Zelda Bezuidenhout praat met Naomi Meyer oor Zelda se Die dekonstruksie van Retta Blom wat binnekort by die Silwerskermfees in Kampsbaai gaan vertoon.
Zelda, dis baie lekker om met jou te praat oor jou boek Die dekonstruksie van Retta Blom wat nou as film by die kykNET Silwerskermfees gaan speel. Ek voorspel mense gaan mal wees daaroor en sterk met jou karakters kan identifiseer. Hoe het dit gekom dat die boek ’n film geword het?
Baie dankie, Naomi. Ek hoop ook gehore gaan hou van wat hulle sien.
Hoe dit gebeur het: ’n Vriendin van die regisseur, Pieter Grobbelaar, het my roman vir hom gegee om te lees. Hy het gedink dit kan ’n goeie "date night"-fliek wees vir ’n meer volwasse gehoor, en het vir NB-uitgewers gekontak om oor fliekregte te gesels. Aanvanklik het hy en een van die vervaardigers van The Ergo Company, Cati Weinek, gehoop dat ek self die draaiboek vir hulle sou kon skryf. Hulle het spesiaal deurgery Parys toe om met my daaroor te kom gesels. Ek het gedink: Hoekom nie? Ek het ook gedink: Hoe moeilik kan dit wees? In my dae as reklameskrywer het ek immers honderde, waarskynlik duisende, tekste vir TV-flitse geskryf. Hierdie gaan bloot ’n groter projek wees. Nou ja, drie probeerslae later het hulle besluit ek is miskien nie die regte persoon om my boek te verwerk nie. Om ’n draaiboek te skryf is ’n baie spesifieke soort vaardigheid. Op die ou end het die gesoute akteur en draaiboekskrywer Henriëtta Gryffenberg die draaiboek geskryf. Ek het dit gelees en dadelik gedink, wow!
Die boek en die film open met ’n toneel waartydens mens jou hoofkarakter baie goed leer ken: Sy is ’n vrou wie se kinders nou pas almal uit die huis is; haar man gaan weer op ’n sakereis en sy pak sy tas en help omsien dat alles op hulle plek is ... totdat sy agterkom iets is nie heeltemal soos dit moet wees nie. Sy tas staan regop in die kattebak asof daar plek gemaak word vir nog iemand se tas. En hier duik die eerste vraag op: Wie se tas gaan langs haar man se tas staan? Jy val dus sommer in die eerste hoofstuk al met die deur in die huis: ’n Perfekte vrou se lewe is op die punt om gedekonstrueer te word. Vertel my van Retta.
Retta is iemand wat nog altyd gedoen het wat van haar verwag is. Sy is ’n ondersteunende eggenoot en liefdevolle ma. Sy bestuur haar huishouding met die presisie van ’n lugverkeerbeheertoring. Dit is natuurlik alles deel van haar obsessief-kompulsiewe natuur. Sy is diep gelowig. Sy hou haar huis, haar tuin, haar hare, haar lyf, net mooi alles, tiptop. Daar is nie grys areas nie. Iets is reg of weg. En sy is baie, baie lief vir haar hond. In die boek is sy naam Charlie. In die fliek is hy Sam, omdat die hond-akteur se naam Sam is en hy slegs op daardie naam gereageer het.
Ons leer ken vir Retta deur middel van haar ontmoetings met vriendinne en deur middel van vertellings oor haar kinders wat nou uit die huis is. Kom ons praat gou veral oor Retta se kinders. Dinge was so voorspelbaar toe hulle in die huis was, want hulle was onder haar dak. Nou mis sy hulle veral op Vrydae-aande. En boonop wil haar seun iemand vir ete nooi, en hy versoek dat sy haar lewe moet aanpas (ander gaste moet nooi as wat sy in gedagte het) sodat hy gemaklik kan voel om iemand nuuts aan haar voor te stel. Jou leser of kyker by die Silwerskermfees sal kan identifiseer met die feit dat alle ouers se lewens deur hul kinders gedekonstrueer word! Wie is Retta se kinders; wie kan die kykers in hierdie film ontmoet?
’n Hele klompie karakters in die boek het nie op die skerm beland nie. ’n Speelfilm is immers net min of meer 90 minute lank. Daar is eenvoudig nie tyd vir te veel newekarakters en sekondêre verhaallyne nie. Henriëtta het van die karakters laat saamsmelt (soos Leigh en Koba) en ander heeltemal uitgehaal. Ben, Retta se seun wat oorsee woon, het in die slag gebly. Sy werk in die boek was eintlik bloot om Retta se leë-nes-sindroom te belig. Omdat film ’n visuele medium is, kon Retta se eensaamheid op ander maniere uitgebeeld word – byvoorbeeld deur skote van haar wat alleen deur haar groot huis dwaal; sy wat op haar balkon staan en oor Johannesburg uittuur.
