Die dekonstruksie van Retta Blom
Zelda Bezuidenhout
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795708992
Jonathan Amid gesels met Zelda Bezuidenhout oor Zelda se Die dekonstruksie van Retta Blom.
Zelda, baie geluk met jou eerste roman vir volwassenes! Ek het heerlik gelees aan Die dekonstruksie van Retta Blom. Dis vars, intelligent, onderhoudend, deurgaans skreeusnaaks, dog ook diep menslik. Vertel ons ’n bietjie meer oor Zelda Bezuidenhout? Wat het sy gedoen voor skryf? Hoe gemaklik hang die etiket “skrywer” om haar nek?
Ek is verheug en verlig dat jy die boek geniet het! Dankie vir al jou ruimhartige woorde oor Retta.
Ek skryf eintlik nog al die jare reklamekopie om den brode. Nee wag, miskien is “om den brode” die verkeerde uitdrukking, want dit klink asof ek kopieskryf nie geniet het nie. Ek het! Hoewel die reklamebedryf ongenaakbaar kan wees en berug is vir sy onmoontlike spertye, is die werk dikwels skandalig opwindend. Die Amerikaanse reklameman Jerry Della Femina het nie verniet gesê “Advertising is the most fun you can have with your clothes on” nie. Hy’t natuurlik ook gesê: “Once you’re not number one, it doesn’t matter where you are.” En dis daardie meedoënlose strewe na “number one” wat ek glad nie mis nie. Die druk op jou om die Loerie te wen, die blue chip-rekening te behou, die slimmer idee op te tower. In wese is ek seker net te veel van ’n hippie – ek kon my nooit regtig met die verheerliking van kapitalisme assosieer nie.
Wat my wel soos ’n handskoen gepas het, was die kort rakleeftyd van daardie soort skryfwerk. Jy kry die opdrag, werk aan die konsep, dit word ’n keer of ses teruggestuur omdat die kliënt dink dit stink, maar die hele proses – van konsep tot finale produk – duur dikwels nie meer as ’n paar weke nie. Boekskryf is natuurlik ’n vetkoek met ’n heel ander vulsel. Ek raak stadigaan gewoond (met die klem op “stadigaan”) aan die slakkepas waarteen alles geskied. Dit voel seker nie so aan die uitgewerskant, waar soveel manuskripte en skrywersego’s bestuur moet word nie, maar vir die skrywer voel dit asof alles baie langsaam gebeur.
Oor die “skrywer”-ding. Ek het nou die dag vir die eerste keer die woord “skrywer” iewers op ’n vorm ingevul waar hulle vra wat my beroep is. Dit het ’n bietjie aansitterig gevoel.
In 2017 is jou jeugverhaal As mens geluk kon proe as naaswenner in Lapa se Jeugromankompetisie bekroon. Jy het self ʼn dogter, Mia, wat 18 is. Ervaar jy ʼn baie groot verskil in hoe jy ʼn roman vir volwassenes aangepak het teenoor wanneer jy vir ʼn jonger gehoor skryf? Is Mia ʼn klankbord?
Glo my, Mia is veel meer as net ’n klankbord. Met As mens geluk kon proe het sy byvoorbeeld vir my die idee van die skoolkonsert Haarsproei gegee. Ek moes iets uitdink wat by Arnelia se nuwe skool spesifiek uitgeknip was net vir háár karakter. Iets waarvoor sy spesiaal gekies word oor wie sy is of hoe sy lyk. Anders sou hierdie kinkel in die storielyn nie geloofwaardig gewees het nie. Omdat Arnelia ’n bietjie stewiger was as die meeste ander meisies in die skool, was die rol van Tracy Turnblad (Tilla Taljaard in die boek) pasgemaak vir haar.
Kyk, om vir tieners te skryf is nie kinderspeletjies nie. 😉 ’n Mens dink ag, dis ’n ou dun boekie wat ek tjop-tjop kan saamflans, maar jy trippel die hele tyd deur ’n mynveld van moontlike foute wat jou kan blootstel as die uncool volwassene wat jy eintlik is. Dit is beslis makliker om vir grootmense te skryf – dit help seker dat ek self een is. Of darem probeer om een te wees.
Retta se verhaal is inderdaad een van ontnugtering, maar beslis ook een van hoop. Waar kom jou inspirasie vir haar storie vandaan? Wanneer het Retta die eerste maal by jou kom aanklop, en was jy reg om haar in te nooi vir koek en tee? Het sy as die “volle pakket” by jou kom aanklop, of het sy stuk-stuk vorm aangeneem?
Ek het nie besef Retta gaan so ’n pyn in die gat wees toe sy die eerste keer by my kop ingewaai het nie. Al wat ek vooraf geweet het, is dat sy ’n vrou moes wees wat dink haar lewe is volmaak en dan hulpeloos toekyk hoe alles waarvan sy so seker was, skouspelagtig gedekonstrueer word. Ek het eers later besluit sy moet obsessief-kompulsief en pynlik netjies wees. Ek het eerstehandse kennis van so ’n mens, want my oorlede ma was ’n neat freak. Ek was egter ook vasbeslote om van Retta ’n baie aangename en dierbare mens te maak. Sy het ’n goeie hart. Vir die doel van hierdie roman het ek eintlik maar die ou cliché “Soms gebeur slegte goed met goeie mense” van die rak afgehaal en dit met een van Retta se verestoffers bygekom.
