25 minute met Waldimar Pelser oor ’n kwarteeu van kykNET

  • 0

Waldimar Pelser (Foto: verskaf)

Op 15 November 1999 was kykNET ’n blinknuwe Afrikaanse kanaal wat vir die eerste maal sy gesig op TV gewys en sy stem op TV laat hoor het. Nou, 25 jaar later, gesels Waldimar Pelser, die kanaaldirekteur van M-Net se premiumkanale (wat kykNET insluit) met Bibi Slippers oor die afgelope kwarteeu se gehaltevermaak, en wat (moontlik) in kykNET se komende kwarteeu voorlê.

Waldimar Pelser, direkteur van M-Net se premiumkanale, is op pad New York toe vir die internasionale Emmy-toekennings. Die realiteitsprogram Die brug (S1) het ’n benoeming losgeslaan in die kategorie “Non Scripted Entertainment” en natuurlik moet die baas van die Afrikaanse vermaakplaas daar wees vir die seremonie. Wen of verloor, ’n Emmy-benoeming is ’n mylpaal wat verdien om gevier te word!

Die plan is om vinnig, voor hy vlieg, vir 25 minute met Waldimar te gesels oor die kanaal se ánder groot mylpaal, die viering van hulle 25ste bestaansjaar – maar wanneer dit by kykNET kom, is sy entoesiasme vir die onderwerp te groot om hom tot ’n skamele 25 minute te beperk. 

25 jaar jonk

Op sy eie 25ste verjaarsdag was Waldimar halfpad deur sy meestergraad in ontwikkelingstudies by Oxford in Engeland. “My oë was blink en groot, en ek het nie regtig ’n vyfjaarplan gehad nie.” Hy het begin vry, en begin uitvind wie hy is en wat hy wil hê. Daar was die moontlikheid van werk by Beeld indien hy sou terugkeer na Suid-Afrika, maar niks was seker nie. 

.......
Die een ding waaroor Waldimar (namens kykNET) seker is, is nie ’n vyfjaarplan nie, maar ’n lewensuitkyk: “kykNET het ’n begeerte om in stand te hou, te bewaar en te koester.”
.......

In teenstelling hiermee is kykNET, volgens Waldimar, “baie meer seker van wie sy is. kykNET is ’n baie volwasse 25-jarige wat ’n fenomenale groeitrajek beleef het. Omring deur ouer vriende en familie by wie sy kon leer, kon kykNET die wysheid van baie mense absorbeer.” kykNET is oud van gees, die tipe jongmens wat vriende is met ouer mense. “kykNET word genooi om te braai saam met 50-jariges, maar sy is nuuskierig oor mense van verskillende generasies. Sy weet dat sy nie net met een groep kan meng nie: As jy nie met 15- of 20-jariges ook gesels nie, gaan jy verstok.” 

Die een ding waaroor Waldimar (namens kykNET) seker is, is nie ’n vyfjaarplan nie, maar ’n lewensuitkyk: “kykNET het ’n begeerte om in stand te hou, te bewaar en te koester.”

Dit was die jaar 1999 …

Waldimar se eerste herinnering aan kykNET is toe hy as derdejaarregstudent bewus geraak het van die program Mariëtta praat prontuit, met Mariëtta Kruger. (Na 25 jaar is Prontuit, met ’n nuwe baadjie aan, steeds deel van kykNET se aanbod, nou met Kabous Meiring voor die kamera.) Dit was die jaar 1999, en woorde soos “blog”, “texting”, “vape”, “dashcam” en “koolstofvoetspoor” het maar onlangs deel van die leksikon geword. kykNET het nie net die blogs en die vapes en die dashcams oorleef nie, die kanaal het bly groei en gedy. Beide die vorm en die inhoud van kykNET se aanbod het oor die afgelope 25 jaar reuse veranderinge ondergaan. “Dit gaan oor hoe TV bedien word, en hoe dit kykers bereik. Satelliet-TV was goed gevestig in Suid-Afrika toe kykNET begin uitsaai het, so dit was nie nuwe tegnologie nie. Maar selfone en stroomdienste het dinge kom verander.”

