Die komediante Alfred Adriaan en Marc Lottering span kragte saam en bring hulle beste materiaal van die afgelope paar jaar na die Toyota Stellenbosch Woordfees. Liné Loff vra vir Alfred ’n paar vrae.
Hallo, Alfred! Ek sien jy en Marc Lottering toer op die oomblik deur Australië. Hoe is die vibe by julle shows daar? Is daar baie Suid-Afrikaners wat smag na ’n bietjie humor van die huis af?
Die shows is great. Die mense ondersteun ons verskriklik goed. Ons word sommer met koeksisters ook bederf.
Wou jy nog altyd ’n komediant gewees het? Of waar het die reis begin?
Ek wou dit probeer, maar ek het in Gqeberha geswot en daar was nie ’n comedy scene destyds nie. Ek het eers jare later in Johannesburg dit probeer. Ek was hooked van die eerste dag af.
Hoe toets jy jou nuwe materiaal? Hoe weet jy of dit snaaks is? Is dit iets waarmee ’n mens gebore word?
Ek skryf oor alledaagse goed wat ek sien en hoor. Ek skryf stories wat ek snaaks vind en leef maar soos almal met kinders en ’n roetine. So in my dag tel ek die idees op en maak kort notas en so begin dit. Ek dink na 12 jaar in die bedryf leer mens maar wat sal moontlik werk, dan moet jy maar voor ’n gehoor staan en die goed toets. Hulle laat jou gou weet dis nie te snaaks nie, hahahaha!
Raak jou vriende en familie soms kwaad as hulle by jou grappe betrek word?
Nog nie tot dusver nie. Ek sal nooit iets sê wat ek weet my mense of die gehoor moedswillig sal seermaak nie. Soms moet mens oor sensitiewe goed praat, maar ek probeer dit op ’n respekvolle manier doen.
Het dit al ooit gebeur dat jy ’n storie of grap op die verhoog vertel het en die gehoor nie gereageer het soos jy gedink of gehoop het nie?
Baie – dis maar deel van die journey. Jy leer daaruit en skryf dit oor en probeer weer of laat dit uit die show uit. Nie alles is amazing nie, veral wanneer ek ’n nuwe show ontwikkel. Dis waarom ek die shows eers op klein groepe toets voor ek die groot shows aanpak.
Is daar sekere onderwerpe waaroor jy eerder nie sal grap nie?
Ja, politiek, seks en geloof.
As jy die dag wil hê iemand anders moet jou laat lag, wie kry dit reg? Watter komediante, TV-programme of enigiets anders is vir jou snaaks?
Ek love Suid-Afrikaanse komedie. ’n Paar van my vriende is vir my baie snaaks. Ek love Schalkie, Skhumba, Casper de Vries, Marc Lottering. Ek kyk ou TV shows oor en oor, soos Frasier en Modern family. Nog van my faves is Orkney snork nie en Vetkoek Paleis. Willie Esterhuizen is briljant. Nataniël is ook amazing; al is dit nie noodwendig comedy shows nie, is die man verskriklik funny.
Het jy enige raad vir jong komediante wat graag stand-up wil doen?
Begin by die volgende open mic night. Die res sal jy uitsort soos die tyd aangaan.
***
Alfred & Marc by die Toyota Stellenbosch Woordfees
6 Oktober om 15:00 en 19:00
Klik hier vir nog inligting en om kaartjies te koop.