Bonus-Silwerskermfees-film van Jaco Bouwer internasionaal gewild

  • 0

Foto: kykNET

Jaco Bouwer se Breathing in het in Oktober verlede jaar sy wêreldpremière by die Brooklyn Horror Filmfees gehad. Dit het die beste-film-toekenning by die Pucela Fantastic (Pufa) in Spanje gewen. Pufa is ’n fantasie-en-riller-filmfees vir kort- en vollengte-speelfilms van enige nasionaliteit wat om fantasie, wetenskapfiksie, riller en spanning draai. Breathing in is ook by verskeie feeste, waaronder die Fantasy Filmfest in Duitsland, Fantaspoa in Brasilië, Macarbo Filmfees in Meksiko, en Corrosivo Fees in Costa Rica vertoon.

Dit is een van die twee bonusfilms by vanjaar se Silwerskermfees wat van 28 tot 31 Augustus in Kampsbaai gehou is. Breathing in is ’n vollengtefilm van 109 minute en die kortfilm Stilte is buite kompetisie op die program – met ander woorde, dit kom nie vir enige feestoekennings in aanmerking nie.

Die kort opsomming van die feesprogram lui:

Dis ’n stormagtige nag gedurende die bitter einde van die Anglo-Boereoorlog. Anna, ’n geheimsinnige kruiedokter, verpleeg ’n swaar gewonde Boeregeneraal in sy afgebrande stal. Haar porseleinagtige dogter, Annie, veg ook om oorlewing, maar benodig meer as wat haar moeder se brousels haar kan bied. Adjudant Brand, getroue en dapper soldaat van die gewonde generaal, word stadig verstrengel in ’n onheilspellende web wat ma en dogter deur die nag weef.

Die bloedlose Annie word met die listige hulp van haar ma deur iets afgrysliks aan die lewe gehou. Brand is gewoond aan die gruwels van die slagveld, maar hy kom skielik voor ’n verskriklike keuse en ’n veel donkerder gevaar te staan.

In die rolverdeling is Michele Burgers, Jamie-Lee Money, Sven Ruygrok, Lionel Newton, John B Swart en Shaun Oelf. Jaco Bouwer is die draaiboekskrywer en regisseur; Jorrie van der Walt is die kinematograaf en die klankbaan is deur Pierre-Henri Wicomb.

Dié speelfilm is gegrond op die Reza de Wet-toneelstuk Breathing in, wat aanvanklik as Nag, Generaal opgevoer is. In 2004 herskryf De Wet die stuk en bring ook ’n jong dogter in.

Dis in 2017 as Asem by die KKNK opgevoer, deur Marthinus Basson vertaal. Tydens die grendeltyd is dit as een van vier van die KKNK se vlagskipdramas op film vasgevang en op VIA, DStv-kanaal 147, uitgesaai toe geen toneelfeeste weens die inperkings gehou kon word nie.

Bouwer se film het kritici gaande – nie net oor die rilleraspek met die toordokterondertone nie, maar ook oor sy keuse van akteurs.

Tom Milliga skryf in sy resensie na afloop van die Brooklyn Horror Filmfees dat hy – ten spyte van filmvoosheid ná ’n week lange fees – nie net “wakker gebly het tydens die laatnagvertoning nie, maar gou onder die film se verleidelike towerspreuk was”.

Hy sê ook Breathing in – as enkellokasiekamerstuk – dryf asof tyd in stadige aksie is.

Sy gedempte dialoog en simboliese motiewe voel effektief soos subliminale boodskappe, wat bydra tot sy hipnotiese energie. As verwerking is dit heel gepas as film en Bouwer gee aandag aan geografie en hoe om spesifieke maatslae van die storie gepas vas te vang ...

Miliga sê hoewel hy min van die geskiedenis of bronteks weet, die film steeds ’n sielkundige riller is wat uitstaan met atmosferiese en bevredigende slot en jou aandag vir die duur daarvan gevange sal hou. Lees gerus sy hele resensie hier: Brooklyn Horror 2023 Review BREATHING IN - Nightmarish Conjurings.

Andrew Mack van Screen Anarchy skryf:

Wat Bouwer hier doen, is om die energie van ’n toneelstuk op film vas te vang. ... Jy sien teaterakteurs in hierdie rolle, eerder as filmakteurs. Ek verkleineer nie filmakteurs nie, maar teaterakteurs moes nog altyd ’n ekstra sin van teenwoordigheid en gravitas openbaar as hulle op die verhoog speel. ... Jy het een kans om ’n eerste indruk te maak. Wat ’n eerste indruk maak hulle nie.