........
Waldimar sien TV-kyk as ’n sosiale aktiwiteit, iets wat jy doen “in verband met ander mense. Die TV is drie of vier meter van jou af weg; daar is gewoonlik nie net een stoel nie – die hele ruimte suggereer meer as een mens. Dit is egter nie wat die foon doen nie. Jy kan nou ’n absoluut persoonlike ervaring op jou foon of rekenaar hê, waar nét jy kyk.”
........

Waldimar sien TV-kyk as ’n sosiale aktiwiteit, iets wat jy doen “in verband met ander mense. Die TV is drie of vier meter van jou af weg; daar is gewoonlik nie net een stoel nie – die hele ruimte suggereer meer as een mens. Dit is egter nie wat die foon doen nie. Jy kan nou ’n absoluut persoonlike ervaring op jou foon of rekenaar hê, waar nét jy kyk.” Maar alhoewel tegnologie dinge verander, verkies kykNET dat kykers steeds sáám kyk. “Ons kykers kyk steeds meesal op TV, wat my baie bly maak, want hulle anker die gewoonte in saamwees. Dit word ’n ritueel van iets deel, and long may it last.”

Buiten tegnologie, het die substansie van die inhoud ook verander. “Die skeppers van kykNET het vroeg al besef dat hulle ’n multigenre-tuiste moes word vir Afrikaanse kykers, dat hulle daardie vaandel moes oorneem by die SAUK.” kykNET het oor die verloop van tyd hulle aanbod uitgebrei van laebegroting-geselsprogramme en joernaalprogramme soos Kwêla, tot oorspronklike dramas in 2003 en in 2010 ook nuus. Die veranderinge in die land moes ook op skerm weerspieël word, maar meer as dit moes die kanaal ’n beïnvloeder van die kultuur word. Waldimar dink met verwondering terug aan hoe kykNET gehelp het om veral wit Afrikaanse mense se definisie van wie “ons” is, te verruim. “As jy in 1999 vir wit Afrikaanse kykers gesê het dat honderde duisende van hulle elke aand vasgenael sou sit voor ’n sepie wat in die Kaap afspeel, waar die meeste kerngesinne bruin is, waar die Koran oop is op die tafel, en daar is rituele uit Islam en daar is ’n gaytroue … ek dink hulle sou op hulle rug geval het. Die narratief weerspieël wat werklik gebeur, maar dit help om mense se grense meur poreus te maak, en hulle harde posisies te versag. ’n TV-kanaal kan mense help om nuut te kyk, en dinge anders te sien. Kykers se harte het oopgegaan vir mekaar.”

Dit is die jaar 2024 … 

Nou, hier in die dae van red flags en rizz, iPad kids en “it’s giving”, brainrot en clap backs, wat is die gonswoorde of konsepte wat die volgende 25 jaar van kykNET se betsaan gaan definieer? Vir die kykNET-span gaan dit oor ’n gekompliseerde balanseertoertjie, om maniere te vind om wydsbeen bo-oor verskillende generasies te staan en relevant te bly vir almal. Die span probeer sin maak van generasieteorieë en die kulturele merkers wat hierdie generasionele etikette bepaal. Volgens Waldimar is die kanaal se werk om “’n breë kerk te bedien. As jy te veel in ’n nismark val, is jy ’n TikTok-rekening, nie ’n TV-kanaal nie.” Natuurlik word daar ook hardop gedink oor KI, ’n tegnologie wat so vinnig verander, en so eksponensieel, dat dit volgend Waldimar “twee ordes bo die koms van die nywerheidsrevolusie” is. “Soos met elke grensverskuiwende tegnologie dink mense hulle kan voorspel hoe dit gaan uitspeel – maar natuurlik kan ons nie. Ons moet net seker maak ons verstaan die impak, want dit gaan almal se lewens verander. Hopelik op goeie heilsame manier, maar daar is ook groot slaggate. Ons wil weet wat KI kan moontlik maak op TV – maar op maniere wat ons kykers kan respekteer.”

