Miskien het Christiaan Olwagen dit begin met sy vreeslose Johnny is nie dood nie (2016), Kanarie (2018) met die weergalose Johan Cronjé wat met Wonderlus (2017) verdere horisonne ontgin het. Dieselfde onomkeerbare drang na artistieke vryheid, oorspronklikheid en waagmoed het in die onlangse Silwerskermfees geseëvier, selfs meer as in vorige feeste.
Tevore is versigtig met die nuwe vryheid omgegaan. Maar vanjaar het daar ’n uitbundigheid en manhaftigheid (vrouhartigheid!) geheers waar die meeste produkte stylvol en verantwoordelik afgerond is, maar altyd gedissiplineerd met respek vir die filmmedium. Daar was ook skielik baie nuwe gesigte, en name wat ons te lanklaas, of selfs nog nooit tevore nie, gesien het.
Almal kry nou ’n kans!
Dit is ook asof ons nou vir die eerste keer ’n identiteit begin kry, juis dit waaroor die reeks oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent, Daar doer in die fliek, al langer as ’n dekade wonder. Wie is ons? Wanneer gaan ons ’n lêplekkie oopskop in die wildewoeste vermaaklikheidswêreld? Wanneer gaan ons werklik wys wie ons is en trots wees om dit vir die res van die planeet te wys? Ons is wie ons is, maak nie saak van watter streek af ons kom nie, en hierdie Silwerskermfees het sy stempel op die meeste karakters en plekke afgedruk. Dit het die mense wat onlosmaaklik deel is van ons land gewys en gevier. Veral op Sutherland en Carnarvon!
........
Nou eers verstaan ons filmmakers dat hulle vlerke het waarmee hulle vryelik kan vlieg, maar wat deeglik deur kykNET gementor word. Voorbeelde is die verrassende, stylvolle komedies Som van twee en Die kwiksilwers.
........
Nou eers verstaan ons filmmakers dat hulle vlerke het waarmee hulle vryelik kan vlieg, maar wat deeglik deur kykNET gementor word. Voorbeelde is die verrassende, stylvolle komedies Som van twee en Die kwiksilwers.
Maar ... soms waag regisseurs dit te naby aan die son (soos Icarus wat sy hakskene verbrand het), veral met Die dekonstruksie van Retta Blom. Selfs die middelmatige Die bloedhonde het niks nuuts behalwe doodgewone vermaak bygedra nie, en daardie styl was doodgewoon, terwyl ’n vars invalshoek nodig was.
Ander het asem opgehou en reguit son toe gevlieg soos Selah (Brett Michael Innes en ’n briljante Erica Wessels) en die moedswillig-heerlike Vergeet van my-dokumentêr met sy middelvinger vol zolmerke en al. Maar daar is ook ’n barshou geslaan met In die verloop van, waar Phillip Rademeyer in ’n toneel, met die afloop van die trappe deur die briljante Wilhelm van der Walt, meer sê as baie tonele in rolprente soos Die dekonstruksie van Retta Blom. Laasgenoemde het nog aandag nodig gehad alvorens dit die redigeerskerm verlaat het.
Waar dit maklik is vir jong filmmakers om in hul mou vir bejaardes te lag, het Corné en René van Rooyen reeds in Hans steek die Rubicon oor (2023) respek vir “die ouer garde” begin toon. Vele feesgangers het gedink dit was ’n gelukkige vloekskoot, want ouer mense is al dikwels as belaglik en slapstick-verspot uitgebeeld in belaglike rolprente soos Die spook van Uniondale (2014) en Lyklollery (2001). Enigiemand wat dit nog onthou? Maar die Van Rooyens het met Hans die genre gerespekteer en volwaardige mense van die karakters in Hans gemaak en hulle met empatie benader.
........
Waar dit maklik is vir jong filmmakers om in hul mou vir bejaardes te lag, het Corné en René van Rooyen reeds in Hans steek die Rubicon oor (2023) respek vir “die ouer garde” begin toon.
.........
Steek vir steek neig hier weer na die oordrewe klugtige.
Som van twee en Die kwiksilwers bewys dat 80 die nuwe 60 is. Dat ouer mense tevore in sommige films gestereotipeer is as afgeleefde lokaas vir lawwe slapstick manewales wat lelik toespeel op onderdrukte wellus, kwinte en ’n wag op die dood. Maar dit het nou, veral met die nuwe roadtrip-komedies, handomkeer verander.
Die dekonstruksie van Retta Blom sluit in ’n mate hierby aan, want die ander twee flieks gaan ook oor roadtrips met komiese ondertone, ’n slenter wat hierna ’n bietjie moet rus. Maar telkens word die reis weer as metafoor gebruik vir die ontdekking van die ware (stukkende?) self, dit waarvan die karakters self nie geweet het nie, maar wat met groot empatie deur Simoné Pretorius in Som van twee en Die kwiksilwers se Jordy Shank aangewend is. ’n Mens lag uitbundig, want die grappe is oorspronklik en snaaks met die storie beats wat op presies die regte plekke val, en wat die regisseurs kundig ontgin het.
Ongelukkig is Die dekonstruksie van Retta Blom, gegrond op Zelda Bezuidenhout se roman, nie so geslaagd nie, want op skerm is die karakterisering dikwels oppervlakkig. Waar die ander op-die-pad films persoonlikheid en woema met volronde mense gehad het waar die regisseur die subteks behoorlik ontgin het, is Pieter Grobbelaar se weergawe nóg vis nóg vlees.