“As jy wil weet wat regtig in iemand se kop aangaan, luister na dit wat hy of sy nie sê nie. Kyk na dit wat hulle nie doen nie.” Wie moet Retta Blom lees? Het jy iets soos ʼn ideale leser? En dink jy die roman gaan sommige lesers onkant betrap? Wat is jou terugvoer sover, soos jy die boek oor die land bekendstel?
Ek het aanvanklik gereken Retta is ’n boek vir vroue van ’n sekere ouderdom, maar tot my vreugde kom ek nou agter mans lees dit ook en geniet dit. Daarom dink ek die boek is eintlik vir enigiemand wat belangstel in wat net-net onder die oppervlak van mense se lewens aangaan. Aangesien dit vir my nog altyd baie belangrik was dat ander van my hou, het ek dikwels my intuïsie oor mense en situasies geïgnoreer. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat klein tekens groot stories vertel. Ek dink tog ek is nou ’n bietjie wyser.
Daar was by my die vrees dat ek sekere lesers sal ontstel deur geloof – in hierdie boek spesifiek Christenskap – onder die vergrootglas te plaas. Die boek kritiseer nie geloof as sulks nie, maar kritiseer wel geloof wat as “erfgoed” net so aanvaar word en nie werklik eg is nie.
Tot dusver kry ek regtig positiewe terugvoer oor die boek. Lesers wil weet of daar ’n opvolg gaan wees, of waaraan ek nou skryf. Dis mos ’n goeie teken? Ek dink elke skrywer wonder of haar boekbaba die harde werklikheid van slim lesers en brutale resensente gaan oorleef. Dit geld veral vir nuwe skrywers soos ek.
Bemarking is deesdae ʼn onontbeerlike deel van die skrywer se wêreld. Haal dit jou uit jou gemaksone om in die openbare oog te wees, of is jy gemaklik met die aandag? Weet jy wat jou Myers-Briggs-persoonlikheidstipe is, en maak sterretekens enigsins vir jou saak? Geniet jy sosiale media?
Volgens die Myers-Briggs-toets val ek onder die “bemiddelaar”-persoonlikheidgroep en is ek spesifiek die INFP-T-tipe. Ek is ’n introvert wat as kind en tiener in die kas weggekruip het as mense kom kuier. Ek is steeds daardie kind wat in die kas wegkruip, maar het oor die jare vaardighede aangeleer om in sosiale omgewings te funksioneer wanneer ek moet. Ek doen dit blykbaar baie goed, want mense ervaar my nie as teruggetrokke of skaam nie. Maar dis alles toneelspel (dankie, Drama I – ’n onwaarskynlike universiteitsvak vir my). Die feit is dat ek regtig altyd verkies om alleen of met net een ander persoon te wees. Wanneer ek dus my jeugfiksie by skole bemark, moet ek ’n pil drink om nie te hiperventileer nie, en voel ek na die tyd soos Bradley Cooper se karakter in A star is born wanneer hy ná ’n konsert in die limousine klim en al die geroesemoes uitblok. Totaal uitgeput! En ja, ek het myself so pas met ’n rockster vergelyk én erken dat ek pille gebruik voordat ek met kinders gesels.
Ek wil graag sê dat ek nie in sterretekens glo nie (want ek is ’n Taurus en Bulle is sien-is-glo-mense – hoe’s daai vir ironie op verskeie vlakke). Tog ontmoet ek net te dikwels mense wat ek sommer self as ’n Bul eien nog voordat ek weet wanneer hulle verjaar. Soos jy, Jonathan. Hoe verklaar ’n mens dit? Ek dink ek glo tog ’n klein bietjie in alles. Ek is die soort draadsitter wat al strepe op my boude het van al die sittery.
My verhouding met sosiale media is liefde/haat. Ek is lief daarvoor omdat dit vir ’n introvert die ideale manier is om kontak met die buitewêreld te behou. Maar ek voel elke nou en dan asof ek daarvan moet “ontgif”. Dis die konstante egopoetsery wat my soms onderkry. Ons wys net vir ander wat ons wil hê hulle moet sien. En nêrens anders is dit méér opmerklik as op sosiale media nie. Soms wens ek daar was iets soos antisosiale media, waar mens net jou slegte kant mag wys. Ek vermoed ek sal baie meer aktief daarop wees.
Ek moet vra oor die titel: Ons het hier met iets effe anders as Jacques Derrida se dekonstruksie te make, nè? Retta neem haar lewe, haar eie lewensverhaal, in oënskou om tot verhaal te kom nadat haar man, Tobias, se ontrouheid op die lappe kom. Dis ook toevallig ʼn goeie vriendin wat haar daarvan vertel. Een van hul twee seuns, Dawid, is ook ʼn aanhanger van “deconstructed cuisine”, en daar is byvoorbeeld ʼn wonderlike toneel vroeg in die boek waar hy vir Retta en Tobias en hul gaste koek saam met sy vriendin, Amy, bedien. Dan is daar ook verskeie ander voorbeelde van dekonstruksie wat die verhoudings, gewoontes en gebruike en aannames in Retta se lewe betref. Het die idee van dekonstruksie dadelik met die deur in die huis geval, of moes jy swoeg en sweet om die perfekte titel en motief te vind?
