Persverklaring: Lewensbydrae-toekennings vir drie legendes by Silwerskermfees

  • 0

Twee het naam gemaak voor die kamera en die ander agter die skerms en vanjaar word hierdie TV-legendes by die Silwerskermfees vir hulle lewensbydrae vereer.

Hans Strydom, wat sedert 2005 te sien is as At Koster in Binnelanders, en Denise Newman, Suidooster se Bridgette Jacobs sedert 2015, word Saterdagaand 31 Augustus tydens die Silwerskermtoekennigs vereer. Die vervaardiger Roberta Durrant, die brein agter reekse soos Diepe waters, Arendsvlei en Projek Dina, word Saterdagoggend 31 Augustus tydens die tegniese toekenningsgeleentheid vereer.

Hans Strydom is op 14 Mei 1947 in Durban gebore. Op skool was hy graag op die verhoog, maar ná matriek en ’n jaar in die vloot het hy regte gaan studeer. Hy was eers ’n staatsaanklaer en later ’n landros, maar in sy vrye tyd was hy lid van Volksteater, ’n amateur-dramageselskap. Die filmvervaardiger Elmo de Wit het hom in 1973 raakgesien en hom die hoofrol in die speelfilm Môre-môre gegee. Die draaiboek was deur Jan Scholtz en Hans sou daarna in verskeie van Elmo en Jan se flieks speel onder meer Ter wille van Christine en Vergeet my nie. Dit was die begin van sy baie suksesvolle loopbaan wat TV-reekse soos Slampampersirkus, Die Mannheim-sage en Jasper le Feuvre ingesluit het. Sy regsagtergrond het egter nie verlore gegaan nie en hy is ’n kampvegter vir akteurs en hulle regte en ’n stigterslid van die South African Guild of Actors.

“Die toekenning kom uit die bloute,” sê Hans. “Dit is ’n groot eer en dankie aan kykNET en al sy aanhangers wat hom deur die jare ondersteun het. Sonder hulle sou so ’n toekenning nie moontlik gewees het nie.”

Hans se commendatio by die toekennings word deur die filmmaker Koos Roets gedoen.

Denise Newman se wortels lê in Athlone, ’n voorstad van Kaapstad. Ná skool is sy na Amerika op ’n post-matriek uitruilskema waar sy onder meer ’n dramakursus gedoen het. Terug in Suid-Afrika het sy maatskaplike werk studeer en later by die behuisingskantoor van die Kaapstad Munisipaliteit gewerk. Die teater se roepstem was egter altyd daar en sy het The Space ontdek waar sy later die verhoogbestuurder geword het.

Haar eerste professionele rol op die verhoog was in die vroeë 1980’s – Peepshow by die Baxer-teater met Dawie Malan as regisseur. Hoewel Suid-Afrika reeds in 1976 met TV-uitsendings begin het, was rolle vir bruin aktrises bitter skaars. Denise speel in ’n paar rolprente en raak betrokke by Theatre in Education.

In die 1990’s kom meer geleenthede en met die dramareekse Onder engele (1995) en Tussen duiwels (1996) word Denise, wat die rol van Bokkietjie September gespeel het, deur die land raakgesien. Maar sy doen steeds rolprente en verhoogproduksies – van Oliver Hermanus se bekroonde Shirley Adams (2009) en Endless River (2015) tot werk van Shakespeare, Athol Fugard en Pieter Dirk Uys.

Met haar rol as Bridgette in Suidooster, word sy ’n ikoon by TV-kykers oor ’n wye spektrum. Ook ’n mentor en iemand wat na opgekyk word deur almal wat al die voorreg gehad het om saam met haar te werk.

“Ek was regtig verbaas toe ek gehoor het ek word vereer,” sê Denise. “Ek het dit glad nie verwag nie. Wat 'n eer. Baie dankie!”

Denise se commendatio by die toekennings word deur haar jarelange vriende en kollega Vinette Ebrahim gedoen. Sy het onlangs haar 70ste verjaarsdag gevier.

Roberta Durrant het drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en het die eerste tien jaar van haar loopbaan op die verhoog en in plaaslike TV- en filmproduksies gewerk. Sy het Londen toe getrek ná sy haar man, die kinematograaf Uwe Jansch, ontmoet het, maar hulle het teruggekom na Suid-Afrika en het saam Penguin Films begin wat hoofsaaklik dokumentêre programme gemaak het.

Die eerste reeks wat sy vervaardig het en die regisseur van was, was ‘Sgudi ‘Snaysi (It’s Good, It’s Nice) en later die immergewilde Going Up met Rex Garner en Joe Mafela. Van die ander komediese reekse wat verantwoordelik was, was Fishy Fêshuns, Madam & Eve en Stokvel, asook die dramareekse Home Affairs en Saints and Sinners.

Van haar reekse vir kykNET en kykNET&kie sluit in Arendsvlei, Diepe waters, Sarah se geheim, GIL en die nuwe telenovela Skemergrond. Sy het ook rolprente soos Krotoa en Felix op haar kerfstok.

Roberta, wie se commendatio deur Jody Abrahams gedoen word, is nie net ’n vervaardiger en kreatiewe regisseur nie, sy is ’n baanbreker wie se nalatenskap vir dekades wat kom steeds ’n verskil sal maak.

Die Silwerskermfeestoekennings vir Film & TV vind plaas 31 Augustus by Kiks en word 1 September op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai. Kaartjies vir die publiek is beskikbaar by Quicket.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top