Boekresensie: Die dekonstruksie van Retta Blom deur Zelda Bezuidenhout

  • 0

 Titel: Die dekonstruksie van Retta Blom
Skrywer: Zelda Bezuidenhout
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780795708992

Die dekonstruksie van Retta Blom is die debuutroman van Zelda Bezuidenhout en ’n onlangse toevoeging tot die chicklit-genre. Die roman bied nie net ’n blik op die lewe van Retta, ’n huisvrou wat jare lank baie tevrede was met haar rol as ma van twee seuns en huweliksmaat vir Tobias nie, maar ook van haar dekonstruksie as sy al die sekerhede in haar lewe begin bevraagteken.

Bezuidenhout is meer bekend as jeugverhaalskrywer, met haar jeugverhaal As mens geluk kon proe wat in 2017 die tweede prys in Lapa se jeugromankompetisie gewen het. En nou waag sy haar hand aan volwassene-literatuur. Sy skryf toeganklik en met humor en deernis oor vrouwees en verhoudings – en veral van ontnugtering, maar ook hoop.

Dit is ’n roman wat handel oor verhoudinge – veral die huweliksverhouding en hoe vroue hulleself in ’n huwelik kan verloor. Maar dit is ook ’n verhaal oor veral die vriendskappe tussen vroue, en met hierdie twee temas kan baie lesers identifiseer. Die tema van verhoudinge en die verbrokkelinge daarvan is die een wat met die dekonstruksie-metafoor verband hou: Retta se huwelik en lewe is aan die verbrokkel. “Met die aanvanklike traumatrane gestort, sit Retta nou stroef en luister hoe haar vriendin die sagte beige kniekombersie van haar lewe ry vir ry lostrek.” Daarteenoor is die tema van vriendskap een van genesing en hoop. Wat uitstaan, is juis die vriendskappe en ondersteuning wat die vroue het – die sogenaamde “sisterhood”. Retta het Koba en Leigh: Leigh verteenwoordig die spontane en ongekompliseerde lewe wat Retta (en alle vroue) mag hê, terwyl Koba die sterk, praktiese en gestruktureerde kant van vrouwees uitbeeld. Suria het weer haar ma wat haar ondersteun. Die verskillende vroue se stories is nie net hulle stories nie, maar verteenwoordig dit wat in baie vroue se lewens aangaan.

Soos die titel aandui, is dekonstruksie ʼn belangrike motief deur die hele roman. Dit is veral Retta se dekonstruksie. Sy kyk na haar lewe en ontleed en dekonstrueer dit. Dawid, haar een seun, hou van die “deconstructed cuisine”. Paul, Retta en Tobias se een buurman vra: “Deconstructed? Is dit ’n ander woord vir stukkend?”, terwyl Tobias sê: “Dalk is dit goed om nou en dan na die essensie van iets te kyk, om dit opnuut te waardeer vir dit wat intrinsiek is.” Beide hierdie twee betekenisse word in die roman uitgebeeld: om stukkend te wees, is om by jou essensie uit te kom, besef Retta aan die einde van die roman.

Bezuidenhout maak slim van intertekstualiteit gebruik om ’n dieper nuanse aan die verhaal te gee. Dit is veral musiek wat die tema ondersteun. Die gebruik van die Dave Matthews Band se lied “The space between” en Tracy Chapman se “Telling stories” wat op belangrike oomblikke in die roman gebruik word, staan uit. “The space between” ondersteun die “negatiewe ruimte”-beeld van Leigh: “Wel. Om proporsies en skaal reg te kry, werk kunstenaars dikwels met die negatiewe ruimte rondom die eintlike onderwerp wat hulle wil skets. Hulle teken dus wat nie daar is nie, eerder as dit wat daar is” – wat aansluit by die “dit wat nie gesê word nie”-motief in die roman. Soos wat dit op die agterblad verwoord word: “As jy wil weet wat regtig in iemand se kop aangaan, luister na dit wat hy of sy nie sê nie. Kyk na dit wat hulle nie doen nie.” Die lied “Telling stories” waarmee die roman afsluit, handel oor “die fiksie in die ruimte tussen herinneringe” en Retta besef aan die einde: “Nie alle oop ruimtes is negatief nie.”

Enkele punte van kritiek kan tog teen die roman genoem word, soos die stereotiepe “aantreklike held wat die prinses moet kom red”-beeld van Adam wat boonop voorkom as die “eerste ware man” vir Retta. Daar is die “mooi” slot en “gelukkige einde” wat tipies in romantiese verhale voorkom. Ten spyte hiervan is dié ’n roman wat vroue gerus kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van Retta se ontnugtering nie, maar verwoord veral die hoop wat daar vir ons almal na ontnugtering is

Die dekonstruksie van Retta Blom is ten slotte ’n dekonstruksie om by die essensie van Retta se reis na ʼn nuwe begin uit te kom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top