Sy glo in clichés soos “die wêreld is jou oester” en “wat jy saai sal jy maai”, erken die borrelende Carla Smith, die bloedjong Matiestudent en aktrise wat as “beste opkomende kunstenaar” by die onlangse WoordTROfees-prysuitdeling aangewys is.
Ambisieus, ywerig en vasbeslote. Sy skrik nie sommer vir ’n uitdaging nie en pak die bul by die horings. Die uitvoerendekunstebedryf is nie ’n maklike bedryf nie, maar sy glo harde werk en deursettingsvermoë is die sleutel tot sukses.

Carla Smith by die WoordTROfees-geleentheid waar sy die prys vir “beste opkomende kunstenaar” ontvang het. Foto: Jeremeo le Cordeur (Vulture Photography)
Carla, jy is onlangs by die WoordTROfees vereer as “beste opkomende kunstenaar” vir jou rol in die produksie NRNNSA. Jy is ook die jongste pryswenner vanjaar. Wat beteken die toekenning vir jou?
Dit is heerlik om te sien dat rolspelers in die bedryf dink dat ’n mens op die regte spoor is! Die produksie se proses is sover ongelooflik en ons geselskap hou aan om mekaar uit te daag – so om hiervoor “vereer” te word is vir my net lekker! Dit beteken ook effens meer as die Fraserburg Logan Toneelfees goue sertifikaat wat al was wat op my CV kon pronk. So, ek is dankbaar en baie gelukkig.
Vertel ’n bietjie meer oor NRNNSA en hoe jy by die produksie betrokke geraak het.
Vanaf my eerste jaar as student is ek deel van ’n vriendekring wat nie hou van stilsit nie. Aan die einde van ons eerste jaar as dramastudente by die Universiteit Stellenbosch het drie van my vriende met die konsep van NRNNSA vorendag gekom vir ’n klasprojek. Dit was skreeusnaaks en ons het gehoop om dit verder te ontwikkel. In 2017 het ons die produksie ingeskryf vir die Vrystaat Kunstefees se Vrynge-program, en met ’n paar nuwe lede en uitgebreide teks is ons aangewys as die beste Vrynge-produksie. Ons almal werk konstant aan die teks om dit so vars as moontlik te hou en met Mercy Kannemeyer wat in 2018 bygekom het as regisseur, het ons nou ’n objektiewe oog by! Ons ontwikkel konstant die teks en is nou al ver verby die dertiende draft, maar gelukkig hou die proses ons op ons tone!
Jy vertolk meer as een karakter in die toneelstuk. Wat is die uitdagings verbonde hieraan en hoe was dié ervaring vir jou?
Dit is altyd ’n uitdaging om die karakters uniek en eie aan hulself te hou. Mens sukkel partykeer in ’n produksie met so ’n vinnige pas om die verskillende karakters van mekaar te onderskei, maar dit kom met oefening en baie vir jouself lag. Ek geniet dit egter verskriklik!
Van waar jou liefde vir drama?
Ek kom uit ’n familie wat net té lief is vir stories vertel. Ek het eendag by my ouma en haar vriendinne verstom gesit en kyk hoe sy ’n gebeurtenis voor mens se oë kan laat afspeel met haar stem. Tussen my ma se lekkerlag-familie, The sound of music se video permanent in die speler, en my pa wat my bederf het met storieboeke, kon dit seker nie anders nie?
Hoe kies jy die rolle wat jy vertolk – het jy enige voorkeure?
Ek dink ek gaan nog ’n redelike tydjie moet wag voor ek die luuksheid sal kan hê om te kies watter rol ek wil vertolk (ek weet nie of die Suid-Afrikaanse bedryf dit ooit werklik toelaat nie). Ek bly lief vir musiekteater en om mense te laat lag, maar ek is altyd reg vir ’n uitdaging!

Hendrik Nieuwoudt en Carla Smith in die produksie NRNNSA. Foto: Jeremeo le Cordeur (Vulture Photography)
Hoe berei jy voor vir ’n rol wat jy vertolk?