Ek moes nou eers gaan Google wie Jacques Derrida is en wat hy oor dekonstruksie te sê gehad het. Ek het die voorbeeld van dekonstruksie in kookkuns, eerder as in letterkunde, gebruik as ’n metafoor vir Retta se “uitmekaarval”. Die eerste gedekonstrueerde gereg wat ek ooit geëet het, was melktert. Dit is as ’n blertsie melkpap, kaneelroomys en ’n bros deegwaaier wat parmantig op die bord gestaan het, voor my neergesit. Dit was heerlik! Geure wat altyd in harmonie saamwerk, kon ek afsonderlik proe en self besluit of ek hulle weer saam op my vurk wou laai. Ons almal word met intrinsieke eienskappe en talente gebore, maar ter wille van oorlewing en om “in te pas” ontwikkel ons dit nie altyd nie. Dis wat met Retta gebeur het. Sy het gekies om die ondergeskikte in haar verhouding met Tobias te wees. Sy het dit nie gekiés nie; dit is soort van van haar verwág. Eers toe al haar sekerhede begin wankel, het sy dieper gedelf en ’n ander, sterker en meer kreatiewe Retta ontdek.
Ek sukkel gewoonlik met die titels van boeke. Maar hierdie titel is wonder bo wonder die oorspronklike werkstitel van die manuskrip. Vir ’n rukkie het Kwela-boeke gedink dis dalk te akademies vir ’n ligte roman. Maar later het hulle besluit dat dit tog goed kan werk.
Die titel sinspeel ook op die dekonstruksie van die genre chick lit, of lettere wat vir die vroueleser geen word. Lees jy self chick lit? Kyk jy romkoms? Is dit vir jou lekker om met formules en verwagtinge te speel, en om binnepret te hê? Dink jy daar is ʼn mate van snobisme, veral plaaslik, steeds, wanneer genrefiksie ter sprake is? Indien wel, hoe verander ʼn mens daardie soort opvattings?
Daar is ongetwyfeld snobisme rondom die sogenaamde chick lit-genre. Elke keer as ek my manuskrip chick lit genoem het, het my uitgewer – die uiters bedrewe Carolyn Meads – vir my gesê ek moet dit liefs “’n ligte roman met ’n sterk vroulike hoofkarakter” noem. Ons het later daaroor gelag. Ek vermoed chick lit is baie soos sekere tydskrifte wat topverkopers is in die land, maar wat geen denkende mens blykbaar lees nie. Regtig? Ons is mos nie altyd lus om intellektueel gestimuleer te word nie. Soms wil ’n mens net ’n boek lees oor ander mense se probleme, sodat jy minder alleen voel.
Ek lees graag slim vrouefiksie en is nog al die jare ’n groot aanhanger van Marita van der Vyver se boeke. Sy het my heeltemal oorrompel met Griet skryf ’n sprokie, en ek is sedertdien ’n Marita-“groupie”. Ek is ook gek oor vroueskrywers wat met humor kan toor. Caitlin Moran is ’n groot gunsteling.
Jy skryf op indrukwekkende wyse oor verskillende vroue, hul motiverings, menswees, maar ook hul seerplekke en vertwyfelings. Daar is netwerke van ondersteuning, vriendskap en deernis, maar ook kompetisie, onenigheid en heelwat nydigheid onder die vroue in jou storie. Wil jy ’n bietjie vertel oor Retta se binnekring, en dalk veral iets se oor Leigh en Koba, wat belangrike karakters is? Dink jy daar is genoeg sisterhood tussen vroue tans, of is kompetisie tussen vroue self – vir mans, vir sukses – iets wat steeds baie swaar weeg? Hoe lyk dinge in Parys in die Vrystaat, waar jy tans woon?
Ek was nog altyd ’n “girl’s girl” en is beslis deel van die sisterhood. Maar dit beteken nie dat ek blind is vir die vroulike geslag se geite nie. Inteendeel, ek stem saam met die stelling “The female of the species is deadlier than the male.” Ek wou juis in die boek wys tot wat ’n oënskynlik “gedienstige” en “gematigde” vrou soos Retta Blom in staat is as sy onder te veel druk geplaas word. (Hier verwys ek spesifiek na haar wraakgedagtes rondom Tobias se tuiskoms nadat sy van sy verraad uitgevind het.)
Soos ek, het Retta egter mense in haar hoek. Koba is haar praktiese staatmakervriendin en ook die een wat die saadjie van wantroue by haar plant. Leigh is ’n maltrap – die een wat vir haar wys dat die lewe soms ongestruktureerd en lig moet wees. Hermien laat haar besef dat die uiterlike regtig nie so belangrik is nie – Hermien se kuberkêrel, Stoffel, speel ook ’n klein maar belangrike rol in Retta se lewe, omdat hy vir haar ’n onafhanklike, manlike perspektief op ontrouheid bied.
Ek glo die sisterhood is vir talle vroue ’n reddingsboei. Die meeste vroue wat ek ken, lei verstommend bedrywige lewens. Ek praat hier van veeleisende loopbane, lewensmaats en kinders. Daar word van hulle verwag om al hierdie balle met grasie en perfek-gemanikuurde hande in die lug te hou. Wanneer hulle bymekaarkom vir koek en wyn, of soos in Retta en Leigh se geval, gin en tonic, gaan dit veel dieper as net vroueklets. Dit is broodnoodsaaklike terapie. Ek het ’n dierbare vriendin met wie ek letterlik elke dag in WhatsApp-verbinding is. Hoewel sy ver van my af woon en ons mekaar nie dikwels sien nie, help ons mekaar om sin te maak van die lewe. Soms kerm ons oor mans en kinders en wat om vir aandete te maak. Maar meer dikwels praat ons oor diep, filosofiese goed. Hier in Parys het ek ’n wonderlike, uiteenlopende groep kosbare vriendinne.
