Niggies: Die waremisdaadreeks is ’n eerste vir kykNET

  • 0

Niggies, ’n dramareeks gebaseer op dié misdaad wat die land geruk het, debuteer in Maart op kykNET.

In 1965 is die jong Issie Fourie en Petro Nel in die klein dorpie, Odendaalsrus in die Vrystaat, ontvoer en vermoor. Issie se broer, André, het gesweer om alles in die stryd te werp om die skuldige aan die pen te laat ry. Dit sou hom 18 jaar neem.

Niggies, ’n dramareeks gebaseer op dié misdaad wat die land geruk het, debuteer in Maart op kykNET en is geskep deur ’n gedugte span.

Die regisseur is die veel-bekroonde Jaco Bouwer, wat nie net bekend is vir sy grensverskuiwende teaterwerk nie, maar ook vir die internasionale trefferreeks Spinners, wat in en om Kaapstad verfilm is.

Beer Adriaanse, bekend vir flieks soos Wonderlus en Kanarie, asook reekse soos Hotel en Fynskrif, vertolk die rol van die ouer André. Die talentvolle nuweling Janru Steenkamp speel die jong André. Die rolverdeling sluit van Suid-Afrika se voorste akteurs in.

Niggies begin met die dubbele ontvoering en moorde van Issie Fourie en Petro Nel in Odendaalsrus in 1965, maar die reeks strek oor die 1960’s en 1980’s. Die eerste vier episodes speel af in 1966; episodes 5–8 speel af in 1984 en die laaste episode in beide tydlyne.

Die gebeure speel af in Odendaalsrus, Allanridge en Kroonstad in die noordoostelike Vrystaat, ’n konserwatiewe deel van ’n konserwatiewe land, waar die moorde soveel te meer skokkend was, omdat almal in die wit, Afrikaanse, voorstedelike middelklasbuurte in ’n utopie van veiligheid gewoon het. Dis die tyd van erwe sonder mure en heinings, langspeelplate, Sondagbraais en brandewyn en Coke.

Alles gebeur binne die greep van apartheid, maar die politieke landskap is slegs ’n agtergrond vir die gebeure.

........
“Dis nie net kykNET se eerste waremisdaadreeks in Afrikaans nie, maar ook die eerste maal dat daar ná elke twee episodes ’n potgooi gemaak word, waar Kabous Meiring met akteurs, vervaardigers en ander kundiges gesels oor die reeks.”
........

Dis nie net kykNET se eerste waremisdaadreeks in Afrikaans nie, maar ook die eerste maal dat daar ná elke twee episodes ’n potgooi gemaak word, waar Kabous Meiring met akteurs, vervaardigers en ander kundiges gesels oor die reeks. Daar is vanjaar by die KKNK op Oudtshoorn ’n retrospektiewe uitstalling van die moordsaak, met argiefmateriaal, mediaberigte en memorabilia. Daar is ook ’n gepaardgaande Netwerk24-gesprek oor die reeks, onder leiding van Kabous Meiring as gesprekvoerder.

Dit word vervaardig deur Wolflight Pictures met Roelof Storm, Willem van der Merwe en Gideon Lombard as vervaardigers en die bekroonde teksskrywers Saartjie Botha en Philip Rademeyer as skrywers. Dis hul eerste draaiboek.

Saartjie het onder meer Saad, Balbesit, Verkeer, Altyd Jonker, ’n Ander tongval, Die goue seun, Tip en Spanner op haar kerfstok. Sy is by die KKNK 2013 vereer met die Afrikaans Onbeperk-prys vir vernuwende denke vir haar algehele bydrae as dramaturg, vertaler, verwerker, dramakoördineerder, vervaardiger en teaterentrepreneur.

Philip is onder meer die skrywer van Wild, Klippe wat val, Goed wat wag om te gebeur, Opdrifsel en Stinkhout. Klippe wat val het in 2019 die ATKV-Woordveertjie vir die beste dramateks ontvang. Sy nuutste teaterteks, Stinkhout, is pas bekroon met die 2025 Fiësta-prys vir beste nuutgeskepte teks.

Maryke Roberts het met Saartjie en Philip gesels oor hul reis as draaiboekskrywers:

Hoe het jy deel van die kreatiewe span van Niggies geword?

Philip: Die vervaardigers wat die projek begin het, Willem van der Merwe (wie se familie se storie dit is) en Gideon Lombard, het my genader om deel te wees van die projek. Ek en Gideon het al verskeie kere saamgewerk in teater, so hy het ’n goeie idee van my vermoë en sterk punte as ’n skrywer. Ek was eers in ’n navorsingskapasiteit betrokke, en kort daarna het hulle my gevra om saam met Saartjie te skryf.

Hoe baie het jy van die moorde geweet voordat jy by die reeks betrokke geraak het?

Philip: Ek het glad nie van die moorde geweet nie; die eerste keer wat ek daarvan gehoor het, was tydens my eerste ontmoeting met Willem en Gideon.

Wat aan die storie het jou só geraak dat jy net wóú betrokke wees?

........
“My mond het oopgehang toe ek die eerste keer die storie hoor. Dit is ongelooflik – dit voel asof dit opgemaak is, met al die intrige en draaie in die verhaal. Maar dit het werklik met ’n familie gebeur – ’n andersins doodgewone familie.” – Philip Rademeyer
........

Philip: My mond het oopgehang toe ek die eerste keer die storie hoor. Dit is ongelooflik – dit voel asof dit opgemaak is, met al die intrige en draaie in die verhaal. Maar dit het werklik met ’n familie gebeur – ’n andersins doodgewone familie.

Saartjie: Die dramatiese kern van die storie is die soeke na die moordenaar/s, maar buiten die interessante speursaak wat oor dekades afgespeel het, is dit ’n diep menslike storie oor familie, verlies, rou en trauma. Die moorde het geweldige letsels gelaat, en die langtermyn impak daarvan is iets wat my aangegryp het.

Hoe was die proses om saam met iemand anders te skryf aan die draaiboeke?

Philip: Soos baie skrywers wat uit die teaterwêreld kom, is ek gewoond daaraan om alleen te skryf, en ek geniet dit om alleen met ’n teks te worstel. Maar ek was baie opgewonde om met Niggies deel te wees van ’n span en om met ’n gerekende skrywer soos Saartjie te werk, veral gegewe die omvang van hierdie storie. Willem en Gideon was ook betrokke by die ontwikkeling van die storie. Die twee van hulle, Saartjie en ek het aan die begin ’n paar werkswinkels gehad om te identifiseer waarop ons wil fokus en om die storielyne uit te pluis. Vandaar het ons die werk tussen my en Saartjie verdeel, maar gereeld as ’n span van vier bymekaargekom om die storie verder te brainstorm. Ons het die episodes aanvanklik tussen my en Saartjie verdeel, maar daai lyne het met tyd vervaag soos die storie ontwikkel het, die struktuur en karakters verander het, ensovoorts. Uit die aard van die saak het ek en Saartjie baie met mekaar gekommunikeer! Die ontwikkeling en skryf van die storie was ’n baie lang proses, wat ons toegelaat het om regtig die storie te verdiep en die karakters uit te brei.

........
“Die moorde het geweldige letsels gelaat, en die langtermyn impak daarvan is iets wat my aangegryp het.” – Saartjie Botha
........

Dis jou eerste draaiboek. Boonop gegrond op ’n ware misdaad. Hoe verskil die skryfproses van toneeltekste en boonop van fiksie?

Philip: Met die skryf van ’n toneelteks is daar outomatiese beperkings – jy skryf vir een verhoog en ’n beperkte hoeveelheid akteurs en jy moet ’n wêreld in 60 tot 120 minute skep. Maar hierdie beperkings forseer jou om met kreatiewe oplossings vorendag te kom om die storie op meesleurende wyse te vertel, en ook om verskeie ruimtes en tydperke uit te beeld. Met ’n draaiboek het jy meer vryheid in terme van locations, karakters en tydspronge (dis natuurlik afhanklik van die produksiebegroting!). Vir my is die twee grootste verskille eerstens die omvang van die storie wat jy kan vertel (nege episodes van ongeveer 45 minute elk vir TV versus 90 minute op die verhoog), en tweedens die wyse waarop die storie vertel word – die tipe toneeltekste wat ek skryf is baie dialoog-gedrewe, terwyl TV en film ’n visuele medium is. Dit was dan ook my grootste uitdaging – minder dialoog en meer aksie of visuele maniere om die storie vorentoe te dryf.

Saartjie: Met ’n fiktiewe verhaal is daar natuurlik niks of niemand wat vir jou sê wat jy kan skryf of wat jy met jou karakters kan doen nie. Met ’n ware verhaal wil jy die oorspronklike storie en die mense, regte mense wat deur verskriklike pyn is, eer en respekteer. Tog moet mens om verskeie redes sommige goed verander. So ons het alle storiebesluite deeglik bespreek, veral waar ons afgewyk het van die ware gebeure of waar ons dinge moes opmaak omdat ons nie al die feite gehad het nie. Ons was darem ook baie gelukkig om vir Willem as deel van die proses te hê, veral waar ons dinge moes fictionalise.

Hoeveel navorsing het die draaiboek geverg wat jy addisioneel moes doen?