Stroming is iets wat die mense by kykNET opgewonde maak, omdat dit baie kykers kan bereik wat nie andersins toegang tot kykNET sou hê nie. Die manier waarop kykNET se inhoud voortleef op Showmax is ook ’n riem onder die hart. 

.......
En vir diegene wat wonder of Canal+ wat aan Multichoice se voordeur klop, vir Waldimar bekommer – allermins. Vir hom is die moontlikheid van samewerking met die Franse ’n positiewe vooruitsig.
.......

En vir diegene wat wonder of Canal+ wat aan Multichoice se voordeur klop, vir Waldimar bekommer – allermins. Vir hom is die moontlikheid van samewerking met die Franse ’n positiewe vooruitsig. “Vir Canal+ is die skep van inhoud in tale anders as Engels baie belangrik. Afrikaans is baie prominent in die gewelf van Multichoice se inhoud in inheemse tale. Die Franse verstaan intuïtief die waarde van inheemse tale, want hulle moes nog altyd inhoud skep in ’n taal wat tweede viool speel teen Engels.” Hy is opgewonde oor die “interessante tye” wat voorlê: “Jy gaan jou leefwêreld en kultuurwêreld in ’n stadium moet beskryf vir iemand wat dit glad nie ken nie, en ek sien uit na daarde dag, want ons het ’n baie mooi storie om te vertel! Ons gaan ons eie wêreld vir die eerste keer in ’n lang ruk deur die oë van ’n buitestander sien, en ek dink dis só gesond.” (Waldimar oefen solank sy Frans, onder leiding van ’n Frans-instruktrise wat in Kaapstad woon, en met wie hy een maal per week oor álles praat: “Ma journée, mon travail, ma famille, tout!”)

Déjà-vu

In 1999 het Waldimar, soos die meeste studente, nie ’n eie TV en skottel gehad nie en dus kykNET se eerste oorspronklike dramas wat in daardie jare gemaak is, heeltemal misgeloop. Dit maak hom bitter opgewonde (so opgewonde dat hy ’n kanaalgeheim verklap!) dat hierdie ou dramas eersdaags weer op kykNET te sien gaan wees, in die nuwe Nostalgie-gleuf, op Sondagaande. 

Waldimar Pelser (Foto: verskaf)

Waldimar het wel in sy 30’s ’n skottel gekry, en só het die kanaal se dramareekse hom beetgepak. “Van die televisieprogramme wat my die meeste geraak het in my lewe, is kykNET-dramareekse.” Nêrens Noordkaap staan steeds vir hom uit as ’n hoogtepunt. Dié reeks het hy gesien voordat hy by kykNET aangestel is – en een van sy lekkerste professionele “perks” was om die tweede seisoen vooruit te kon kyk. “Ek het al 13 episode binne twee weke gekyk, en ek was teen die einde so emosioneel dat ek ’n vergadering moes skuif nadat ek die laaste episode gesien het.”

Die toekoms

Wanneer Waldimar oor die uitdagings praat wat die toekoms inhou, is dit eerstens Suid-Afrikaners se finansiële welstand wat hom bekommer. “Baie mense sukkel finansieel, en ek hoop dat dit beter sal gaan met die land. Die gemeenskap en die kanaal kan net floreer as dit beter gaan met die land.” Hy hoop dat die delikate samewerking op politiese vlak lank genoeg sal hou dat daar vordering gemaak kan word, sodat die land groter ekonomiese groei kan toon. Hy besef dat daar baie mense is wat graag kykNET wil kyk, maar dit eenvoudig nie kan bekostig nie. En noudat hy aan die ander kant van die gordyn werk, weet hy hoeveel dit kos om plaaslike inhoud te maak. “Dit is baie duurder om plaaslike inhoud te maak as om reekse van ander kanale in die buiteland te koop. Daar maak hulle reekse vir miljoene mense. Hier probeer ons die byna onmoontlike doen: om vir ’n redelik klein gehoor TV te maak wat op standaard is, wat hulle verras, wat wêreldklas is. Ons maak groot erns met ons programme vir spitskyktyd.”