..............
Omdat film ’n visuele medium is, kon Retta se eensaamheid op ander maniere uitgebeeld word – byvoorbeeld deur skote van haar wat alleen deur haar groot huis dwaal; sy wat op haar balkon staan en oor Johannesburg uittuur.
...............
Die vriendin wat wil help dekonstrueer? Het mens so iemand nodig? Eventueel gaan die vriendin dalk ook gedekonstrueer word ... Is almal gelukkig soos wat hulle is? Daar is nog meer mense wat gedekonstrueer word – die land het ook nodig om uitmekaar getrek te word, die heinings en mure tussen mense. Dis ’n film wat hierdie vraag vra: Is dit tyd om te dekonstrueer? Praat met my oor die vriendskappe en menseverhoudinge in die film/boek. Praat met my oor wat mense van mekaar moet aanvaar – mense wat in dieselfde kringe beweeg, mense wat dalk in totaal ander kringe beweeg. ’n Land wat steeds swaar dra aan die nalatenskap van apartheid.
...............
Soms het ons iemand nodig wat genoeg omgee om ’n spieël voor ons te hou. Leigh is daardie mens vir Retta, maar Retta is ook daardie persoon vir Leigh. Ek dink volwasse vriendskappe kan dikwels baat by daardie soort eerlikheid.
................
Soms het ons iemand nodig wat genoeg omgee om ’n spieël voor ons te hou. Leigh is daardie mens vir Retta, maar Retta is ook daardie persoon vir Leigh. Ek dink volwasse vriendskappe kan dikwels baat by daardie soort eerlikheid. Leigh en Retta se vriendskap is ’n onwaarskynlike een – hulle verskil soos dag en nag. Maar Leigh herinner Retta aan haar eie suster wat ’n klompie jare tevore selfdood gepleeg het. Retta kry dus iets waardevols by die vrygees Leigh. Iets wat sy herken en gekoester het in haar eie sussie, vir wie sy baie mis. Ons is dikwels aangetrokke tot mense wat ons so ’n bietjie uitdaag. Ek dink in Retta sowel as Leigh se geval was hul verskille juis die magic in hulle vriendskap. Terwyl ek die boek geskryf het, het ek vir Suria die jammerste gevoel. Retta het vriende en ’n sosiale lewe, maar Suria het net haar ma, Nura. En hoewel Nura baie lief is vir haar dogter, is sy nie haar vertroueling nie. Suria is eintlik stoksielalleen.
Wat vir my interessant is van hierdie boek/film, is dat mens dikwels ’n bildungsroman kry van iemand wat hulself as jongmens ontdek en dan volwasse word. Hierdie boek handel oor ’n vrou wat reeds volwasse is en deur verskeie hoofstukke geleef het – en haarself nou (her)ontdek. Ek dink voorts die temas waaroor jy skryf, is temas waarmee ma’s van skoolgaande kinders, of ma’s wie se kinders onlangs uit die huis is, sal kan identifiseer. Wie was jou teikenmark? Was jy self ook op die stadium waar jou kinders die huis begin verlaat het toe jy die boek geskryf het?
Dit is beslis ’n bildungsroman. Nie almal beleef behoorlike seksuele ontwaking in hulle tienerjare nie. Vir party van ons gebeur dit eers later. Daar kan verskeie redes daarvoor wees, maar in Retta se geval was dit haar erg konserwatiewe opvoeding. My generasie vroue wat in tipiese Afrikaanse huise grootgeword het, is nie aangemoedig om ons eie seksualiteit te verken nie. Voorhuwelikse seks was sonde, en soveel van ons het getrou om seks te mag hê. En dan uitgevind dat ons die verkeerde huweliksmaat om die verkeerde rede gekies het. Ek het die boek in 2018 geskryf. Ons enigste dogter, Mia, was in graad 11. Ek hoop nie dit maak van my ’n slegte ma as ek hier bieg dat ek nog nooit aan leë-nes-sindroom gely het nie. 😉 Ek was nog altyd ongelooflik dankbaar vir Mia se onafhanklikheid. Niks maak my so gelukkig as ouer as om te sien hoe sy haar plek in die wêreld vind en haar vlerke sprei nie. Maar Retta verskil baie van my. Van my vriendinne is meer soos Retta. Ek sien hoe swaar hulle kry wanneer hulle kinders die huis verlaat.