Dit is duidelik dat die uitmuntende Antoinette Louw hoogtepunte het (sy bly darem uitstekend, al doen sy wat), maar dan is daar enkele tonele waar ’n goeie aktrise nog na haar karakter soek – iets waarmee die regisseur moes gehelp het, want Louw is so ’n sterk teenwoordigheid op ’n skerm.
En van dekonstruksie gepraat: Dit is ook ’n rolprent op soek na ’n styl, want wat afgebreek word, moet weer opgebou word in visuele vorm, en dit gebeur nie hier nie. Dis asof die tema nie met genoeg insig deur die regisseur gehanteer is nie. Dit ontbreek ook aan ritme waarby kykers kon ingeskakel het terwyl hulle saam met hierdie reddelose vrou op haar reis na heelmaak reis. Komedie voer te veel die botoon, maar die ontginning van die wonde skuif na die agterbanke.
Soos gesuggereer word: Wat in die ander vroue se lewens aangaan, vind ook weerklank in Retta s’n, maar kom nie so sterk soos in die roman na vore nie. Jy moet eers breek, jou stukkende self op ’n reis neem om te weet waar om wat heel te maak, en dit word selde genoegsaam ontgin, asof dit nog na ’n sinvolle struktuur soek.
Ook die rolverdeling laat Retta Blom soms in die steek. Wat het haar na haar man, toonloos deur Francois Coertze as Tobias gespeel, aangetrek? Hy was ’n vreemde keuse vir ’n rol wat die storie aan die gang sit. Hierdie akteur sit nie die karakter se broek vol nie.
Selfs met die akteurs so goed as wat hulle is, soek ander karakters nog hulle plek in die dekonstruksie- en genesingsproses. Hulle leef nie altyd op die skerm nie. ’n Voorbeeld is die talentvolle Christopher van der Westhuizen wat nie by die styl of rolprent inpas nie, asof hy net ’n gerieflike byvoegsel en klankbord in die agtergrond is.
Meer suksesvol is kortfilms soos die verkwiklike Marie se laaste dag, waar die ferm regisseurshand van Lourensa Eckard (gekontroleerd en met presies die regte aanvoeling) in 30 minute meer van ’n stukkende vrou wat self nie weet hoe stukkend sy is nie, sê as Retta Blom se belangrikste tonele. Komedie en donker komiese tragiek loop in Marie meer eweredig.
........
Hier.Na ontgin ’n kultuur respekvol, kundig, gebalanseerd en deeglik, danksy die stewige regie van Quanita Adams.
........
Dieselfde kompliment geld die vollengte-speelfilm Hier.Na (met eggo’s van die wonderlike Barakat), waar ’n familie wat besig is om uitmekaar te val gedurende ’n Moslem-begrafnis, weer heel raak met ligte suggesties van ’n hartseer glimlag. Dit ontgin ’n kultuur respekvol, kundig, gebalanseerd en deeglik, danksy die stewige regie van Quanita Adams.
Die dokumentêre het soos die Ooste van die Weste verskil. ’n Loskop student (Beer Adriaanse) het danksy die kundige redigering van Canya Cruywagen uit sekerlik honderde ure se roadtrip-materiaal ’n sekere loskop-dolla-styl gevind wat werk. Veral wanneer ’n student die einde van ’n era vier en ons almal laat besef wat dié van ons as wat studente op Stellenbosch was, misgeloop het! Geordende chaos wat iets sê, bereik hier ’n nuwe hoogtepunt.
En dan is daar die treffende Tussen die draad en die dropper wat harde kommentaar lewer op die misbruik van werkers, in hierdie geval ’n stoere ou man, Hans Jors, “wie se binnegoed al hier tussen sy bene begin uithang”, om ’n vriend van hom te parafraseer.
Maar die grootste les wat hierdie filmmakers, en selfs die bekroonde Maak stil die geblaf toekomstige filmmakers kan leer, is dat beelde meer sê as honderde onnodige woorde, soos in Die dekonstruksie van Retta Blom gebeur. ’n Regisseur moet leer wat om uit te haal en wat om te behou.
Die gesigte in Tussen die draad en die dropper is kosbaar. Sannetjie, suster van Hans Jors, wat in haar deur staan en huil, is ’n beeld wat niemand wat dit gesien het, kan vergeet nie. Knap gedaan, Willem van den Berg! En die hondegesiggies, gejukstaponeer met dié van die arm kinders wat hul brakke leer spring in Maak stil die geblaf, vertel meer as wat woorde ooit kan doen, danksy Marisa van Tonder. En as die kinders praat, pas dit soomloos by die dokkie se styl in.
’n Vriendskap wat deur musiek en sonder ’n enkele woord uitgebeeld word, maak Noise & neighbours nog ’n hoogtepunt wat betref die krag van beelde. Lewe en dood oorvleuel op dinamiese, insiggewende en verrassend oorspronklike wyse.
Ongelukkig is die voorspelbare en clichébesaaide Gebokste liefde as die ander vollengte-speelfilm ’n vals noot met ’n onewe styl en wisselvallige spel. Elke fees het maar sy rose en sy dorings. Maar hierdie een bewys of ’n rolprent werk of nie werk nie. Regisseurs is die kanse gebied om hul talente te ontgin, en regisseurs kan net hieruit leer. Misluk liewer as om niks te waag nie.
Lees ook: