind in die netjiese vou van servette, of ’n skoon huis, hartroerend.

Hoe bekend is die gevoel nie? Menopouse word so dikwels as onderwerp vir komedie gebruik. Vroue as “buierig” of “hormonaal” afgeskryf, asof hul menswees nie belangrik is nie; of hulle genot put uit die verlies: verlies van wie hulle is; van hul veerkragtigheid; soepelheid; vergeetagtigheid; die toename van gewig; warmgloede; dikwels onvoorspelbare tranerigheid. Die vriendskap tussen Retta en haar kunstenaarsvriendin, Leigh (Hilda Cronje), is mooi, maar die road trippie Kaap toe ’n uitgerekte ompad na nie veel nie.

Hilda Cronje speel Leigh, Retta Blom se kunstenaarsvriendin. Sy het uit Londen kom kuier vir die filmpremière in Kampsbaai.

Daar is komiese oomblikke wat die gehoor laat skaterlag het. Daar is gelukkige eindes en mooi wendinge. ’n Regte voel-goed-film vir die meerderheid kykers.

Ek voel egter daar is verskeie onderwerpe onaangeraak gelaat: Daar is soveel deure geopen waarby die regisseur eerder kon ingaan wat ’n middeljarige vrou se regte stryd met groter empatie aangepak het. Nie almal se mans verneuk hulle terwyl hulle met gloede en ongebalanseerde chemie in hul lywe worstel nie, maar die ander verliese terwyl jou hormone mal raak, is ’n gemene deler.

Die film sou dalk beter gevaar het – en baie groter lig kon werp op ’n onderwerp waaroor mense swyg of wat lighartig afgemaak word – as dit ’n vroueregisseur gehad het. Of dalk net nie soveel verskillende storielyne wou najaag dat die eintlike storie oor Retta, as segspersoon vir middeljarige vroue, afgewater geword het nie. Maar dan, ek het nie die boek deur Zelda Bezuidenhout gelees nie, so ek is nie seker hoeveel van die oorspronklike afgewyk is – of nie.

Ek dink vir Antoinette om haar klere uit te trek om hierdie rol haar alles te gee, was ongelooflik braaf. Ek salueer haar dat sy vir elke vrou wat deur menopouse worstel, ’n lansie gebreek het. Dat sy wou wys daar is ’n rouende vrou in daardie lyf wat spartel om gesien te word. Want ek het effe ligter uit die fliek gestap met die besef dat dit waardeur ek gaan, nie enig is nie en beslis nie sommer net geite is nie.

Die kwiksilwers was vanjaar se feesgunsteling. Hier staan van links Theresa Sedras, Jacques Bessenger, Lida Botha en Susanne Beyers, terwyl hulle met die televisiekameras gesels. (Foto: Clifford Roberts)

Op ’n ligter trant, maar ook nie. Ek stem heelhartig saam dat Die kwiksilwers die feesgunsteling is, want genade, dit was hartseer en lag en snak na asem van lekkerte, alles in een. Vier ouer vroue vat die pad Sutherland toe en in tipiese Thelma & Louise-styl, is daar vele hoogte- en laagtepunte op hul road trip. Die insigte vanuit hul senior perspektief, die magteloosheid van ouer word en beheer verloor, baie sentraal. Ek het met elke klagte uit hul monde my pa se stem in my kop gehoor en met elke brokkie “raad” van die jonger kinders, vir myself lag gekry. Ouer mense is nog steeds dieselfde mense met baie meer ervaring en wysheid as ons jonger geslag, maar ons behandel hulle soos kinders. Ek kyk sommer heeltemal anders na my 94-jarige pa!

Die film wen beste klankontwerp in ’n speelfilm en beste grimering en haarstilering. Ek sal dit weer en weer kyk, want aan lewenslesse – nie prekerig nie – is hier geen tekort nie.

........
My feeshoogtepunt kom ook uit die speelfilm, waar ek regtig geen vinger kan wys na onontginde roetes of storielyne nie: Hier.Na., wat met verskeie pryse vir speelfilms wegstap.
........

My feeshoogtepunt kom ook uit die speelfilm, waar ek regtig geen vinger kan wys na onontginde roetes of storielyne nie: Hier.Na. Hier.Na stap met verskeie pryse vir speelfilms weg: beste kinematografie (Ebrahim Hajee), beste kostuums (Ayesha Khatieb), beste vroulike byspeler (Trudy van Rooy) en beste aktrise (June van Merch).