Lees sy volledige resensie hier: Brooklyn Horror 2023 Review: BREATHING IN, An Acting Showcase That Drips With Growing Dread (screenanarchy.com).

Ek vind Jennie Kermode se kommentaar op Eye for film die beste opsomming van hoe ek die film ervaar het: “Maar op die ou einde is dit oor oorlewing. Mans maak oorlog en vroue doen wat nodig is om te oorleef. Tot die laaste asemteug.”

  • Breathing in is op Woensdag 28 Augustus om 20:30 en Saterdag 31 Augustus om 21:00 by Theatre on the Bay vertoon. Dit sal ook aanhou om by internasionale feeste te speel.

Maryke Roberts se vrae aan Jaco Bouwer:

Ek vind dit interessant dat die film onder die horror-genre val. Vertel my van dié besluit? Is dié genre groot genoeg om al hierdie harde werk te regverdig?

Die genre van gruwelfilms het die afgelope tyd geweldig verbreed. Ek het ’n ruk terug ’n dokumentêr gekyk oor die oorsprong van die genre, en hoe dit eintlik werklik geanker is in die psige van die samelewing – en dit is wat my prikkel. Veral as ’n mens kyk na ander films in dié katogorie, soos The witch of Midsommar, besef mens dat daar ’n groter prentjie agter die storie lê – in hierdie geval, ’n verhaal van ’n vrou/heks/moordenares en haar dogter, met ’n persoonlike, indringende geskiendenis met mans, wat afspeel teen die groter gebeurtenis van die Anglo-Boereoorlog – albei onderwerpe wat moontlikhede aan só ’n kategorie verleen.

Hoekom die besluit om ’n Reza de Wet-teks tot film te verwerk? Wat aan die teks het jou aanvanklik aangetrek?

Ek vind dit interessant om die visuele medium van film te gebruik om aspekte van psige, trauma en metafoor op alternatiewe maniere uit te beeld – die ontwerpsaspek is altyd vir my baie belangrik. Ek is bekend met Reza de Wet se stukke, en voel hulle weerspieël hierdie moontlikhede op ’n baie effiktiewe wyse. Haar tekste is so weldeurdag, en die temas werklik puik verwoord – dit voel soos ’n natuurlike stap om haar werk ook van die verhoog af na filmformaat te bring.

Breathing in is ’n opdragstuk en een van Reza se min Engelse tekste – ’n herbesoek van Nag, Generaal, ook later vertaal in Afrikaans deur Marthinus Basson, opgevoer as die verhoogstuk Asem

Haar werk is baie atmosferies, met sterk karakters – veral vroue, en veral moeders en dogters – met ’n magies-realistiese ondertoon wat net-net neig buite bewussyn, en dit transponeer baie goed na film.

Veral gedurende oorloë loop dood en seks (ipso facto oorlewingsdrang) hand aan hand – die doodsdrang, die drang om voort te plant, om nie vergeet te word nie.

Tydens die ontwikkelingsfase het Rusland Oekraïne binnegeval, en daar is beelde wat by my gebly het en hewig weer attent gemaak het op die allesomvattendheid van veldslae, en hoe dit deursyfer na alles van menswees. In ’n Suid-Afrikaanse konteks veral, ten opsigte van ’n letterlike dood van ’n patriarg, met vroue en hulle regte wat as randfigure moet aas om te bly lewe, wat die hoofrol inneem, in meer as een sin van die stuk.

Wat is die grootste uitdaging om toneelteks te verwerk vir film?

Dit is geskryf as ’n toneelstuk, en dus moes die teks aangepas word vir film. Daar is geweldig baie dialoog, omdat Anna juis taal gebruik om baie van haar web te spin, maar in ’n film kan al die woorde oorweldigend word – ook om die film ’n meer verteerbare lengte vir kykers te kan hou. Die grootste uitdaging was die stadige en versigtige proses van redigering van die oorspronklike Engelse teks.

Die film skep die gevoel dat jy na ’n toneelstuk kyk – soos Tom Milligan dit beskryf: “single location chamber piece” – amper asof die stel vir toneel geskep is. Is dit doelbewus of is jou liefde vir toneel onlosmaaklik deel van jou werk?

Ek het begin in teater en dit sal altyd ’n baie spesifieke liefde van my bly. Maar daar is ook ’n praktiese aspek wanneer dit kom by die uitvoerbaarheid van films maak met geweldig beperkte befondsing, en dus ook tyd om so ’n projek aan te pak en uit te voer. Deur ervare en betroubare akteurs en tegnici te gebruik, en ’n enkele ruimte te gebruik, hou ons ons onkoste laer.

