Commendatio’s: Bibi Slippers (sameroeper)
Fiksie
Nathan Trantraal: “Ons is gevangenes van dit wat ons liefhet: Magmoed Darwiesj gedigte in Afrikaans” oor Die vlug van ’n vreemdeling, soos vertaal deur Bester Meyer, in Herri, Julie 2023.
Nathan Trantraal se bespreking van Vlug van ’n vreemdeling, Bester Meyer se omdigtings van Magmoed Darwiesj se gedigte in Afrikaans, is ’n lig waarby die boek gelees kan word. Met die inleiding skakel Trantraal dié lig in ’n verteltrant aan, en skets onmiddellik die noodsaaklike agtergrond wat sorg vir konteks wat die lees van Darwiesj se gedigte verryk en verdiep. Trantraal beheer die fokus en helderheid van die lig deurentyd, belig soms skynbaar onbenullige biografiese inligting wat hy dan as metafore aanwend wat die leser help om die digter se werk beter te begryp. Hy haal relevante gedeeltes uit gedigte aan, wat sy opvattings staaf maar ook die resensie se emosionele trefkrag versterk. Trantraal se resensie is ’n wenner omdat dit so veelvlakkig is: Dit ets die boek af teen die agtergrond van wat tans in Palestina gebeur, trek verbande tussen Darwiesj se werk en dié van digters wat in Kaapse Afrikaans skryf, en betrek ook Suid-Afrika se politieke geskiedenis en Afrikaanse taalgeskiedenis om kritiese vrae te stel en geleentheid te sien vir die verryking van Afrikaanse letterkunde deur middel van vertaling, en uiteindelik in die storie van Suid-Afrika se politieke bevryding ook hoop te sien vir die bevryding van die nasie waaroor Darwiesj geskryf het. In hierdie opsig voel dit besonders dat juis dié resensie van Nathan Trantraal die eerste in Kaapse Afrikaans is wat met die prys vereer word.
Niefiksie
Lindie Koorts: “Wanneer die geskiedenis swaarder weeg as die vrou” oor Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk in Rapport, 30 Julie 2023.
Lindie Koorts se resensie van Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk is kragtig, weldeurdag, diepgaande en oorspronklik. Koorts benader haar bespreking van die boek vanuit ’n duidelike invalshoek wat reeds in die kort inleiding opgestel word, en dan vuur sy ’n sarsie vrae af wat deur die hele resensie weergalm, en in haar laaste paragrawe beantwoord word. Die vrae is ’n slim manier om die leser te oriënteer met betrekking tot die soort boek waaroor die bespreking gaan, maar dit demonstreer ook op ’n konkrete wyse hoe die boek met die resensent gepraat het, tot watter mate dit haar geprikkel het, en oor hoeveel verskillende dinge dit haar laat dink het. Koorts kry dit ook reg om die inhoud van die boek redelik bondig saam te vat, terwyl sy slim aanhalings kies wat uiteindelik uitstekend resoneer met haar slot, waarin sy terugkeer na haar eie vrae oor die “dilemma van die wit vrou” en antwoorde waag wat duidelik teruggevoer kan word na haar eie hervertelling van die storie. Lesers kan dus haar argument volg terwyl hulle oor die boek ingelig word, ’n gevoel kry vir die toon en inhoud, en direkte blootstelling aan die entoesiasme waarmee Koorts die boek gelees en daaroor geskryf het. Sy hoef nooit te sê “Gaan koop die boek” nie – die resensie in geheel sorg dat ons dit gaan doen.
Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2024.
Lees ook:
Persverklaring: Kortlyste vir vanjaar se kykNET-Rapport-resensiepryse bekend