.......
Waldimar meen dat TV ’n prioriteit bly vir mense, selfs in moeilike tye, omdat dit mense deel laat voel van “’n groter kultuur- en taalgemeenskap. Daardie goed is kernbelangrik. Dis soveel meer as net vermaak – dis eksistensiële dinge.”
.......

Waldimar meen dat TV ’n prioriteit bly vir mense, selfs in moeilike tye, omdat dit mense deel laat voel van “’n groter kultuur- en taalgemeenskap. Daardie goed is kernbelangrik. Dis soveel meer as net vermaak – dis eksistensiële dinge.” Hy is besorg oor vereensaming, oor jongmense wat nie meer sulke sterk sosiale bande het nie, oor ouer mense wie se kinders die land verlaat het en wat ’n groot behoefte het om verstaan te voel, en geïntegreer te voel in ’n kring wat groter is as hulle voorkamer. “Mense wil voel dat hulle vir dieselfde grappies lag as ander mense. Om te voel jy deel iets, ’n herkoms, ’n sin vir humor, ’n waardestelsel, ’n geloofsoortuiging of bepaalde hunkerings en versugtings oor jou mense en jou land. As mense nie meer dit het nie … dit sukkel.”

Daar is dinge wat verander, en dinge wat dieselfde bly. Maar aan die gemaklikheid wat aan die kern van kykNET se DNS lê, gaan daar nie gepeuter word nie. “kykNET is nie ’n stywe, formele eetkamer nie. Dis ’n sitkamer, met ’n doilie oor die bank, drie potplante en ’n kind wat in en uit hardloop. Dis ’n ingeleefde vertrek waar mens probeer om te ontspan. Dis nie te ernstig nie.” Waldimar besef dat sukses berus op gesprek met die kanaal se kykers: “Soos met enige suksesvolle kuier, moet jy luister én praat. As jy aanhou luister en praat, sal jy aanbeweeg. As jy net praat, gaan jy later om jou kyk en besef daar is niemand. So jy moet ook luister om te hoor waaroor die mense om jou praat, anders gaan jy geen idee hê wat om te maak of te doen nie.”

Waarop dink hy kan die kykNET-pioniers trots wees as hulle vandag na kykNET kyk? "Dat KykNET se kykers steeds by ons bly, en dat hulle geduldig is met ons. Dat ons ten spyte van moeilike begrotings steeds van tyd tot tyd ’n drama op lug kan sit wat grense verskuif. Die sigbare integrasie van kykNET en kykNET&Kie, en dat kykNET en kykNET&Kie al hulle kykers, swart, bruin en wit, op kreatiewe nuwe maniere bedien. Die gesondheid van ons vier daaglikse sepies is ’n wonderlike monument tot my voorgangers, en hierdie span wat in die laaste drie jaar twee van die drie vervang het. Ons wil regtig Afrikaanse TV maak vir die hele Afrikaanse gemeenskap, en as ’n mens na daai vier programme kyk, dan voel ek, ons doen dit nogal."

Wat maak vir Waldimar opgewonde?
  • Die volgende lekker maaltyd
  • Die volgende lekker drama
  • Die brug, seisoen 2 wat in Mei op ons skerms land
  • ’n Vakansie wat wag (altyd!)
  • Die moontlikhede van die liefde en so aan – wie weet wat kan gebeur!?

Lees ook:

Persverklaring: kykNET vier 25 jaar van wêreldklas – in Afrikaans

Skermgreep: kykNET Silwerskermfees 2024 – ’n blik op die pas afgelope fees

Glans en glorie op 12de kykNET Silwerskermfees

kykNET & kie se oorgeklankte Turkse telenovelas: ’n onderhoud met Waldimar Pelser

Commendatio’s: kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar 2024

kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar 2023: Commendatio’s

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top