Jy het die boek geskryf en dit gevisualiseer toe dit tot stand gekom het. Hoe het jy gevoel oor die omskepping daarvan in ’n film? Hoe lyk dit vir jou anders as wat jy die gebeure in jou kop voorgestel het? Hoe lyk dit vir jou dieselfde? Of is die boek nou vry om in al jou lesers se koppe te lyk soos wat hulle dit voorstel?
Behalwe Retta self, en miskien Nura, lyk die karakters in die film glad nie soos ek hulle voorgestel het nie. Antoinette Louw is vir my die perfekte keuse as Retta – haar voorkoms ja, maar ook hoe sy Retta se broosheid, haar vasbeslotenheid om te alle tye die regte ding te doen, en uiteindelik ook haar ongelooflike dapperheid, vertolk. Antoinette se oë vertel ’n duisend stories. En ’n mens glo elke liewe een daarvan. Ek was bang dat kykers nie van Retta se karakter gaan hou nie. Perfeksioniste kan tog so ’n pyn in die gat wees! Maar Antoinette speel die karakter met soveel deernis dat ’n mens lief word vir Retta met al haar geite. Die humor in die fliek help baie om haar sagte kant na vore te bring. Die fliek is ’n komiese drama (dramady, soos die Engelse sê). Die boek het wel heelwat snaakse en ligte oomblikke, maar dit is oor die algemeen ernstiger.
In die boek wou ek hê dat lesers ook Tobias se kant van die saak moet sien. Dat hy ’n goeie pa is. Dat hy hom in ’n ingewikkelde situasie bevind, maar dat hy deurentyd verskeie balle in die lug hou omdat hy almal in sy lewe opreg lief het en niemand wil seermaak nie. In die fliek is sy rol kleiner. Hy word amper ’n middel tot ’n doel. In my kop was Leigh fisiek ’n groter vrou, baie wulps en selfs ’n bietjie mollig. Hilda Cronje, wat die rol van Leigh vertolk het, is besonder petite. Maar haar persoonlikheid is groot. Sy is in your face, brutaal eerlik en lief vir die lewe. Dit werk.
.............
Ek dink elke skrywer wat nog ooit die filmregte van hulle boek verkoop het, is aanvanklik verbaas oor hoe ander mense hulle karakters sien. Maar dis belangrik om te onthou dat kuns maar altyd gaan oor interpretasie.
...............
Ek dink elke skrywer wat nog ooit die filmregte van hulle boek verkoop het, is aanvanklik verbaas oor hoe ander mense hulle karakters sien. Maar dis belangrik om te onthou dat kuns maar altyd gaan oor interpretasie. En in die verwerking van ’n boek na ’n fliek word die produk verskeie kere deur verskillende skeppende individue geïnterpreteer: eers deur die draaiboekskrywer, dan deur elke mens wat ’n eiertjie te lê het oor die draaiboek. (Volgens Henriëtta was daar 17 weergawes van die draaiboek.) Daarna kom die rolverdelingsmense wat na oudisies kyk en besluit wie reg is vir watter rol. Dan besluit die kostuumontwerper hoe elke karakter moet aantrek; die kunsregisseur (in Retta se geval ook die regisseur) in watter huis die hoofkarakter moet woon, in watter kar sy moet ry, ens. En min daarvan is hoe ek dit in my kop voorgestel het. Op ’n beperkte begroting soos die Retta-fliek s’n speel realiteit ook ’n baie groot rol. Daar word gesoek na ’n huis wat meestal beige-en-wit dekor het, soos Retta se huis in die boek. Maar iemand bied dan hulle huis wat dalk meestal grys dekor het, teen ’n minimale fooi aan. Retta se beige lewe word summier ’n grys lewe. Haar motor is nie meer ’n luukse nutsvoertuig waarin al Leigh se "kunskakkies" kan pas nie. Dis nou ’n afslaankap-Mercedes wat die wonderlike eienaars van die betrokke huis beskikbaar gestel het. Dis ’n organiese proses wat amper weekliks verander. Dis ’n spanpoging. Dis hoe ek daarna kyk. Skrywers wat beheervrate is, sal waarskynlik nie hierdie proses oorleef nie. Maar ek het myself gereeld herinner: Iemand maak ’n fliek gebaseer op my roman! Het ek in my wildste drome gedink dit sou gebeur? Nee.
..............
Dis ’n organiese proses wat amper weekliks verander. Dis ’n spanpoging. Dis hoe ek daarna kyk. Skrywers wat beheervrate is, sal waarskynlik nie hierdie proses oorleef nie. Maar ek het myself gereeld herinner: Iemand maak ’n fliek gebaseer op my roman! Het ek in my wildste drome gedink dit sou gebeur? Nee.
