Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud oor American rhythms

  • 0

Prent: https://woordfees.co.za/

Reghardt Kühn praat met Naomi Meyer oor die Wynlande Filharmoniese Orkes, wat weer vanjaar ’n uitvoering by die Woordfees lewer.

Reghardt, vir mense wat nog nooit van die orkes gehoor het nie: Wie is die Wynlandse Filharmoniese Orkes?

Die WFO is ’n gemeenskapsorkes wat bestaan uit musikante wat hoofsaaklik loopbane buite musiek nagestreef het. Daar is soms stigma as mense die woord “gemeenskapsorkes” hoor – mense dink dadelik dat so ’n orkes nie noodwendig gehalte-uitvoerings kan aanbied nie, maar hierdie groep mense het my al so verstom. Ons is ’n filharmoniese orkes in die volle sin van die woord se oorspronklike Griekse betekenis – ’n gemeenskap met ’n passie vir musiek!

..........
Ons is ’n filharmoniese orkes in die volle sin van die woord se oorspronklike Griekse betekenis – ’n gemeenskap met ’n passie vir musiek!
...........

Die orkes tree tydens vanjaar se Woordfees op (soos verlede jaar) en die item se naam is American rhythms. Amerika (dalk spesifiek die VSA) kry nogal soms slegte publisiteit. Sommige mense kan dalk ook dink daar kan maar min dinge van kulturele belang uit Amerika kom. Maar as mens hulle vertel dis albei Amerikas, en mens begin praat oor watter komponiste ter sprake is ... Wil jy dalk vertel waaruit hierdie program bestaan – en hoekom jy besluit het dis wat die orkes vir die Woordfees gaan speel? Vir my is die diversiteit en verskeidenheid van die Amerikaanse komposisies ’n aangename verrassing. “Rhapsody in blue” is bekend, die Meksikaanse klank van Márquez is energiek – en die Copland het ’n verstommend bekende tema vir enigiemand wat die Ierse dansproduksie Lord of the dance ken. Wil jy dalk uitbrei op elkeen van hierdie drie stukke sodat die voornemende gehoor kan verstaan hoekom hulle saam met die orkes opgewonde kan wees oor die musiek?

Die American rhythms-program is gebou rondom George Gershwin se Rhapsody in blue, ’n ongelooflike stuk musiek wat vanjaar 100 jaar oud word. Dit is belangrik om onderskeid te tref tussen ’n land se kultuur en die politiek van sy leiers – iets wat op ’n gereelde basis wissel. Nes Suid-Afrika, het die VSA ’n bloedige koloniale geskiedenis, maar beide lande is vandag n samesmelting van kulture en wêreldsienings. Rhapsody in blue word baie beskryf as ’n uitbeelding van New York in die 1920’s – ’n plek waar ambisie en harde werk enigiets kon moontlik maak. Suid-Afrika is ook ’n plek waar mense wat geleenthede raaksien, ’n groot impak kan maak – ten spyte van die onstuimige politiek wat ons soms moet trotseer. Ek dink die gehoor gaan die uitvoering baie geniet – veral met die energieke talent van Mike Wang agter die klavier!

.........
Die ander groot werk wat ons uitvoer, is Aaron Copland se Appalachian spring, wat die lewe van ’n pioniersgemeenskap in 19de-eeuse Pennsilvanië uitbeeld – die vestiging van n dorpie, en die uitdagings wat die mense gehad het in ’n plek wat met tye onherbergsaam was. Dit is ’n verhaal wat baie herinner aan die vestiging van dorpies hier in die Wynlande.
.............

Die ander groot werk wat ons uitvoer, is Aaron Copland se Appalachian spring, wat die lewe van ’n pioniersgemeenskap in 19de-eeuse Pennsilvanië uitbeeld – die vestiging van n dorpie, en die uitdagings wat die mense gehad het in ’n plek wat met tye onherbergsaam was. Dit is ’n verhaal wat baie herinner aan die vestiging van dorpies hier in die Wynlande. Die gehoor sal dalk verras wees om die bekende tema van Lord of the dance te hoor. Die tema is eintlik oorspronklik ’n Shaker-volksliedjie, “Simple gifts”. (Die Shakers was ’n religieuse groep van Engeland wat na die VSA geëmigreer het.)  

