kykNET Silwerskermfees 2024: ’n onderhoud met Tina Kruger

  • 0

silwerskermfees.co.za

Tina Kruger, programbestuurder van die Silwerskermfees, beantwoord Naomi Meyer se vrae oor die fees vanjaar.

Tina, vertel asseblief vir ons lesers watter films vanjaar by die Silwerskermfees vertoon sal word.

Daar is ’n uiteenlopende aanbod kykstof. Ses speelfilms bring vollengte vermaak in die genres komedie, drama en romantiese komedie, waarvan ’n hele paar van hierdie smaaklike films as ’n subgenre "road movies" bekend staan. Buiten die speelfilms is ons tradisionele kortfilmaanbod ook ’n lushof met opkomende filmmakers wat hul stemme vir die eerste maal laat hoor.

.............
Daar is ’n uiteenlopende aanbod kykstof. Ses speelfilms bring vollengte vermaak in die genres komedie, drama en romantiese komedie, waarvan ’n hele paar van hierdie smaaklike films as ’n subgenre "road movies" bekend staan. Buiten die speelfilms is ons tradisionele kortfilmaanbod ook ’n lushof met opkomende filmmakers wat hul stemme vir die eerste maal laat hoor.
...........

Ons het vyf kort dokumentêre met onderwerpe wat die gehore sal laat regop sit, giggel en snak na hul asems, en sal trane trek. Die Shotgun-kortfilmprojek het aan ses ervare filmmakers die geleentheid gebied om opnuut hul kundigheid te vertoon. Buiten films is daar ook natuurlik TV- en stromeropwinding in die vorm van loodsepisodes van reekse of vollengte-dokumentêre. Ons het selfs een speelfilm en een kortfilm wat buite die kompetisie as première open.

Watter films staan vir jou uit as feeshoogtepunte?

Ek mag nie gunstelinge hê nie! Maar ek kan noem hoe trots ek is op die verskeidenheid genres en vernuwende aanslae van al die betrokke filmmakers. Ons het byvoorbeeld twee kortfilms wat in die LED Volume, ’n virtuele ateljee, verfilm is, en bied ook ’n werkswinkel aan wat hierdie nuwe tegnologie en die voordele daaraan ondersoek. Daar is ook ’n satiriese poppespel en ’n volbloedmusiekblyspel. ’n Volsirkel-oomblik vir die Silwermark is dat ’n kykNET-dokumentêr wat by laas jaar se fees aan besluitnemers voorgelê is, reeds hierdie jaar as première plaasvind. ’n Hele klompie speelfilmskrywers en regisseurs is voormalige akteurs, wat ’n bewys is van vindingrykheid en waagmoed. Elke film en TV- of stromervoorsmakie het sterk punte en is die moeite werd op een of ander vlak – daar is werklik ietsie vir almal! Die belangrike onderwerpe wat in ons werkswinkels, paneelgesprekke en meesterklasse die voortou neem, is aktueel en opwindend.

Hoe vergelyk die Afrikaanse filmwêreld met dié van ander kleiner tale?

Ek was onlangs in ’n internasionale webinaarreeks waar ons met top vervaardigers en skrywers van regoor die wêreld kon gesels oor die tendense, beperkinge en impak wat die afgelope klompie jare se ekonomiese toestande op vermaaklikheid gehad het. Die kort en die lank daarvan is dat almal eenderse druk beleef om te vernuwe en brûe te bou tussen ’n tradisionele filmlandskap waar films in teaters vrygestel kon word en films wat nou op kleiner skaal vir kleiner skerms ontwikkel word. Die Silwerskermfees se unieke aanbod van Afrikaanstalige inhoud as fokuspunt, en ook die feit dat die fees reeds vir meer as ’n dekade die bedryf stimuleer, bied ’n unieke spasie vir ’n intieme bedryf om nou hierdie brug met die nodige kruisbestuiwing en gemak, binne ’n bekende spasie met bekende rolspelers, te bou.

Hoe het die Hollywood-stakings ’n impak gehad het op wat hier gebeur?

Ek het by my kollega Wikus du Toit, senior bestuurder vir teksgedrewe inhoud Premium-kanale, aangeklop vir hierdie antwoord en hy meen dat die Hollywood-skrywerstaking nie kykNET of Showmax noemenswaardig geraak het nie, aangesien hierdie platforms hoofsaaklik plaaslike programme met Suid-Afrikaanse skrywers ontwikkel en skep, wat ’n bestendige vloei van inhoud verseker het. Daar was egter ’n paar bekommernisse vir M-Net, wat sterk staatmaak op gelisensieerde Amerikaanse en Britse inhoud, wat moontlik tot ontwrigtings in hul skedule kon gelei het. Maar uiteindelik is daar geen effek hier in Suid-Afrika gevoel nie.

Watter wenke kan jong en aanstaande filmmakers by die Silwerskermfees ontvang?

Ek beveel ten sterkste aan dat jong filmmakers die feesaanbod optimaal benut. Kyk soveel as moontlik inhoud, woon soveel moontlik paneelbesprekings en werkswinkels by en skryf in vir ’n meesterklas of twee. Behou ’n ingesteldheid van gretigheid om te leer en klop jou medefilmmakers op die skouer vir hul harde werk. Die glans van die bedryf is maar ’n klein aspek van ons alledaagse bestaan. Ons het nou ’n kans om as beide opkomende en gevestigde filmmakers, opdrgaggewende besluitnemers, media, borge en feesgangers mekaar se bloedsweet te vier! Geniet elke oomblik!

Hoe lyk die toekoms van Afrikaanse films?

’n Plofbare vraag, met ’n vae antwoord: Sekere brawe filmmakers maak fantastiese films wat steeds in die teaters regop staan tussen die oorsese aanbiedinge van superhelde en animasie; ander filmmakers kies om op kleiner skaal films te ontwikkel om direk op lineêre TV of stromingsdienste uit te saai. Ons hou aan films maak, ons hou aan droom, ons hou aan stories vertel. En die Silwerskermfees hou aan vernuwe om soveel filmmakers as moontlik geleenthede te bied om hul unieke stemme te laat hoor, te ontwikkel en ’n speelvlak te bied waar daardie werk kan skitter! En dan deel ons boonop nog meer as 50 toekennings vir uitstaande prestasies by twee spesiale geleenthede uit. Te lekker!

Die Silwerskermfees vind vanjaar van 28 tot 31 Augustus plaas: https://silwerskermfees.co.za.

Lees ook:

Persverklaring: Filmmakers en TV-bedryf gaan skitter by 12de kykNET Silwerskermfees

Press release: Spotlight on filmmakers and the TV industry at 12th kykNET Silwerskerm Festival

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top