Commendatio’s: Bibi Slippers (sameroeper)
Fiksie
Deborah Steinmair: “Antjie plunder met twee nuwe bundels: Die Vorstin van Vers laat ons binneste ruk deur die sublieme” oor Plunder en Vetplantfeetjies deur Antjie Krog in Vrye Weekblad, 21 Oktober 2022
Al die resensies van Antjie Krog se jongste digbundel, Plunder, is dit eens dat dit ’n merkwaardige publikasie is. So, hoe skryf ’n mens ’n resensie van ’n boek waarvan almal die lof luidkeels besing wat uitstaan onder die ander lofsange? In Deborah Steinmair se resensie van Plunder vir Vrye Weekblad doen sy dit op twee maniere: Eerstens laat sy die boek self praat. Geen resensent het woorde, mooier woorde, beter woorde, om reg te laat geskied aan Antjie Krog se fyngeslypte woorde nie. Deborah Steinmair doen die sinvolle en slim ding, en gee eerder vir haar lesers voorsmake en voorbeelde uit Plunder, wat die leeslus en bewondering outomaties aanvuur. Haar tweede strategie is om haar reaksie op Plunder in baie persoonlike terme uit te druk. Deborah wil haar lesers laat verstaan hoe hierdie verse haar laat vóél, hoe dit aan die hart ruk, hoe dit die asem wegslaan, hoe dit, om Deborah aan te haal, “jou armhare laat skroei”. Die resensie is die verslag van ’n leser wat haarself oopmaak vir die vers, wat nie bang is vir die manier waarop woorde die blootgestelde binneste kan plunder nie, en wat geensins daarvan wegskram om te vertel hoe dit voel wanneer jy dit laat gebeur nie. In Plunder beweer Antjie Krog: “[N]ie eens gedigte kry meer iets saamgeweef”, maar in hierdie resensie weef Deborah Steinmair haar indrukke van die bundel voortreflik tot ’n sterk eenheid saam uit flardes ervarings wat in versigtige woorde beskryf word.
Niefiksie
Theodore Rossouw: “Twee lewens deur Elise Bishop, ’n resensie”, LitNet, 21 November 2022
Theodore Rossouw se resensie van Twee lewens deur Elise Bishop is uitsonderlik, en ’n absolute plesier om te lees. Die resensie getuig van teerheid, insig, begrip en ’n diepgaande medemenslikheid wat met eerstehandse kennis en belangrike agtergrondinligting verweef word. Die indrukke van Elise Bishop se boek wat weergegee word, is nie net besonder gebalanseerd en vol fyn nuanses nie, dis ook besprinkel met verrassende metafore, interessante wendings en sensitiewe en verbeeldingryke sketse wat die resensent se verstaan van die onderwerp en sy eie reis met die boek op ’n wonderlike wyse lewendig maak vir die leser. Die gebruik van Beethoven se alombekende “Für Elise” as musikale interteks vir die resensie help om ’n veilige en herkenbare ruimte op die bladsy te skep vir lesers wat moontlik steeds kan voel dat die onderwerp van Twee lewens te “vreemd” of “anders” is. Waarmee Theodore Rossouw by uitstek hier uitblink, is om die menslikheid van Elise Bishop vas te vang en te respekteer, selfs en verál wanneer hy self nie met haar menings en opvattings saamstem nie. Deur homself ook in die resensie aan te maan om deernis, aanvaarding en meelewendheid te beoefen by die lees, herinner Rossouw ons almal dat begrip en medemenslikheid ’n keuse is, en dat die menslike verbeelding ’n kragtige stuk gereedskap is waarmee ons onsself letterlik in ’n ander se haaipolfaais kan indink, en in die proses leer om met sagte oë te lees, met sagte woorde te reageer, en ’n sagter wêreld vir almal te weeg te bring.
Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2023.
Lees ook: