
Arnold Vosloo en Elzabé Zietsman in Liefdesbriewe (foto: KKNK 2025)
Yolanda du Toit praat met Arnold Vosloo en Elzabé Zietsman oor hulle rolle in Liefdesbriewe, wat vanjaar by die KKNK op die planke is.
Arnold, jy vertolk die manlike hoofrol in Liefdesbriewe. Wie is jou karakter in die toneelstuk?
André Jean-Pierre Labuschagne jr. Hy is ietwat konserwatief, met ’n sterk sin vir verantwoordelikheid, tesame met ’n goeie sin vir humor.
Waaroor handel Liefdesbriewe?
Op die oog af is dit korrespondensie tussen twee mense, maar as mens dieper kyk, gaan dit oor hulle hoogtepunte, teleurstellings en liefde deur die jare.
Jy en Elzabé, wat die rol van Melissa vertolk, ken mekaar al vir 43 jaar. Die laaste keer wat jul op die verhoog teenoor mekaar gespeel het, was in 1982. Hoe voel dit om ná soveel jare weer ’n verhoog te deel?
Ek onthou dit soos gister toe ek en Elzabé saam gewerk het, en dit voel natuurlik en gemaklik om weer saam met haar te werk op die verhoog. Sy is ’n formidabele aktrise en ek hoop ek kan byhou.
Die stuk word beskryf as ’n drama maar ’n tragikomiese ondersoek. Hoe maklik/moeilik is dit vir jou om ’n geestige dimensie aan ’n karakter te gee?
Die skryfwerk is so goed dat dit maklik is om in die rol te pas, maar dit is moeilik om dit aand na aand vars te hou.
Jou loopbaan het in teater begin in toneelstukke soos Don Juan, Hamlet en Môre is ’n lang dag. In 1984 het jy oorgeskuif na films – soos Boetie gaan border toe en Kringe in ’n bos. Hoe het jy die oorgang van verhoog na rolprent ervaar?
Dit was ’n maklike en natuurlike oorgang vir my.
........
Dit sal wonderlik wees om nou weer op die verhoog te wees, veral in ’n Afrikaanse stuk. Die rede hoekom ek ja gesê het vir die stuk is dat dit in Afrikaans is en dat dit Elzabé Zietsman is.
........
Jy was vir tientalle jare oorsee en was daar ook op die verhoog, onder andere saam met Al Pacino op Broadway, maar jy het rolle in rolprente soos Hard target, The mummy en Blood diamond vertolk. Wat is jou gunsteling: verhoog of rolprente?
Ek het nie ’n gunsteling as ek moet kies tussen verhoog en rolprent nie. Dit sal wonderlik wees om nou weer op die verhoog te wees, veral in ’n Afrikaanse stuk. Die rede hoekom ek ja gesê het vir die stuk is dat dit in Afrikaans is en dat dit Elzabé Zietsman is.
Is dit makliker of moeiliker om in ’n toneelstuk met ’n klein rolverdeling te speel?
’n Toneelstuk is altyd moeilik, om ’n film te maak is altyd moeilik, maak nie saak of daar meer of min mense is nie, want al twee het hulle eie uitdagings.
’n Gebore Pretorianer … hoe het jy die rolprent-/verhooglandskap in Hollywood ervaar?
Dit was baie uitdagend. Daar was moeilike dae, daar was goeie dae, daar was dae wat ek wou opgee, maar my ouers het gesê hou uit en hou aan en ek is bly ek het dit gedoen, want ek wil nie op my oudag terugkyk en vra “What if?” nie.
Elzabé, jy vertolk die vroulike hoofrol in Liefdesbriewe. Wie is jou karakter in die toneelstuk?
Melissa is die karakter se naam en haar van verander ’n paar keer deur die loop van die verhoogstuk soos sy trou, skei, trou, skei …
Jy het die vertaling en verwerking van Liefdesbriewe hanteer. Wat kan die gehoor verwag en waarna kan hul uitsien?
Dis die eerste keer dat ek ’n vertaling doen en dit was ietwat meer uitdagend as wat ek verwag het, maar ek het ’n hele paar mense op “speed dial” gehad wat my bygestaan het met advies, feite en inligting. Die oorspronklike teks speel in Amerika af en dit strek van 1939 tot 1989. Ek het dit verander dat dit in Suid-Afrika afspeel en wel van 1969 tot 1989. Die hele storie speel af in die briewe wat die twee karakters aan mekaar skryf vandat hulle agt jaar oud is tot in hulle sestigs.
Is daar punte waarmee die gehoor sal kan identifiseer?
As enigiemand uitstap nadat hulle die show gesien het en daar was nie ’n hele paar raakpunte vir hulle nie, is hulle nie Suid-Afrikaans nie en het hulle nie veel van die lewe ervaar nie.
........
[D]ie teer manier waarop die dramaturg mensheid uitbeeld is vir my aangrypend.
........
Wat is die hoogtepunt vir jou in Liefdesbriewe?
Dis moeilik om een spesifieke ding uit te sonder, maar die teer manier waarop die dramaturg mensheid uitbeeld is vir my aangrypend.
Wat sou jy graag wil hê moet die gehoor saam met hulle huis toe neem?
Dis oukei om foute te maak.
Hoe ervaar jy dit om ná soveel jare weer saam met Arnold ’n verhoog te deel?
Dis vir my heerlik! Ons het mekaar vir baie jare nie gesien nie, maar dit voel glad nie so nie. Ons het dadelik weer gekonnekteer.
Jy is ’n gesoute aktrise in tragikomedies. Hoe maklik/moeilik gee jy ’n komiese inslag aan ’n produksie?
Daar is altyd iewers ’n stukkie komedie, selfs in die grootste tragedie, en ook omgekeerd. Dit is vir my die natuurlikste ding om die een in die ander te vind.
Hierdie is ’n tweemantoneelstuk, maar jy is baie ervare as dit kom by klein produksies. Wat is die uitdaging om in klein verhoogproduksies te speel?
Om konsentrasie te behou in enige produksie is noodsaaklik, en wanneer jy saam met ander mense werk, word daai las gedeel, maar wanneer jy alleen op die verhoog is, is die onus net op jou. Dis regtig nie kinderspeletjies om daardie soort van konsentrasie vol te hou vir ’n uur en ’n half nie.
Jy is onder meer ’n aktrise, kabaretsangeres en vervaardiger. Jy het byna in elke moontlike medium gewerk. Wat is jou gunsteling en hoekom?
Ek kan werklik nie sê een is beter as die ander nie, maar as jy my nou voor ’n vuurpeloton gaan sit en sê ek mag net een kies, sal dit kabaret wees.
Boonop het jy ’n gastehuis, restaurant en ’n passie vir kos. Dit roep die gesegde, “Jack of all trades” op. Waarvan sou jy sê is jy ’n meester?
Die grendeltyd het korte mette gemaak met my gastehuis en restaurant. Na amper 20 jaar is ek weer net ’n aktrise wat partykeer ook sing. O ja, en ’n vervaardiger. Dit was nog altyd my eerste liefde en dit sal altyd my eerste liefde bly. Of ek ’n meester is daarvan, laat ek aan die gehore oor om te besluit. Maar ek maak bleddie lekker kos!
Lees ook:
KKNK 2025: In gesprek met Veronique Jephtas oor Sonde met die spoke