Lyle October is Dean, wat professioneel games aanlyn speel, en Shiefaa Hendricks is Leila Burgess in Hier.Na. (Foto: Clifford Roberts)

Dit vang een dag vas in die lewe van die Burgess-familie. Eric (David Isaacs) is ’n nie-gelowige, sy vrou Julie (Quanita Adams) is ’n nie-praktiserende Moslem. Hul dogter Leila (Shiefaa Hendricks) herontdek haar Moslem-identiteit en probeer dit eintlik op die hele familie se harte lê dat hulle by haar moet aansluit. Dis ouma (June) wat haar aanspoor om te volhard. Broer Dean (Lyle October) speel professioneel games aanlyn. Daar is opgewondenheid oor Eric se 50ste verjaardagpartytjie. Hulle is ’n doodgewone noordelike voorstede-gesin wat vroegoggend saam koffie drink en gesels. Tot Julie enkele ure later aan ’n hartaanval sterf en sy volgens die Moslem-geloof voor sononder begrawe moet word. Eric word ’n inkyker in sy eie huis, sy eie lewe en veral sy huwelik. Hy is nie betrokke by die reëlings nie, kan nie sy vrou vir oulaas aanraak of groet nie. Binne ure is sy wêreld op sy kop gedraai en sy vrou begrawe. Die film raak my diepste vrese aan – om my eggenoot te verloor – en ek snik die meeste van die fliek deur. Daar is komiese oomblikke, daar is wysheid, daar is insig. Ek leer meer van die Moslem-kultuur in daardie paar minute in die donker as jare in die samelewing. Ons almal ken verlies. Ons almal het al iemand verloor. Maar die hartkloppings in my borskas wil nie skiet gee nie.

Quanita Adams is die draaiboekskrywer, regisseur en een van die akteurs in Hier.Na. (Foto: Clifford Roberts)

Quanita – wat regisseur en ook draaiboekskrywer is – vertel in die paneelbespreking ná die film dat die vinnige pas doelbewus was. Dat sy die kyker nie wou kans gee om asem te skep nie, want die dag se pas is vinnig. Daar is baie wat moet afgehandel word, baie gebruike wat geëer moet word.

Maar ook dat iets soos die Islamitiese gebruik om iemand op dieselfde dag te begrawe, wat baie mense as bisar kon afmaak, tog ook pragtig is. Want daar is lig en blydskap ook in die ritueel.

Die rolverdeling en regisseur en span van die kortfilm, Die groot twis, waar poppespel vir baie komiese oomblikke gesorg het. (Foto: Clifford Roberts)

As ek nou deur die feesprogram blaai, is daar vele ander wat my op een of ander manier geraak het. Ek het lekker geskater in Liewe Dudu, waar drie skoonheidsterapeute ’n lyk vir ’n gesondheidsinspekteur moet wegsteek; ook in Die groot twis, waar poppespel jou laat skaterlag; en Bloedhonde, waar ’n tipiese Hartenbos-vakansie omvergegooi word as ’n lyk opdryf. Ook interessant was Liminale, waar ’n vrou in haar onderbewussyn kan gaan delf om van trauma ontslae te raak; en Die boodskapper, waar ’n kleimannetjie dalk net ’n gesin kan red.

Die paneelbespreking ná afloop van Die boodskapper en In die verloop van. (Foto: Clifford Roberts)

Die skynwerper bekyk die effek van jarelange boelies op ’n jong man wat ’n ranteier word en deur ’n gewetenlose filmmaker geteiken word.

’n Film wat ek ook baie geniet het, maar nie in kompetisie was nie, is Asem deur Jaco Bouwer.

Die kykNET Silwerskermfees-kortfilms en -dokkies word vanaf 7 September elke Saterdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144 uitgesaai.

Lees ook:

Bonus-Silwerskermfees-film van Jaco Bouwer internasionaal gewild

kykNET Silwerskermfees 2024: ’n onderhoud met Zelda Bezuidenhout, skrywer van Die dekonstruksie van Retta Blom

kykNET Silwerskermfees 2024: ’n tweetalige onderhoud met Quanita Adams, skrywer-regisseur van Hier.Na

Persverklaring: Lewensbydrae-toekennings vir drie legendes by Silwerskermfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top