Persverklaring: Feesprogram vir KKNK 2025 bied al die ietse

  • 0

Nataniël in die skouspelagtige opelugkonsert, Duif (foto: verskaf)

“Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is saamgestel en verpak om in alle kunsvorms en genres, vermaak vir alle ouderdomme in te sluit. Daar is iets vir almal.”

So sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, wat volgende jaar Dinsdag 1 tot Sondag 6 April op Oudtshoorn aangebied word.

“KKNK 2025 se veldtog is gebou rondom ‘al die ietse’ en die program bied juis dít: al die ‘ietse’, by een fees en op een plek, met opwindende werke vir die eerste keer op die verhoog, asook ’n keur van hoogtepunte uit bestaande produksies. Nie net kan gehore bekende gunstelinge sien nie, maar ook nuwe talent.” 

“Gewilde aspekte van die KKNK bly behoue, maar nuwe konsepte en idees word ook getoets. Skedulering van die teaterprogram is gedoen om gehore volstoom van die eerste dag tot die laaste aand te vermaak. Die Feesmark bars uit sy nate met ’n dag- en aandverhoog waar gesinne van vroeg tot laat kan kuier. Ons nooi almal uit om in die April-skool- en universiteitsvakansie iets spesiaal in die hartjie van die beeldskone Klein Karoo te ervaar,” sê Theart.

’n Spesiale opelug-openingskonsert en aandmark in die Feesmark skop verrigtinge af op Maandag 31 Maart, met ’n simfonieorkes onder leiding van die befaamde Richard Cock en spesiale gaskunstenaars. Nataniël sluit die fees op 6 April af met ’n skouspelagtige opelugkonsert, Duif.

Vier kunstenaars word vereer vir hulle bydrae en rol in die Suid-Afrikaanse kunste: Marion Holm met die prys vir vertolking (op die verhoog te sien in Marion Monroe), Lee-Ann van Rooi met die Kruispunt-prys (regisseur van Sonde met die spoke), Die Heuwels Fantasties met die prys vir vernuwende denke (te sien in oa die openingskonsert) en Oudtshoorniet John Theodore met die prys vir diens aan die kunste.

Moedswil en muitery onder regie van Tinarie van Wyk Loots met Albert Pretorius, Brendon Daniels, Nicole Holm en Dean John Smith (foto: Gys Loubser)

Onder die teaterhoogtepunte is die terugkeer van Hertzog-pryswenner Ingrid Winterbach na die teater met ’n gekke satire, Moedswil en muitery onder regie van Tinarie van Wyk Loots met Albert Pretorius, Brendon Daniels, Nicole Holm en Dean John Smith. Sonde met die spoke is ondersoekende joernalis Marianne Thamm se eerste teaterteks, wat voortspruit uit haar eie nuuskierigheid oor CJ Langenhoven en bied ’n nuwe blik op die man en die taal, met Veronique Jephtas, Tinarie van Wyk Loots en Michele Burgers op die verhoog, onder regie van Lee-Ann van Rooi.

Die Tony-bekroonde komedie Art, deur die Franse dramaturg Yasmina Reza, is in Afrikaanse vertaal deur Naòmi Morgan as Kuns, met Wessel Pretorius, Ludwig Binge en Wilhelm van der Walt, onder regie van Marthinus Basson. Die een wat bly, onder regie van Wessel Pretorius, is ’n fisieke teaterstuk met Sylvaine Strike, Shaun Oelf en Grant van Ster. Vir Annie+Helen keer skrywer en regisseur Hennie van Greunen terug na die KKNK na ’n afwesigheid van sewe jaar, met ’n inspirerende drama oor Helen Keller en Annie Sullivan, waarin Cintaine Schutte, Bianca Flanders, Eldon van der Merwe en Stian Bam die verhoog deel met die 13-jarige nuweling, Judi Hattingh.

Arnold Vosloo is vir die eerste keer in dekades terug op die Suid-Afrikaanse verhoog en is saam met Elsabé Zietsman te sien in Liefdesbriewe. Teateregpaar Petru Wessels en Carel Trichardt bring Die vrou met 27 kinders na die fees, ’n toneelstuk wat hulle ook in 1996 by die KKNK aangebied het. Die Kanna-wenner van verlede jaar se Lucky Pakkie-kortkunsteater, Karli Heine, se Die Potplant is te sien as vollengte kabaret in Die Potplant: ’n Tragedie. Wessel Pretorius se multi-bekroonde eenpersoonstuk, Ont-, keer terug na die verhoog, maar dié keer met Pretorius as regisseur en Wian Taljaard as speler. Elma Potgieter en Justin Strydom deel die verhoog in die debuut van Vlerksleep.

Die een wat bly, onder regie van Wessel Pretorius, is ’n fisieke teaterstuk met Sylvaine Strike, Shaun Oelf en Grant van Ster. (Foto: Gys Loubser)

Multi-bekroonde produksies is volop, waaronder Neil Coppen en Mpume Mthombeni se Isidlamlilo/The Fire Eater, die klassieke Henrik Ibsen-werk Speelgoed van Glas, onder regie van Nico Scheepers met oa Anna-Mart van der Merwe, Kruispad of die legende van die goue vis, onder regie van Basson met oa Edwin van der Walt, Eben Genis en Carla Smith en Philip Rademeyer se Stinkhout met Frank Opperman en Wilhelm van der Walt. Opperman keer ook terug met sy bekroonde komediedrama, Reünie, geskryf deur Dana Snyman. Ander dramas sluit in Christo Davids se Laaitie mettie biscuits, ’n Begin met die akteursegpaar Cintaine Schutte en Carel Nel, Louw Venter se Albatros, Pieces of Me, die roerende outobiografiese verhaal deur en met Bo Peterson.

Karoo Kaarte se bekroonde plekspesifieke drama, Die Swartmerrie, keer terug na Oudtshoorn se verlate en vergete spoorweg en dié KKNK-projek bied ook ’n nuwe produksie, Kroon en konfetti, asook ’n besonderse kunsuitstalling en nuwe publikasies as deel van dié eg-Oudtshoorn-projek aan.

Skaterlag-oomblikke is volop met die terugkeer na meer as twee dekades van Joe Barber  vir die kwarteeu viering van dié stuk met David Isaacs en Oscar Pietersen. Casper de Vries keer terug na die Klein Karoo na ’n lang afwesigheid met nuwe stand-up in ’n Cassie Diamantjies. Ander komedies sluit in ’n dubbeldosis vermaak in Dean John Smith en Veronique Jepthtas se Double Trouble: Bettie innie selle en Chronicles vannie Lavis, Tobie Cronjé is te sien in Moord met ’n T; Wynand van Vollenstee se Hospitale, Kateters en Familielede; Mel die Storieverteller se splinternuwe stuk, Internet Sensasie, Desiré Gardner se Magda Louw: ’n Les in Kletterkunde en Christie van Niekerk in Add my op die groep. Komediante waaronder Marc Lottering, Schalk Bezuidenhout, Llandi Beeslaar, Marianne Thamm en Sohail Booise is ook te sien.

Die Swartmerrie (foto: Ryan Dammert)

Studenteteater uit die boonste rakke is te sien, met drie stukke van die Universiteit Stellenbosch Dramadepartement se Première Teaterfees. Öh is fisieke teater vir jonk en oud; [indistinct chatter] is ’n sketskomedie vir die nie-liggevoeliges en Dinner met Diek, ’n tragikomedie. Ander jong talent is op die planke as deel van die Proscenium Dramakompetisie se jeugteater, in verskeie dialoë wat spesiaal deur bekende skrywers en regisseurs aangebied word. Die wenproduksie van die DCAS (Wes-Kaapse Regering se Departement van Kultuursake en Sport) Dramafees in 2023, Tussen strome, is ook ingesluit.

Die nuutgevestigde Cape Ballet Africa, onder leiding van Debbie Turner, dans die verhoog aan die brand in hulle sensasionele ballet, Salt.

Musiekhoogtepunte is volop, met onder andere Coenie de Villiers en Rocco de Villiers saam op die verhoog met twee vleuelklaviere in 88. Elsabé Zietsman en André Swartz is te sien in die debuut, Katrien, die King en die Kween, met oorspronklike musiek deur David Kramer. Die gevlerktes is ’n uitsonderlike debuut met Herrie-pryswenner en gevierde kunstenaar Diek Gobler se animasie, begelei deur Mareli Stolp met oa ’n nuwe komposisie deur die internasionaal-bekroonde Suid-Afrikaanse komponis, Neo Muyanga. Vir Klassiek en kwêla tot tango en techno span die Soweto String Quartet en Ultracoustic (Dirkie van Staden en Wilken Calitz) kragte saam vir ’n unieke musiekervaring. Die jazz-legende Leslie Kleinsmith en Ramon Alexander keer terug na die sukses van verlede jaar, met Kaapse Kabaret 2.0 saam met Dylan Tabisher en Annemie Nel.

Ander musiekproduksies sluit in: Laurinda Hofmeyr en Joanie Combrink in -LOOS; Frieda van den Heever se Spoorsny saam met Mauritz Lotz; die Naledi-bekroonde Vincent: His Quest to love and be loved; Jak de Priester saam met die beminde en KKNK se eerste Herrie-pryswenner in 1995, Antoinette Pienaar, is te sien in Koppieteefontein; Koos du Plessis word gehuldig in die produksie Koos Doep met Wynand Strydom; bekende aktrise Nicole Holm keer terug as sanger in Goue Boere, silwer tango met oa Leon Oosthuizen en Skhumbuzo Mhlauli; Amanda Strydom se bekroonde The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder; Gé Korsten word gehuldig in die produksie Gé Sing! met oa Stephanie Baartman, Louis Loock en André Schwartz; ses van die land se voorste kitaarspelers (Blackie Swart, Thean Kotze, Leon Ecroignard, Wouter van de Venter en Mathys Roets) herenig  as die oorspronklike Ses Snare; die gewilde Drie van die Beste met Mathys Roets, Danie Niehaus en  Germandt Geldenhuys is te sien en Spoegwolf se Danie du Toit en sy pa, Johan, deel die verhoog vir Songs, stories en gedigte.         

Margit Meyer Rödenbeck en Deon van Zyl keer terug met Suid-Afrika se gunstelingkarakter in die debuut van Liewe Heksie en die wals. (Foto: Gys Loubser)

Besonderse kinderteater word aangebied in die Feesmark se Klein KKNK-teater. Verder sluit die kinderteateraanbod ook die Afrikaanse debuut van die bekroonde jeugtoneelstuk, The King of Broken Things in, as Die Koning van weggooigoed, wat deur die oorspronklike geselskap aangebied word – ’n roerende verhaal vir die hele gesin. Margit Meyer Rödenbeck en Deon van Zyl keer terug met Suid-Afrika se gunstelingkarakter in die debuut van Liewe Heksie en die wals.

Feesgangers kan uitsien na opwindende programmering deur Absa tydens die fees en in die Feesmark wag al die ietse op besoekers met familievermaak van vroegoggend tot laataand. Die aanbod sluit onder andere die Klein KKNK-teater, kuns- en kosstalletjies, die KKNK-winkel, die Checkers Liplekker-teater en musiek deur van ons land se gunstelinge, waaronder Die Heuwels Fantasties, Spoegwolf, Demi Lee Moore, Snotkop, YoungstaCPT, Jeremy Loops, Riaan Benadé, Blackbyrd, Emo Adams & Take Note, Kurt Darren, Refentse en vele meer op die dag- en aandverhoog in. ’n Nuwe toevoeging tot die aanbod in die Feesmark is Blitsteater, ’n herverbeelding van Lucky Pakkie en Uitkampteater van ouds, waar feesgangers kort teaterstukke kan sien wat gaan uitdaag én vermaak. 

Liza Grobler, die fees se nuwe kurator van visuele kuns, het ’n program saamgestel onder die tema Diepe grond, wat regdeur die dorp gesien kan word. Henk Serfontein is die feeskunstenaar vir 2025 en is by drie verskillende uitstallings betrokke.

Gratis vermaak is volop in Baron van Reedestraat in die Netwerk24-feeskafee langs die CP Nel-musuem, waar gesprekke en ander spesiale ervarings aangebied word. Boekstories word in die ATKV-Boeke-oase by Exclusive Books aangebied en die kykNET-leefarea voor die Absa Burgersentrum, asook straatoptredes deur die dag bied verder ook gratis vermaak. Voor die CP Nel-museum bied RSG en die ATKV vermaak met regstreekse radio-uitsendings en ander aktiwiteite deur die dag.

KKNK 2025 word geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering. 

Die volledige program vir die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top