Saartjie en Philip: Daar was ’n databasis van navorsing wat deur Willem en ’n paar ander mense bymekaargemaak is – verskeie weergawes van die gebeure van lewende familielede, koerantartikels oor die moorde en saak, ou foto’s en videomateriaal, hofrekords, konteks vir die tydperk, ensovoorts. Ons het onsself hiermee bekend gemaak voor ons begin skryf het, en het als in detail bespreek tydens die ontwikkelingsfase van die skryfproses. Soos ons gewerk het, het ons verdere navorsing gedoen waar die storie of wêreld van die storie dit genoodsaak het – mens wil tog ’n tydperk lewensgetrou uitbeeld en ’n geloofwaardige wêreld skep.

Wat was die grootste uitdaging aan hierdie hele skryfproses?

Saartjie en Philip: Enige skryfproses is uitdagend! In Niggies se geval was die uitdaging veelvlakkig: Ten eerste werk ons met werklike traumatiese gegewe. Ons het toegang gehad tot (van) die oorspronklike niggies se families, en ten spyte van ’n verloop van amper 50 jaar, is die herbesoek aan die gebeure en die gevolge daarvan steeds vir hulle ontstellend. Ons het nie dieselfde toegang aan die kant van die oortreders gehad nie, en so het ’n interessante kreatiewe spanning tussen feit en fiksie ontstaan. Uiteraard is werklike gebeure aangepas om die familie te beskerm en om dit geskik vir TV te maak. Dit was ook ’n uitdaging om die hantering van tyd en tydsverloop te verpak en ons het baie rondgespeel met struktuur voor ons finaal besluit het op twee periodes binne die reeks.

Waaroor is jy besonder trots met die finale draaiboek?

Philip: Dat dit uiteindelik klaargekom het! Ek glo ons kon iets van die vergane tydvakke vasvang, en veral die karakters wat in albei periodes figureer, laat verouder, met die impak van die gebeure in hulle elkeen afgeëts. Met politieke omwentelinge in Suid-Afrika is die herbesoek van ’n spesifieke tydvak vir ’n spesifieke groepering altyd problematies.

Saartjie: Hoewel Niggies ten eerste ’n familiedrama is, glo ek ons kon deur polities bewus te skryf, ook só kommentaar lewer. 

Wat was die grootste leerskool met hierdie projek?

.......
“Sommige Suid-Afrikaners dink dat misdaad ’n nuwe probleem is en dat geweldsmisdaad wreder is nou as wat dit vroeër was. Die Niggies-saak is ’n sprekende voorbeeld van die teendeel. Dit is juis ’n bewys dat geweldsmisdaad enige tyd, enige plek met enigiemand kan gebeur.” – Philip Rademeyer
.......

Saartjie en Philip: Om navorsing en feite so aan te bied dat dit bydra tot ’n dramatiese struktuur. Dit was ook moeilik om “by” te skryf in terme van werklike gebeure, en die balans tussen feit en versinsel te vind. 

Hoekom moet stories soos hierdie een in 2025 vertel word?

Philip: Sommige Suid-Afrikaners dink dat misdaad ’n nuwe probleem is en dat geweldsmisdaad wreder is nou as wat dit vroeër was. Die Niggies-saak is ’n sprekende voorbeeld van die teendeel. Dit is juis ’n bewys dat geweldsmisdaad enige tyd, enige plek met enigiemand kan gebeur. Oortreders is ook dikwels die produk van hulle omstandighede, en dit is nie net tot ’n spesifieke demografie beperk nie. Vir my is een van die waardevolste perspektiewe van die stuk, die impak van ’n traumatiese gebeurtenis oor ’n langer tydperk.

Wat maak jou opgewonde oor die reeks?

Saartjie en Philip: Speelgeleentheid vir ’n groot groep akteurs, met karakters en gegewe wat meer verg as ’n tipiese reeks. Ek is ook baie nuuskierig om te sien hoe kykers op die reeks, en veral die hoofkarakter, gaan reageer. 

Waaraan werk jy volgende?

Saartjie en Philip: Wil dit nie jinx nie! 


 

  • Niggies volg op die onlangse suksesse van kykNET-dramas soos Plan B, Een keer om die son en Nêrens, Noord-Kaap Deel II, wat almal wêreldklasvermaak in Afrikaans verskaf het. Die reeks première op Dinsdag 25 Maart om 20:00 op kanaal 144.
Lees ook:

Persverklaring: Hier is die lokprent én res van die rolverdeling van Niggies

25 minute met Waldimar Pelser oor ’n kwarteeu van kykNET

Moord verkoop: Freek Robinson stel ondersoek in

Devilsdorp: Mystery and suspense cleverly maintained

Die verskillende gesigte van Tom Ripley

Stefaans Coetzee gesels met Nicole Engelbrecht oor Sizzlers: The hate crime that tore Sea Point apart

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top