Hoe gemaak met clichés? Met die vrou wat haarself “vind”? Met die ontroue eggenoot, die “road trip”, en die “handsome stranger”? Al drie elemente staan sterk in jou roman, en tog voel hulle nie afgeleef en opdringerig nie. Wat is jou geheim?
Dit is al so dikwels gesê, maar hier kom dit weer: Clichés word clichés juis omdat sekere situasies hulself aanmekaar herhaal. Die ontroue eggenoot is een van daardie herhalende temas. Dit kan tog nie beteken dat ons nie meer daaroor mag skryf nie? Maar ja, ek het probeer om die deurtrapte temas eg en met ’n vars aanslag te benader. Ek is bly as jy dink dit het gewerk.
Die grootste lekkerte en die grootste gesukkel met Retta? Waarin kon jy jou verlekker, en wat was vir jou die moeilikste of uitdagendste dele van die proses? Het jy ʼn vaste roetine? Skryf jy elke dag?
Dit was vir my eufories lekker toe Retta se verhaal begin momentum kry. In daardie tyd het ek vir myself ’n eenvoudige metode geprakseer om die storielyn met een oogopslag te kan sien ontvou: Ek het ’n hele klomp kleefnotas van allerhande kleure gebruik en dit in ’n ry op my lessenaar geplak. Die ry het later teen die tafelpoot af en al langs die vloer begin kronkel, maar die lekker ding van hierdie plan was dat ek die notas kon rondskuif of nuwes invoeg. As ek dus besef het ’n karakter moes in ’n vroeër stadium al iets gesê of gedink het, kon ek net ’n nuwe kleefnota inlas.
Die slegste deel was toe my uitgewer die manuskrip vir die eerste keer lees en ’n kort opsomming vir my stuur oor wat sy daarvan dink. Dit het daarop neergekom dat sy van die storielyn hou en dat Kwela graag die boek wil uitgee, maar dat daar twee belangrike veranderinge aangebring moes word. Ek het die roman uit vier of vyf perspektiewe geskryf. Haar voorwaarde vir publikasie was dat dit uit die perspektiewe van net die twee vroue in Tobias Blom se lewe geskryf mag word. My moed het in my skoene gesak, want dit het ’n klomp herskrywery beteken. Maar dit het nie lank geneem voordat ek besef het haar vereiste was die beste ding wat met my boek kon gebeur het nie.
Ek het geen vaste skryfroetine nie. Ek skryf in die bed, op die stoep, in koffiewinkels en soms selfs by my lessenaar. Enige tyd van die dag of nag. Soms skryf ek vir dae glad nie. Ander kere sit ek die hele dag lank in my slaapklere en skryf.
Naamgewing is ʼn belangrike kode in jou roman. Van Lauretta Blom, met die suggestie van lewensiklusse, lewe en dood, afskeid en verlies, maar ook groei en nuwe moontlikhede, tot Adam Krige, ʼn ware “eerste man” vir Retta in vele opsigte, ten spyte van haar huwelik. Hoe het jy op die name besluit? Speel jy gewoonlik lekker rond met name voor jy besluit? Hoeveel van Zelda is in Retta?
Retta was eers Reina, om klaarblyklike redes. Maar terwyl ek aan die boek geskryf het, is ’n ander Afrikaanse boek met “Reina” in die titel gepubliseer. Toe besluit ek om haar te herdoop. Ek moet erken, ek het ’n kort van gesoek eintlik maar net omdat die titel alreeds so lank was. Ek het eers later besef dat ek lekker met die simboliek van “Blom” kan rondspeel.
Ek kan eerlik sê dat die enigste ooreenkoms tussen my en Retta die feit is dat ons al twee vroue is.
Jy het ʼn besonderse prosastyl in hierdie roman, met ʼn bitter fyn aanvoeling vir raak beskrywings en die tekstuur en gevoel van ʼn gegewe oomblik. Waar dink jy kom dit vandaan? Is dit natuurlike empatie met mense, jare se “people watching”, liefde vir fliek en lees, en hard werk aan jou styl? Al die bogenoemde, dalk?
“People watching” is beslis ’n gunstelingtydverdryf. Dis vir my lekkerder om net buite ’n gonskring te staan en na die interaksie van mense te kyk as om daaraan deel te neem. Ek hou van alleen reis, alleen fliek en alleen in koffiewinkels sit. Ek weet dis ’n bietjie creepy, maar ek was nog altyd so. Want dan kan ek afkyk en afluister. Mense fassineer my: Hulle kan wys, weerloos en liefdevol wees, maar ook so onverstaanbaar onnosel en wreed.
Jy vind ʼn balans tussen die komiese en die tragiese, en tussen die alledaagse en banale en dit met ewigheidswaarde in Retta se verhaal. Wat is vir jou die mees kosbare dinge in die lewe? Is dit maar ʼn geval van met Lucebert saamstem dat alles wat weerloos is, waarde het, of hoe sien jy dit? Wanneer word iets vir Zelda Bezuidenhout waardevol? Wanneer het iets sy raklewe gehad, en beweeg mens aan?
Die heel kosbaarste ding in die lewe is tyd. Ons maak mos almal die fout om te dink ons tyd gaan nooit opraak nie. Noudat ek ouer is, wil ek nie meer te veel tyd spandeer aan aktiwiteite waaruit ek nie vreugde put of mense met wie ek nie ’n verbintenis voel nie. Ek het selfsugtig geword met die skaars kommoditeit tyd.