Asem as toneelstuk is deur Marthinus Basson tydens die grendelstaat verflim. Bring hierdie projek ekstra druk – ’n ander groot teatermaker het dit reeds in film aangedurf as toneel-op-film – anders as speelfilm? Of het jy iets by sy projek geleer?

Ek het nooit die geleentheid gehad om sy film te sien nie, maar dink ook dit sou my tien teen een onbewustelik beïnvloed het as ek het. Ek kon die projek dus eerstehands aanpak. My besluit om ook dieselfde teks te verfilm was blote toeval. Toneelstukke word dikwels herskep deur die oë van ander regisseurs en vervaardigers, en gee ook sodoende waardige tekste die geleentheid vir ’n langer lewe en ander interpretasie.

Waar is dit verfilm en hoe lank het verfilming geduur?

Ons het vir 16 dae tussen Philadelphia en Malmesbury geskiet.

Het jy die teks geskryf met sekere akteurs in gedagte, of het die akteurs ná die teks gevolg?

Ek het eers die teks verwerk, wat die grootste aspek van voorbereiding was, en daarna verskillende akteurs vir die verskillende rolle laat lees.

Wat was die grootste uitdaging met hierdie film?

Die tydsbeperking waaronder ons moet werk en gebrek aan fondse is altyd die grootste uitdagings, en het uiteindelik ’n domino-e-effek op baie askekte van so ’n projek. Dit verg dat almal baie harder moet werk, onder baie moeiliker omstandighede, wat ook dan meer druk beteken, wat nooit ideaal is nie. So ook was die visuele effekte vir my baie belangrik in die film, wat ook ingereken moet word. Ons het ons bes probeer om soveel daarvan moontlik in kamera te behartig.

Hoe belangrik is die Boereoorlog as tema in hierdie film – is dit veronderstel om geskiedenis ook vas te vang, of is dit eerder bloot vir vermaak?

Soos in die toneelstuk, gebeur die aksie in parentese teen die groter agtergrond van die oorlog, en kan daar kontekstueel nie daarvan verwyder word nie – veral ten opsigte van die lot van die vroue en die sterwende generaal, in sigself ’n metafoor van verlies, oorlog en nederlaag.

Hoe sou jy dié wat nie van rillers hou nie, oorreed om dit tog te kyk?

Die film is meer as net ’n gewone riller – ek beywer my om te dink buite die konvensionele idees van genre, en ek moedig gehore aan om dieselfde te doen. Die verhaal het ’n onbeskryflike magiese realisme daaraan, tipies van Reza de Wet se werk, en daarom is daar iets meer en groter as net ’n drama wat afspeel. Dit gaan oor vroue in ’n tyd waarin die samelewing uitgelewer was aan ’n oorlog, waar mans gemaak en gebreek is en op hulle eie geheime, onheilspellende manier, hulle oorlewing probeer verseker het.

Hoe getrou bly mens aan ’n toneelteks, en is dit uit respek vir die skrywer of is daar riglyne waarbinne jy gedwing word om te bly?

Dit hang af van die teks en projek – in hierdie geval het ek baie getrou gebly aan die teks self, en minimaal aan die dialoog verander – die groter redigering was meer ten opsigte van watter dialoog kardinaal is om behoue te bly om die film te motiveer.

Hoe ver buite die lyne van die teks kon jy inkleur?

Met dié dat ek so getrou aan die teks gebly het, het ek die vryheid gebruik om die medium te gebruik om die ongesproke wêreld uit te beeld met ’n spesifieke interpretasie. Die teks is só ryk, en daar is soveel opwindende beelde en beskrywing, en ek het myself toegelaat om betekenis daaraan te gee soos wat die teks geïnspireer het.

Wat is jou droom vir hierdie film?

Dat dit die blootstelling sal hê om die ongelooflike akteurs en span te kan beloon vir hulle harde werk en bydrae.

Watter enkele aspek van die film het jou die meeste grys hare besorg en agterna vir jou die grootste bevrediging gebring?

Dit was ontsettend koud en ontberend terwyl ons geskiet het – veral vir die akteurs wat deurnag soms nat en koud moes bly – maar om dit te sien speel op skerm, met ’n klein vuurtjie en kerslig, laat dit soos die oog van ’n storm lyk op skerm.

Lees ook:

Glans en glorie op 12de kykNET Silwerskermfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top