Dit is wel belangrik dat mens onthou dat “Amerika” meer is as net die VSA. Ons speel dus onder andere ’n wonderlike stuk musiek van die Meksikaanse komponis wat jy genoem het, Arturo Márquez, Danzón Nr 2. Márquez probeer die kultuurerfenis van Meksiko na die wêreldverhoog bring deur middel van sy lewendige musiek. Die stuk is ’n ode aan ’n baie gewilde dansvorm wat vandag nog in Meksiko gedans word. Dis musiek wat ’n mens se voete laat jeuk, en ons Suid-Afrikaners is mos lief vir opgewekte, ritmiese musiek.

My belangrikste uitgangspunt vir die program is dat die musiek die kompleksiteit van Amerika moet weerspieël en hoe ons as Suid-Afrikaners ook maniere moet vind om ons multikulturele samelewing te vier. Ons is almal veelsydige mense en ons het almal lig en donker in ons verlede.

Jy het genoem die pianis van “Rhapsody in blue” is Mike Wang. Ander musikante in die orkes wat jy dalk wil uitsonder omdat hulle doodgewoon sulke goeie musikante en uitvoerende kunstenaars, of komponiste, uit eie reg is?

Ons solis vir die konsert is inderdaad die reeds genoemde ongelooflik talentvolle pianis, Mike Wang. Mike het reeds op 16-jarige ouderdom die Nasionale Jeugmusiekkompetisie in 2022 gewen en hy het al opgetree saam met orkeste soos die Kaapse Filharmoniese Orkes onder leiding van Arjan Tien. Mike is tans ’n matrikulant en studeer klavier saam met Mario Nell, hoof van die Stellenbosch Universiteit Konservatorium, en beplan om volgende jaar sy klavierstudie in Duitsland voort te sit.

Ek wil eintlik die orkes in sy geheel uitlig, omdat dit juis die mense wat nié professioneel musiek as hul loopbaan beoefen nie wat die orkes so spesiaal maak. Omtrent 95% van ons lede het loopbane buite die musiekbedryf – dokters, wetenskaplikes, onderwysers, wiskundiges, taalkundiges – maar hulle speel op só ’n hoë vlak dat hulle maklik by professionele orkeste sou kon aansluit. Die orkes bied vir mense wat ten spyte van hulle loopbaankeuse steeds hulle musiek wil ontwikkel en uitleef, die geleentheid om dit in ’n opbouende en positiewe omgewing te doen. Ons is wel ook bevoorreg om ons fantastiese konsertmeester, Veronica Bell, te hê. Veronica is ’n uiters talentvolle musikant, maar dis haar medemenslikheid en haar toewyding tot die ontwikkeling van die violiste in die orkes wat elke week uitstaan. Die orkes het ook twee jong komponiste in sy geledere, naamlik Kristi Boonzaaier en Owen Dalton, wie se musiek al deur die WPO uitgevoer is. Ek hoop dat ons nog baie van hulle komposisies met die wêreld sal kan deel!

Mense weet van die bekende orkeste en musikante in die omgewing, so waarom sal mens ’n kaartjie vir hierdie spesifieke vertoning koop?

Dis ’n wonderlike program wat mense op ’n reis sal neem. Hoewel “Rhapsody in blue” baie bekend is, is “Appalachian spring” ’n werk wat baie selde in Suid-Afrika uitgevoer word. Dis ’n epiese stuk musiek wat die volle omvang van ’n simfonie-orkes se klankpallet ten toon stel. Die Danzón se ritme en intensiteit is aansteeklik, terwyl sy liriese lyne ’n mens amper laat dink aan die musiek van Mantovani en sy orkes.

Ek het tot dusver na elke vertoning van die orkes by mense gehoor hoe terdeë hulle die musiek geniet het: “Julle laat dit so lekker lyk.” “Julle speel met soveel oorgawe.” Is dit nie wonderlik dat ten spyte van die moeilike ekonomie, die land se probleme, die Kaapse winter, alles wat ons in die nuus lees, daar steeds mense is wat iets doen vir die blote passie en genot daarvan nie? Musiek is ’n universele taal – jy het geen opleiding nodig om die boodskap van musiek te verstaan nie. Ons wil hê mense moet die ervaring – die genot van die musiek en die samesyn – met ons kom deel. Deur ons uitvoering by te woon word hulle deel van die WPO-gemeenskap, en ons hoop dat hulle daardie bietjie entoesiasme en vreugde met hulle sal saamdra en dit in hulle gemeenskappe sal versprei.

Hier is nog inligting van hierdie item op vanjaar se program.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Hoe het dit skielik laat geword? – 'n onderhoud

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud oor Marie se laaste dag

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top