’n Groot deel van my gedagtewêreld draai daagliks om die vrae: “Hoekom is ek hier?” “Wat is my doel?” “Wat gebeur regtig as ’n mens doodgaan?” Dit klink miskien donker, maar vir my is dit eintlik die enigste belangrike vrae. Ek verwonder my aan mense wat hierdie dinge so mooi uitgesorteer en geliasseer het. Ek het nooit die geskenk van kinderlike geloof ontvang nie en vermoed ek sal met hierdie vrae worstel totdat ek doodgaan.
Jou vraag oor raklewe is interessant. Ek het met groot hartseer in my vroeë veertigs besef dat sekere vriendskappe ’n rakleeftyd het, net soos verhoudings. Hier wil ek nou spontaan Simon en Garfunkel se “A hazy shade of winter” begin sing (hoewel The Bangles se latere weergawe natuurlik beter was). “Seasons change with the scenery,” lui die lirieke. Ons omwêreld en omstandighede verander deurlopend. Ons moet noodwendig self ook tot ’n mate verander en aanpas, anders het ons moeilikheid. Soms bly daar goed in die slag – soos ’n huis waar jy geborge gevoel het, of ’n pel. C’est la vie.
Jy wend musiek, en veral lirieke, uiters funksioneel aan. Ek het byna gehoop dat daar nog meer daarvan in die teks sou kon wees. Wil jy iets sê oor veral die keuses van Dave Matthews Band se “The space between” en Tracy Chapman se “Telling stories”?
Musiek is ’n groot deel van my lewe en ek luister na alles van Hendrix tot Macklemore. Ek gebruik dit ook dikwels in my jeugverhale en my jeuglektuuruitgewer moet net keer of elke toneel kry ’n klankbaan. “The space between” se lirieke was perfek van toepassing op Retta Blom se verhaal. In my verbeelde fliekweergawe van Retta Blom hoor ek Tracy Chapman se “Telling stories” tydens die eindtoneel. Retta slaan haar karretjie se dakkap af en draai uit die stowwerige Nieu-Bethesda-pad teerpad toe. Ons sien hoe haar motor kleiner en kleiner in die winterlandskap van die Karoo word. Doof uit. Dan begin die titels op die swart agtergrond rol. En dis wanneer Dave Matthews se “The space between” speel.
Het jy ooit die reeks Desperate housewives gekyk? Op jou kort bio op Facebook noem jy dat jy ’n Netflix-verslaafde is. Wat kyk jy tans, of wat onlangs indruk gemaak het? Het visuele vertelkuns ʼn invloed op hoe jy skryf? Waar kom jou inspirasie vandaan? Het jy ʼn muse?
Ek was gek oor Desperate housewives! Dit het daai net-onder-die-oppervlak-donkerte van ’n voorstedelike lewe tot die ekstreem geneem – wat ’n wenresep. Ek het pas na die Big little lies-reeks gekyk en is besig om deur die jongste seisoen van Stranger things te werk. Ek skryf altyd my boeke soos flieks wat voor my afspeel. Dit help veral om dialoog natuurlik te laat vloei.
Ek dink my muse moonlight en werk dalk ook vir ’n paar ander skrywers, van wie sy meer hou.
Jou karakterisering is ʼn besliste sterk punt. Hoe neem jou karakters vorm aan? Wie het jou die meeste verras of onkant gevang? Het een of twee ter elfder ure ingeglip, of beplan jy alles haarfyn?
Ek doen die minimum beplanning rondom karakters. Ek het gewoonlik ’n vae idee van hul funksie om die storielyn te help uitspeel. Eers wanneer hulle begin praat, begin hul eienskappe gestalte kry. Koba is die een karakter wat my verbaas het. Sy het as rateltaai begin en was op die ou end besonder menslik en versorgend. Ek wil byna sê sy is my gunsteling.
Ek het baie van Adam gehou. Hy en Retta se man, Tobias, is interessante teenpole. Het jy ook ʼn sagte plekkie vir Adam?
Ek is gek oor Adam, ja. Maar dikwels dink vroue hulle wil ’n Adam hê – sensitief, kunssinnig, ingestel op hul behoeftes. Maar tog kies hulle ’n Tobias wat baie geld verdien en stabiliteit kan bied. Net soos wat mans dikwels ’n affair het met ’n sekere soort vrou maar ’n heel ander soort vrou trou, dink ek die meeste vroue sal dalk ’n affair met ’n Adam hê maar liewer met ’n Tobias trou. Want Tobias gaan vir haar die groot 4x4 kan gee en vir die kinders se ekstra wiskundeklasse kan betaal. My sisterhood-susters gaan my dalk vir hierdie een afskil en vir die wolwe voer.
Ek voorspel dat jy vele lesers sal verras met die ouer-kind-dinamika in die boek, en die diep menslikheid wat jy as skrywer openbaar soos wat die leser Tobias se “ander familie” leer ken. Sonder om te veel te verklap, hoeveel van ʼn uitdaging was dit om aan Klarabelle Manser lewe te gee, en om haar ma, Suria, die “ander vrou”, ook ʼn simpatieke karakter te maak?
Ons eie dogter het epilepsie en tot ’n groot mate is Klarabelle se verhaal Mia s’n. Dit was dus maklik om by Suria se kop in te klim. Dis die moeilikste ding waardeur ’n ouer kan gaan: om jou kind te sien ly en nié te kan help nie. Die swaard wat oor ’n mens se kop hang omdat jy altyd vir die volgende aanval wag, kan ek nie beskryf nie. Dit maak jou oud.
“Onder draai die duiwel rond” is ʼn gesegde hoogs toepaslik in konteks van Retta as karakter. Hoekom sal lesers met haar kan identifiseer? Het sy jou soms frustreer?