................
Doen wat jy wíl doen, eerder as doen wat jy móét doen – ek dink dis dalk wat vir my van die boek en die film uitstaan. Wat is die frase/slagspreuk waaraan jy dink as jy iets wil opsom, of wil uitlig?
Ek sou sê: Wees altyd jou outentieke self. Om altyd na ander mense se pype te dans (al is dit jou geliefdes) maak ’n mens ontsettend moeg. En dans is veronderstel om lekker te wees.
Was jy betrokke by die omvorming van boek na film? Het jy insette gehad om te lewer, of het jy ook net die eindproduk gesien soos die res van die kykers dit sal beleef as hulle die fliek kyk?
.............
Ek het vroeg in die proses besluit: "Die boek is een ding. Die movie is ’n heel ander ding." Ek het absoluut niks aan Henriëtta se draaiboek verander nie.
.............
Ek het vroeg in die proses besluit: "Die boek is een ding. Die movie is ’n heel ander ding." Ek het absoluut niks aan Henriëtta se draaiboek verander nie. Toe die regisseur en vervaardiger my die dag in Parys besoek het, het ek wel aan hulle genoem dat die heel eerste weergawe van my manuskrip ’n ander einde gehad het. Hulle het daarvan gehou en gevoel dat dit meer "dramaties" en gepas sou wees vir die medium van film. Henriëtta het hierdie alternatiewe einde vir die draaiboek gebruik. Sy het ook besluit om die ekstra, klein rol van Ave te skep om Leigh se karakterontwikkeling visueel uit te beeld.
Gaan jy enige ander films by die Silwerskermfees kyk vanjaar? Watter Afrikaanse films het jy al deur die jare gesien wat ’n groot indruk gemaak het?
Ek het sover kaartjies vir die speelfilms Som van twee en Die kwiksilwers en ek sien baie uit daarna. Dis my eerste keer by die Silwerskermfees, en ek sal waarskynlik na ’n hele paar ander produksies ook gaan kyk. Ek sien ongelooflik uit daarna!
Kyk, ek was heeltemal gek oor Die wonderwerker, ’n fliek oor Eugène Marais wat in 2012 uitgereik is. Die fliekverwerking van Jan van Tonder se Roepman (2011) was vir my besonders. Ook hartroerend was Moffie (2019) en amper al die ou Jans Rautenbach-films. Ek is maar ’n sucker vir lewensdrama met ’n goeie skeut snot en trane. Maar soms is ek in die bui vir iets skreeusnaaks, soos Bouwer Bosch en Bennie Fourie se Vuil wasgoed (2017). Ek het dit al hóéveel keer gekyk, en dit bly skreeusnaaks.
Wat dink jy is die belang van ’n storie op die silwerskerm? Waarom is stories belangrik?
’n Storie op die silwerskerm bereik ’n mark wat die boek nie noodwendig sal bereik nie. Die feit dat al hoe minder mense boeke lees, is hartseer maar waar. En daar is stories wat eenvoudig met daardie wyer mark resoneer. Ek dink Die dekonstruksie van Retta Blom is so ’n verhaal. Ek het opgehou tel hoeveel mense vir my gesê het, nadat hulle die boek gelees het: "Ek het ’n soortgelyke verhaal. Jou boek laat my minder alleen voel."
Hier is nog inligting oor die film Die dekonstruksie van Retta Blom by die Silwerskermfees vanjaar:
Afdeling: Speelfilm
Genre: Drama
Vervaardiger: Cati Weinek & Dumi Gumbi
Produksiehuis: The Ergo Company
Regisseur: Pieter Grobbelaar
Draaiboekskrywer: Henrietta Greyfenberg
Skrywer: Zelda Bezuidenhout
Redigeerder: Tonia Moller
Kinematograaf: Jonathan Kovel
Klankbaan: Franco Prinsloo
Rolverdeling: Antoinette Louw, Hilda Cronje, Francois Coertze, Christopher vd Westhuizen, Carmen Maarman, Natalia da Rocha
Jaar: 2024
Koop kaartjies vir hierdie twee datums se vertonings:
Lees ook:
Die dekonstruksie van Retta Blom: ’n onderhoud met Zelda Bezuidenhout
Boekresensie: Die dekonstruksie van Retta Blom deur Zelda Bezuidenhout
Persverklaring: TV-benoemings vir kykNET Silwerskermtoekennings bekend
Persverklaring: Filmmakers en TV-bedryf gaan skitter by 12de kykNET Silwerskermfees