Dit hang af van die spesifieke rol. Die teks bly tog die fondasie waarop ’n mens bou en ek maak seker ek lees die teks maar oor en oor om soveel inligting as moontlik oor my karakter te kry. Van daar af speel, improviseer en eksperimenteer ek maar soveel as moontlik tot iets lekker sit (praat ek nou asof ek jare se ondervinding het!).
Wat is sommige van die hoogtepunte van jou loopbaan tot dusver?
Een van my hoogtepunte was om verlede jaar ’n bietjie te kon kyk hoe die rolprentbedryf werk, aangesien ek meestal maar op teater fokus. Ek het verlede jaar ’n kort-kortfilm vir die Silwerskermfees geskryf, naamlik Luister, en ook gespeel in Nico Scheepers se kortfilm Die maan val bewusteloos. Dit was interessant en verfrissend om oor daardie kant van die bedryf ook te kon leer. Dan ook, om deel te wees van Universiteit Stellenbosch se universiteitskoor, en om die wêreldkoorspele in my eerste jaar van student wees te wen was beslis ’n hoogtepunt. Om verlede jaar deel te kon wees van produksies soos Altaar en Peter Pan en deel te neem aan verskeie kunstefeeste met die produksies was ’n belewenis. Dit was ’n goeie leerervaring om met professionele mense in hierdie produksies te werk en meer oor die bedryf te leer.
Carla, dink jy (as deel van vandag se jeug) dat daar ’n toekoms vir die jeug in Suid-Afrika is wat ’n loopbaan in die kunste wil volg?
Ek glo in clichés soos “die wêreld is jou oester” en “wat jy saai sal jy maai”, so ek weet nie of ek die beste persoon is om te vra nie. Ek dink as jy iets graag genoeg wil doen, dan sal jy. Die kunste verwelkom nuwelinge, maar daar is nie tyd vir tydmors of ’n passasier wees nie – as jy hard werk en met nuwe idees vorendag kom, wil ek glo dat daar ’n toekoms kan wees. Ek dink dis belangrik om te besef dat die toekoms nie altyd rooskleurig is nie, maar as dit iets is wat jou hart gelukkig maak, sal jy dit maak werk.
Watter raad het jy vir jongmense wat graag ’n loopbaan in die uitvoerende kunste wil volg?
Maak seker dis iets waarvan jy hou en dat jy regtig ernstig daaroor is om ’n beroep in die kunste na te streef. Daar word baie grappies gemaak oor hoe moeilik die bedryf is, en ongelukkig is die grappies waar. Dis nie ’n maklike bedryf nie, so jy moet bereid wees om te sukkel en dinge vir die regte redes doen. Ek sou sê jy moet jou hart en siel insit. Jy moet regtig ’n liefde vir die kunste hê en bereid wees om hard te werk en soms jou eie geleenthede te moet skep. Bowenal moet dit vir jou oor die liefde van die kunste gaan – art for art’s sake.
Laastens, wat hou die toekoms vir jou in?
Nee, ek sal ook wil weet!
Die 20-jarige Carla Smith is tans ’n finalejaar-dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch.
Die 2018 US Woordfees se WoordTROfees-prysuitdelingsgeleentheid het op 18 April by die Spier-landgoed plaasgevind.
Vir die volledige lys wenners lees ook die volgende artikel: https://www.litnet.co.za/us-woordfees-woordtrofee-wenners-2018.
Lees ook:
https://www.litnet.co.za/die-toneelstuk-nrnnsa-transformasie-en-die-toekoms-van-teater-n-onderhoud-met-mercy-kannemeyer/
https://www.litnet.co.za/sof-2018-die-nuwe-republiek-van-die-nuwe-nuwe-suid-afrika-n-teaterresensie/
https://www.litnet.co.za/silwerskermfees-2017-indrukke-van-die-kortfilms/