Niemand is so blind soos die een wat nie wil sien nie. Partykeer wou ek net vir Retta ’n sterk espresso maak en dit onder haar neus rondswaai. Ek dink ons kan almal identifiseer met daardie innerlike gesprekke wat ’n mens met jouself kan hê wanneer jy verskonings vir iemand uitdink of ’n situasie probeer regverdig. Wakker word, Sussie!
Ek het jou skrywe oor voorkoms, lyftaal, kosmetiek en liggaamlikheid baie geniet en insiggewend gevind. Wat is Zelda Bezuidenhout se eie siening van vroulike skoonheid, en skoonheid as konsep en ideaal? Hou skoonheid noodwendig verband met iets wat waarheid en outentisiteit beliggaam? Wanneer is iets vir jou mooi, en probeer jy dan iets daarvan vasvang? Watter tipe mens is vir jou mooi en laat jy in jou eie binnekring toe?
Skoonheid het altyd vir my te doen met gemaklik wees in jou vel. Ek ken mans en vroue wat glad nie aan die algemene standaard van “mooi” voldoen nie, maar wat hul voorkoms en lyflikheid met soveel selfvertroue besit en geniet dat hulle onweerstaanbaar aantreklik is. Daarteenoor het ek al modelmooi mense ontmoet wat so ongemaklik en onseker is dat hulle binne sekondes muurblommetjies vir my word. Retta het altyd baie op haar perfekte lyf en skoonheid staatgemaak. Noudat sy ouer word, is dit vir haar ’n krisis. Ek dink mense wat uiterlik “gemiddeld” is, het minder van ’n oudwordkrisis, omdat hulle nog altyd op ander aspekte van hul menswees moes reken, nie net op hoe hulle lyk nie.
Die reismotief is altyd iets genotvol om mee te speel – het jy inspirasie geput uit films soos Thelma and Louise, en ʼn roman soos die onlangse Selma en Louise deur Susan Coetzer? Het jy self al ʼn soortgelyke road trip aangepak met Walter die Wonderhond?
Ek het nog nie Susan Coetzer se boeke gelees nie, maar sal dit beslis op my leeslys sit. Die road trip is ’n gewilde tema omdat dit vir die skrywer soveel ruimte gee om karakters te ontgin. Ons is mos almal ’n bietjie meer avontuurlustig wanneer ons uit ons bekende milieu geruk word. Reis verbreed horisonne – en laat ons maar eerlik wees, Retta se horisonne het binne net ’n dag of twee van 2D na IMAX gegaan.
Seks, seksualiteit en sensualiteit figureer sterk in hierdie teks. Hoera! Kry jy die gevoel dat vroue in Suid-Afrika steeds in een van twee boksies, óf die Madonna óf die hoer, gedruk word? Wou jy ʼn slag slaan vir vroue wat as meer konserwatief identifiseer? Retta besef haar vrouwees is onlosmaaklik verweef met haar identiteit as sensuele en seksuele wese, en dat die “orgasmefabriek” darem nog werk. Beskou jy jouself as ’n feminis? Indien wel, is hierdie ʼn feministiese teks?
My oorlede ma het altyd gesê Duits is nie ’n “singtaal” soos Frans nie. Vir haar het liefdeswoorde bloot nie romanties in Duits geklink nie. Ek vermoed daar is mense wat dink dat Afrikaans nie ’n taal is waarin ’n mens oor seks praat of skryf nie. Dis natuurlik onwaar. Sogenaamde konserwatiewe Afrikaanse vroue is besonder sexy en sensueel. In Retta se geval moes sy net uit haar bekende wit-en-beige kou vrygelaat word om dit opnuut te besef. Die groot feminis in ons huis is my man, Izak. Hy glo dat ’n vrou byna alle werk beter kan doen as ’n man. Of dit nou koek bak of neurochirurgie is. Juis omdat vroue gewoonlik baie meer aandag aan besonderhede gee. Ek weet nie of ek dit ’n “feministiese” boek sou noem nie. My manuskrip was al maande by die uitgewer toe ek Sophia Kapp se Kantelpunt gelees het. Ek het die boek geweldig geniet, en my eerste reaksie was: “As Die dekonstruksie van Retta Blom eendag groot is, wil sy Kantelpunt wees.”
Vertel iets oor die druk op vroue om in verskeie sfere te presteer, ook veral in die huis, wat jy so raak vasvang in jou boek?
Ek beskou my eie huwelik as redelik modern. Maar die dag toe ek en Izak besluit het om vir Mia te hê, het ons nie planne gemaak oor hoeveel ons elkeen sou prysgee in terme van tyd en lewensideale om haar groot te maak nie. Ons het al twee eenvoudig aangeneem dat ék die een sou wees wat my loopbaan vir ’n hele klompie jare sou afskeep. Izak se lewe het byna glad nie verander nie. Hy het harder as ooit gewerk, steeds visgevang en fiets gery en alles gedoen wat vir hom lekker was. By sosiale funksies was ek pynlik bewus van die feit dat ek vir die eerste keer in my lewe eintlik deur ’n man onderhou word, en ek was baie skaam daaroor. Nie alle vroue het hierdie reaksie nie, maar my identiteit het nog altyd baie te doen gehad met wat ek doen vir ’n lewe.
Retta en Leigh se reis per motor neem hulle van die Goudstad na die Moederstad – dis vir my geen toeval dat dit ook hier in die Kaap, as ʼn tipe eindbestemming en die lokus van die klimaks, is dat die tema van moederskap so sterk na vore tree nie. Dit was vir my baie roerend hoe jy mense van verskillende gelowe, kulture en rasse op so ʼn outentieke wyse nader kon bring op die vlak van verstaan en omgee.
Ongeag wie ons is of waarin ons glo, liefde bly die universele taal wat tot almal spreek. Ek wou gehad het die liefde moet in hierdie boek seëvier. Daarom het ek met opset mense uit verskillende kulture saamgegooi in die nagevolge-brousel van ’n onbeplande swangerskap. Ek het skaamteloos gebruik gemaak van die onskuld van ’n kind om ’n spieël voor die volwassenes in die verhaal te hou en die speelveld gelyk te maak.
Zelda, jy het nou nie ʼn vervolg op John Miles se Op ’n dag ’n hond gaan staan en skryf nie, tog is honde baie belangrik in hierdie teks. Vertel ’n bietjie?
Ek was nog net een jaar van my lewe sonder ’n hond. En glo my, dit was ’n besonder slegte jaar vir my. Ek het in ’n kothuis agter in iemand anders se erf gewoon en die heeltyd praatjies gemaak met die buurvrou se bulhond. Retta en haar huis was so klinies en “stil” dat ek met Charlie ’n bietjie warmte wou inbring. Ek het egter seker gemaak dat hy by die meubels en gordyne pas. 😉 Wat die ander hond in die verhaal betref – Maverick – wil ek nie te veel sê nie. Ek gaan dalk ’n kinkel verklap.
Kommunikasie sonder woorde is iets waaroor Retta heelwat nadink.
Ja, Retta is baie goed daarmee om woordelose boodskappe te ontsyfer. Selfs Tobias se bedkassie vertel vir haar stories. Adam se karig-gemeubileerde huis en die nederige veldblomme op haar kopkussing het haar weer baie van hóm vertel. Selfs die name van plase op uitdraaiborde kry haar kop aan die werk en laat haar “back stories” vir die plaasmense uitdink.
Tobias se ander lewe is “iets wat die volmaakte tafereel versteur”. Dink jy dis moontlik om iemand ooit ten volle te ken, of te leer ken?
Nee, ek dink nie dis moontlik nie. Elke mens hou tog ’n stukkie van hom- of haarself heeltemal privaat. Al is dit net die kleinste brokkie. Ons wys nie eers vir ons lewensmaats alles nie. En ons hoef ook nie.
Humor is volop, en so vermaaklik, in jou skryfwerk. Wat is vir jou snaaks, en wat laat jou lag tot jy huil?
Ek kan vir die simpelste goed lag. Soms sal ek en Mia in die kar ry en sy sal iets ewe droogweg kwytraak wat my so aan die lag kry dat ek moet stilhou. Ek is gek oor die Britse komediant Ricky Gervais. En dan natuurlik ons plaaslike Snorseun, Schalk Bezuidenhout. Partykeer sê ek vir vreemdelinge wat langs my op vliegtuie sit dat ek sy ma is.
“Dit voel inderdaad of Retta ʼn kramp het. ʼn Kramp wat haar hart vasgryp en soos ʼn nat handdoek uitdraai om die lewe uit haar te wring.” Waar kom Zelda Bezuidenhout se mensekennis en wysheid vandaan?
As ’n mens diep in jou vyftigs is, het jy al ’n hele paar goed oorgekom. My hart is al hoeveel keer gebreek, en daarom weet ek presies hoe dit voel. Die temas en karaktertipes in Retta het ek almal op een of ander tydstip in my eie lewe beleef of raakgeloop. Ek het byvoorbeeld vir ’n Koba-tipe vrou gewerk toe ek in my twintigs was. Sy het my gereeld in trane gehad. Ek dink ’n mens delf maar in hierdie ervaringsdata van jou om karakters te skep. Ek dink nie ek is noodwendig vreeslik “wys” nie.
Retta begin naderhand soos ’n “dom muurblommetjie” voel; Leigh se “fieterjasielose eerlikheid” word ʼn reddingsboei.
Ja, Retta het vir Leigh nodig gehad om elke nou en dan vir haar ’n wake-up call te gee. Daardie wit-en-beige lewe moes ’n blerts rooi of blou kry van tyd tot tyd. Dit was darem net te onwerklik.
ʼn Besliste hoogtepunt is hoe jy “online dating” ondersoek deur die karakter van Hermien, wat nie ʼn klein vroutjie is nie, en Stoffel, haar langafstandkêrel met die John Lennon-brilletjie.
Het jy van dié tweetjies gehou? Ek ook! Hulle gee ’n mens so half moed vir online dating, nè? En ou Stoffel was darem maar van goed aanmekaargesit, al was alles aan hom so rond. Selfs sy brilletjie.
Hoe ons onsself sien, en hoe ander ons sien, staan sentraal. Hoe behou ʼn mens ʼn sin van eerlikheid en die outentieke soos wat alles om ons ʼn handelsmerk word, en verhoudings dreig om al hoe meer oppervlakkig te raak as gevolg van lewe agter skerms?
’n Kollega van my het altyd gepraat van jou eie “bubble of integrity” wat jy om jou moet skep, al raak die wêreld hoe mal. Soos ’n klavier nou en dan ingestem moet word, of meetinstrumente gekalibreer moet word, moet ’n mens jou van tyd tot tyd afvra: Doen ek nog wat ek wil doen? Is ek gelukkig? Leef ek volgens my eie waardestelsel, of volgens iemand anders s’n?
Marilyn French se The women’s room as interteks?
Ek het haar boek as ’n tipe “Paaseier” in die manuskrip geplant. Lesers wat The women’s room gelees het of wat bewus is van die feministiese inhoud van die boek, kan dit as beduidend sien. Maar as die leser dit nié gelees het nie, maak dit natuurlik nie saak nie.
Klarabelle Manser, elfjarige liefdeskind, swemkampioen en epilepsielyer, kruip sommer diep in mens se hart in.
Ja, Klarabelle is eintlik die een met “regte probleme”. Haar onskuld en chroniese siektetoestand gee vir ons iets waaraan ons die grootmense se (dikwels selfgemaakte) dramas kan meet. Sy veroordeel nie, sy het nie agendas nie. Sy is net ’n kind met sterre in haar oë vir wie die dobbelsteen sleg geval het. Dit is waarom ons haar liefkry.
Watter heilige koeie behoort ons meer van te slag in Suid-Afrika?
Ek dink Deon Maas het daardie onderwerp deeglik en baie slim aangespreek in sy boek Melk die heilige koeie. (’n Boek wat ek heel ironies in die Christelike afdeling van Potchefstroom se CNA raakgeloop het. Dit moes die woord “heilige” gewees het wat die rakpakker verwar het.) Ek kan sowaar aan niks dink wat hy nie reeds vlymskerp beskryf en met ’n goeie skeut wrang humor vir ons opgedis het nie.
Retta se ma as depressielyer, haar moeilike kinderdae, en die dood van haar suster, Irma, verklap belangrike agtergrond; so ook die grootword van Tobias sonder pa by sy oupa, en die stryd van Suria en Nura Oliphant as enkelmoeders. Karin Brynard het briljant oor die kwessie van vaderlose huishoudings geskryf in Onse vaders, en jy verruim ook subtiel die gesprek hier met jou eie skrywe. Was dit ʼn doelbewuste keuse om ook manlikheid en sosiale verwagtinge van mans aan te spreek?
Miskien tog ’n bietjie? Ek hoop dat ek mans nie deurgaans as teleurstellers, verneukers en verantwoordelikheidontduikers uitgebeeld het nie. Moet ’seblief nie van Adam en Stoffel vergeet nie. Hulle was lieflike, en sout-van-die-aarde-tipes, onthou?
Kan mans en vrouens ooit net vriende wees?
Beslis. Dit hang alles af van die betrokke man en vrou se persoonlikhede en verwagtinge. Ek het ’n paar goeie mansvriende wat onwetend as informante dien. Hulle gee my ’n kykie in die wonderwêreld van die manlike psige – en dis natuurlik baie belangrik as ’n mens ’n boek soos Die dekonstruksie van Retta Blom wil skryf.
Leigh stel die belangrike punt dat verhoudings deesdae nie meer so vinnig en gerieflik in netjiese boksies pas nie. Watter verhoudings in fiksie het jou as leser vasgenael gehou, tragies of andersins?
Ek dink dadelik aan Jules and Jim deur Henri Pierre Roch – ’n boek wat ek in my twintigs gelees het en sedertdien weer ’n keer. Die onkonvensionele verhouding in hierdie boek is twee beste vriende wat (vir die hoeveelste keer) op dieselfde vrou verlief raak. Die drie hoofkarakters (Jules, Jim en Kate) is verlief op mekaar en die lewe, en hul storie speel af in die stad van liefde, Parys. Die interessante ding is dat Henri Pierre Roche sewentig was toe hy die boek gepubliseer het en dat dit semi-outobiografies is. Dus is “onboksbare” verhoudings allermins ’n nuwe ding.
Retta word uiteindelik op haar eie manier ʼn tipe volksheldin, ʼn sprankelend skeppende en speelse “selfdoenkampioen” wat “die laaste stuiptrekkings van volwaardig vrouwees” ontgin. Dink jy die lewe begin eintlik eers na veertig?
Nie noodwendig nie. Ons twintigs en dertigs is darem maar net te aksiebelaai en opwindend om so iets te wil sê. Ek glo wel dat dit glad nie onmoontlik is om na veertig of selfs vyftig, sestig en sewentig nuwe dimensies van jouself te ontdek en uit te leef nie. Om die waarheid te sê, ek beveel dit sterk aan.
Wil jy iets verklap oor die metafoor van die Royal-bakpoeierblikkie?
Ek het altyd intens na daai Royal-blikkie gestaar wanneer my ma koek bak. ’n Mens kon so vyf blikkies raaksien as jy regtig diép kyk. Die konsep van ad infinitum het met my kleindogtertjiekop gesmokkel. In die boek moes die blikkie werk as ’n spesiale metafoor vir oneindigheid wat net Retta en Adam verstaan. Ek wou vir hulle ’n intieme oomblik gee wat nét hulle s’n was. Soos Retta sê, “’n intellektuele orgasme”.
Die lewe se onverwagse afdraaie is dikwels wat dit ook soveel betekenis gee. Wat is volgende vir Zelda Bezuidenhout?
Ek wonder. Dalk leer ek bekfluitjie speel, of om die tango te dans. Dalk gaan ek en Izak op ’n sabbatsreis deur die land met Myrtle, ons ou karavaan. Maar ongeag wat vir my voorlê of waar ek my gaan bevind, ek weet ek sal nie sommer ophou skryf nie.
Kommentaar
Wat n ontploffing van verfrissende woorde-flirtasie tussen Jonathan en Zelda ... het hierdie onderhoud net soveel geniet as Zelda se boek ... wat kan ek se wow, wow, wow!!! Dit was nou intellektuele onderhoud-orgasme.